spreuke 12:10 nlv - the word for...
TRANSCRIPT
2017/04/01
Spreuke 12:10 NLV
Troeteldiere is ‘n gawe van God
‘n Man het aan ‘n hotel, waar hy vakansie wou gaan hou, geskryf en gevra, ‘Kan ek my
hond saambring? Hy is baie soet.’ Die hoteleienaar het geantwoord, ‘Ek bestuur hierdie
hotel nou al vir dertig jaar en in al daardie tyd het ‘n hond nog nooit die handdoeke,
beddegoed, eetgerei of skilderye gesteel nie. Ek moes nog nooit ‘n hond vra om die
hotel te verlaat omdat hy dronk was nie en geen hond het nog ooit die hotel verlaat
sonder om sy rekening te betaal nie. Jou hond is welkom. Verder, as jou hond vir jou kan
borg staan, is jy ook welkom.’ Salomo skryf, ‘Die regverdige gee om vir sy diere.’ Het jy al
ooit goddelikheid vanaf hierdie perspektief oorweeg? Miskien dink jy, ‘Dit klink nie baie
geestelik nie.’ Dink weer! ‘Van Bo af kom net goeie, ja, volmaakte gawes...’ (Jakobus 1:17
NLV). Baie mense wat rou, se verlies word draagliker gemaak deur ‘n troeteldier wie se
liefde en lojaliteit hulle help om aan te gaan. Het jy geweet dat mense met troeteldiere
langer lewe, gesonder is, vinniger herstel en minder depressie ervaar? Wie sal ooit die
honde gedurende 9/11 vergeet wat deur die verwoesting van die World Trade Center
gesoek het, al tjankend omdat hulle nie diegene wat gesterf het, kon red nie? En wat
van die opgeleide honde wat sig gee aan die blindes? Dit klink nogal geestelik! Toe God
ons troeteldiere geskep het, het Hy gesien dat dit goed is. Hoekom het Hy dit gesê?
Omdat troeteldiere die deugsaamheid van mense het, sonder enige van hulle foute.
Kom ons erken hulle dus as ‘n gawe van God, kom ons wees dankbaar vir hulle en kom
ons sorg goed vir hulle!
Sielskos: Jer 28-30; Luk 21:12-24; Ps 72:12-20; Spr 9:7-9
2017/04/02
Romeine 5:1 NLV
Vrede kom deur Christus te vertrou
Charles Stanley vertel dat hy vir sy kelnerin gevra het, ‘As jy enigiets van God kon vra, wat
sou dit wees?’ Onmiddellik het sy geantwoord, ‘Ek wil vrede hê.’ Deur haar trane het sy
vertel van hartseer verliese wat haar lewe intens emosioneel beïnvloed het. Baie mense,
soos hierdie jong vrou, wil innerlike vrede sonder ‘n verhouding met Jesus, die Prins van
Vrede, hê. Hulle soek dit deur maniere wat nie werk nie – oefening, finansiële sekuriteit,
sosiale status, alkohol, dwelms of menslike verhoudings. Geeneen van hierdie dinge kan
egter vrede in jou hart en gedagtes bring nie; net ‘n verhouding met Jesus kan dit doen.
Voordat ons Jesus ontmoet het, was ons slawe van die sonde, wat in opposisie met
God leef (sien Romeine 6:16). Ons sondes verwyder ons van God, sodat ons met skuld,
stres en skaamte saamleef. Hy het egter ‘n oplossing daarvoor gegee. ‘God laat blyk sý
liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons
nog sondaars was’ (Romeine 5:8 NLV). Wanneer ons op Christus as ons Redder vertrou,
belowe Hy, ‘As mense wat deur God vrygespreek is omdat ons glo, is daar nou vrede
tussen God en ons op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het’ (Romeine
5:1 NLV). As jy jou vertroue in Christus geplaas het, lees die volgende: ‘Moet oor niks
bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl
julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef.
Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink...’ (Filippense 4:6-7 NLV).
Sielskos: Jos 2:1-24; Hand 9:20-30
2017/04/03
Markus 14:8 NLV
Gebruik wat God jou gegee het
Jesus het een van sy grootste komplimente aan ‘n vrou gegee wat duur olie uit ‘n
albaste fles op sy kop uitgegiet het. ‘Sy het haar allerbeste vir My gedoen.’ God verwag
niks meer van ons nie en is waardig tot niks minder nie. Een nag in 1837, het ‘n vrou
genaamd Florence die stem van God gehoor wat aan haar gesê het dat sy ‘n spesiale
doel in die lewe het. Nege jaar later het haar missie begin vorm aanneem toe ‘n vriend
vir haar inligting oor ‘n inrigting in Duitsland gestuur het wat diakonesse oplei om vir
die siekes te sorg. In 1853 het sy die superintendent van ‘n vrouehospitaal in Londen
geword. Toe die Krim-oorlog in 1853 uitbreek, het sy aangebied om na die Britse soldate
om te sien, en na Konstantinopel vertrek. In Turkye was sy in beheer van ‘n militêre
hospitaal. Dit was ‘n omgewing wat deur mans gedomineer is en die dokters was haar
vyandiggesind. Die hospitaal was vieslik vuil, dus het sy haar moue opgerol en begin om
na haar pasiënte om te sien, eers met die voorraad wat sy saamgebring het en toe deur
‘n korrespondensie-veldtog van stapel te stuur om nog voorraad vir die hospitaal te kry.
Sy het ure elke dag in die sale deurgebring en omtrent elke soldaat, wat die hospitaal
binnegekom het, aangeraak. Die vertroosting wat sy op haar nagtelike rondtes aan
hulle gegee het, het aan haar die bynaam, ‘die suster met die lamp’ besorg. Wie was sy?
Florence Nightingale. Een van haar bekendste aanhalings is, ‘Ek het nooit ‘n verskoning
gemaak, of ‘n verskoning aanvaar nie.’ In plaas daarvan om op die talente en hulpbronne
wat jy nie het nie te fokus, gebruik wat God jou gegee het.
Sielskos: Jer 31-32; Luk 21:25-38; Ps 32; Spr 9:10-16
2017/04/04
Judas vers 16 NLV
Moenie kla nie (1)
John Gordon sê: ‘My vrou se vriendin, Rachel, wou nie ophou kla oor haar werk nie...
die maatskappy, die ekonomie, haar gebrek aan verkope... Ek het haar uiteindelik
gestop en gesê, ‘Dis eenvoudig. Jy kan jou maatskappy se nuwe beleide aanvaar, met
‘n positiewe houding gaan werk en jou beste elke dag doen, of jy kan ‘n ander werk
soek. Wat jy egter ook al doen, hou op kla, want dit help niks. Verander jou werk, of
verander jou houding.’ Na die gesprek het Rachel vir maande nie met my gepraat nie.
Toe ek haar later op ‘n partytjie raakloop, het sy vir my gesê dat sy besluit het om
my raad te volg. Sy het by haar werk aangebly, ophou kla en meer produkte begin
verkoop. Die ander dag, drie jaar na ons oorspronklike gesprek, het ek Rachel weer
raakgeloop en gevra hoe dit met haar gaan. Sy het vertel dat haar verkope die vorige
twee jaar bly groei het. Sy is twee keer bevorder en het nou haar droomwerk gehad.
Dit is die werk wat sy altyd wou gehad het en sy was meer opgewonde en passievol
daaroor as ooit vantevore. Saboteer jy jouself en/of jou span deur aanhoudend te
kla? Ek was in ‘n soortgelyke situasie tien jaar terug. Ek het egter geleer dat wanneer
ek ophou kla en positiewe aksie neem, begin ek wen.’ Die Bybel plaas klakouse en
brompotte in dieselfde klas as ‘...die goddeloses [wat] skuldig bevind [word] oor al die
skelwoorde wat die goddelose sondaars teen Hom uitgespreek het... Hulle rig hulle
lewe in volgens hulle natuurlike drange... ter wille van hulle eie voordeel’ (verse 15-16
NLV). Jy moet eerder vol geloof wees, God vir Sy seëninge dank en op Hom vir die
toekoms vertrou.
Sielskos: Jer 33:1-36:26; Luk 22:1-13; Ps 25:1-7; Spr 9:17-18
2017/04/05
Eksodus 16:7 NLV
Moenie kla nie (2)
Wanneer jy kla, neem God dit persoonlik op. Dit wys ‘n gebrek aan geloof in sy Woord
wat sê, ‘... God [laat] alles ten goede saamwerk vir hulle wat Hom liefhet...’ (Romeine
8:28 NLV). Die Bybel sê ‘Toe die farao uiteindelik die volk laat gaan het, het God hulle
nie kortpad deur die Filistynse gebied laat trek nie. Die Here het gesê: ‘As die volk nou
met oorlog moet te doen kry, gaan hulle van plan verander en omvlieg terug Egipte
toe.’ Daarom het God hulle eerder met die woestynpad in die rigting van die Rietsee
laat trek...’ (Eksodus 13:17-18 NLV). God sien die einde reeds van die begin af en Hy
lei jou nie noodwendig op die kortste pad nie. Wanneer jy dit aanvaar, kan jy ophou
kla. Toe Israel gemor het, ‘...het die Here kwaad geword. Vuur wat van die Here af kom
het onder hulle uitgebreek...’ (Numeri 1:11 NLV). Dr Dale A Robbins skryf: ‘Hulle het
geweier om op Hom te vertrou om te voorsien, te beskerm en hulle lewens te rig. Die
hele beginsel van Christenwees is dat Jesus die ‘baas’ van ons omstandighede word. As
gelowiges kla, is dit ‘n aanklag teen die Here wat ons met ons lewens vertrou.’ Wanneer
jy deur moeilike tye gaan, moenie kla nie. Loof God ten spyte van die omstandighede.
‘Wees in alle omstandighede dankbaar...’ (1 Tessalonisense 5:18 NLV). Dankbaarheid
wys waardering vir alles wat God reeds gedoen het en vir dit wat Hy beloof om te
doen. Die Psalmdigter sê, ‘Offer jou dankoffers aan God... Roep na My in die dag van
nood. Ek sal jou verlos en jy sal My eer’ (Psalm 50:14-15 NLV). Dankbaarheid – nie ‘n
geklaery nie – motiveer God om namens jou te werk.
Sielskos: Jer 36:27- 40:16; Luk 22:14-23; Ps 25:8-15; Spr 10:1-3
2017/04/06
Jesaja 43:18 NLV
Kom slegte herinneringe te bowe
Om slegte herinneringe te bowe te kom, moet jy: 1) Jou verwysingsraamwerk verander.
Josef het, toe hy terugkyk, gesê, ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen
het, omgekeer in iets wat goed is...’ (Genesis 50:20 NLV). 2) Die herinneringe verwerp.
Die volgende keer wat ‘n slegte herinnering sy opwagting maak, weier om daaraan
aandag te gee. ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het.’ 3) Jou gedagtes
herfokus. ‘...ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê’ (Filippense
3:13 NLV). Jy sê, ‘Ek kan nie help om dit te onthou nie.’ As jy egter jou moeilikhede
kan onthou, kan jy ook jou seëninge onthou. Die effektiefste manier om slegte
herinneringe te bowe te kom, is om hulle met goeie herinneringe te vervang! Elke
belofte wat God jou gee, het die krag om vervul te word. Mediteer oor hierdie woorde:
‘Moenie bang wees nie. Jy sal nie weer verneder word nie. Moenie bang wees vir die
skande van voorheen nie. Jy sal die skande van jou jeug vergeet...’ (Jesaja 54:4 NLV). ‘...
Die vorige dinge sal nie meer onthou word nie en nie in die gedagte opkom nie. Wees
bly en jubel oor wat Ek gaan skep...’ (Jesaja 65:17-18 NLV). God kan skoonheid uit die
as en orde uit chaos skep – maar dit gebeur nie oornag nie. Jy sal oppad baie groei
en vergewe. In sommige gevalle sal jy ander mense vergewe; in ander gevalle jouself.
Jy sê, ‘Maar al hierdie beloftes kom uit die Ou Testament!’ Ja, maar die Bybel sê, ‘Want
alles wat God belowe het, het waar geword toe Christus gekom het...’ (2 Korintiërs 1:20
ABA). Bring dus jou slegte herinneringe na God toe en laat Hy hulle gesond maak.
Sielskos: Jer 41-44; Luk 22:24-38; Ps 25:16-22; Spr 10:4-7
2017/04/07
Psalm 133:1 NLV
Wees eensgesind, nie verdeeld nie
Dawid het gesê, ‘Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saamwoon!.. Want daar
gee die Here sy seën...’ (vers 1,3 NLV). Wanneer ons daarna streef om ten spyte van ons
verskille, saam te werk, gee die Here sy seën. Satan weet dit, dus is sy hoofstrategie om
te verdeel en te oorwin. Hy ken die krag, sinergie en seëninge wat uit eensgesindheid
voortspruit, dus doen hy sy bes om verdeeldheid te saai. Die sesde hoofstuk van Spreuke
lys sewe dinge wat die Here haat, onder andere ‘...iemand wat rusie veroorsaak tussen
broers’ (Spreuke 6:19 NLV). Paulus sê, ‘Deur in vrede met mekaar te lewe, moet julle
die eenheid wat die Gees bewerk het, bewaar’ (Efesiërs 4:3 NLV). Ons kan nie bekostig
om oningelig oor Satan se taktiek om ons teen mekaar op te sweep, wees nie. Hy sal
veroorsaak dat jy jouself oor ‘n onskuldige opmerking vererg, of meer in ‘n opmerking
lees as wat die spreker daarmee bedoel het, of onrein bedoelings aan iemand anders se
optrede toeskryf, of ‘n leuen glo. Wanneer jy egter bid en God soek, sal Hy die waarheid
van die situasie aan jou openbaar. ‘Christus het inderdaad vrede tussen ons gebring...’
