waar begin ons storie 23p
TRANSCRIPT
WAAR BEGIN ONS STORIE?
Ons sit in Pretoria Oos se Noodgevalle Afdeling, Saterdagoggend, my vrou en ek. Dit is
September 2009. Ons is altwee in ons vroeë vyftigs. Ons twee kinders, ‘n dogter (24) en seun
(18) is by Aardklop. Ons dogter straal ‘n soort van klassieke skoonheid uit en was die mooiste
baba ooit. Ons seun is weer ‘n knapie wat die lewensgolwe ry dat dit bruis.
Gister was ons by die huisdokter ... nie ‘n goeie ervaring nie. Hulle het ‘n gastronoskopie vroeër
die week gedoen en weefsel van ‘n uitgroeisel in my vrou se dikderm vir toetse gestuur. Ek het
nog probeer uitvind of die toetsresultate al beskikbaar is vir die Noodgevalle-Afdeling. Maar dit
was nie. Ons is hier omdat ons desperaat is. By Noodgevalle hou hulle nie hiervan nie. Hulle wil
hê ons moet teruggaan na die huisdokter toe. Ons verweer is dat daar iets ernstig fout is met
my vrou en die huisdokter is nie van veel hulp nie. Hy gee ook niks vir haar pyn nie. Sy was
Junie-maand ook vir toetse en dit het toe al geblyk dat daar fout is. Dit vind ek eers later uit.
Spyt kom ook altyd te laat. As daar een ding is wat mens moet leer, dan is dit om bloedtoetse
self te interpreteer.
Ons was ‘n week terug op ‘n Voortrekkerkamp. Ek het geskrik toe ek die Saterdagoggend my
vrou se gesig gesien het, die swelsels onder haar oë. Ek het besef sy is siek en ons sal iets
drasties moet doen. Boetman het pas klaargemaak met die Voortrekkers in sy matriekjaar en sy
Presidentsverkenner-toekenning gekry. Ons jarelange lekker ervaringsvolle betrokkenheid by
die Voortrekkers het nou ook tot ‘n einde gekom.
Toe kom die uitslag, seker na ure se ondersoeke en scans by Noodgevalle. Daar is baie groot
gewasse binne haar, ek dink hulle praat van 2 waarvan een 11 cm in deursnee is. Ons het
geweet daar is iets groots fout, nou hierdie bevestiging. Maandag is ons weer by die huisdokter
sodat hy vir haar plek kan bespreek vir die operasie. Die dokter wil nog regtig my vrou
ondersoek, hy maak haar toe seer. Wat de joos is fout met die man, wil hy voel hoe voel so ‘n
groot gewas? Gelukkig hoef ons nooit weer na hom toe terug te gaan nie.
Dan begin ‘n mens terug te dink. Waar het alles begin? Hoekom het ek nie die tekens vooraf
gesien nie? Is mens so besig met die rat-race dat hierdie dinge ongesiens by jou verbygaan? Ek
is regtig spyt hieroor en voel skuldig. Sy was bietjie moeg toe ons in Italië rondgeloop het
verlede jaar September, maar ek het net gedink dat sy onfiks is.
Dis later die week, en ons is by spesialiste en hulle wil onmiddellik opereer. Die gewasse is
kwaadaardig. Einde September word my vrou geopereer. Ek wag tot laat, dit word aand, seker
so 8 uur, vir die chirurg na die operasie. Hy lyk moeg met rooi oë toe hy na 4 ure uit die
operasiesaal kom, maar spandeer ‘n hele ruk met my. Hy sê dit was ‘n baie groot operasie,
1
maar is tevrede. Hy het baie verwyder so vêr hy kon. Daar is nog kolle op die longe, maar hulle
is nie daaroor bekommerd nie. Ek is dankbaar vir die spesialiste en hoe presies en ordentlik
hulle met ‘n mens praat. Sy het gevorderde kolonkanker wat al versprei het. Hoe hanteer ons
hierdie nuus? Ons is nie gewoond hieraan nie, dis iets vreemds. Ons besluit toe om positief te
wees, positief dat daar genesing sal kom. Ons moet net eers oor die operasie kom, een ding op
‘n slag.
Om te herstel moet haar ingewande eers weer aan die gang kom. Dit gebeur na senutergende
gewag van dae. Sy is in die hospitaal toe ons seun matriekafskeid toe gaan. Hy kom wys sy
aandpak en kierie vir haar in die hospitaal en ons neem fotos by die hospitaalbed. Sy is darem
nou al uit ICU en Hoësorg. Ma is deel van Boetman se matriekafskeid.
My vrou is ‘n hartlike en warm mens en soos gewoonlik kry sy baie besoekers. Party aande kry
ek nie eers ‘n spreekbeurt nie so rof gaan dit. Die mense is ingepak so om haar bed. Dis eintlik
wonderlik om so baie mense te hê wat vir jou omgee. My dogter koop ‘n wit teddiebeertjie en ‘n
ornament wat bestaan uit drie hartjies wat op die teddiebeer se skoot gesit word. Dit word die
simbool van ons gesin se liefdevolle teenwoordigheid waar sy ookal is.
Hulle kan eers ‘n maand na die operasie begin om die kanker verder te behandel. Sy is ‘n kort
tydjie by die huis, toe gaan ons terug spesialiste toe en hulle verwys ons na Onkologie by ‘n
ander hospitaal wat daarin spesialiseer. Ek onthou nog die hartlike ontvangsdame wat vir ons
gehelp het. Sy het ook Hospice se details vir ons gegee. Hoe vreemd het dit nie toe geklink nie?
Wat wil ons nou in elk geval daar gaan maak?
Gelukkig was ons dogter by die huis en het met alles gehelp. Sy het kos gemaak en gesorg dat
die kaste vol is, goed vir ma gekoop, ens. Ons is so bewus van die wonderlike kinders wat die
Hemelse Vader vir ons gegee het.
Toe begin ons tydjie by Onkologie. Haar kankertelling is hoog, oor die 3 000. Hulle besluit op
chemoterapie. Dit begin November 2009. Elke tweede week. Desember kry ons ietwat van ‘n
breek oor Kersfees. Die ‘sitkamer’ by Onkologie sit vol pasiënte wat chemo met drups kry. Die
susters wat al die naalde insteek en sakke vol vloeistof ophang en alles aan die gang kry, dra
voorskote waarop daar staan: Chemo Chefs. Vreemd maar OK. Nou maak ons kennis met ander
mense wat daar sit en chemo kry. Een vrou van seker so 36 jaar kry nou al vier jaar chemo. Sy
vertel ons watse newe-effekte sy al belewe het. Dis leersaam maar erg. Sy het so vergeetagtig
geraak dat sy nie meer kon werk nie. Sy het ook aggressief geword, smaak vir kos het verdwyn,
kon sekere kos en drank nie meer inneem nie en sukkel om motor te bestuur. En ons worry oor
hare wat dalk gaan uitval!
2
Desember 2009 is ons op die familieplaas in die Noordweste. Die kankertelling kom af en ons is
tevrede. Ons kuier lekker met familie en ontspan lekker.
Januarie 2010 is ons terug en begin die chemo weer. Die tellings neem af tot so 124. Ons is baie
gelukkig. Ons seun gaan universiteit toe en ek skryf vir hom ‘n brief ter ondersteuning daar in
die vreemde, maar ook om vir hom te sê dat hy nou groot is en dat hy sy eie ding moet doen.
Dit voel of die lewe nooit kan eindig nie, ons is so ‘n gelukkige gesin.
Ouma, my vrou se ma, bly by ons in die huis. Sy kan nie self loop nie en moet versorg word. Toe
val ouma vir die soveelste keer. Hierdie keer is dit ernstig en die noodpersoneel moet haar met
‘n draagbaar uit die toilet kry. Gelukkig is ‘n sustervriendin by en help met alles. Ouma het haar
heupbeen gebreek. Dis baie slegte nuus op 80 jarige ouderdom met osteoporose. Ek en my
vrou wag in die hospitaal se Noodgevalle Afdeling vir hulle daardie aand van die 3e Januarie. Sy
word opgeneem. Ai, dink ek was dit nou nodig? Toe sy ‘n vorige keer geval het in 2003, het sy
haar linkerarm sleg gebreek. Ons wag 5 dae voor hulle opereer en hulle doen toe ‘n
heupvervanging met prosteuse. Alles verloop darem goed. Maar sy sukkel om aan te sterk en
die fisio is nie baie behulpsaam nie. Later word ouma na ‘n ‘step-down’ oorgeplaas waar dit nie
so duur is nie. Sy bly nog drie weke daar. Maar sy kan haarself glad nie help nie. Ons kry
gelukkig ‘n opgeleide versorger wat elke weeksdag vir ouma help. Dis was, klere aantrek, toilet
toe gaan, ens. Maar my vrou en dogter moet naweke bontstaan as die tuisversorger nie daar is
nie. Baie uitputtende werk as jou pasiënt swak is. Ons kry ‘n tweede-handse hospitaalbed, laat
diens dit, verf dit en siedaar. Alles werk! Maar dis so swaar soos ‘n tenk en met baie moeite kry
ons dit in haar kamer wat langs ons s’n is. Ons is baie gelukkig met hierdie bed, dit kan alle
bewegings doen. Alles is nou weer reg.
My vrou is ‘n onderwyseres en die Departement het haar siekverlof toegestaan met volle
betaling. Die skoolhoof roep ons beide in en laat ons mooi verstaan dat sy al die verlof kan kry
wat sy nodig het. Dat dit hulle nie benadeel nie omdat dit nie deel van hulle begroting is nie. Hy
wil haar nie sien as sy nog enigsins siek is nie. Hy benodig net die brief van die dokter betyds
dat hulle ander reëlings kan tref. Ons is baie dankbaar oor sy ingesteldheid en goeie advies.
By die kerk bied hulle ‘n beginners-beradingskursus aan oor sowat ‘n 3 maande tydperk. Net die
woord berading sit my al klaar af. Tog wonder ek of hierdie goed nie met ‘n doel op ‘n mens se
pad kom nie? Ek wonder hieroor, maar op ou end besluit ek om dit mee te maak. Dit kan nie
kwaad doen nie. Die kursus is toe leersaam en verrykend. Ek kon nie glo hoe direk die Bybel
van toepassing is nie. In sekere stukke gee Jesus advies en elke vers het ‘n letterlike les of
boodskap wat toepaslik is. Ek begin te dink miskien neem ons die Bybel te letterlik op, maar aan
die ander kant pas dit dan so netjies in? Ek raak intens bewus van die elendes wat baie mense
3
deurmaak en hoe baie vrouens traumatiese huwelike gehad het. Dit het van hulle beter mense
gemaak. En wonder hoekom is dit nodig? Daar is tog seker makliker maniere om hierdie
lewenslesse te leer? Hoekom word mens amper verswelg deur die les wat jy moet leer en vir die
nuwe rigting wat jy moet inslaan? Hoekom leer ons dit en ontdek ons ons regte doel op aarde so
laat in ons lewens? Ek sou reeds vroeg in my lewe kon doen met hierdie wyshede. Dis duidelik
dat ek baie dinge nog nie verstaan nie.
Ons woon in Mei die jaarlikse Voortrekkerdans by. Maar anders as ander kere, dans ons glad nie
die hele aand nie. My vrou skryf in Junie vir my ‘n Vadersdag-kaartjie om dankie te sê. Sy sê
baie dankie dat ek so baie gedoen het vir haar sonder om te kla en sy waardeer dit baie. Sy
belowe my dat sy my baie gaan bederf as sy eers weer gesond is.
Intussen gaan vroulief goed aan. Sy besoek ouetehuise saam met ‘n niggie een dag. Nig soek
aftree-blyplek vir haar skoonma. Skokkende dinge wat partykeer gebeur. Eintlik kom dit neer op
erge verwaarlosing van oumense. Ouma begin toe te torring dat sy ouetehuis toe wil gaan.
Maar dis so duur en ons kan dit nie bekostig nie. Ook ek het oupa belowe ek sal na haar kyk. As
sy in die bed in die kamer langs ons s’n is, is sy veilig en kan nie weer iets oorkom nie. Maar sy
sterk nie aan nie, of vordering is baie stadig. Ons stry oor die ouetehuis-ding. Ek gebruik
naderhand ongeoorloofde taktiek om haar van haar plan te laat afsien. Ek sê vir haar ek het haar
oorlede man belowe dat ek na haar sal kyk tot die einde en kan nie nou daarvan afsien nie.
Ouma volhard en my vrou kry plek vir haar in ‘n ouetehuis in Junie 2010. Ouma is van opinie dat
sy nie ekstra las op my vrou kan plaas met haar versorging nie. Sy is sekerlik reg. Ons moet
baie vinnig besluit want daar is ‘n plek oop. Ons hou familievergadering want dit gaan geld kos
en almal moet saamstem of hulle kan bydra. Besluit is geneem en ons skuif toe vir Ouma einde
Junie uit die huis uit. Ons kon darem ‘n lekker verjaarsdagpartyjie vir Ouma by die huis hou,
voordat sy weg is. Dit was haar tagtigste verjaarsdag.
Ons gaan saam Chrystal Springs toe op vakansie. Dis ‘n mooi plek en ons rus lekker. My vrou
het alternatiewe medisyne saamgebring waarmee ons haar moet behandel. Dit kom neer op ‘n
velbehandeling. Die mense het hoog en lag gesweer dat dit sal help. Ons doen moeite en volg
die behandeling getrou vir dae tot die kursus klaar is. Maar dit lyk nie of dit enigsins gehelp het
nie. Ons het darem die tydjie baie geniet.
Terug by die huis het my vrou se toestand stadig agteruitgegaan. Die onkoloog het haar op
nuwe chemo gesit. Op navraag sê hy dat die kanker muteer en bou weerstand op en daarom
raak die chemo oneffektief. Augustus maand spreek die onkoloog ons weer en wil haar op ‘n
internasionale protokol sit waartydens hulle ander nuwe chemo gaan gebruik wat in ‘n toetsfase
is. Maar hy het lab-toetse gedoen en dit was positief en ons moet net vorms teken. Hierdie
4
behandeling is gratis. Daar is egter newe-effekte ook soos uitslag op gesig, ens. Ons dink toe
dis ons redding. Kan nie op beter gehoop het nie. Alles gaan nou regkom.
Augustus gaan my vrou saam met ons dogter en jong vriendinne dieretuin toe. Hulle geniet die
dag en neem ook fotos. Die vriendinne maak ‘n mooi plakding om die dag te onthou en gee dit
vir vroulief. Een van hierdie fotos beeld my vrou so gelukkig uit.
My vrou reël en betaal vir die Desembervakansie vir 6 mense by die see vanaf 10 Desember
2010 by Chakas Rock. Sy het my ingelig dat die familie van Suidwes wat dan by ons kuier
soontoe moet gaan, want ons sal nie kan gaan nie, omdat sy siek is.
Ouma pas goed aan by die outehuis. Dis soos ‘n koshuis. Half-vyf word almal wakker gemaak.
Sy moet etes bywoon. By die huis het ons haar maar laat lê as sy nie goed voel nie. Daar het
hulle nie genade nie. Maar dit begin vrugte afwerp. Ouma begin sterker te word en het baie
nuwe vriende gemaak.
Boetman wil terugkom Pretoria toe, om by ons en sy ma te wees. Hy voel eenkant en
afgesonder en gaan deur ‘n moeilike tyd. Hy doen ook navraag by die plaaslike universiteit om
volgende jaar hier verder te kom studeer sodat hy by die huis kan wees.
Toe word dit September 2010. Ek en my seun gaan saam met vriende Mosambiek toe en dit was
toe baie lekker. Ons draai by Inhambane en Maxixe oorkant die rivier. Ons vriend het ons
testament opgestel op aandrang van my vrou. Dit voel of daar nie vordering by my vrou is nie.
Maar die behandeling gaan aan. Ons moet net geduldig wees. Ons besoek in hierdie tyd ‘n
alternatiewe geneser wat kan help om mens se ingewande te laat werk. Volgens sy instruksies
moet ons sop aanmaak, wat sleg smaak, om vir haar krag te gee. Dit help ‘n bietjie, maar toe
haar toestand aanhou versleg kanselleer ons die volgende afspraak. Ek kry egter waardevolle
inligting van hom op die Internet, ‘n voorskrif wat mens kan aanmaak om kolonkanker te beveg.
Ons probeer dit ook, maar dit het nie gehelp nie. Was dit reeds te laat of kan mens nie op
alternatiewe medisyne vertrou nie?
Toe word dit Oktober 2010 nou begin dit regtig te lyk of die nuwe chemo nie help nie. Hulle
doen toetse vroeër in Oktober. Op 21 Oktober gaan sy alleen die onkoloog spreek, vooraf
geskeduleerde afspraak, niks snaaks nie. Dit is die enigste afspraak wat ek nie kan nakom nie,
omdat ek self ‘n vergadering by my werk gereël het om ‘n probleem situasie te bespreek. Op 22
Oktober is die testament reg en ek en vroulief onderteken dit. Die lewe gaan aan en alles lyk
verder normaal. Op 23 Oktober woon ons ‘n troue by en my vrou eet feitlik niks nie en ons gaan
vroeg terug huis toe. Hierdie was een van die min geleenthede wat sy bygewoon het, omdat sy
onderneem het om te gaan. Die meeste dinge die afgelope jaar of so het sy nie bygewoon nie.
5
Op party fotos by die troue is ons altwee saam. Op een van die fotos het sy gaan sit en was dit
net ek op die foto.
Teen einde Oktober was dit vir my asof die dokters nie meer weet waarheen nie. My vrou het
ook snaaks begin optree en ons stry oor die feit dat dinge nie regloop nie. Sekere mense sit
onbehoorlike druk op my om ‘n tweede opinie te kry. Hulle verskaf ook ongevraagde advies,
maar die bedoeling is goed. Ek dwing haar om ‘n ander afspraak te maak. Sy reël dit toe vir die
volgende dag, die derde November met ‘n ander dokter.