(Efesiërs 2:14 NLV) en wanneer ons Hom vertrou, lei Hy ons na ‘n vreedsame oplossing.
Ons konflikte kan inderdaad tot hegter verhoudings lei, wanneer ons ons daartoe
verbind om mekaar te verstaan en nie verdeeld te raak nie. Dit is hoekom Paulus skryf,
‘En nou... pleit ek by julle in die Naam van ons Here Jesus Christus om eendragtig saam
te staan – één in julle oortuigings... Julle moet van harte saamstem in julle denke en in
julle visie’ (1 Korintiërs 1:10 NLV).
Sielskos: Jer 45-48; Luk 22:39-53; Ps 50:1-15; Spr 10:8-10
2017/04/08
Matteus 6:25 NLV
Vereenvoudiging hoef nie gekompliseerd te wees nie
Thoreau het gesê, ‘Ons lewens word op detail verspil... vereenvoudig, vereenvoudig.’
Jesus het dit op ‘n ander manier gestel: ‘...Hou op om julle te bekommer oor julle
daaglikse lewe... Hou die voëls in die lug dop. Hulle saai nie, hulle oes nie, en hulle maak
nie in skure bymekaar nie. Dit is onnodig, want julle hemelse Vader gee aan hulle hulle
kos...’ (verse 25-26 NLV). Charlie Shedd was die pastoor van ‘n groot kerk met baie eise.
Hy en sy vrou het ‘n vereenvoudigingslys opgestel: Maak seker dat vereenvoudiging
nodig is. Jou probleem mag dalk traagheid wees, omdat jy nie genoeg doen nie.
Onthou hoekom jy hier is. Stel God se wil eerste. Jy sal eenvoudiger lewe wanneer jy ‘n
noodsaaklike doel het waarnatoe jy moet werk. Laat vaar nuttelose doelwitte. Moenie
jouself moeg maak met onbelangrike take nie. Jy kan nie alles doen nie. Lewe een dag
op ‘n slag. Beplan en hoop vir die toekoms – maar moenie daar lewe nie. ‘...Môre sal
sy eie bekommernisse bring...’ (vers 34 NLV). Lewe goed vandag, en more se krag sal
vanself kom. Waar jy ook al is – wees dáár. Hou op om te dink dat vreugde vyfuur in die
middag, of by vanaand se partytjie, of wanneer jy aan die slaap raak, opdaag. Lewe in
die oomblik. Ontwikkel ‘n stokperdjie. ‘n Verandering van aktiwiteit hou jou vars. Tyd
wat gebruik word om te speel is tyd wat goed gebruik word. Jy kan nie die wêreld laat
stilstaan nie, maar jy kan jouself laat stilstaan. Leer om af te skakel. As jy nie die pas kan
verander nie, gaan na jou binnekamer en verander jouself. Kies die perfekte voorbeeld:
Christus. ‘Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees...’ (Filippense 2:5 NLV).
Sielskos: Jer 49-50; Luk 22:54-62; Ps 50:16-23; Spr 10:11-13
2017/04/09
1 Korintiërs 1:27 NLV
Jy is gekwalifiseerd vir die werk
Moenie die dinge wat God aan jou gegee het, wat jou kwalifiseer om aan ander se
behoeftes te voldoen, afmaak nie. Die dissipels het nie in die skare verdwyn nie, hulle
het uitgestaan en die wêreld het hulle ‘...herken as mense wat saam met Jesus was’
(Handelinge 11:26 NLV). Hulle het sy boodskap gepreek, sy metodes gebruik, en sy
wonderwerke gedemonstreer. In Antiogië is hulle vir die eerste keer ‘Christene’ genoem
(sien Handelinge 11:26). Dit was omdat hulle so baie soos Christus gepraat en opgetree
het. Wat ‘n kompliment! Wat ‘n roeping! Wat ‘n uitdaging! Omdat ‘n diensmeisie ‘n
Aramese bevelvoerder van haar God vertel het, is hy van melaatsheid genees (sien 2
Konings 5). Omdat Josef Farao se drome uitgelê het toe niemand anders kon nie, het
hy die wêreld van hongersnood gered (sien Genesis 41). Omdat ‘n seuntjie dit wat hy
gehad het aan Jesus gebied het – vyf broodjies en twee vissies – is ‘n skare honger
mense wonderbaarlik gevoed (sien Markus 6:34-44). Wanneer mense aangestel moet
word, is persoonlikheidstoetse ‘n hulpmiddel om iemand se geskiktheid vir die werk
te ontdek. Dit is egter anders in God se koninkryk. Wanneer God jou roep, rus Hy jou
toe. Sy Woord sê: ‘Nietemin het God doelbewus dit wat vir die wêreld na dommigheid
gelyk het, uitgekies om die slim mense skaam te maak en dit wat vir die wêreld na totale
swakheid gelyk het, het Hy uitgekies om die magtiges te laat skaam kry. Inderdaad, wat
vir die wêreld onaansienlik en gering lyk... het God uitgekies om wat vir die wêreld wel
belangrik is, totaal af te skryf. Gevolglik het niemand enige grond om sy bors voor God uit
te stoot nie’ (1 Korintiërs 1:27-29 NLV). Die woord vir jou vandag is – jy is gekwalifiseerd
vir die werk!
Sielskos: Matt 21:1-16; Mark 11:1-11; Ps 118:19-29
2017/04/10
Psalm 51:5 NLV
Is jy regtig so gebore?
Of jou stryd nou met alkohol, dwelms, seks, woede, skinder, onvergifnis, steel, lieg of
dobbel is, een ding is seker – ons word almal met ‘n geneigdheid tot sekere gedrag
gebore. Dit is dus nie ‘n genetiese kwessie nie, maar ‘n geestelike kwessie. Dit gaan
nie oor die wetenskap nie, maar oor sonde. Enigeen van ons kan vind dat ons met
hierdie kwessies sukkel – nie omdat ons ‘n geen daarvoor geërf het nie, maar omdat
ons Adam se sondige natuur geërf het die dag wat ons gebore is. Dawid sê, ‘Want
ek is as sondaar gebore, en was dit voor my geboorte.’ Salomo sê dat daar geen
uitsonderings is nie: ‘Want daar is niemand op aarde wat regverdig is nie, niemand wat
net goeddoen en nooit sondig nie’ (Predikeer 7:20 NLV). So ja, ons is almal so gebore.
Die rede dat hierdie tipe gedrag natuurlik is vir ons, is nie omdat ons nie kan help
hoe ons is nie, maar omdat ons sondige natuur sterker is as ons begeerte om God te
behaag. Selfs wanneer ons probeer, verloor ons soms die stryd. Paulus, die grootste
van Christene, het erken dat hy misluk het toe hy die regte ding probeer doen het. ‘...
Want die begeerte tot die goeie is daar, maar ek kry dit nie uitgevoer nie’ (Romeine
7:18 NLV). As ons dus so gebore is, wat is die goeie nuus dan? Paulus sê vir ons: ‘...
Wie sal my uit hierdie doodstoestand red? Die antwoord hierop is: Jesus Christus en
daarvoor dank ek God!..’ (Romeine 7:24-25). Toe jy gebore is, het jy Adam se korrupte
natuur ontvang, maar deur die nuwe geboorte het jy Christus se natuur, wat sonde
oorwin, lewensveranderend en geregtig is, ontvang!
Sielskos: Jer 51-52; Luk 22:63-71; Ps 56; Spr 10:14-16
2017/04/11
Spreuke 3:13 NLV
Wees bereid om by ander mense te leer
Sekere mense laat ons minderwaardig voel wanneer ons in hulle geselskap is, maar
mense wat waarlik wys en volwasse is, probeer om dit nooit te doen nie. As jy al ooit
so ‘n slegte ervaring gehad het, moenie dat dit jou pla nie. As jy nie naby ‘n leier staan
nie, sal jy nie in staat wees om jou groei te meet, of te monitor hoeveel jy al ontwikkel
het nie. Suksesvolle mense het nie altyd geweet wat hulle nou weet nie – hulle moes
ook leer en groei. Moenie voorgee asof jy dinge weet wat jy nie weet nie. Dit is die
beste om opreg te wees en vrae te vra wanneer die tyd reg is. Die meeste suksesvolle
mense geniet dit om dit wat hulle weet te bespreek en te deel, so trek voordeel daaruit.
Vrees vir verwerping weerhou ons daarvan om vooruit in die lewe en verhoudings te
beweeg. Jy sal verbaas wees hoeveel mense hulleself beperk deur net met mense
wat op dieselfde vlak as hulle is, te sosialiseer. ‘n Belangrike deel van jou ontwikkeling
vind plaas wanneer jy besluit om oor die spoor te stap en met mense in aanraking te
kom wat al verder as jy beweeg het. Hierdie verhoudings skep ‘n geleentheid vir jou
om te groei. Dit is nie verkeerd om ‘n tekort aan kennis te hê nie, maar dit is verkeerd
om onwillig te wees om te leer. Josua het die beginsels van goeie leierskap by Moses
geleer. Rut het geleer hoe om die regte verhouding te vind deur na Naomi te luister.
Maak hierdie Skrifgedeelte ‘n leidende beginsel in jou lewe: ‘Die mens wat wysheid
kry, is gelukkig. Dit gaan goed met die mens wat insig kry.’
Sielskos: Eks 12:1-14; Mark 14:12-26; Ps 69:7-21
2017/04/12
Efesiërs 3:20 NLV
God werk aan jou omstandighede
‘n Skrywer sê: ‘Ons bestuur tyd, mors tyd, spandeer tyd en spaar tyd. Ons wens die
tyd wil kom, ons wens die tyd wil verbygaan, ons sien hoe die tyd vlieg, ons voel hoe
tyd stilstaan. Ons hou horlosies dop en dra kalenders rond en tog beheer God tyd. Hy
het tyd geskep en sy skeppings word in sy tyd gelei en deur sy liefdevolle hand gerig.
Ons word deur onverwagte ontwikkelinge verras, maar God word nooit, selfs deur die
mees rampspoedige gebeurtenisse, verras nie. Jou lewensuitkyk verander dramaties
wanneer jy weet dat God op hierdie presiese oomblik binne in jou werk om sy doel vir
jou uit te leef. Dink hoe jy sou gelewe het as jy verseker was dat God aan die einde van
jou sperdatum vir jou wag. Dat selfs met sekondes oor, jy met sekerheid geglo het dat
God in jou omstandighede aan die werk is. Die kern van geloof is om te glo dat God
daar is en op die punt is om die noodsaaklike te voorsien. ‘Jesus Christus bly steeds
dieselfde – gister, vandag en vir altyd!’ (Hebreërs 13:8 NLV). Tyd kan nie sy liefde of sy
krag om in jou lewe te werk, verminder nie. Hy was in die verlede daar, Hy is hier in die
hede en Hy sal in die toekoms daar wees. Vir Hom ‘...is ‘n duisend jaar soos gister, soos
‘n nagwaak wat gou verby is!’ (Psalm 90:4 NLV). Sy uiteindelike doel is om jou in die
ewigheid in te bring, nie net om jou deur hierdie week te kry nie.’ Herinner jouself in
elke situasie, dat ‘...Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer
te doen as wat ons vra of dink om te vra.’
Sielskos: Joël 1-3; Luk 23:1-12; Ps 43; Spr 10:17-18
2017/04/13
Johannes 8:11 NLV
Jesus veroordeel nie, Hy verontskuldig
Die Bybel sê: ‘Die skrifkenners en die Fariseërs bring toe ‘n vrou wat op die daad
van owerspel betrap is.... Hulle sê vir [Jesus]: ...‘Moses het in die wet aan ons opdrag
gegee om sulke vroue te stenig’... Jesus... het vir hulle gesê: ‘Laat die een onder julle
wat sondeloos is, die eerste een wees wat ‘n klip na haar gooi’...Nadat hulle dit gehoor
het, het hulle een vir een begin weggaan... Toe...het [Jesus] vir haar gesê: ‘Dame, waar
is hulle heen? Het niemand jou veroordeel nie?’ Sy het geantwoord: ‘Niemand nie,
Meneer.’ Jesus sê toe vir haar: ‘Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou
af nie meer sonde doen nie’ (verse 3-11 NLV). Let twee dinge op: 1) Die mense wat die
minste gekwalifiseerd is om jou te veroordeel, sal dit doen. Jesus het die harte van
die Fariseërs geken. Hulle doel daardie dag was om Jesus uit te daag deur die vrou se
sondes te openbaar, sodat hulle iets kon kry om Hom oor aan te kla. Vermy vandag se
Fariseërs! Vind jou vriende tussen diegene wat deur genade verlos is en bewys genade
teenoor ander mense. 2) Die Een wat gekwalifiseerd is om jou te veroordeel, sal dit nie
doen nie. Bly naby aan Hom. Wanneer jy dit doen, sal jy ontdek dat jou littekens nie
permanent is nie en sal jy baie vinniger herstel. Christus sal jou in jou donker plekke
ontmoet en die wonde van jou verlede gesond maak, omdat Sy genade groter as jou
skande is. As jy vandag onder die gewig van jou sondige verlede en gewoontes steier,
kom na Jesus toe. Hy is gereed om jou te vergewe en jou vry te maak.