Dis Woensdagaand die 2de November. Buite bou die weer op, maar verder is alles normaal.
Later die aand kom sy na my toe en sê sy wil iets ernstigs met my bespreek. Ek dink toe wat het
ek nou weer vergeet om te doen of wat het gebreek of so iets? Sy klink baie indringend. Toe sê
sy vir my: Die dokters het geen hoop meer vir haar nie en het haar huistoe gestuur. Dis wat
hulle vir haar gesê het op 21 Oktober, maar sy wou vir niemand sê nie. Deels omdat ons seun
besig is met eindeksamen by die universiteit en hy moet eers klaar maak voordat ons vir hom en
die hele familie kan inlig. Selfs in haar toestand het sy nie aan haarself gedink nie, maar aan
haar seun. Die nuus slaan my soos ‘n weerlig. Die weer kraak buite en dit voel asof dit my hart
is wat oopbars soos ‘n granaat toe hierdie besef my laat sidder. Die reën wat toe val is my trane.
Dit voel of my boom uitgeval het. Ek kon my glad nie voorberei op hierdie oomblik nie. In een
sekonde het my hele lewe verander. Ek het haar so jammer gekry en ook dat sy dit alleen moes
dra. Ek het onmiddellik verstaan. Ek het haar so lief. Dis so finaal. Sy lyk so sterk en unmoved.
Ek dink toe hoeveel tyd het ‘n mens nodig om vrede te maak met die feit dat jy gaan sterwe,
voordat jy vir al die ander vertel?
My dogter was nog steeds onbewus van hierdie verwikkeling en konfronteer my oor haar ma en
vra wanneer gaan sy vir die dokter spreek? Ek trap toe lelik klei en is nog nie reg om vir haar die
nuus mee te deel nie. Sy moes gedink het dat dinge baie deurmekaar is veral toe ek gesê het ek
gaan die dokter mÔre spreek en nie haar ma nie. Wat ek eintlik by die hospitaal gaan doen het is
om afskrifte van doktersverslae aan ‘n ander spesialis te koerier. Dis vir ‘n verdere opinie. Ek
weet nie hoe laat ek gaan slaap het die aand nie en wat die res van die aand gebeur het nie.
Ek het toe die verslae gevat vir die koerier die volgende dag en dit was steeds reënerig. Die
aand het ek geweet dat ek my dogter moes inlig en dit was baie hartseer. Ek het onthou van
dieselfde situasies in die verlede en het begin deur te sê ek bring altyd die slegte nuus. Nou
moet ek die nuus oor haar ma oorvertel. Dis was baie hartseer. Ons trane het saam met die
reën daarbuite gevloei, simbolies. Sy het onmiddellik saamgestem dat ons niemand kan sê nie
totdat Boetman terugkom van universiteit. Hy kom gelukkig oor so 9 dae, dan is hy klaar met
eksamen. Ons het nou in ‘n treurfase ingegaan, maar kon nie voor vroulief treur nie. Hierdie
6
was seker een van die mees senutergendste tye. Mense kom en gaan en praat sulke normale
allerdaagse dinge. Hulle moes seker my vrou tot ‘n mate geirriteer het, maar sy was altyd
vriendelik. ‘n Nabye vriendin en hospitaalsuster het egter in stilligheid besef dat my vrou se
prognose baie sleg is en het die ergste vermoed. Ons moes alles stilhou vir al die mense en kon
nie bekostig dat ons familie dit vanuit ‘n ander oord hoor nie. Die beeld na buite moes wees een
van: alles is reg en ons gaan aan.
Intussen het my vrou met die gawe mense van die Hospice kontak gehad en hulle het plek
gereël vir haar. Wat ‘n wonderlike ervaring om kennis met hulle te maak. Ek weet hulle is van
die Vader gestuur, want ons het soveel liefde en passie by hulle gevind. Sy is opgeneem vroeg
in November en ek onthou hoe snaaks dit geklink het vir Boetman daar vêr toe hy dit hoor. Ek
het (seker onoortuigend) geantwoord dat hulle goeie versorging bied en dis hoekom sy daar is
en daar is niks om oor bekommerd te wees nie. Vriendinne helder haar kamer op met ‘n
kersfeesboom waarop liggies flikker. Die wit teddiebeertjie en drie hartjies is ook daar.
Die oggend van die 12de November is Boetman veronderstel om huis toe te kom. Maar Boetman
kom nie huis toe nie en sê hy wag vir sy vriend wie se motor gebreek het. Dis die
Vrydagogggend en ek het besluit om vroeg na ouma te ry en haar daar self die nuus mee te
deel. Toe ek so vroeg daar opdaag, is sy baie suspisieus en vra onmiddellik of my vrou dood is?
Ek sê toe nee maar ek het gekom om haar die nuus mee te deel dat alle behandeling gestaak is
en ons moet gereed maak vir die ergste. Sy sê sy het geweet want sy het ‘n paar nagte terug
gedroom ons begrawe haar en sy lê met blomme in haar hand in die kis. Ons het net gehuil en
mekaar getroos. Dis haar tweede kind wat gaan en ek kon myself net nie indink hoe dit vir ‘n ma
moet voel nie? Hoeveel vrae is daar nie by haar nie?
Later die dag is ons by die Hospice, die ander familie en vriende het ook van tyd tot tyd kom
besoek aflê. Dit was omtrent 12:00 toe laat weet ons vir die familie. Hopelik sal Boetman nie te
hore daarvan kom nie en hy is darem mÔre tuis. Die Suidwesters wil sommer dadelik kom en my
skoonsuster kry toe ‘n vliegkaartjie. Gelukkig daag Boetman en vriend die volgende mÔre op en
ons neem hom dringend Hospice toe. Hy wil nie sy vriend alleen by die huis los nie, maar ons
dring daarop aan dat ons alleen moet gaan. By die Hospice aangekom vertel sy hom en ook die
rede vir die stilhou. Hy het onmiddellik verstaan en net bewoë geraak en sy ma vasgehou. Later
daardie aand toe ons terugkeer huistoe van die Hospice, merk Boetman net op dat ma nou reeds
in die geestelike dimensie inbeweeg en dink net wat se wonderlike dinge sy nou reeds ervaar,
iets wat ons onsself nie nou kan indink nie.
7
Boetman se uitslae is bevredigend, maar hy moes twee vraestelle nou oorskryf. Dit gaan maar
broekskeur om in hierdie moeilike tyd te leer en met al die mense by die huis. Maar hy byt vas
en slaag altwee. Ons het baie gebid en ek dink dit het ook die deurslag gegee.
Die saak van verdere opinies het my les laat opsê. Ek besluit einde laaste om te bel nadat ek dit
met my vrou bespreek het. Ek kom met ‘n draai weer uit by die spesialis wat haar geopereer
het. Hy bel terug tussen operasies die Vrydagaand. Hy het die leêr oopgemaak en sê hy weet
presies wie ons is en kan praat. Ek sê ek is deperaat en soek nog ‘n opinie. Eintlik soek ek
iemand wat haar kan verwys vir nog toetse. Hy sê toe vir my ek moet mooi dink. As die onkoloë
niks meer kan doen nie sal geen dokter aan haar sny nie. In elk geval wat sny hulle uit en wat
los hulle? Hy reken dis onmenswaardig en ons moet eerder hierdie tyd goed benut deur vir
oulaas kwaliteit tyd saam met haar deur te bring. Ek sê baie dankie en gaan terug Hospice toe
om terug te rapporteer. Dit was een van die moeilikste dinge gewees om te doen. Ek sê vir haar
ek het met die spesialis gepraat en dat ek baie sleg voel om nou weer hierdie tyding vir haar te
bring. Ek moet weer die doodstyding bring en voel soos ‘n verrraaier. Sy sê toe dis reg so en
aanvaar dit net so. Ek voel soos ‘n hond. Hoe het ek in hierdie situasie beland? Dit het ‘n wrang
smaak in my mond agtergelaat. Ek besef toe ook hoe wys die jong dokter by die Hospice is,
want sy het my voorheen reeds presies dieselfde raad gegee, maar ek het nogtans deurgedruk
vir nog ‘n opinie.
Ek voel so baie emosies binne my, ek is deurmekaar en toe skryf ek maar ‘n kort vinnige brief vir
my vrou op 13 November. Haar broer, ‘n goeie vriendin en Ouma het ook dieselfde gedoen. Ek
lees my brief vir haar in die Hospice, tussen die trane deur. Ek dink ons was alleen. Dit lees soos
volg:
My dierbare vrou, my lewensmaat, my enigste geliefde. Onthou jy nog? Jy was altyd vir my die
doudruppel in die warm woestyn? Ek is so lief vir jou. My pragtige vrou. Moeder van ons kinders.
Hoe wonderlik was die lewe saam met jou en die kinders. Ons was so geheg aan mekaar en ons
huis was ‘n warm tuiste vir al ons belewenisse. Ek is dankbaar, verheug oor jy my lewensmaat is,
wat alles met my gedeel het. Ek is so dankbaar dat die Skepper jou vir my geleen het. Ek is so
baie dankbaar en trots vir die kinders wat ons het, en deel jou hartseer oor die een wat ons
verloor het – ook ‘n seuntjie. Die lewe was so volkome saam met jou, soos ‘n pragtige skildery.
Dit laat my dink aan: “A thing of beauty is a joy forever” van John Keats.
Jy was altyd die middelpunt van die familie. Jy het altyd mense na jou toe aangetrek. Jy was
altyd hartlik, beleefd en mense wou by jou wees. Jy is die middelpunt van ons bestaan. Jy is die
kern van ons gesin, ons klein heiligheid ons klein koninkryk, binne die groter Heiligheid en
Konkinkryk. Jy het selfs die diere na jou toe aangetrek en hulle altyd beskerm. Onthou jy nog die
8
verdwaalde wit staffie wat jou soos ‘n mens met sy twee voorpote vasgehou het? Jy is die engel
van my lewe, van ons gesin, in lewende lywe. Wat ‘n voorreg, wat ‘n onuitspreeklike genade,
wat ‘n diepe besef van nietigheid, dankbaarheid en van liefde. Jy was altyd daar vir my, lojaal en
getrou. Omdat die liefde nie kan vergaan nie, sal ons liefde ook voortleef. Jy maak nou klaar met
die aardse en soos Boetman gesê het (gisteraand) dat jy nou reeds die geestelike dimensie
belewe, daar waar God altyd is. Dit moet wonderlik wees. Baie, baie dankie, baie eer en ontsag,
lofprysinge aan ons Hemelse Vader wat ons so genadiglik bystaan. Dankie dat jou liefde vir my
iets van God se liefde laat ervaar het.
Sy sê dankie en waardeer dit.
Ons is elke dag daar, boer daar. Nou raak dit rof soos mense bel en aandring op terugvoer en
almal wil haar net besoek. Ons het die familie laat weet dat hulle eerder moet kom as uitstel
sodat hulle haar darem kan sien. Almal het gekom, die wat kon, hoe wonderlik was dit nie en
ons kon sterk bymekaar staan en lekker kuier onder hierdie moeilike omstandighede. Die
besoektye by Hospice het nou ‘n probleem geword. Mense het in toue gesit en wag en ek moes
help verkeer reguleer. Partykeer moes ek mense aansê om te gaan, nadat hulle haar gesien het
omdat ander nog gewag het. Die matrone het opgewonde geraak oor hierdie toestroming by die
Hospice wat veronderstel is om ‘n stil plek te wees. My vrou was soms moeg van al die besoeke
en ons het beperkings ingestel op besoeke. Ons het nou ‘n standaard lys van mense wat ons
inlig oor hoe dit gaan met my vrou. Die meeste mense is baie dankbaar vir hierdie terugvoer.
Enkeles dring egter aan op persoonlike terugvoer na aanleiding van spesifieke vrae deur hulle
geopper.
‘n Paar dae later skryf ek nog ‘n brief om my emosies te help beteuel. Dit raas binne my:
Dit kan nie wees nie. Dis so finaal. Is dit al wat hulle vir jou gesê het? Hoe hartseer, hoe
eensaam, hoe finaal, ek is hard geslaan …, my arme vrou. Ek wil in jou plek gaan, ek moet eerste
wees, jy was die goeie vrou vir my, my hele wese is geskend.
Ek is so lief vir jou – ek wil jou net vashou – ek wil net bid, vra, pleit, weer vra, sug, soek hulp. Ek
het verdien om nou te gaan - my lewe is klaar, het so vol lewe gehad – niks kom kort nie.
Vergeef my liefdeloosheid, my selfsugtigheid, my hardheid, binnekant breek dit, huil ek, treur ek,
ek kan dit nie glo nie.
My kinders, ek sal so graag dit anders wou hê, ek is so trots op julle, dankbaar oor julle.
Dankie dat jy ‘n ma was, dankie dat jy ons kinders grootgemaak het. Dankie vir hierdie
wonderlike kinders. Ek sal jou nooit verlaat nie, ek’s jou lewensmaat, ek’s jou sielsgenoot en jy
9
myne, ek stel nie in iemand anders belang nie, jy was so goeie vrou vir my, jy was so hartlik, jou
huis was waar almal welkom is en was, tuisgevoel, dit was so lekker om in so ‘n huis te bly, ons
huis was ons woning, daar is geen ‘regret’s nie. Ek besef nou eers hoe lief ek jou het. Ek kan nie
sonder jou nie, ek kan nie sien hoe nie? My lewe het in een sekonde drasties verander, ek is
platgeslaan, stomgeslaan. Ons geluk moes seker êrens ophou. Jy verdien nie so iets nie, dis ek
wat moet gaan. Jy het my so gelukkig gemaak, my gelukkigste jare. Dankie vir alles, vir die
kinders, vir jou ma-wees. Dankie vir alles wat ons saam kon geniet het. Dankie vir jou
onwrikbare liefde en vertroue in my. Dankie dat jy my gebreke verdra het en oorgesien het.
Dankie my liefling, my pragtige vrou. Ek voel nou so eensaam. Ek verlang na jou sagte vel, jou
mooi oë en lag.
Ek sal wat wil gee om hierdie tyd te verleng. Ek besef nou dat ek jou nie genoeg waardeer het
nie. My hart voel gebroke, seer so asof dit nie gaan hou nie. Ek voel so jammer vir jou, vir al die
mense wat al swaargekry het, ek is sommer lief vir almal. Ek treur oor die hartseer van die
wêreld en die diere en die natuur wat ly onder ander mense. Ek wil nooit weer iemand kwaad
aandoen nie.
Maar ek kyk op en is so ontsettend dankbaar. So bewus van God se genade, Sy voorsorg, Sy
liefde vir ons. Ek is verwonderd oor alles, ook oor die liefde tussen ‘n man en vrou. Dis absoluut
misterieus, wonderlik. My hart sing, my binneste word nou kalmer.
Hoe kan mens twee teenstrydige gevoelens gelyktydig ervaar? Aan die een kant voel ek
terneergedruk, platgeslaan, depressief – maar terselfdertyd ook dankbaar, intens bewus van God
se genade en liefde en dankbaar oor ons vol lewe saam.
Hoe hanteer mens die komende dood van ‘n geliefde? Die openlike gesprekke in ons gesin en
familie is van onskatbare waarde. Die familie en vriende dra ons in hulle gebede. Ek lees baie,
gaan werk toe, luister na ons gunsteling musiek. Ek diep die woorde vir die eerste keer op. Dit
tref my hoe hartseer en toepaslik hierdie musiek vir ons is. Skrywers sê dat musiek ons help om
te cope met die wêreld se ‘relentness injustices and pain’. Dis baie waar.
Die Griekse liedjie Elena het ons baie saam geluister, maar nooit geweet die lirieke is soos volg
nie:
Now my beloved, When I look at you I think for myself
I have to say farewell, but do not be afraid
I will never forget you.
En Time to Say Goodbye:10
When I'm alone I dream of the horizon and words fail me.
There is no light in a room where there is no sun and there is no sun if you're not here with me,
with me. From every window unfurls my heart the heart that you have won.
Into me you've poured the light, the light that you found by the side of the road.
Time to say goodbye. Places that I've never seen or experienced with you.
Now I shall, I'll sail with you upon ships across the seas, seas that exist no more, it's time to say
goodbye.
Ja, my vrou het een volle kamer van my hart gevul met haar liefde, soos die blomtuin met helder
blomme en warm sonskyn. Nou as sy nie meer daar is nie, wat gaan word? Gaan hierdie kamer
nou ook donker word soos van die ander daar langsaam? Sy het gesê ek gaan swaar kry – maar
mens weet mos nooit regtig wat vir jou wag nie?
Die Hospice het besluit dat sy moet eerder huistoe moet kom en belowe dat hulle plek vir haar
sal hou. Dit het goed gewerk want toe is die skoonsuster van Suidwes al by die huis en ons het
ook Ouma gaan haal om vir oulaas by ons te wees. Skoonsus het dit baie swaar gevat om haar
ousus so te sien. Ouma het dit baie waardeer en die tuisversorger het ook bystand by die huis
verleen. Ek voel ons raak nou meer sensitief oor enige-iets en ook oor wat mense sê en doen.
Mense doen snaakse dinge, sê snaakse dinge omdat hulle verboureerd is en nie weet hoe om te
reageer nie.
As dit stil geword het, het ek geworstel met die vraag hoekom moet sy eerste gaan? Ek is die
een wat nog altyd bereid was om eerste te gaan. Hulle sou goed versorg gewees het. Dit was
die plan, dit was die draaiboek van ons lewe, nog altyd. Of so het ek gedink. Die teenvraag wat
opgekom het was: Maar is jy gereed om te gaan? Ek kon nie eerlik antwoord nie. Ek het altyd
gedink ek is gereed, maar lyk my daar is nog dinge wat gedoen moet word in my lewe. My vrou
se lewe het weer gelyk soos iemand wat reg is om te gaan, alles is klaar wat moes gebeur het.