Sielskos: Hand 1:1-3:10; Luk 23:13-25; Ps 127; Spr 10:19-21
2017/04/14
Jesaja 53:10 NLV
Golgota was altyd deel van God se plan
Die Psalmdigter het geskryf: ‘My God, my God! Waarom het U my verlaat?.. Maar ek is
net ‘n wurm, en nie ‘n man nie; ek word bespot deur die mensdom... Elkeen wat my
sien...skud die kop en sê: ‘Hy het op die Here vertrou, laat Hý hom dan red!..’ My lewe is
uitgestort soos water, al my bene val uitmekaar... My tong kleef aan my verhemelte...
My hande en voete is vasgemaak... deur die lot te werp deel hulle my kledingstukke’
(Psalm 22:1-18 NLV). Dink daaroor: Dawid kon besig wees om Jesus se kruisiging
in detail te beskryf. Tog, toe hy hierdie woorde geskryf het, was kruisiging nog nie
as ‘n metode van die doodstraf ingestel nie. Dit is eers eeue later deur die Feniciërs
ingestel en lank daarna is dit eers deur die Romeinse Ryk begin gebruik. Dr Charles
Augustus Briggs sê: ‘Jy kan hierdie Psalm neem en dit langs die Nuwe Testamentiese
weergawes van die kruisiging plaas en sien hoe dit bymekaar pas. Dit is verstommend
hoe iemand iets wat eers ‘n duisend jaar later sou plaasvind so intiem en ingewikkeld
kon beskryf.’ Golgota het nie toevallig gebeur nie. Lank voordat Jesus gebore is, het
God ‘n plan gehad om ons deur Christus met Homself te versoen (sien 2 Korintiërs 5:18
NLV). Die historikus Paul L Maier sê: ‘In Jesaja hoofstuk 53 vind ons amper ‘n lopende
kommentaar van wat op Goeie Vrydag plaasgevind het. Dit sou wiskundig onmoontlik
wees vir enigiemand anders as Jesus om hierdie profesie in die Ou Testament te vervul.’
Die punt is: ‘Maar dit was die Here se wil om hom te vermorsel en te laat ly...’ Dit beteken
dat lank voor daar ‘n Paasfees was, was God reeds besig om aan jou te dink!
Sielskos: Jes 53; Luk 23:26-49; Ps 22; Spr 21:22-23
2017/04/15
Lukas 24:32 NLV
Hou die vuur aan die brand
Na die opstanding het Jesus twee van sy dissipels ontmoet wat gesien het hoe Hy
gekruisig is en nie geweet het dat Hy uit die dood opgestaan het nie. Later, toe Hy
saam met hulle aandete by hul huis eet, het ‘n interessante ding gebeur: ‘Toe het
hulle oë oopgegaan het hulle het Hom herken... Hulle sê toe vir mekaar: ‘Was ons
harte nie vuur en vlam in ons toe Hy met ons op pad gepraat het en die Skrif vir ons
geïnterpreteer het nie?’’ (verse 31-32 NLV). Hierdie verhaal leer ons baie oor hoe om
die vuur van liefde en toewyding aan Christus in ons harte aan die brand te hou.
Soos jy saam met Jesus stap en tyd in sy teenwoordigheid spandeer, praat Hy met
jou en openbaar Hy Homself deur die Skrif. Ons almal weet dat om ‘n vuur aan die
gang te hou, moet jy dit dophou, dit aanhou stook en aanhou voed. Hoekom beweeg
sommige van ons na hoër hoogtes en dieper dieptes in ons reis met God, terwyl
dit vir ander van ons lyk asof ons in sirkels loop sonder om êrens te kom? Omdat
een groep hulleself daaraan toewy om God na te jaag totdat sy teenwoordigheid ‘n
daaglikse realiteit in hulle lewens word, terwyl die ander groep dit nie doen nie. Dit is
so eenvoudig. Die vraag is, aan watter groep behoort jy? As jy louwarm en halfhartig
in jou reis met God is, sê Hy vandag vir jou, ‘...Draai om na My toe en Ek sal na julle toe
omdraai...’ (Sagaria 1:3 NLV). Anders gestel: ‘Draai om en kom terug. Jy sal My kry waar
jy My gelos het.’ Hou dus vandag die vuur aan die brand.
Sielskos: Hand 3:11-5:42; Luk 23:50-56; Ps 75; Spr 10:22-23
2017/04/16
Johannes 11:25-26 NLV
Glo jy dit?
Ons sukkel met die idee van ons eie mortaliteit. Daar word vertel dat Florence
Nightingale die dood soveel gevrees het, dat sy na die Krim-oorlog bed toe gegaan
het en tot haar dood in 1910 daar gebly het. Chuck Swindoll sê dat ons die onderwerp
op die volgende maniere hanteer: 1) Humor. Deur ‘n grap daarvan te maak, hou ons
die dood op ‘n veilige afstand sodat ons nie die realiteit daarvan in die gesig hoef
te staar nie. 2) Ontkenning. Koning Louis XIV van Frankryk het nie toegelaat dat die
woord ‘dood’ in sy teenwoordigheid geuiter word nie. Op 1 September 1715, het hy
egter ontdek dat mens nie die dood kan wegwens nie. 3) Romantiek. ‘n Man het ‘n
spesiale kamer gebou waar hy saam met sy dooie vrou kon wees. Sy bed was langs
haar kis. Hy het die kamer met blomme en kerse versier. Hy het elke dag vir haar
gedigte geskryf in ‘n romantiese poging om die pyn van haar heengaan te vermy. 4)
Vrees. Observeer jou mede-passasiers in die vliegtuig wanneer onstuimige weer die
vliegtuig laat skud en vibreer. Oud en jonk raak vreesbevange en gil.’ Die goeie nuus
is dat jy nie die dood hoef te vrees nie! Die Een wat dit oorwin het, het gesê, ‘...Ek lewe
en julle sal lewe’ (Johannes 14:19 NLV). Wanneer jy berou het en jou lewe aan Christus
wy, het jy Sy persoonlike waarborg van ‘n ewige lewe. Nadat Lasarus gesterf het, het
Jesus vir sy suster Marta gesê: ‘...Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal
lewe, al sterf hy ook... Glo jy dit, Marta?’ As jy dit glo, sal jy vir ewig saam met Christus
lewe.
Sielskos: 1 Kor 15; Luk 24:1-12; Matt 28:1-10
2017/04/17
1 Johannes 4:4 NLV
Ontwikkel ‘n oorwinnende houding
Die teleurstellings van die lewe kan veroorsaak dat jy niks behalwe negatiwiteit in jou
toekoms sien nie. Jy voel hopeloos, verkleineer jou eie vaardighede, weier om enige
risiko’s te neem, sê nee vir geleenthede van persoonlike groei, kla oor die onregverdigheid
van die lewe en sê dat niks ‘n verskil aan die omstandighede kan maak nie. Herken jy
hierdie houding in jouself? Indien so, is daar goeie nuus. Dr Paul Meier, ‘n Christelike
psigiater, het gesê, ‘’n Houding is niks meer as die gewoonte van sekere gedagtes nie.
Wanneer jy ‘n aksie herhaal, word dit ‘n houding.’ Dit beteken dat jy met oefening ‘n
oorwinnende houding kan kry. Jy doen dit so: 1) Wees eerlik oor jou poging om jou
pessimisme te oorkom. Gee iemand wat jy respekteer die toestemming om uit te wys
wanneer jy negatief is. 2) Beperk jou blootstelling aan negatiewe insette. Jy word soos
die geselskap waarin jy jou bevind, kyk dus uit vir mense wat jou geloof versterk en nie
jou vrese voed nie. ‘Hy wat met wyse mense meng, verkry self ook wysheid...’ (Spreuke
13:20 NLV). 3) Bied aan om ander wat minder bevoorreg is as jy, te dien. Wanneer jy
iemand dien, voel jy positief en gee dit aan jou ‘n gevoel van waarde. Dit is ook die regte
ding om te doen. 4) Soek die goeie in elke situasie en glo dat dit daar is! President Harry
Truman het gesê, ‘’n Pessimis is iemand wat moeilikhede van sy geleenthede maak, ‘n
optimis is iemand wat geleenthede van sy moeilikhede maak.’ Wanneer jy vandag voor
‘n moeilike situasie te staan kom, sien dit as ‘n geleentheid, want ‘...die Gees wat in julle
woon, [is] magtiger as die gees wat in die wêreld woon.’
Sielskos: Hand 6-7; Luk 24:13-24; Ps 130; Spr 10:24-26
2017/04/18
1 Petrus 4:10 NLV
Die probleem met jaloesie
n Berader merk op: ‘Wanneer ons op die wipplank van jaloesie klim, sink ons dadelik tot
onder terwyl die fokus van ons misnoeë ver bo ons uitrys. In hierdie ongebalanseerde
vergelyking vind ons dat ons altyd gebrekkig daar uitsien. Jaloesie lei tot selfbejammering
en ondankbaarheid. Ons is so gefokus op ons onvergenoegdheid dat
dit onmoontlik is om dit wat ons het en dit wat ons doen, te geniet. Jaloesie lei tot
bitterheid, onvergenoegdheid en vyandigheid. Die Engelse woord ‘envy’ kom van die
Latynse woord ‘invidere’, wat beteken ‘om met kwaadwilligheid te kyk.’ Jy is ‘n unieke
skepsel met jou eie spesiale vermoë, tydsberekening en doelwit. Dit maak nie sin om
jouself met ander mense te vergelyk nie. ‘n Eerlike, dankbare ondersoek van die gawes
wat God aan jou gegee het, sal jou tevrede laat voel met wat jy het en wie jy is.’ Moenie
dat jaloesie ‘n sekonde van jou blydskap steel nie. Wanneer dit jou motiveer om jou
met ander mense te vergelyk, sal jy altyd tekort skiet. Dit maak jou sinies. Niks wat jy
doen, bevredig jou nie. Jaloesie maak jou agterdogtig oor ander mense se motiewe,
selfs wanneer hulle waarlik vir jou omgee. Jy sukkel om te aanvaar dat hulle vriendskap
opreg is, dus distansieer jy jouself van hulle en eindig met baie min vriende op. Wat
is die antwoord? Aanvaarding en dankbaarheid is die teengif vir jaloesie. Dit is om te
aanvaar dat God in beheer is en om te leer om dankbaar te wees vir al jou seëninge.
Onthou, ‘...God het aan elkeen van julle ‘n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet
julle mekaar dien...’
Sielskos: Hand8-9; Luk 24:25-35; Ps 103:1-12; Spr 10:27-29
2017/04/19
Lukas 23:34 NLV
Woede
Max Lucado skryf: ‘Dit begin soos ‘n druppeltjie water. Iemand steel jou parkeerplek,
sny jou af op die hoofweg, ‘n kelnerin is stadig terwyl jy haastig is, die roosterbrood
brand. As jy genoeg van hierdie onskuldige druppels bymekaar maak, sit jy later met ‘n
emmer vol woede. Jy vertrou niemand nie, wys jou tande vir enigiemand wat probeer
nader kom, en word ‘n tikkende bom wat, met die regte hoeveelheid spanning en
vrees, kan ontplof. Ons kan dit nie ontken nie, woede bestaan. Hoe hou ons dit in
toom? Jesus het van die woedende skare wat hom doodgemaak het, gesê, ‘...Vader,
vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!..’ Hy het hierdie bloeddorstige
skare nie as moordenaars gesien nie, maar as slagoffers. Hy het in hulle gesigte nie haat
gesien nie, maar verwarring. Hy het hulle nie as ‘n strydlustige bende gesien nie, maar
as ‘...skape sonder ‘n wagter...’ (Markus 6:34 NLV). Hulle is deur die skare opgesweep,
kwaad vir iets wat hulle nie kon sien, dus het hulle dit op God uitgehaal. Ons besef
grotendeels ook nie wat ons doen nie. Ons wil dit nie erken nie, maar ons is soos skape
sonder ‘n wagter. Ons kan nie ons eie vrae oor liefde en seerkry beantwoord nie. Ons
kan nie die raaisel van veroudering oplos nie. Ons weet nie wat om te doen om ons
eie liggame gesond te maak en oor die weg met ons naaste te kom nie. Die punt is:
Onbeheerste woede sal nie ons wêreld beter maak nie, maar simpatieke begrip sal
wel. As ons uit ‘n standpunt van medelye in plaas van woede begin optree, sal ons
agterkom dat die meeste mense in die donker rondstruikel. Dis ons werk om die kerse
aan te steek.’
Sielskos: Hand10-11; Luk 24:36-44; Ps 103:13-22; Spr 10:30-32
2017/04/20
Josua 18:3 NLV
Wees pro-aktief
Wanneer dit by die bou van goeie verhoudings kom, moet jy pro-aktief wees. Dit
beteken dat jy moet weet wie jy as persoon is en wat jy uit die verhouding wil hê.
Terwyl dit verkeerd klink om te fokus op wie jy as individu is, eerder op wie die twee
van julle as ‘n paartjie is, is die geheel net so sterk soos die afsonderlike dele. Goeie
verhoudings word daarop gebaseer dat elke party eerlik is oor hul ware behoeftes,
begeertes, gevoelens en waardes. Terwyl julle as ‘n paartjie saam besluite moet maak,
is besluite oor wie jy as persoon is en hoe jy wil hê jou lewe moet wees, alleenlik joune
om te maak. Wanneer jy iemand anders toelaat om te besluit wie jy is en wat jy wil hê,
gee jy die krag wat God aan jou gegee het, weg. Verstaan mooi: 1) Deur niks te doen
nie, beteken dit nie dat jy ‘n besluit maak nie. 2) Deur terug te sit en te maak asof jy
nie die situasie sien vir wat dit is nie, is nie ‘n besluit nie. 3) Om uit te stel totdat iets
jou in ‘n rigting indwing, is nie ‘n besluit nie. Dis passiwiteit en dit sal op die ou einde
nie goed vir jou uitwerk nie. Soms moet jy omstandighede wat nie verander kan word
nie, aanvaar, maar jy het altyd die keuse om te besluit wie jy in die omstandighede wil
wees. Hierdie beginsel word duidelik deur God uitgewys in wat hy vir sy volk op die
grens van die Beloofde Land gesê het: ‘...Hoe lank gaan julle nog uitstel voor julle die
land wat die Here, die God van julle voorvaders, aan julle gegee het, in besit neem?’