En sy berus ten volle!
In hierdie tyd het ek drie beelde wat voor my geestesoog afgespeel het:
1) Ek speel in ‘n konsert en ons is besig met die laaste deel. Ek is alleen op die verhoog en
sê die laaste reëls op en wag dat die gordyn moet sak omdat die stuk nou klaar is. Maar
die gordyn sak nie. Die gehoor wag dat ek moet aangaan. Die stuk gaan voort en ek weet
nie wat om te sê nie. Dit was nie die bedoeling gewees nie. Ek wil weghardloop. Wat sal
ek vir die gehoor sê?
11
2) Ek weet ek moet van die een kamer van my lewe na die volgende kamer beweeg. Al
probleem is dat ek nooit geweet het daar is nog ‘n kamer nie. Ek is baie versigtig want ek
weet nie wat ek gaan vind in hierdie nuwe kamer nie. As ek eers daarin is, sal ek moet
sien en kom klaar. Dis die vreemde waarvoor ek myself nog nooit voorberei het nie. Die
lewe sonder my vrou, absoluut ondenkbaar.
3) Ek is ‘n jong seun op die plaas. Ek het gehou daarvan om in die veld te loop. Hierdie keer
bevind ek my een somersaand in die middel van ‘n soort van droë pan met sulke spierwit
fyn sand waarop ek staan. Meteens is ek bewus van die maan wat agter die wolke deur
beweeg en dat die wind die sand so teen my bene opswiep. Die wit van die sand is skerp
afge-êts teen die donker aand en lyk spokerig in die maanlig. Ek voel alleen in die middel
van hierdie leë pan en wonder hoe ek daar beland het?
Die personeel van die Hospice is absoluut fantasties. Hulle gee regtig om en wil net help. Dan is
daar mense wat vrywillig diens doen, regte engele. Die blomtuin by Hospice was ook ‘n stukkie
hemel. Hierdie tuin het altyd geblom met die pragtigste warm kleure. Ek het fotos geneem om
hierdie oomblikke vas te vang. Ek het nooit iemand sien werk in die tuin nie. Ek het begin dink
regte engele doen seker diens na-ure, daarom sien ons niemand wat daar werk nie. Dan die
dokter aan diens, wat ‘n pragtige jong mens met soveel passie en liefde vir haar pasiënte. Sy
was regtig ‘n bestiering en sy het baie tyd aan ons spandeer. Sy is die eerste dokter wat ek sien
wat ‘n pasiënt medies versorg en terselfdertyd ook praat oor geloof en God as ons anker.
Die pligsgetroue predikant besoek ons by die huis en begin met berading vir die rouproses. Toe
dink ek aan ‘n klein boekie se titel wat my vrou by ‘n vriend gekry het: Kanker … genadetyd.
Ek het toe gedink: Hoe onvanpas en wat kan nou genadiglik wees aan kanker? Die res van die
Suidwesters daag ook toe op en is geskok oor hoeveel gewig my vrou verloor het. In die dag
maak ons haar gemaklik in die sitkamer. Mense besoek haar hier. My dogter neem ‘n mooi foto
van haar wat ons later sou gebruik het. Op die foto is die gips aan linkerarm gelukkig nie sigbaar
nie. Sy het in die bad geval so 16 dae gelede. Ons het toe die volgende oggend na ons nuwe
huisdokter toe gegaan om te vra of sy sal help as ons op haar knoppie druk. My vrou het ook
terloops genoem dat sy in die bad haar arm gekap het teen die bad se rand. Die dokter neem
toe plate as voorsorg en jou werklikwaar is die arm toe gekraak. Ek voel toe sleg omdat ek haar
nie onmiddellik die vorige aand hospitaal toe gebring het nie. Sy loop toe daar uit met gips. En
ek dink by myself hoekom was hierdie nou nodig gewees, ‘n gekraakte arm waarom?
In hierdie tyd kry ons besoek van vriende uit Australië. Ek het vir hulle gesê dat hulle haar nie
weer lewend sal sien nie. Die vriendin het gehuil toe hulle ry. Ook familie uit die Kaap kom
besoek haar en ‘n vriendin uit Port Elizabeth.
12
Dis nou ‘n tyd van harde werk vir my want ek bad haar elke oggend en trek haar aan en gee
medisyne. Probeer kos inkry. Die belangrikste is morfien vir die pyn. Ek dink as jy nie die pyn
kan stil nie sal jy sekerlik van pyn in ‘n koma gaan voordat jy sterf. Ons is dankbaar vir iets soos
morfien. Dan gaan ek werk toe. My dogter tik die voorskrif medisyne met detail instruksies en
ons plak dit op slaapkamer-deur en yskas in die kombuis. As dit lyk of morfien min word maak
ek onmiddelik werk daarvan omdat ek bang is sy het pyn. Almal help en die gebede van vriende
en familie dra ons in hierdie tyd. Dit voel asof die dae in mekaar invloei. Mense dra kos aan, te
veel om te verorber. Ons is baie dankbaar hieroor. Die huis is deurmekaar en mense kom en
gaan. Die Australiërs se kinders bly by ons. Ons huis is oorlopenstoe vol, maar ons geniet dit.
Ek herinner my vrou weer aan haar huis wat ‘n plek is waar almal welkom voel, selfs nou ook.
My vrou kan omtrent glad nie eet nie. Sy raak mettertyd al hoe swakker. Ons sukkel om haar
ingewande aan die gang te kry en is baie bly as dit werk. Ek het nou besef hoe belangrik jou
maag, dun- en dikderm is, want as dit nie werk nie gaan jy wegkwyn omdat jy geen krag in jou
het nie.
Sy roep my om iets te bespreek. Eerstens moet ons geld trek vir die Suidwesters en daar moet
genoeg in die kassie wees. Ek maak toe so en sorg ook vir vakansiegeld. Tweedens moes ek
haar belowe dat ek ‘n belegging sal maak om te sorg vir hulle kinders se studies. Dis nie baie
nie, maar ‘n begin. Ek verstaan hoekom en belowe dit toe. Ek het later al die tjeks van die
Suidwesters wat aan ons uitgemaak is opgespoor. Sy het dit nie gebank het nie. Sy het so ‘n
goeie hart gehad en wou hulle regtig help.
Ek ervaar vreemde dinge.
Toe ek en my vrou besef dat dit ons laaste tyd saam is, het daar iets soos ‘n waas tussen ons
verdwyn en ons kon ons liefde vir mekaar weer van vooraf so duidelik ervaar en so intens bewus
wees daarvan. Amper soos in die begin van die verhouding. Skielik besef jy hoe lief jy haar het
en dat die lewe met al sy gestoeiery net mense onnodig verwyderd van mekaar laat voel. Maar
nou voel dit asof ons hande en vingerpunte 100% aan mekaar raak vir ‘n volmaakte pas. Ek dink
God gee dit terug sodat mens regtig kan weet wat liefde vir oulaas is. Ek het nie geweet dat ek
haar so lief het nie. En alles waaroor ons altyd gestry het, verdwyn in die niet en ons staar
mekaar aan soos jong verliefdes. Ons praat oor ons verhouding en die lewe. Sy sê sy dat die
lewe saam met my wonderlik en voldoende was. Ek kan nie glo ons uurglas het uitgeloop nie.
Ek wou haar nog soveel meer gekoester en liefgehad het. Nou is ek spyt alles is verby, ek kan
niks meer doen nie. Ek voel so snaaks omdat haar hele lewe net om my gedraai het, ek voel so
asof ek meer kon gedoen het, asof ek nie die moeite werd was nie. Sy was 100% aan my
toegewy. Wat ‘n vreugde en genade. Ek was dankbaar maar het tog snaaks gevoel. Dis so
13
finaal. Ek het haar gevra waarheen wil sy nog gaan, wie wil sy besoek en wat wil sy nog sien. Sy
het geantwoord dat sy niks meer nodig het nie. Alles is reg en sy het geen behoeftes meer nie.
Sy was reeds deels in ‘n ander dimensie. Ek moes haar laat gaan, maar dit is nie maklik nie.
Ons het mekaar 33 jaar geken en was sowat 31 jaar getroud gewees.
In die oggende as ek haar klaar gebad het en aangetrek het, was daar tyd gemaak vir Bybellees
en bid. Ek dink die laaste stuk wat ons saam gelees het was Psalm 23. ‘n Mens verkeer nou in ‘n
moeilike tyd en is desperaat en beangs. Ek sit op die kant van die bed en lees uit die Bybel en
bid toe. Maar wat bid mens? Ja vir genesing, maar ook vir berusting. Ek stoei nog deur die
gebed, seker met trane daarby, toe iets skielik met my gebeur. Ek word bewus van ‘n vrede wat
oor my spoel. ‘n Vrede wat alles wegvat, alle hartseer, alle vrees en alle bekommernis. Vir
daardie tyd bestaan daar nie ‘n begrip van wat vrees is nie, wat bekommernis of vertwyfeling is
nie. Dit is iets ondenkbaar en asof ek dit nog nooit ooit ervaar het nie. Dis heeltemal weg en ‘n
gevoel van volmaakte vrede neem besit van jou. Dit is ‘n onbeskryflike gevoel, dit gaan die
verstand heeltemal te bowe. Toe dit verby is het ek vir my vrou daarvan vertel en sy het net
rustig verstaan. Ek het geweet dat God my aangeraak het en dat ons nie alleen is nie. Daar het
nou is soort van rustigheid in my gemoed gekom te midde van die spanning.
Ons praat een oggend oor ons huwelik en sy vertel hoe dit vir haar was. Sy sê dit was soos ‘n
blomtuin. Sy sê daar is ‘n boek (‘n Seisoen vir Eenvoud) in die kamer hier langsaan en in die
boek is daar kleursketse van blomtuine. Sy sê ons huwelik was vir haar so iets. Dit het my baie
bemoedig en ek het die boek na ‘n maand of wat opgespoor. Ja, ons tydjie saam was regtig soos
‘n stukkie hemel op aarde, so mooi soos daardie blomtuin.
‘n Fisioterapeut wat ons deur vriende leer ken het, daag op en doen sulke sagte masserings oor
my vrou se maag. Sy leer my ook hoe om dit te doen. Sy doen dit uit liefde en verwag niks terug
nie. Sy sê die massering, wat eintlik ‘n sagte trilling is, maak mens rustig en help op ‘n psigiese
vlak ook. Ek was beindruk dat sy uit haarself kom hulp aanbied het, terwyl ons haar nie eintlik
geken het nie.
Die vreemdste drome beleef ek.
Die een droom is waar ek een aand in ‘n nagklub is en die vloer is vol mense met musiek en rook
wat in die lug hang. (Ek was nog nooit in so iets nie, so ek kan nie dink hoekom dit in my droom
is nie). In die middel van die vloer haal een persoon ‘n rewolwer uit en skiet die ou voor hom
met wie hy blykbaar gestry het. Die slagoffer val dood neer. Nou gebeur die volgende snaakse
optrede van my kant af. Ek loop tot by die slagoffer en tel die moordwapen op en dra dit na
14
buite waar die polisie toe net by die deur ingekom het en ek wil die vuurwapen vir hulle gee. Toe
ek wakker word weet ek dat dit nou regtig baie dom van my is en wat soek ek daar?
Na die tyd het ek ernstig gedink oor hierdie drome wat nie sin maak nie. Die enigste verklaring
wat ek kon kry is dat die drome dui op iets totaal ongehoords wat ek moet aanvaar. Iets so
ongehoords soos om vrede te maak met die dood van ‘n geliefde. Om vir jouself te sê dis
normaal. Jou hele wese skop daarteen, dis nie OK nie en daarom praat jou onderbewuste met
jou en wys jou hoe vreemd jy jouself forseer om te dink.
My vrou besluit om laaste boodskappe aan elkeen van die twee kinders te rig, sonder dat hulle
daarvan weet. Hierdie klankopnames is deur ‘n vriendin gemaak en ons is bly dat ons dit nog
kon klaarmaak. Ek het die briewe met my vrou se hulp geskryf en op rekenaar gesit. Sy was toe
al reeds swak maar kon darem nog die briewe voorlees. Sy koop ‘n boekie om ‘n boodskap aan
ons gesin te skryf. Binne staan van My aan die Gesin. Met ‘n Bybelversie onderaan. Die
Bybelvers is onsamehangend maar herkenbaar. Sy het toe reeds gesukkel om te skryf. Ek was
nie eintlik bewus van die boekie nie, of het vergeet daarvan in die warboel. Eers weke hierna het
ek die boekie gesoek want ek onthou sy sou vir ons iets geskryf het. Toe is die boekie leeg. Sy
het nie meer krag gehad nie. Maar haar hele lewe is ‘n mooi verhaal wat in so ‘n boekie hoort.
Eintlik het ons nie die boekie nodig nie, want haar lewe en herinneringe wat sy nagelaat het is vir
ons meer as genoeg.
By die huis lê my vrou een middag in ons slaapkamer. Ouma rus in die kamer langsaan en wil
met ander skoonsus praat oor haar klere. Sy sê sy het net ‘n broek en dit sal nie goed lyk vir ‘n
begrafnis nie. Sy het ‘n rok, maar die soom is uit. Skoonsuster onderneem toe om die soom in te
sit. Toe hulle groet om te ry, herinner my vrou vir skoonsuster daaraan dat sy naaldwerk het om
te doen. So sy het toe alles gehoor en duidelik nog nie haar humorsin verloor nie! Sy moes dinge
al hoe meer geestelik begin ervaar het. Sy het vir iemand in die slaapkamer gesê kyk haar
suster wat daar staan het vlerke aan soos ‘n engel.
My suster belowe om lavender te bring vir ons tuin omdat my vrou daarvan hou. Sy bring die
plantjies met potte en kompos wat ons inplant. My broer op die plaas bied aan om ‘n boom vir
haar te plant. Hy vra watse soort boom en sy antwoord ‘n wit stinkhout of enige inheemse
boom. Maar sy vra ook dat die boom almal moet gedenk wat reeds gesterf het in die familie.
Dan kan die kleinkinders eendag daaronder sit en dink aan hulle ouma en ander familie wat hulle
nooit geken het nie.
By die huis raak dinge nou moeiliker met haar versorging. Ek kom agter ek kan nie meer byhou
nie toe daar iets soos bedsere begin uitslaan. Ons bel die Hospice suster en sy reël toe weer
15
plek vir haar. Maar ons moet haar die Donderdagmiddag 2de Desember bring. Almal help om
haar te was en reg te kry. Sy is uitgeput na die was. Ek het haar in Ouma se rolstoel gesit en en
ons het alles gepak vir die Hospice. Hierdie keer het ek geweet dis die laaste keer dat sy die
huis sal sien, die honde en die tuin. Ek ry uit op die stoep met die rolstoel en wys haar toe die
lavender wat begin blom het en ons klim in die motor. Ek weet nie wat ons op die pad gesels het
nie. Dink nie ons het iets gesê nie. Ek het stadig deur Garsfontein se strate gery en was so
intens bewus van die feit dat alles wat sy nou sien, die laaste keer is. Dat dit ook ons laaste rit
saam is. Ons luister musiek in die motor, maar ek vermy Time to Say Goodbye want dis te
hartseer. By die Hospice boek hulle haar in ‘n ander kamer op die einde van die gang. Sy is
alleen in die kamer. Ons is weer dankbaar vir hulle hulp en deernis. Mense begin ons te vra hoe
lank nog en ek en my dogter sê seker so paar dae. Die Hospice suster het ons ‘n blaadjie gegee
met opskrif “Verslegting”. Dit beduie hoe agteruitgang gaan geskied en wat gebeur op die
einde. Ons was redelik goed voorbereid. My vrou het aanhoudend gewig verloor. Dit was erg
om haar so te sien en te weet dis net ‘n kwessie van tyd. Ons bring lang ure daar deur. Die
Hospice se tuin is nog steeds so pragtig.
Die Saterdag besoek die gawe jong dokter haar weer. Ek kon die skok op haar gesig sien toe sy
haar weer sien. Dis was omtrent twee weke terug wat sy haar laas gesien het. Sy het
onmiddellik vir my vrou gesê dat sy nou vinnig op die afdraende pad is en of sy dit weet? Sy het
net ja geantwoord. Ek het hulle vir ‘n ruk alleen gelos. Hierna het die dokter aangedring om met
my te praat. Sy het vir my gesê dis nou net ‘n kwessie van tyd. Ek het gevra hoe lank nog?
Twee dae of langer en sy het geantwoord, miskien. Ek het haar weer bedank vir alles. Haar
suster bel so 6 uur die aand en vra hoe gaan dit? Kan sy nou kom kuier of mÔre? Ek laat weet
toe dat sy nie meer baie tyd oor het nie. Sy besluit tog om te wag tot mÔre na kerk. Ek het die
gevoel gehad dat dit te laat gaan wees, maar mens praat nie oor sulke gevoelens nie.
My vrou vra my later om ‘n rolstoel te bring vir haar. Ek vra haar waarheen wil sy gaan? Want
sy loop met my ondersteuning na plekke soos die toilet. Sy kyk my verdweesd aan en sê dat sy
nou lang bome toe moet gaan. Dis asof sy dan agterkom dat sy in twee wêrelde is.
Die Saterdagaand 4 Desember bly ons gesin tot so 20 voor elf, maar toe sê die matrone ons
moet gaan om ook rus in te kry. My vrou gooi op toe ek haar morfien gee en ek wou eers nie
loop nie. Ek waarsku die matrone dat sy gaan pyn hê omdat die morfien uitgebring is. My vrou
wou eers hê ons moet nog ‘n rukkie bly, maar laat ons tog maar gaan toe sy die matrone hoor.