Wees dus pro-aktief.
Sielskos: Hand12-13; Luk 24:45-49; Ps 16; Spr 11:1-2
2017/04/21
Jesaja 48:10, 11 NLV
Jy moet deur vuur gaan
Undercover Boss is ‘n populêre televisiereeks waar die eienaars van maatskappye
hulself as gewone personeellede vermom en dan langs hulle werkers ‘n tyd lank
werk. Sommige van die ontdekkings wat hulle maak, is verstommend – en dit lei tot
veranderinge wat die maatskappy meer effektief, winsgewend en plesierig vir almal
wat daar werk, maak. Om mense te kan verstaan, moet jy ‘n ent in hulle skoene loop.
Esegiël het gesê, ‘Ek het by die Judese ballinge gekom... Ontsteld en verstom het
ek sewe dae lank tussen hulle gesit. Toe die sewe dae verby is, het die Here vir my
‘n boodskap gegee...’ (Esegiël 3:15,16 NLV). Jy moet pyn eers voel, om sodoende pyn
te kan genees. Die Bybel sê dat Jesus ‘...ten volle met ons swakhede [kan] saamvoel...’
omdat Hy ‘n ent in ons skoene geloop het (sien Hebreërs 4:15 NLV). Hy het konflik
in die familie, verwerping, verraad, eensaamheid en honger ervaar. Hy het die pad
geloop waarop jy is en Hy weet hoe jy voel; dus kan jy na Hom toe draai wanneer jy in
die moeilikheid is en die hulp kry wat jy nodig het. ‘Omdat Hy self versoekings verduur
het, kan Hy dié help wat onder versoeking swaarkry’ (Hebreërs 2:18 NLV). Wanneer jy
raad gee, wil mense weet of jy uit eie ervaring praat. God sal dus toelaat dat jy deur
ervarings gaan wat jy nie geniet of verstaan nie, om jou toe te rus en effektief te maak
om ander mense te bedien. Job het gesê, ‘...Wanneer Hy my toets soos goud in ‘n vuur
sal Hy my onskuldig verklaar’ (Job 23:10 NLV). As jy vandag deur vuur gelouter word, is
dit omdat God ‘n plan het wat Hy vir jou en deur jou wil doen.
Sielskos: Hand14-15; Luk 24:50-53; Ps 7:1-9; Spr 11:3-6
2017/04/22
Spreuke 12:25 NLV
Wees bemoedigend
Nadat Enrico sy eerste sangles op tien gehad het, het die onderwyser gesê, ‘Jy het glad
nie ‘n stem nie.’ Enrico se ma het egter iets wonderliks in haar seun se stem gehoor. Sy
het in sy talent geglo. En selfs al was hulle baie arm, het sy haar arms om hom gesit
en gesê, ‘My seun, ek gaan elke opoffering maak om vir jou sanglesse te betaal.’ Haar
vertroue in hom en haar konstante aanmoediging het vrugte afgewerp, want hy het
een van die geliefste en beroemdste sangers van alle tye geword. Sy naam? Enrico
Caruso. Wanneer die wêreld jou probeer afbreek, het jy mense nodig wat jou opbou,
jou talente herken en jou help om die beste daarvan te maak. Dink na oor hierdie
‘gebooie’ vir ouers wat uit ‘n kind se oogpunt geskryf is: 1) My hande is klein, moet asb.
nie perfeksie verwag wanneer ek die bed opmaak, ‘n prentjie teken of ‘n bal gooi nie. 2)
My bene is kort; beweeg asseblief stadiger sodat ek kan byhou. 3) My oë het nog nie die
wêreld soos joune gesien nie; laat my toe om dit op ‘n veilige manier te ontdek en moet
my nie onnodig beperk nie. 4) Huiswerk sal altyd daar wees; ek is net vir ‘n kort rukkie
klein. Neem die tyd om dinge in hierdie wonderlike wêreld vir my te verduidelik. 5) My
gevoelens is sag, moet nie heeldag aan my karring nie. Behandel my soos jy behandel
wil word. 6) Ek is ‘n spesiale geskenk van God; bewaar my soos God se bedoeling was
– deur my verantwoordelik vir my aksies te hou, deur my riglyne te gee om volgens te
lewe en deur my op ‘n liefdevolle manier te dissiplineer. Wees vandag bemoedigend!
Sielskos: Hand16-17; Matt 1:1-17; Ps 7:10-17; Spr 11:7-9
2017/04/23
Psalm 125:1 NLV
Onbeweeglik deur omstandighede
Teen die ouderdom van nege-en-twintig jaar, het die skrywer Carsom McCullers al drie
beroertes gehad. Toe sy nog gedeeltelik verlam en aan die herstel was, het haar man
selfmoord gepleeg. Ten spyte van haar probleme het sy haarself geforseer om elke dag
te skryf en het gevolglik ‘n voortreflike skrywer geword. Die Engelse digter, John Milton,
was blind. Die wêreldberoemde violis, Istzhak Perlman, het polio gehad. Die voormalige
mej. Amerika, Heather Whitestone, is doof. Stephen Hawking, fisikus en lektor by die
Universiteit van Cambridge, het Lou Gehrig se siekte. G’n wonder dat Thomas Edison
gesê het dat as ons al die dinge doen waartoe ons in staat is, sou ons verstom wees! Wat
is die geheim om die lewe te geniet? Dis die volgende: ‘Hulle wat op die Here vertrou...
is onbeweeglik en sal vir altyd bly bestaan.’ Ten spyte van hoe jy vandag voel, is jou
probleme nie onoorkombaar nie. Die Bybel sê, ‘...Dié dinge wat by mense onmoontlik is,
is juis by God moontlik’ (Lukas 18:27 NLV). Wat nog meer is, Hy luister na ‘...behoeftiges
se gebede, en [Hy sal] hulle pleidooi nie verwerp nie’ (Psalm 102:18 NLV). Einstein het
gesê, ‘In die middel van elke moeilikheid, lê daar ‘n geleentheid.’ Dieselfde God wat vir
Abraham gelei het toe hy nie ‘n idee gehad het waarheen hy gaan nie, wat vir Sara ‘n
kind in haar latere jare gegee het, wat die Rooi See verdeel het en Jesus uit die dood
opgewek het, is lewendig en werkend in jou lewe. Dus, ‘...Vind krag in julle verhouding
met die Here, ja, in die krag van Sý sterkte!’ (Efesiërs 6:10 NLV). Hou moed vandag! ‘Die
ewige God is jou skuilplek en onder jou is Sy ewige arms...’ (Deuteronomium 33:27 NLV).
Sielskos: 2 Kron 7:12-16; Matt 6:5-15; Luk 18:1-8
2017/04/24
Efesiërs 2:7 DB
Die wonder van genade
Sommige van ons lewe asof God ‘n lysie met ons naam op het en aan die einde van
die dag gee Hy ons ‘n punt om te bepaal hoe goed ons gedoen het en of Hy ons meer
of minder moet liefhet. God red ons egter nie uit genade en baseer dan sy gevoelens
oor ons op ons geestelike optrede nie. Die Bybel sê, ‘...Hy het ons baie lief en Hy loop
oor van goedheid. Toe ons nog in die sonde geleef het asof God nie eens bestaan nie,
het God ons kom haal. Saam met Christus het Hy vir ons ’n nuwe lewe gegee... omdat
God so goed is, sonder dat julle iets daarvan verdien, is julle uit die kloue van die sonde
gered...’ (verse 4-5 DB). Die wonder van genade is dat jy gekies is, dat God jou wil hê en
dat God begeer dat jy deel van sy familie moet wees. Deur genade is jy lewendig vir
God gemaak. Jy het die krag om te volhard, die krag om te dien, ‘n rede om te hoop en
die wete dat die dood geen houvas op jou het nie. God het jou skuld gevat en dit aan
die kruis vasgespyker. Hy het die rekening uitgewis en jou vry gemaak. Vandag kan
jy met ‘n hart wat so lig soos ‘n veertjie is, lewe – maak nie saak wat jy gister gedoen
het nie. Die waarheid is dat niemand in die hemel eendag sal spog, ‘Kyk wat het ek en
Jesus gedoen’ nie. Nee, toe Jesus aan die kruis uitgeroep het, ‘...Dit is nou afgehandel!..’
(Johannes 19:30 NLV), het God ‘ten volle betaal’ oor elke sonde wat jy sal pleeg, geskryf
– van jou geboorte af tot by die graf. Dit is die wonder van genade.
Sielskos: Hand 18-19; Matt 1:18-25; Ps 144:1-8; Spr 11:10-11
2017/04/25
Job 32:21 NLV
Vleitaal sal jou niks in die sak bring nie
Toe Stephen Spielberg ‘n tingerige tiener was, het ‘n boelie sy visier op hom ingestel.
Moeg vir die aanhoudende teistering wat hy later as ‘hel op aarde’ sou beskryf, het hy
besluit om die boelie te vlei deur hom te vertel dat hy soos John Wayne lyk en dat die
boelie dit moet oorweeg om die held in ‘n fliek oor die Tweede Wêreldoorlog wat hy
beplan het om te maak, te speel. Nadat Spielberg die boelie in ‘n kostuum gekry het
en hom in die rol van die heroïese bendeleier aangestel het, het die boelie klei in sy
hande geword. Anders as Spielberg se boelie, waardeer emosioneel gesonde mense
net lof wanneer hulle dit verdien. Hulle kan ook ‘n kompliment wat met bymotiewe of
om te vlei gegee is, raaksien. Die paradoks is dat die meeste mense, sonder goeie rede,
vir bymotiewe op die uitkyk is wanneer iemand vir hulle ‘n kompliment gee. Elihu, die
patriarg en Job se vriend, het gesê, ‘Ek sal niemand voortrek nie, en ek sal niemand vlei
nie. As ek dit sou probeer doen, sou my Maker ‘n einde aan my maak’ (verse 21-22 NLV).
Die Psalmdigter sê vir ons, ‘Die Here sny hulle vleiende lippe af...’ (Psalm 12:4 NLV).
Hier is die vraag: Is vleitaal dit werd om van God se seën afgesny te word? Wanneer jy
iemand vlei of ontvanklik raak vir vleitaal, is dit ‘n duidelike bewys van jou gebrek aan
geloof in God se vermoë om jou guns by ander mense te gee. Guns is ‘n byvoordeel
wanneer jy in ‘n verhouding met Hom is. ‘Want U seën die vromes, Here, u genade is vir
hulle soos ‘n skild’ (Psalm 5:13 NLV).
Sielskos: Hand 20-21; Matt 2:1-12; Ps 144:9-15; Spr 11:12-132
2017/04/26
Joël 2:25
God sal dit opmaak teenoor jou
Kristine Steakly skryf: ‘Verlies kan maak dat ons heeltemal alleen en vernietig voel. Vir baie
van ons het ons ouers se skeisaak beteken dat ons die huis waarin ons grootgeword het,
ons buurt, ons vriende, ons skool en selfs ons kerk moes verlaat, omdat ons skaam was en
die oordeel gehoor het van diegene wat eintlik oor ons geestelike welstand bekommerd
moes wees. Om Joël se metafoor te gebruik, sprinkane het ons familie, vriendskappe en
kerk opgeëet, maar God het egter belowe, ‘...My volk sal nooit weer so in die skande kom
nie’ (vers 26 NLV). Ek kan nie vir jou sê hoe herstel gaan lyk of wanneer dit gaan gebeur
nie. Sommige van ons sal sien hoe verhoudings tussen gesinslede weer regkom, ander
van ons sal sien hoe wonderlike huwelike en liefdevolle families gebou word. Sommige
van ons sal moet wag tot ons in die hemel kom, waar alle seerplekke gesond sal word
en waar alle trane afgevee sal word.’ ‘n Bybelonderwyser sê: ‘Weerstaan die versoeking
om moedeloos te raak. Jy mag dalk voel dat jy jare, geleenthede, finansies en ‘n deel van
jouself gemors het. Hoor egter hierdie fantastiese belofte van bevryding: ‘...Ek sal herstel
wat julle deur die stropersprinkane... verloor het...’ Niemand op aarde kan dit teenoor
jou opmaak nie. Niemand kan daarvoor betaal nie. Niemand kan dinge regmaak en dit
regverdig maak nie. Druk en manipulasie sal nie geregtigheid meebring nie. Laat dit dus
gaan en laat God toe om jou lewe met nuwe seëninge te vul. As jy vol wrokke en haat
is, sal Hy nie plek vir sy nuwe gawes kan kry nie. God sal dit teenoor jou opmaak as jy ‘n
verwagtende houding van geloof het en Hom dank dat sy beloftes ook joune is.’
Sielskos: Hand 22-23; Matt 2:13-23; Ps 94:1-11; Spr 11:14-15
2017/04/27
Hebreërs 10:35 NLV
Doen dit volgens die boek
Hoe lank moet jy bid en op God vir die antwoord vertrou? Totdat Hy vir jou anders sê.