Ons groet en ek staan in die deur en waai vir haar.
Die Hospice laat weet ons om te kom die Sondagoggend 5 Desember so half-agt. Ek bel my
dogter en ons sal mekaar daar sien. Aangesien ons eers nog moet stort vat dit ‘n rukkie voordat
16
ons daar uitkom. Toe ons daar kom laat weet die matrone dat sy reeds heengegaan het, so
ongeveer tien oor agt. Ons wag vir my dogter en haar kêrel en toe hulle kom gaan neem ons
finaal afskeid. Ek span my sintuie in om die laaste indrukke van haar te probeer verewig in my
geheue. Ek weet ek sal dit nooit weer beleef nie. Ek wil iets van haar saamdra met my vir altyd.
Ons het ‘n gebed gedoen. Sy het seker ‘n poets vir ons gebak toe die bed skielik opbeweeg
onder gebed. Toe maak ons die kamer leeg en praat met die matrone oor wie die ondernemers
is. By navraag het die matrone gesê dat sy wou opstaan maar hulle het haar gekalmeer. Sy het
niks gesê nie maar was vêr heen so asof sy in ‘n ander wêreld was. Toe het sy stil geword en
gesterwe. Sy het ander klere aangehad as die vorige nag toe ons laat daar weg is. Sy moes baie
opgegooi het deur die nag. Ons het toe almal laat weet.
Dieselfde oggend droom ‘n vriendin dat my vrou in ‘n sonneblomland is. Sy verneem na haar
later die dag en is toe nie verbaas om te hoor dat sy oorlede is nie. Op ‘n manier het sy nie ons
vroeëre boodskap gekry nie. Mense wou ons besoek deur die dag maar ons het nie kans gesien
vir hulle nie. Ek wou my gesin beskerm en het die besoekers by die hek gekeer. Ek wonder of
hulle verstaan het?
Die ander spesialis wat al die verslae ontvang het en met wie ek telefoniese moes opgevolg het,
het toe so twee dae na haar afsterwe toestemming by die Mediese Fonds gekry vir verdere
chemo behandeling.
Die dankie-sê briewe wat ek aan mense geskryf het, het omtrent dieselfde strekking. Die
verkorte brief aan die predikant lees so:
Ons wil ook baie dankie sê vir jou besoeke aan my vrou en ons gesin tydens haar siekbed. Ons
waardeer dit baie en wil net baie dankie sê jou sorg en jou gebede in hierdie tye. Ons weet jy
het ‘n besige program, daarom is dit so spesiaal vir ons.
Jy weet seker nog nie maar ek moet jou inlig dat my vrou nooit weggedeins het van wat vir haar
wag nie. Sy het ‘n week of wat gevat om alles te verwerk en vrede te maak en het ons toe
ingelig dat die dokters niks meer kon doen nie. Sy het gevra dat ons dit moet stil hou totdat
Boetman klaar met sy eksamen, dan kan ons hom en res van die familie inlig. Sy het selfs in
hierdie moeilike tyd nie aan haarself gedink nie, maar aan Boetman wat die eksamen net so sou
gelos het. My vrou het waarlik berusting gevind. Al die gebede het haar en ons gedra in hierdie
tyd.
Maar my vrou het meer gedoen as om net te berus. Sy het almal bemoedig wat haar wou troos
en hulle het met trane daar uitgestap en dit vir my vertel. Elke keer het ek aan haar gesê hoe
wonderlik sy is om die mense te bemoedig. Maar telkens het sy my net gesê dis nie sy nie maar
17
God wat haar die krag gegee het. Wat ‘n wonderlike getuienis en wat ‘n vredevolle bemoediging
en watse oorweldigende genade wat ons ontvang het en wat ons toe beleef het en nog steeds
ervaar. Sy het vir my gesê dat sy ons jammer kry wat moet agterbly en meegevoel met ons
betuig. Sy het gesê dat sy die hele tyd die teenwoordigheid van God ervaar en vir ander gesê Hy
sit soms in daardie stoel en wys daarna. Ons is die Hemelse Vader ewig dankbaar vir hierdie tyd
en die belewenisse. Dit is regtig ‘n oorweldigende positiewe geestelike ervaring wat ons almal
net versterk het. Die luidspreker (of haar voorbeeld) wat my vrou hier gebruik het, het net die
goeie en genadige heerlikheid van God verkondig!! Dit gee geloofsekerheid en stel die hemelse
en Goddelike as ‘n werklikheid hier en nou op die aarde.
Ek kan nie regtig aan jou verduidelik hoe wonderlik die Hospice se mense ons gehanteer het nie.
Hulle is engele deur God gestuur. Ons het net die pragtigste herinneringe van julle almal. Ons is
baie dankbaar daarvoor en sal dit nooit vergeet nie. Ons bede is dat julle almal ook sulke
liefdevolle ondersteuning eendag sal ontvang wanneer julle dit die meeste nodig is.
Baie dankie vir die begrafnis, dit het perfek afgeloop en dis presies hoe sy dit wou gehad het. Sy
het alles vir ons makliker gemaak deur te sê wie die diens moet lei, wie die ondernemers moet
wees, wat is die volgorde van dinge, ens. Ons wil net sê dat dit baie vir ons beteken het.
Jy sal seker insien dat ons nie vir beter kon gehoop het, tydens hierdie lyding en sterwe van my
vrou nie. Sy het werklik vir ons so ‘n mooi voorbeeld gestel en ons wil haar wense en
ingesteldheid elke dag uitlewe. Sy het geskitter in haar swakheid tot op die einde en het
haarself nooit eerste gestel nie. Wat ‘n wonderlike en bemoedigende geestelike ervaring was dit
nie. Daar was meer ervaringe wat ons geloof nog verder versterk het.
Ons het Goddelike krag en genade ontvang en wil dit hier noem. Alle eer aan die Hemelse Vader
wat my vrou vir vir ons geleen is en hoe haar lyding en sterwe was. Sy bemoedig ons nog steeds
elke dag, haar nagedagtenis weergalm elke dag in ons lewens!
Baie, baie dankie my vriend!
My dogter neem die leiding met die begrafnisreëlings en alles werk baie goed uit. Die
ondernemers is baie beindruk met die reëlings, met die blaadjie en kan nie uitgepraat raak oor
watse wonderlike kinders ons het nie. Die mooi foto van my vrou wat ons onlangs geneem het,
gebruik ons in die blaadjie. Die musiek voor die diens in die kerk is die Houtkruis CD wat sy heel
laaste geluister het by die huis. Sy het ook versoek dat mense bydraes aan die Hospice maak,
eerder as ruikers op die graf. Die Huiskomitee van my seun se koshuis was ook by die begrafnis,
so-ook baie ander mense wat ons nie daar verwag het nie. Mense van haar skool en
skoolkinders was ook daar. Daar was ‘n boek waarin hulle boodskappe kon skryf vir die gesin
18
maar ook vir haar. Hierdie boodskappe het ‘n verdere getuienis geword van wie sy regtig was en
wat sy ongesiens vir ander mense beteken het. Die begrafnisblaadjie se eerste bladsy bevat die
kort beskrywings van my vrou, wat ons by al die verskillende groepe mense versamel het. Ouma
het onder andere verwys na haar dogter se Liefdevolle Sorgvuldigheid. Dis so akkuraat! Die
predikant het hierdie eerste bladsy by die graf gelees sonder dat ons hom vooraf gevra het. My
dogter het die volgende gebed geskryf namens ons oor haar ma vir voorlesing by die graf:
‘Dankie Here dat U ons lewens bekroon het met ‘n juweel soos Ma. Sy het geskitter van U liefde en dit
het ons almal bereik in hierdie tyd wat U haar vir ons geleen het. Of dit nou was in ‘n vriendelike
“hallo”, ‘n koppie koffie of ‘n pad wat jare saam gestap is.
Soos U woord getuig in 2 Korintiërs 12:9, “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle
werking wanneer jy swak is” sê ons dankie Vader vir die geestelike genesing wat sy vir ons gebring
het tydens haar fisiese verswakking. U genade en teenwoordigheid het deur haar glimlag ons almal
geraak en sodoende ‘n stuk van U Heiligheid in ons siele agtergelaat.
‘n Goddelike beeld het altyd deur haar weerkaats en ons vra U Almagtige Vader dat dit in ons
voortgesit mag word deur die wonderlike herinneringe wat ons van haar sal koester.’
Ek het later die dag van die begrafnis, voor sonondergang, weer teruggekeer graf toe want ek
kon nie vrede maak met die feit dat ons haar net daar los nie. Hierna het ek berus.
Die vakansie wat my vrou gereël het het op die dag van die begrafnis begin. Ons gesin het
besluit om saam te gaan en almal het die volgende dag vertrek. Dis was goed om weg te gaan,
hoe snaaks dit ookal klink.