Met ander woorde, doen dit volgens die boek! ‘Moenie hierdie vertroue in God deur
julle vingers laat glip nie. Dit hou vir julle ‘n groot beloning in. Wat julle nodig het, is
om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle
ontvang wat God beloof het’ (verse 35-36 NLV). Jy sê, ‘Maar ek is nie seker wat God
se wil is nie.’ Sy wil word in sy Woord geopenbaar en dit is wat jy moet glo en oor jou
situasie moet spreek. Om andersins te glo, is om God te weerspreek. Abraham het op
God se belofte dat hy die vader van ‘n menigte nasies sou wees, gestaan, terwyl daar
nie ‘n greintjie bewyse was dat dit sou gebeur nie. Vir twintig jaar lank het hy na die
naghemel gekyk en geglo, ‘Here, U het gesê dat my kinders so baie soos die sterre in
die hemel sal wees. Ek weet nie hoe U dit gaan doen nie, want ek is ‘n honderd jaar oud
en my vrou, Sara, is negentig. Ek gaan U egter in elk geval glo.’ Wanneer jy so bid, mag
jy dalk vir ander mense dwaas lyk. Om wonderwerke te ontvang, moet jy egter soms
belaglik lyk, soos Jesus wat vir sy dissipels gesê het om die wynkanne met water te vul
en klei op ‘n blinde man se oë gevryf het. Die trougaste in Kana het egter die beste wyn
gedrink en die blinde man kon sien. Hoekom? Omdat hulle gehoorsaam aan Jesus se
woord was. Doen dit dus vandag volgens die boek.
Sielskos: Hand 24-26; Matt 3:1-17; Ps 94:12-23; Spr 11:16-18
2017/04/28
Lukas 6:27 NLV
Praat mooi van hulle
Toe generaal Robert E Lee deur president Jefferson Davis gevra is om sy opinie oor ‘n
sekere offisier te gee, het hy ‘n uitstekende verslag geskryf. Een van die offisiere wat
die verslag gelees het, was verstom en het vir Lee gevra, ‘Generaal, weet jy dat die man
van wie jy so mooi teenoor die president verslag lewer een van jou grootste vyande is,
wat nooit ‘n geleentheid laat verbygaan om jou te kritiseer nie?’ Lee het geantwoord,
‘Ja, maar die president het my vir my opinie van hom gevra. Hy het my nie gevra vir sy
opinie van my nie.’ Dit vat karakter, medelye en moed om mooi van jou kritici te praat.
Wanneer jy dit egter doen, gebeur drie goeie dinge: 1) Jy verhoog jou eie waarde. Jy
wys dat jy bo kritiek uitstyg deur lof aan ander toe te ken. 2) Jy ontlont jou vyand se
kritiek van jou. Wanneer mense hoor dat jy mooi van ‘n vyand praat, sal hulle meer
respek vir jou hê en jou in ‘n ander lig sien. 3) Mense sien jou as regverdig en vrygewig.
Dit neem min inspanning om terug lelik te wees, maar ‘n Christelike karakter is nodig
om die ander wang te draai en hulle te seën. Jesus het gesê: ‘...Doen goed aan dié
wat julle haat. Seën die wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak. As iemand
jou op die wang klap, draai ook die ander wang... Doen aan ander wat jy wil hê hulle
aan jou moet doen’ (verse 27-31 NLV). Dis ‘n baie hoë standaard om te volg, een wat
Jesus daar gestel het en dwarsdeur sy lewe beoefen het. Hy roep jou vandag om ook
daarvolgens te lewe.
Sielskos: Hand 27-28; Matt 4:1-11; Ps 35; Spr 11:19-21
2017/04/29
Kolossense 3:9 NLV
Vertroue vereis eerlikheid
Bedrog in ‘n verhouding vernietig vertroue en respek. Een leuen of een daad van
verraad, kan ‘n wond veroorsaak wat jare neem om gesond te word en in sommige
gevalle nooit gesond word nie. Die persoon wat iets wegsteek is basies selfsugtig en
beskerm net sy/haar eie belange. Hulle gee min om vir die ander persoon se gevoelens.
Daar is niks vlakker as leë woorde en clichés wat geen ware betekenis het nie. Daar is
mans wat vrouens in ‘n seksuele verhouding indwing deur te maak asof hulle vir hulle
lief is. Verraad op hierdie vlak is emosionele verkragting! Dit is ‘n aaklige gevoel om deur
iemand gebruik te word. Die verraaier mag dalk aanhoudend belowe dat hy sy vrou
gaan verlaat en sy minnares so laat aanhou hoop. Dit gebeur egter nie. Hy maak elke
verskoning onder die son om aan te hou om haar te misbruik. Omdat sy kwesbaar is,
volg sy hom blindelings totdat die verhouding so ver gevorder het, dat sy vasgevang
is. As ‘n sondaar mag jy dalk ‘n verskoning vir hierdie tipe gedrag hê, maar definitief
nie as ‘n verloste kind van God nie. ‘Moenie vir mekaar lieg nie...’ Wanneer iemand hulle
vertroue aan jou gegee het, het hulle vir jou ‘n kosbare geskenk gegee; moet dit nie
misbruik nie. As iemand jou vertroue misbruik het, konfronteer hom/haar van aangesig
tot aangesig. Alhoewel jy vir die persoon mag lief wees, moet jy terugstaan totdat hulle
duidelike tekens van berou en ‘n gewilligheid om die saak reg te maak, toon. Moenie
hoop opgee nie. Soms maak goeie mense slegte foute. As jy daaraan werk en God se
hulp vra, is dit moontlik om die vertroue wat jy verloor het, te herstel, wat selfs tot ‘n
beter verhouding kan lei.
Sielskos: Deut 1-2; Matt 4:12-25; Ps 2; Spr 11:22-23
2017/04/30
Efesiërs 4:23 NLV
Jy kan verander
Denkwyses is patrone waarvolgens jou gedagtes outomaties op ‘n sekere manier
werk. Dit beteken dat jy jouself baie smart op die hals kan haal wanneer jy telkens op
dieselfde manier in dieselfde situasies en met dieselfde mense reageer, maar ander
resultate verwag. Miskien sê jy: ‘Na al hierdie jare het ek gedink hy sal verander... Maak
nie saak hoe hard ek probeer nie, my familie waardeer my nie... Hoekom is ek die
enigste een wat moeite doen om in kontak te bly?’ Dis maklik om jou probleem op
ander te blameer – ‘Kyk waarmee is hy besig. Kyk hoe lank wag ek al. Hoekom bel sy
nie?’ Ons dink die antwoord lê daarin om die ander persoon sover te kry om te doen
wat ons wil hê. Dit sal egter misluk, omdat jy dan die beheer aan die ander persoon gee.
Jou geluk word nie deur ander mense bepaal nie, selfs al het jy jouself oortuig dat dit
doen. ‘n Ervare berader skryf: ‘As jy nie van dieselfde resultate hou nie, moet jy ‘n ander
knoppie probeer druk. Kyk na jou verhoudings. Is daar ‘n situasie wat op die afdraande
pad is, ten spyte van jou beste pogings? Wag jy vir iets om te verander, in plaas van om
iets anders te doen? Hou op om dieselfde knoppie te druk, vra God vir helderheid om
die situasie eerlik te beskou en tree dan met wysheid en verantwoordelikheid op.’ Jy
is nie ‘n slagoffer van jou omstandighede nie, jy hoef nie vas te val of aanhoudend in
sirkels te beweeg nie. Paulus sê, ‘Julle moet op ‘n nuwe, geestelike manier leer dink.’ Die
woord vir jou vandag is: Jy kan verander!
Sielskos: Gen 6:9-8:4; Matt 24:37-51
2017/05/01
Jeremia 18:6 NLV
God kan jou herstel
Die profeet Jeremia skryf: ‘Ek het toe na die werkplek van die pottebakker gegaan
en hom gekry waar hy besig was om op die pottebakkerswiel te werk. Maar die pot
waarmee hy besig was, was nie ‘n sukses nie. Hy het toe die klei inmekaargedruk en
weer begin om ‘n nuwe pot te vorm soos hy dit wou hê. Die Here het toe... gevra: ‘O
Israel, kan Ek nie met julle net so maak soos die pottebakker met die klei maak nie? Kyk,
soos die klei in die hande van die pottebakker, so is julle in my hande’’ (verse 3-6 NLV).
Daar is drie belangrike lesse uit hierdie verhaal te leer: 1) So lank as wat jy buigbaar is
en op God reageer, sal Hy jou nooit weggooi nie. Hy sal jou eerder in iets wat Hy kan
gebruik, vorm. 2) Wanneer ander mense jou af druk, sal God jou oplig. ‘n Pottebakker
druk nie die klei plat nie, hy lig dit aanhoudend op en vorm die klei soos dit op die
wiel draai. God sal dit ook vir jou doen. Dawid het gesê, ‘...Hy... het my opgetel uit die
afgrond van die dood, uit die modder en die slym. Hy het my voete op ‘n rots laat staan
en my op vaste grond laat loop’ (Psalm 40:2-3 NLV). 3) Let op wie se voet op die wiel is.
As hy kon, sou Satan jou lankal van die wiel afgegooi het, maar hy kan nie. Kyk onder
die tafel wie se voet op die wiel is: die Pottebakker s’n! Niks kan jou van God se liefde
skei nie (sien Romeine 8:39). Die woord vir jou vandag is: ‘Kyk, soos die klei in die hande
van die pottebakker, so is julle in my hande.’
Sielskos: Deut 3-4; Matt 5:1-12; Ps 37:1-7; Spr 11:24-26
2017/05/02
Jesaja 26:3 NLV
Lewe met vrede
Wie vertrou jy om jou probleme op te los, God of jouself? Voor jy antwoord, lees die
volgende: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes
op U gerig is... Die pad van die regverdige is reguit. Opregte, U maak die pad van
die regverdige gelyk’ (verse 3,7 NLV). Wat ‘n wonderlike belofte! As jy jou vrede wil
behou, lewe volgens hierdie beginsel: ‘Doen jou bes, en God doen die res.’ Party van
ons het grootgeword met die idee dat dit verkeerd is om jouself te geniet wanneer jy
probleme het. Ons is gekondisioneer om te dink dat as ons nie iets aan die saak kan
doen nie, kan ons ten minste bekommerd wees en ellendig voel. Paulus spreek dit
aan: ‘Julle moet glad nie bang wees vir julle vyande nie. As julle nie vir hulle bang is
nie, dan sal dit vir hulle wys dat God hulle sal straf, maar dat Hy julle sal red’ (Filippense
1:28 ABA). Satan weet nie wat om te doen as hy jou nie kan ontstel nie; jy neem dan ‘n
kragtige wapen uit sy hande. Deur volkome op God te vertrou, is jy nie langer aan die
lot van jou omstandighede, ander mense, of jou eie emosies en beperkinge oorgelaat
nie. Die vraag is nie, ‘Is daar moeilikheid oppad nie?’ nie. Die vraag is, ‘Hoe gaan jy dit
hanteer?’ Die Bybel sê, ‘Want net as ons glo, kan ons die rus binnegaan...’ (Hebreërs 4:3
NLV). Wanneer dinge verkeerd gaan – moenie daarmee saam verkeerd gaan nie. Volg
God se leiding, staan op sy Woord, en rus dan in Hom en vertrou Hom om namens jou
te werk.
Sielskos: Deut 5-7; Matt 5:13-26; Ps 37:8-15; Spr 11:27-29
2017/05/03
Matteus 5:24-25 NLV
Doen jou bes om die kwessie op te los
Word jou talente nie erken nie? Het jy ‘n spesifieke talent en tog voel dit asof God jou
nie met sukses seën nie? Hierdie mag dalk die sleutel tot die probleem wees: ‘As jy dus
jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ‘n grief teen
jou koester, los jou offer net daar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom
dan terug en bring jou offer. Sorg dat jy baie gou op goeie voet met jou teenstander
kom...’ (verse 23-25 NLV). Jy sê, ‘Die persoon waarmee ek ‘n probleem gehad het, is nie
meer beskikbaar nie en tog pla dit my nog steeds.’ Lees hierdie twee Skrifgedeeltes:
1) ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle
gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige
uitwerking’ (Jakobus 5:16 NLV). 2) ‘Wie se sondes julle ook al vergewe, dit word hulle
vergewe; wie s’n julle ook al handhaaf, word gehandhaaf’ (Johannes 20:23 NLV). Deel jou
gevoelens met iemand wat jy vertrou. Bid saam met hulle, bely jou skuld en verkeerde
dade openlik. Gebed en die teenwoordigheid van ‘n bevestigende vriend sal jou van
die vrede wat jy soek, voorsien. Nadat Dawid vir Urija, Batseba se man, doodgemaak
het, was sy skuldgevoelens oorweldigend en het hy God se vergifnis gesoek. Urija was
egter al amper vir ‘n jaar dood. Natan het na Dawid toe gekom en hom beskuldig en
hom vertel wat alles met hom gaan gebeur. Dawid het toe gesê: ‘Ek het teen die Here
gesondig...’ Natan het geduldig geluister en geantwoord, ‘...Die Here het jou sonde
vergewe...’ (2 Samuel 12:13 NLV). Volg Dawid se voorbeeld – en sit dan die saak agter jou
en beweeg vorentoe.
Sielskos: Deut 8-10; Matt 5:27-37; Ps 37:16-24; Spr 11:30-31
2017/05/04
Spreuke 13:24 NLV
Jy is dit aan jou kind verskuldig (1)
As ‘n ouer, is daar drie dinge wat jy aan jou kind verskuldig is. Die eerste is:
Goedgesindheid. Die Bybel sê dat as jy lief is vir jou kind, sal jy hom dissiplineer. Jy
sal dit egter in liefde doen, nie in woede nie. Moenie by die idee inkoop dat goeie
ouers nie hulle kinders dissiplineer nie, omdat hulle ‘te lief vir hulle kinders is’ nie. Die
waarheid is, as jy nie jou kind dissiplineer nie, is dit nie omdat jy té lief vir hom is nie, dit
is omdat jy te lief is vir jouself. ‘n Peiling het bewys dat meer as 90 persent matrikulante
het gewens dat hulle ouers en onderwysers hulle lief genoeg gehad het om hulle te
dissiplineer en meer van hulle te verwag. Soos water, volg ons die pad van minste
teenstand. Dit is baie makliker om dinge oor die hoof te sien, konfrontasie te vermy,
jou kop in die sand te steek en te hoop dinge word beter, as wat dit is om die pyn wat
daarmee gepaard gaan om ‘n kind wat jy liefhet te dissiplineer, te ervaar. Die Bybel sê,
‘Die Here bestraf hulle wat Hy liefhet net soos ‘n pa sy seun ‘n pak slae gee’ (Spreuke
3:12 NLV). Dink daaroor! Die grootste en wysste vader van almal is God. Hy het nie net
lief nie, Hy is liefde. Tog lees ons hier dat ons liefdevolle God ons dissiplineer. Enige
ouer wat weier om hulle kind te dissiplineer, sê inderwaarheid dat hulle ‘n beter ouer
as God is. Liefde doen altyd wat die beste vir die ander persoon is. Daar is tye wat liefde
dissipline en opleiding vereis.
Sielskos: Deut 11-13; Matt 5:38-48; Ps 37:25-31; Spr 12:1-3
2017/05/05
Spreuke 22:15 NLV
Jy is dit aan jou kind verskuldig (2)
Die tweede ding wat jy aan jou kind verskuldig is, is: Rigting. Die Bybel sê, ‘Astrantheid
is eie aan ‘n seun; ‘n pak slae haal dit uit hom uit.’ Die Bybel praat nie hier van wanneer
jou kind pret het, of selfs foute maak nie; dit is ‘n normale deel van jou kind se
leerskool. Die Bybel praat van ‘astrantheid.’ Die woord het verskeie betekenisse, soos
‘n gebrek aan volwassenheid of wysheid, of ‘n neiging om teen die reëls te rebelleer.
As jy lief is vir jou kind, sal jy hom of haar leer dat die lewe op reëls gebou is – as jy dit
gehoorsaam, sal jy sukses behaal, andersins sal jy swaarkry. Byvoorbeeld, wanneer jou
kind die spoedgrens verbreek, sal die polisie hom of haar nie daarmee laat wegkom
nie. Wanneer hy of sy nie die huispaaiement betaal nie, gaan die bank hulle nie in die
huis laat aanbly nie. Die Bybel sê dat jy hierdie wanbegrip by jou kind moet korrigeer.
Jy moet jou kind wysheid en volwassenheid leer, om hom of haar sodoende ‘n
suksesvolle lid van die samelewing te laat word. Salomo sê, ‘...’n Kind wat aan homself
oorgelaat is, steek sy ma in die skande’ (Spreuke 29:15 NLV). Hoekom is dit so? Omdat
‘n kind wat aan homself oorgelaat word, in dieselfde toestand bly as waarin hy gebore
is. Hy of sy is gebore met ‘n toestand genaamd ‘astrantheid.’ Dus moet kinders geleer
word om gesag te respekteer en reëls na te kom; hulle moet leer dat daar vir elke aksie
‘n gelyke en teenoorgestelde reaksie is. Jy is dit aan jou kind verskuldig om dit aan
hom of haar te verduidelik.
Sielskos: Deut 14-17; Matt 6:1-18; Ps 37:32-40; Spr 12:4-6
2017/05/06
Spreuke 29:17 NLV
Jy is dit aan jou kind verskuldig (3)
Die derde ding wat jy aan jou kind verskuldig is: Korreksie. Baie ouers maak die fout om
altyd vir ‘n kind te sê wanneer hy of sy verkeerd doen, in plaas daarvan om ook die tyd
te neem om aan hulle te verduidelik hoe om dit reg te stel en dan aan te hou om dit
reg te doen. Bybelse korrigering behels beide. Die nommer een Bybelse Saligspreking
is: ‘Geseënd is die gebalanseerde.’ Wanneer jy jou kind polisieer, maar nooit met hom
of haar speel nie, is jy ongebalanseerd. Let op wat Salomo geskryf het: ‘Leer jou seun
wat dissipline is en jy sal gerus wees oor hom. Hy sal jou vreugde verskaf.’ Onthou dat
dissipline altyd ‘n tweesydige swaard is: dis nie net om jou kind te korrigeer wanneer
hy of sy verkeerd is nie, maar ook om hulle in die regte rigting te lei. Jy sal beter
resultate kry wanneer jy positiewe, eerder as negatiewe versterking, gebruik. Verstaan
mooi: Dis nie jou werk om jou kind gelukkig te maak nie; dis jou werk om hulle tot
volwassenheid te versorg. Wanneer jy dit doen, is hulle geluk gewaarborg! Jy kan dus
maar ophou om te probeer om ‘n populariteitskompetisie by jou kind te wen. Hulle
mag dalk altyd vir jou lief wees, maar daar sal tye wees wat hulle definitief nie van jou
gaan hou nie! Moenie moedeloos raak nie. Dit sal ook verbygaan. Hou net aan om die
regte mengsel van versorging en dissipline toe te pas en hulle sal later weer van jou
begin hou. Nog belangriker, wanneer hulle groot is, trou en kinders kry, sal hulle ‘n
rolmodel en ‘n plan vir sukses hê.
Sielskos: Deut 18-21; Matt 6:19-34; Ps 44:1-8; Spr 12:7-9
2017/05/07
2 Korintiërs 1:4 NLV
Gemak in ongemaklike plekke
God kan jou gemak in sommige van die lewe se ongemaklikste plekke gee. Hy kan
jou deur situasies bring wat jy gedink het jy nie gaan oorleef nie, of waarin jy gevoel
het jy gaan vir ewig vasgevang wees. Hy kan jou vrede gee wanneer jy onder druk
verkeer. Voordat jou lewe verby is, gaan jy verlies ervaar. Sommige verliese sal jou
inderwaarheid help om die dinge wat jy het, te waardeer. Dit is mislukking wat sukses
so soet maak. Jou toekoms is nie in die hande van jou baas, jou bank, of jou eggenoot
nie. Dit is ook nie in jou beheer nie. Jou toekoms is in God se hande. Net omdat jy nie
die pad verstaan waarop jy is nie, beteken nie dat Hy jou nie lei nie. Hy belowe: ‘Ek
lei blindes op ‘n pad wat vir hulle onbekend is. Ek maak die donkerte vir hulle helder
lig en die ongelyk paaie maak Ek gelyk. Ek gaan dit alles doen en hulle nie alleen los
nie!’ (Jesaja 42:16 NLV). Leer God dus ken, want jy gaan Hom nodig kry. Hy sal daar vir
jou wees wanneer almal anders jou gefaal het. Hy sal daar vir jou wees in die donker
plekke. Die Psalmdigter skryf, ‘...In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar
vreugde’ (Psalm 30:6 NLV). Hoe lank die nag ook al mag wees, die oggend sal kom
– en daarmee saam sy vreugde. Wanneer jy terugkyk, sal jy besef dat Sy genade jou
beskerm het, vir jou voorsien het, jou kalmeer het, jou vertroos het en jou daar deur
gebring het. Tyd en seisoene verander, maar die Here verander nie. Hy is ‘...dieselfde –
gister, vandag en vir altyd!’ (Hebreërs 13:8 NLV).
Sielskos: 2 Kon 4:42-44; Mark 6:30-44
2017/05/08
Romeine 12:2 NLV
Verander jou denke, verander jou lewe
Soms probeer ons ons negatiwiteit verskoon deur te sê, ‘Dit was net ‘n gedagte, dit
beteken nie iets nie.’ Dit beteken egter iets! ‘n Verkeerde gedagte wat gelos word om
in jou denke te broei, kan wortel skiet en groei. Dis dan wanneer daardie gedagte
begin om jou siening, jou houding en jou aksies te beheer. Dit is hoekom die Bybel
sê, ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar
laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe...’ Onthou, waar jou
gedagtes gaan, gaan jy! Ons staar almal uitdagings en probleme in die gesig. Jy mag
jouself dalk toelaat om gedagtes te dink soos ‘Ek kan dit nie meer vat nie,’ of ‘As nog
een ding gebeur gaan ek dit verloor!’ of ‘As dinge nie gou verander nie – gee ek op!’
Dit is hierdie tipe denke wat jou laat misluk nog voor jy die probleem teëkom. Daar
is niks kragtig, sterk, of oorwinnend daarin om te besluit om op te gee nie. Dit is ‘n
houding van mislukking, nie oorwinning nie. Jy moet eerder dink, ‘As die aanval so
groot is, moet die seën wat daarna op my wag, baie groot wees.’ Of, ‘As Satan my so erg
aanval, beplan God iets goeds vir my!’ Word ‘n persoon wat geestelik en emosioneel
voorbereid is op enige uitdaging wat jou pad mag kruis en moenie jouself toelaat om
te maklik moedeloos en oorwonne te word nie. Jy doen dit deur jou denkpatrone met
God se Woord te vernuwe.
Sielskos: Deut 22-24; Matt 7:1-14; Ps 44:9-16; Spr 12:10-11
2017/05/09
Daniël 4:34 NLV
Verootmoedig jouself
God reageer altyd op ‘n nederige hart en Hy verwerp altyd ‘n trotse hart. Een oomblik het
koning Nebukadnesar nog gespog dat hy die wêreld se mees gevorderde samelewing
gebou het. Die volgende oomblik het hy sy verstand verloor, handeviervoet rondgekruip
en soos ‘n dier gras geëet. Toe hy egter berou gekry het, het God sy koningskap aan
hom teruggegee. Hy het gesê, ‘Ná hierdie tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, opgekyk
boontoe. Ek het weer tot my sinne gekom... As gevolg hiervan loof en verheerlik ek,
Nebukadnesar, die Koning van die hemel. Alles wat Hy doen, is waar. Wat Hy doen is
reg. Almal wat hoogmoedig is kan Hy verneder’ (verse 34, 37 NLV). Om te val is al erg
genoeg; maar om te val en nie vir hulp te vra nie, of om te weier om berou oor jou
sondes te hê, is erger as die val self. Miskien kry jy skaam om enigiemand te laat weet
dat jy geval het. Is jou openbare beeld egter so belangrik dat jy sal voortgaan om in
jou ellendige toestand te lewe? Is jy so mislei dat jy weier om jou behoefte aan God te
erken? Hou op om so trots te wees! Is dit nie wat jou val in die eerste plek veroorsaak het
nie? Hoogmoed is gevaarlik, omdat dit jou dwing om hulpeloos vir dae – en selfs jare
– te lê. Die waarheid is egter dat as jy vroeër vir hulp gevra het, kon jy lankal opgestaan
en met jou lewe aangegaan het. Die goeie nuus is egter dat dit nooit te laat is om berou
te hê en jou behoefte aan God te erken nie. Toe Nebukadnesar dit gedoen het, het sy
rede en verstand teruggekeer en het hy sy koningskap teruggekry. Dieselfde kan met
jou gebeur.
Sielskos: Deut 25-27; Matt 7:15-29; Ps 44:17-26; Spr 12:12-14
2017/05/10
Psalm 130:3 NLV
Bêre die maatstok!
Ons lewe in ‘n samelewing wat resultaat-georiënteerd is, waar ons erkenning kry vir ons
prestasie op skool, in sport en in ons werk. God dink egter nie so nie. Sy gedagtes en weë
is ver bokant ons s’n (sien Jesaja 55:8-9). Hy word nie beïndruk deur leë offers nie. ‘Wat
verkies die Here: brandoffers of gehoorsaamheid? Gehoorsaamheid is beter as offers...’
(1 Samuel 15:22 NLV). Gevoelens en emosies is kragtig, maar selde objektief. Wanneer jy
jou waarde as Christen op jou optrede as swak mens baseer, juig die Vyand. Satan word
die ‘...aanklaer van ons medegelowiges...’ (Openbaring 12:10 NLV) genoem; hy wil hê dat
jy al jou foute en mislukkings moet raaksien. Dan kan hy jou treiter deur jou aan al die
kere te herinner wat jy jou humeur verloor het, gekritiseer het, of nie opgestaan het vir
dit wat reg is nie. Dawid het gesê, ‘Here, as U ons sondes sou opteken, wie, Here, sou ooit
kon bestaan?’ Selfs die mees gedissiplineerde gelowige het areas waarin hy of sy sukkel
of misluk. Dit is hoekom ons elke uur van die dag God se genade en vergifnis nodig het.
‘Hy weet waarvan ons gemaak is; Hy weet dat ons net stof is’ (Psalm 103:14 NLV) en Hy
is nooit verras wanneer ons, ten spyte van ons beste bedoelings, tekort skiet nie. Reimar
Schultze sê: ‘God meet ons nie aan ons optrede nie, maar aan ons liefde vir Jesus. In die
Koninkryk van God is ons liefde vir Jesus ons prestasie. Alles anders is sekondêr daar
toe. Ons Meester begeer dat ons by Hom, in Hom, in gemeenskap met Hom wil wees
en Hom gelukkig wil maak.’ Bêre dus jou maatstok en wees bly dat God jou nie aan jou
optrede meet nie, maar aan Christus se optrede.