Alles word weer normaal. Of so voel dit. Ek dink ons is deur die rouproses. Maar ek het die tyd
hierna heeltemal onderskat. Dis ‘n lang pad met ‘n groot hol kol binne jou, teen jou ruggraat.
Die hol kol maak dat mens nie ander gevoelens kan ervaar nie, so asof dit jou hele wese in besit
neem. Die verlies is totaal en kompleet, baie erger as wat mens sou kon verwag. Op die derde
maand na haar dood vertoef ek lank in ‘n ‘gat’, vir meer as ‘n maand. Dit was Maartmaand wat
Smartmaand vir my geword het. ‘n Goeie vriendin sê jy moet jou tyd goed daar benut en moet
nie sommer net wil uitklim nie. Ons gesin het bymekaar gestaan en eenkant getreur. Hoeveel
kere neem mens afskeid? Dit voel soos ‘n duisend keer en nog steeds is jy nie klaar nie.
Die Hospice reël sessies ter ondersteuning vir die groep mense wat mense aan die dood
afgestaan het. Dit word gedoen deur ‘n jong maatskaplike werkster wat my vrou voorheen
ontmoet het. Weereens ‘n pragtige mens wat regtig ‘n gawe het om met mense te werk en die
19
mense geniet die sessies. Die Hospice het nou deel van ons gesin se uitreik-aksie geword en ons
besoek hulle gereeld en het reeds vriende daar gemaak.
Maar ek wil terugkom na Ouma toe. Sy het toe haar kind se dood verwerk en is positief en
geniet dit in die ouetehuis. Hoe het sy dit reggekry? Ek verstaan sy het een nag ernstig
geworstel oor die vraag hoekom sy nie weggeneem is nie? Sy wat reeds kranklik is met pyne en
wat gereed is om te gaan. Sy het eers in die oggendure die antwoord gekry. Die antwoord is dat
God haar kind se lyding en sterwe baie beter kon gebruik het om Sy boodskap, Sy
teenwoordigheid, Sy genade te illustreer. Ek kan net bevestig dat dit absoluut so is en dat ons
geestelik versterk en opgehef is deur hierdie gebeurtenis, hoe hartseer ookal. Dank aan die
Hemelse Vader vir haar mooi lewe en besonderse wyse wat sy heengegaan het!
As mens terugkyk dan raak dinge duideliker. Dit is desnieteenstaande die feit dat ons net ‘n
stukkie foto van God se groot prentjie nou in ons hand het. Wat duidelik vir ons geword het is
hoe die Here ons gehelp het en dit eintlik vir ons maklik gemaak het. God se hand is duidelik
sigbaar in ons lewens oor die afgelope jare. Ons besoek aan Italië was ook ‘n geestelike ervaring
en hoogtepunt. Die hulp van Bo sluit ‘n hele reeks dinge in:
My dogter wat by ons gewoon het die laaste jare en so baie beteken het, soveel bygedra tot
die huishouding en wat haar ma se plek volgestaan het, voor en tydens hierdie moeilike
tyd.
Vriende wat altyd net daar was vir my vrou en vir ons gesin en ook gehelp het met Ouma.
Dit sluit kos in, raad, berading, hulp en soveel boodskappe en gebede. Vriende wat regtig
verstaan het en stil-stil hulle ding gedoen het. Voortrekkervriende wat ons gedra het. ‘n
Familie wat daar was vir ons elke treë van hierdie pad, met soveel begrip en liefde. My
werk en my vrou se werk en skoolhoof wat dit vir ons baie makliker gemaak het. Die
skoolvriende wat altyd daar was vir ons, so opreg.
‘n Tuisversorger is op ons pad gebring wat uitgehelp het.
Die feit dat Ouma ‘n ander blyplek gekry het was genadiglik en ons sou dit nie gemaak het
as ons nog vir haar moes tuis versorg het nie.
Mediese fondse en ander hulp wat verhoed het dat ons finansieël geruineer is.
Ons almal het klaargemaak met die Voortrekkers middel 2009 wat ons genadiglik meer
kosbare tyd saam gegee het.
Die Hospice wat ons so deur alles met deernis gedra het en die begrafnisondernemer wat
dit soveel makliker vir ons gemaak het.
Die bystand van ons gemeente en predikante, mense wat vir ons gebid het en baie dinge
vir ons gedoen het.
20
Ons kon ‘n paar huishoudelike toestelle aankoop wat deels help om die leemte van ‘n
moeder in die huis aan te vul.
Die testament wat ons net betyds opgestel en geteken het en die beradingskursus wat my
begin voorberei het.
My vrou wat reëlings getref het vir haar eie begrafnis, wat die vakansie gereël het, wat
gesorg het dat die testament opgestel word, wat al haar rekenings volop betaal het, ens.
Soos mens kan sien het alles net reg verloop.
Boetman is ‘n kranige musikant, het dit seker by sy ma geërf. Op Kersdag speel Boetman
dromme in die erediens se orkes en ons geniet dit baie, maar is ook hartseer omdat ‘n nuwe
tydperk nou vir ons begin het. ‘n Tydperk sonder ‘n ma, ‘n lewensmaat, ‘n dogter, ‘n suster, ‘n
tante, ‘n vriendin, ‘n juffrou. Haar plek is finaal leeg. Boetman is terug by sy universiteit, met
nog net soveel wilde planne en drome wat ‘n ouer se hare laat regop staan. Hy het jou
werklikwaar in Desember sy vriend van Australië en sy meisie en ‘n ander spul vriende Soweto
toe gevat en laat ‘Bungie Jump’ van die koeltorings af! Ek het geleer om nie meer vir hom te sê
dat iets te gevaarlik is en hy mag dit nie doen nie. Dan word dit ‘n uitdaging vir hom. My dogter
het die man van haar drome ontmoet en gaan binnekort verloof raak. My vrou het van hom gesê
dat hy so opreg is, so goed gemanierd is, ‘n ware gentleman. Hy weet dat ons hom reeds
aanvaar het as deel van die gesin.
Ouma (skoonma) skryf maar moeilik en kan nie meer mooi sien om te lees nie. Tog skryf sy vir
my ‘n mooi brief om dankie te sê vir die jare se toewyding aan haar gesin en haar dogter. Sy sê
ek het so mooi na hulle omgesien, onder moeilike omstandighede. Sy sê baie dankie dat ek haar
dogter so liefgehad het tot op die einde. Die band tussen Ouma en myself het baie hegter
geword. Sy sluit af en sê dat ek altyd haar kind sal bly.
Die donker kamers in mens se hart kan weer met sonskyn gevul word. Daar is ‘n
genesingsproses wat begin by ‘n diepe besef van God se onvoorwaardelike, onverdienstelike en
onfeilbare liefde vir ons. Dis ‘n geestelike pad wat jy biddend moet loop en eindig by oorwinning
en vrede. So, mens hoef nie toe te laat dat die lewe jou duister maak nie. Trouens, ‘n mens sal
dit eers moet uitsorteer om regtig te kan beantwoord aan jou doel op aarde. Maar meeste
mense gaan grotendeels deur die lewe saam met daardie dinge wat skeiding maak tussen ons
en God. Dit is dinge wat mens verafgod soos - jou werk, jou gesondheid, jou of jou kind se
prestasies, vir party hulle volgende miljoen of nog ‘n eiendom, jou ego, besittings, geleerdheid,
godsdienstigheid, ens. ‘n Mens het nie soveel besittings nodig nie, want jy kan tog net in een
bed slaap. Dit kan ook een of ander trauma wees waaroor jy nie kan kom nie, en dit word dan ‘n
skeidsmuur tussen jou en jou Skepper.
21
Snaaks genoeg is dis duidelik dat ‘n mens deur trauma of swaar tye moet gaan om jou ware self
weer te vind en om regtig vir ander te kan help. Om regtig in liefde uit te reik en ander se pyn te
verstaan. Ek het ook geleer dat ander mense se hartseer heilige grond is en gerespekteer moet
word. En mens moet dalk eers ouer word voordat die kosbaarhede en die eenvoud van die lewe
en die skatte van wysheid ontdek kan word.
Ons moet die vermoë herontdek om te vereenvoudig, om die onnodige uit te skakel
sodat die nodige kan spreek. Hulle sê al wat mens nodig het in die lewe is - iemand
om lief te hê, iets om te doen en iets om voor te hoop.
Ja, nou maak dit sin en ek moet saamstem, in ons geval was Kanker definitief genadetyd!
Dankie daarvoor! Ons gesin glo nie dat die betekenisse wat aan name toedig word, te ernstig
opgeneem moet word nie. Maar die betekenisse van my vrou se name is letterlik Pêrel en
Geskenk. Sy was toe al die tyd die Juweel wat vir ons Geskenk is!
Die geel witstinkhout-blare fladder in die herfswindjie van 2011 en herinner ons aan die komende
winter. Dit lyk na ‘n besonderse koue winter wat voorlê.
---o---
Skrywer: Lukas van der Merwe
Mei 2011
22