Sielskos: Deut 28-29; Matt 8:1-17; Ps 57; Spr 12:15-17
2017/05/11
Johannes 8:32 NLV
Die waarheid oor die huwelik (1)
Die idee van ‘die perfekte huwelik’ mislei en ontnugter ons en berei ons voor om op te gee
wanneer fantasie met realiteit bots – wat altyd gebeur! Eers wanneer jy die waarheid oor
swak, weifelende, frustrerende mense aanvaar – en dat jy ook een is – sal jy blywende
geluk in die huwelik vind. Kom ons kyk vir die volgende paar dae na sommige van die
algemeenste wanbegrippe oor die huwelik. Die liefdesgogga: Ons dink as ons op die
regte plek, op die regte tyd, saam met die regte persoon is, sal die liefdesgogga ons ‘byt’
en sal ons ‘n leeftyd van saligheid smaak. Die probleem is egter wanneer ons doodmoeg
is van kinders grootmaak en die huispaaiement moet betaal, verdwyn die liefdesgogga
soos mis voor die son. In die daaglikse sleurgang van skottelgoed, doeke en swoeg, moet
iets meegee. Dis dan wanneer romanse by die venster uitvlieg en realiteit sy verskyning
maak. Omdat ons romanse met ware liefde verwar, dink ons foutiewelik dat liefde verby
is. Die waarheid is, die liefde sterf nie omdat romanse die knie voor realiteit moet buig
nie. As twee mense wat verlief raak gewillig is om in liefde deur die uitdagings van die
lewe saam te staan, kan romanse weer sterker en veerkragtiger as ooit bloei. Romanse
mag ons dalk bymekaar uitbring, maar onselfsugtige liefde hou ons bymekaar. Die Bybel
sê, ‘Die liefde is geduldig en vriendelik, die liefde is nie jaloers nie, die liefde blaas nie sy
eie beuel nie, is nie vol van homself nie. Dit... stel nie sy eie belange voorop nie, is nie
kort van draad nie, hou nie boek van die kwaad wat jou aangedoen word nie... Die liefde
bly... steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles’ (1 Korintiërs 13:4-7 NLV).
Sielskos: Deut 30:1-32:28; Matt 8:18-34; Ps 62; Spr 12:18-19
2017/05/12
Hooglied 8:7 DB
Die waarheid oor die huwelik (2)
Die waarheid oor mnr en mev Reg: Baie mense wat sukses in hulle loopbane behaal,
sukkel om mense in ‘n sosiale omgewing te ontmoet. Dit het tot die fenomeen gelei waar
mense ‘n maat deur die internet vind. Vandag, in die westerse wêreld, begin twee uit
vyf huwelike op hierdie manier. Afspraakwebwerwe stel ‘n profiel van hulle gebruikers
saam wat op hulle ouderdom, voorkoms, waardes, voorkeure en ambisies gebaseer is
en help hulle dan om ‘n maat vir ‘n afspraak te kry. Die egskeidingsyfer tussen mense
wat mekaar op die internet ontmoet het, is egter net so hoog as tussen mense wat
mekaar op die tradisionele manier ontmoet het. Hoekom is dit so? Omdat ‘...Elkeen wat
liefde met geld en besittings wil koop, word verwerp.’ Wanneer die borrel bars, gebeur
drie dinge: 1) Ons huil, manipuleer en oefen druk op ons maat uit. Wanneer dit nie werk
nie, blameer ons hulle omdat hulle ons verander het en ongelukkig maak. ‘Hy is nie
die man wat ek gedink het hy is nie.’ Miskien nie, maar hy is die een met wie jy getrou
het – en met sekere uitsonderings, is hy nie die enigste een wat die probleem is nie. 2)
Ons kom tot die gevolgtrekking dat mnr en mev Reg toe eintlik mnr en mev Verkeerd
is. Dus begin ons vir die regte een soek, of besluit dat die teenoorgestelde geslag vals,
ontrou en wispelturig is. 3) Ons besef dat blywende geluk net by een Persoon gevind
kan word – God. In plaas daarvan om die regte persoon te probeer vind, probeer ons
om die regte persoon te word; die een wat God ons geskep het om te wees. Die mens
wat vrygewig is, ander toelaat om hulleself te wees en wat na God vir ons vreugde en
geluk kyk.
Sielskos: Deut 32:29-34:12; Matt 9:1-13; Ps 49; Spr 12:20-22
2017/05/13
Lukas 6:38 NLV
Die waarheid oor die huwelik (3)
Die waarheid oor die houer: Toe die bord vir tiendes in die kerk omgestuur is, het ‘n
vrou nie iets ingesit nie. Toe sy die heelpad huis toe kla oor hoe sleg die diens was,
het haar seuntjie gesê, ‘Ma, dit bewys dat as jy nie iets insit nie, kan jy nie iets uitkry
nie.’ Die huwelik is soos ‘n leë houer – jy kry daaruit wat jy daarin sit. Hierdie waarheid
bevry jou om jou verhouding ryk en belonend te maak, deur eerder ‘n gewer as ‘n
ontvanger te word. Sommige mense dink die houer kom reeds gevul met romanse en
seksuele vervulling. Hulle dink hulle kan vat wat hulle van hierdie nimmereindigende
voorraad wil hê – onmiddellike bevrediging gewaarborg! Een dag kyk hulle egter in die
houer en vind dit leeg. Geskok, teleurgesteld, woedend en hopeloos kom hulle tot die
gevolgtrekking dat hulle eggenoot misluk het, hulle mislei en in die steek gelaat het.
Hoekom anders sal die houer leeg wees? Hulle begin dan vir ‘n nuwe houer soek. Die
waarheid is, dis jou verantwoordelikheid om elke dag genoeg deposito’s te maak om
‘n ryk verhouding te waarborg. Jesus het gesê, ‘...Met watter maat julle ook al meet –
klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang.’ Vra jouself
af wat jy graag in die houer wil hê en hoeveel daarvan jy wil hê. Deponeer dan genoeg
om daardie hoeveelheid te genereer. J Allan Petersen het gesê: ‘Daar is nie liefde in die
huwelik nie; liefde is in mense en mense sit dit in hulle huwelik. Daar is nie romanse in
die huwelik nie; mense moet dit in hulle huwelik ingiet. ‘n Paartjie moet ‘n gewoonte
van gee, liefhê en bediening vorm om die houer vol te hou.’
Sielskos: 1 Pet 1-5; Matt 9:14-26; Ps 18:1-29; Spr 12:23-24
2017/05/14
Rigters 16:22 NLV
Byt vas – hulp is oppad
Wanneer ons aan Simson dink, dink ons gewoonlik aan sy mislukkings – die stomende
verhaal van hom en Delila. Dis waar dat Simson alles verloor het: sy hare, sy krag, sy
sig, sy posisie, sy familie en sy reputasie. Die magtigste man wat Israel nog ooit gesien
het was nou in ‘n Filistynse tronk opgesluit: blind, verneder, besig om meel te maal
en ‘n voorwerp van bespotting. Dis egter nie verby tot God sê dis verby nie! Op sy
laagste punt het Simson tot God vir genade uitgeroep en dit ontvang. ‘Maar daar het
sy afgeskeerde hare weer begin groei.’ Sy hare, wat die geheim van sy krag was, is
herstel. Gevolglik was sy grootste oomblikke in die bediening sy laastes! Vandag word
hy met erevermelding in Hebreërs hoofstuk elf genoem, tesame met ander helde van
die geloof (sien Hebreërs 11:32). God se belofte is: ‘Maar dié wat hulle hoop op die
Here stel, sal hulle krag terugkry...’ (Jesaja 40:31 NLV). Jy mag dalk nou seer hê, maar
wees geduldig, hulp is oppad. Jy bid, ‘Here, ek het geval en ek kan nie opstaan nie.’ Hou
vas, die Here kom om jou te help, jou te bevry en jou te herstel. In die Ou Testament,
toe Job, die patriarg met sere, met bankrotskap en verlies gesukkel het, het hy gesê,
‘...deur my worsteling sal ek gretig wag op die vrylating’ (Job 14:14 NLV). God het Job
herstel en vir hom twee keer soveel gegee as wat hy verloor het. Hy wil dieselfde vir
jou doen. Byt dus vas – hulp is oppad!
Sielskos: Jona 1:10-2:10; Matt 12:38-42
2017/05/15
Johannes 4:7 NLV
Deel vandag jou geloof met iemand
Eendag het Jesus ‘n vrou ontmoet wat water by ‘n put kom skep het. Na vyf mislukte
huwelike, het sy geen vertroue in mans gehad nie en was haar selfvertroue op ‘n
laagtepunt. Na haar ontmoeting met Christus, het sy egter die put radikaal veranderd
verlaat. Wanneer jy jou geloof met iemand wil deel, is daar drie belangrike lesse uit
haar verhaal te leer: 1) Jesus sien die beste in almal. ‘Fariseërs en wetskenners het
beswaar gemaak dat Hy met veragtelike mense geassosieer het...’ (Lukas 15:2 NLV).
Hulle was reg ten opsigte van die vrou by die put. Sy is deur vyf egskeidings en die
hele dorp het oor haar geskinder. Tog was sy die eerste persoon aan wie Jesus Homself
as die Messias voorgestel het. Jesus meet jou nie aan jou verlede of jou stamboom
nie, maar aan jou potensiaal. 2) Jesus verander jou en gebruik jou dan om ander te
verander. Hierdie vrou was die eerste persoon wat die evangelie in Samaria verkondig
het, en ‘Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van
die woorde van die vrou...’ (Johannes 4:39 NLV). God kan jou gebrokenheid gebruik
om ander mense heel te maak. 3) Jesus het nie nodig dat jy Hom verduidelik nie, net
dat jy Hom voorstel. Die Bybel sê, ‘Baie meer van hulle eie mense het op grond van Sy
woorde begin glo. Hulle het vir die vrou gesê: ‘Ons glo nie net meer op grond van jou
gepraat nie; ons het nou self gehoor wat Hy sê, en ons weet dat Hy regtig die Verlosser
van die wêreld is’’ (Johannes 4:41-42 NLV). Deel vandag jou geloof met iemand.
Sielskos: Obad; Mal 1-4; Matt 9:27-38; Ps 18:30-50; Spr 12:25-28
2017/05/16
Psalm 34:15 NLV
Hoe om vrede te handhaaf
Jy kan ‘n vredevolle gemoed handhaaf waar jy ook al gaan en wat jy ook al doen. ‘Hoe
is dit moontlik?’ vra jy. Die Bybel sê, ‘...Soek vrede en streef dit na.’ Om ‘n lewe vol vrede
te geniet, moet jy eers dit wat jou vrede steel, herken. Satan gebruik baie dieselfde
taktiek op almal, maar ons het elkeen een spesifieke kwessie. Een persoon mag
byvoorbeeld sukkel om twee of drie dinge op ‘n slag te doen, terwyl iemand anders
energiek voel deur aan verskeie projekte terselfdertyd te werk. Ons is almal anders en
ons moet onsself leer ken. Satan bestudeer jou versigtig en weet watter knoppies om
te druk. ‘n Bybelonderwyser skryf: ‘Ek kan dinge beter hanteer wanneer ek nie moeg
is nie, dus wag Satan tot ek moeg is voor hy my aanval. Ek het dit wat Satan reeds van
my weet, geleer deur vrede na te streef en nou probeer ek om nie te moeg te word
nie, aangesien ek dan vir hom ‘n deur oopmaak. Dit sal feitlik onmoontlik wees om
‘n vredevolle lewe te handhaaf wanneer jy nie jouself bestudeer nie en weet watter
dinge jou vrede steel nie. Maak ‘n lysie elke keer wanneer jy ontsteld raak. Vra jouself
wat die probleem veroorsaak het en skryf dit neer. Wees eerlik met jouself, anders sal
jy nooit vry wees nie.’ In die middel van die lewe se storms, kan jy deur God se vrede
geanker word. Hy sal dit egter nie net in jou skoot laat val nie; jy moet ook jou deel
doen deur dit na te streef. As jy vandag jou vrede verloor – gaan soek dit en kry dit
terug.
Sielskos: Rut 1-4; Matt 10:1-10; Ps 88:1-9a; Spr 13:1-3
2017/05/17
1 Konings 17:7 NLV
God is jou onfeilbare bron
Die Psalmdigter skryf, ‘Gelukkig is hy... wat sy hoop vestig op die Here sy God’ (Psalm
146:5 NLV). Een skrywer merk op: ‘Soms wanneer daar nie genoeg geld is om al die
gate toe te stop nie, sê mense vir ons om ‘n begroting op te stel en daarby te hou.
Ons kyk na die situasie en dink dat daar nie ‘n manier is wat dit sal werk nie. Dis dan
tyd om op God te vertrou. Jou moontlikhede word nie deur jou huidige of die verlede
se omstandighede beperk nie. As daar nie genoeg is om jou uitgawes te betaal nie,
doen jou bes en laat dit gaan. Vertrou op God om aan jou behoefte te voorsien en kyk
dan verder as jou beursie. Kyk na jou bron. Maak aanspraak op goddelike, onbeperkte
voorsiening. Doen jou deel. Strewe na finansiële verantwoordelikheid in jou aksies
en gedagtes. Vra vir wysheid en luister na God se leiding. Ons almal weet dat geld
‘n noodsaaklike deel van die lewe is – en God weet dit ook.’ F B Meyer het gesê: ‘Ons
geloofsopvoeding is nie volledig tot ons geleer het dat God se voorsiening deur verlies
werk nie. Elia se droë spruit is ‘n weerspieëling van ons lewens! Ons moet die verskil
leer tussen om op die gawe te vertrou en om op die gewer te vertrou. Die gawe mag
dalk ‘n seisoen hou, maar die gewer is vir ewig. As die Here Elia direk na die weduwee
in Sarfat gelei het, kon hy dalk iets gemis het wat van hom ‘n beter man gemaak het
– om deur geloof te lewe. Wanneer ons aardse bronne opdroog, gebeur dit sodat ons
kan leer dat ons hoop en hulpbronne in God is.’
Sielskos: Rig 1-3; Matt 10:11-20; Ps 88:9b-18; Spr 13:4-6
2017/05/18
1 Timoteus 5:17 DB
Die kwaliteite van ‘n geestelike leier
Om ‘n geestelike leier te wees wat waardig is om gevolg te word: 1) Moet jy deur iemand
aanspreeklik gehou word. Iemand wat jou goed genoeg ken om saam met jou te bid,
jou in jou swak areas te versterk en wat jou raad op belangrike besluite kan gee. Gesag
sonder aanspreeklikheid lei altyd tot ‘n ramp. 2) Jou persoonlike prioriteite moet in
orde wees. Te veel van ons word suksesvol ten koste van ‘n gebroke huis en verswakte
gesondheid, omdat ons prioriteite nie in die regte orde is nie. 3) Jou pad met die Here
moet konsekwent wees. Dawid het gesê, ‘Ek het u woord in my hart gebêre sodat ek
nie teen U sou sondig nie’ (Psalm 119:11 NLV). ‘n Gedissiplineerde daaglikse pad met
God is die beste beskerming teen sonde. As jy eerder jou tyd op dinge wat belangriker
as God geword het spandeer, moet jy versigtig wees. Neem tyd om elke dag te bid en
jou Bybel te lees – en pas daardie tyd met jou lewe op. As jy ‘n pastoor is, is jou eerste
roeping nie die bouprojek, die kerkraad of die begroting nie, dit is ‘...Wees ‘n herder vir
my skape’ (Johannes 21:16 NLV). As jy op ‘n Saterdag jouself vind waar jy op die internet
na ‘n raamwerk vir jou preek vir die volgende dag soek, is dit tyd om veranderinge te
maak. Delegeer sekondêre take en stel die eerste dinge weer eerste. ‘...kyk uit vir sewe
mans onder julle wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid
het. Ons sal hulle dan vir hierdie bediening aanstel. Óns sal dan al ons tyd bestee aan
gebed en die bediening van die woord’ (Handelinge 6:3-4 NLV).
Sielskos: Rig 4-6; Matt 10:21-31; Ps 93; Spr 13:7-8
2017/05/19
2 Korintiërs 3:18 NLV
Hoe verandering plaasvind (1)
Verandering vind deur ‘n krisis plaas. God het Jakob se naam, wat ‘bedrieër’ beteken,
na Israel verander wat ‘’n prins by God’ beteken. Hy het dit deur ‘n krisis gedoen. Jakob
het desperaat geword nadat hy besef het dat hy huis toe moet gaan en sy broer Esau in
die gesig moet staar. Daardie nag in sy tent het hy met die engel van die Here gestoei.
Die verandering in sy lewe het nie vinnig of maklik gebeur nie. Jakob het skielik besef
dat hy besig was om met God te stoei en dat dit ‘n geveg was wat hy nie kon wen nie.
Net so sal God jou met ‘n kwessie wat jy nie kan oplos nie laat stoei, om jou aandag
te kry. Hy sal jou tot op ‘n plek bring waar jy moet toegee, ‘Ek kan nie hierdie situasie
hanteer nie. Dis te groot vir my. Ek het God nodig!’ As dit is waar jy vandag is, staan jy
op die rand van ‘n deurbraak. ‘Soos ‘n arend haar kuikens grootmaak... so sprei Hy sy
vlerke en vang en dra hulle op sy vlerke. Net die Here bewaar hulle...’ (Deuteronomium
32:11-12 NLV). ‘n Arend sal haar kuikens by die nes uitskop om hulle te leer vlieg. Kan
jy dink wat deur hulle koppe gaan? ‘Dis my ma wat dit aan my doen!’ God sal dieselfde
aan jou doen. Hy sal ‘n krisis toelaat om jou aandag te trek. Hy weet dat jy nie sal
verander totdat jou vrees vir verandering deur die pyn wat jy ervaar, oorskadu word
nie. Die punt is: ‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here... Ons word al hoe
meer verander om soos die Here te lyk...’
Sielskos: Rig 7:1-9:33; Matt 10:32-42; Ps 97; Spr 13:9-10
2017/05/20
Genesis 32:26 NLV
Hoe verandering plaasvind (2)
Verandering gebeur deur toewyding. Toe Jakob besef dat hy met die engel van die
Here stoei, het hy gesê, ‘...Ek sal jou nie laat gaan nie tensy jy my seën.’ Dis wat dit vat
– toewyding. Jakob was toegewyd en het volhard; hy het aangehou tot hy daardeur
gewerk het. Dit was frustrerend en het hom afgerem. Hy was egter toegewyd om
daarin te volhard totdat God dit ten goede vir hom verander het. Wanneer God ons
aandag deur ‘n krisis verkry, los Hy nie altyd die probleem onmiddellik op nie; partykeer
wag Hy om te sien of ons toegewyd is. Ons is so gewoond daaraan om onmiddellike
bevrediging te kry – kitskos, onmiddellike toegang tot die internet, onmiddellike
sukses – dat wanneer ons nie ‘n onmiddellike antwoord op ons gebede of verandering
in ons situasie sien nie, sê ons, ‘Vergeet daarvan, Here.’ Die feit is dat jy nie oornag in
hierdie gemors beland het nie, dus sal jy ook nie oornag daar uitkom nie. Soms moet
God ons swakhede laag vir laag verwyder. Kundiges vertel ons dat dit ses weke neem
wanneer ons dieselfde ding elke dag doen, om ‘n gewoonte te word. Dink daaroor in
terme van om die gewoonte te ontwikkel om elke dag te bid en jou Bybel te lees, of
om te leer om weer jou eggenoot lief te hê. Dis ses weke... twee-en-veertig dae... meer
as ‘n duisend ure... en Satan sal jou om elke hoek en draai aanval. Wat moet jy dus
doen? Spandeer tyd saam met God. ‘Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle
krag terugkry. Hulle sal vlieg soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie.
Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie’ (Jesaja 40:31 NLV).
Sielskos: Rig 9:34-11:40; Matt 11:1-19; Ps 129; Spr 20:25; Pred 5:4-6
2017/05/21
Genesis 32:27 NLV
Hoe verandering plaasvind (3)
Verandering vind deur belydenis plaas. Toe hy homself as ‘Jakob’, wat ‘bedrieër’ beteken,
geïdentifiseer het, het Jakob sy karakterfoute erken. Dit is ‘n belangrike deel in God se
proses om ons te verander, omdat ons nooit verander tot ons ons foute, sondes en
swakhede eerlik in die gesig staar nie. Ons moet sê, ‘Here, ek het ‘n probleem, ek is
in ‘n gemors en ek het foute gemaak.’ Dan kan God aan jou begin werk. Het jy al ooit
agtergekom hoe maklik dit is om verskonings te maak? Ons word meesters daarin om
ander te blameer en sê dinge soos, ‘Dis nie my skuld nie. Dis die omgewing waarin
ek grootgemaak is se skuld – my ouers dra die blaam.’ Of, ‘Die slegte situasie by die
werk is my baas se skuld.’ Hoekom praat ons so en tree so op? Omdat dit moeilik is om
ons persoonlike foute en mislukkings te erken en omdat dit moeilik is om hulp te vra.
Hoekom moet ons ons foute aan God erken? Sodat Hy kan weet wat aangaan? Nee,
Hy weet dit al klaar! Wanneer ons aan God erken dat ons gesondig het, verras dit Hom
nie; Hy weet van al ons probleme. Ons bely ons sondes aan Hom omdat Hy wil hê dat
ons moet sê, ‘U is reg, Here, ek het ‘n probleem. Ek het ‘n gemors daarvan gemaak.’ Dis
verootmoedigend om ons foute te erken, maar wanneer ons dit begin doen, gee God
ons toegang tot Sy krag wat ons positief verander. Op daardie punt begin ons om die
mens te wees wat ons nog altyd wou wees . Die waarheid is: God is lief vir jou net soos
jy is – maar Hy is te lief vir jou om jou net so te laat staan.
Sielskos: Gen 2:7-25; 1 Kor 15:39-55
2017/05/22
Genesis 32:30 NLV
Hoe verandering plaasvind (4)
Verandering vind deur samewerking plaas. God het Jakob begin verander die oomblik
toe hy erken het wie hy was en met God se plan begin saamwerk het. Jakob het die plek
waar hy met die engel gestoei het, ‘Pniël’ genoem, wat ‘die aangesig van God’ beteken.
Elkeen van ons moet uiteindelik tot aangesig met God kom en wanneer ons dit doen,
kan Hy ons begin verander. God het inderwaarheid vir Jakob gesê, ‘Nou kan ons aan die
werk spring. Werk saam en vertrou my. Ek sal die veranderinge wat jy wil hê maak en jou
seën.’ Let op: God het nie gesê, ‘Probeer hard en gebruik jou wilskrag om te verander
nie.’ Wilskrag alleenlik bring nie blywende verandering in ons lewens mee nie. Interne
motivering bring blywende verandering mee en dis waaraan God werk. Hy het vir Jakob
gesê, ‘Jou naam sal nie meer Jakob wees nie... Van nou af is dit Israel...’ (vers 28 NLV). Jakob
was nooit weer dieselfde nie. Wanneer jy ‘n persoonlike ontmoeting met die lewende
God gehad het, verander Hy jou. Hy het Jakob van ‘n ‘bedrieër’ na ‘n ‘prins’ verander. God
het sy potensiaal raakgesien. Hy het verby die harde uiterlike van ‘n man wat homself as
genadeloos en wêreldwys uitgebeeld het, gekyk. God het al Jakob se swakhede gesien,
maar Hy het ook onder die oppervlak gekyk. Dieselfde geld vir elkeen van ons: ‘En as ons
God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se
rykdom... ons [sal] sekerlik ook deel in sy heerlikheid’ (Romeine 8:17 NLV). In die woorde
van Paulus: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit
totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom’ (Filippense 1:6 NLV).
Sielskos: Rig 12-15; Matt 11:20-30; Ps 47; Spr 13:11-12
2017/05/23
Genesis 32:31 NLV
Hoe verandering plaasvind (5)
Die Bybel sê, ‘Die son het opgekom net toe hy van Pniël af weggaan. Van toe af was
hy mank aan sy heup.’ Dit is betekenisvol, omdat die bobeenspier een van die sterkste
spiere in die menslike liggaam is. Om Jakob se aandag te kry, het God hom op ‘n punt
van krag aangeraak. Sodra ons begin dink, ‘Hierdie is waarmee ek regtig goed is; hierdie
is waarin ek sterk is,’ mag God dalk daardie presiese ding aanraak om ons aandag te
trek. Jakob se mankheid het as ‘n lewenslange herinnering gedien dat hy nie op sy
eie krag nie, maar op God se krag, moes staatmaak. Sodoende het hy ‘n baie sterker
persoon geword. Dink daaroor: Elke keer wat Jakob in die moeilikheid geraak het, was
sy eerste reaksie om om te draai en weg te hardloop. Klink dit soos ‘n bekende patroon?
Doen jy dit? God het toe uiteindelik gesê, ‘Ek weet wat is die oplossing daarvoor – Ek
sal sy been mank maak!’ Vir die res van sy lewe moes Jakob stilstaan en sy probleme
reguit in die gesig staar, nie in sy eie krag nie, maar met God se krag. Wat van jou? Wat
is die een ding in jou lewe wat jy die graagste sal wil verander? Wil jy hê dat God jou
moet help? Hy sal – op Sy manier. Hy sal die proses van krisis, toewyding, belydenis
en samewerking gebruik. Wanneer God jou verander, is die verandering permanent.
Jy hoef jou nie oor jou wilskrag en of jy dit gaan deurvoer te bekommer nie, omdat jy
saam met God sal werk en net op Hom sal vertrou.
Sielskos: Rig 16:1-19:15; Matt 12:1-14; Ps 45; Spr 13:13-16
2017/05/24
Psalm 43:10 NLV
Spandeer tyd alleen saam met God
God kan enige tyd, enige plek, deur enigiemand, deur ‘n gedagte te laat posvat, met
jou praat (sien 1 Korintiërs 2:16). Omdat daardie gedagte egter deur jou besige lewe
oorweldig kan word, sê Hy, ‘Wees stil en weet Ek is God!..’ Wanneer jy stil is, hoor jy God
se stem duideliker. ‘Jesus het baie sulke voorbeelde gebruik om die woord aan die
mense, volgens wat hulle kon verstaan, te bedien... maar wanneer Hy agterna alleen
was met sy dissipels, het Hy alles vir hulle verder verduidelik’ (Markus 4:33-34 NLV).
Gail MacDonald skryf in High Call, High Privilege, die volgende: ‘Die antieke vaders
van die woestyn het hulself aan die volgende geloof verbind: stilte, afsondering en
innerlike vrede. Eers nadat hulle ‘n geruime tyd geluister het, het hulle hulself gereed
geag om te praat. Vandag is daar ‘n vreemde siening dat geestelike vernuwing gevind
word deur aanhoudend nuwe stemme op te soek, meer vergaderings by te woon
en om half-gevormde opinies te deel. Ons val in die strik om te glo dat God tevrede
is wanneer ons ons informasie, skedules en verhoudings maksimaal gebruik. Ons
benodig egter stilte voor God, ‘n tyd van hemelse bespreking waar ons meer luister
as wat ons praat. Hierdie stilte benodig afsondering.’ Wanneer jy stil voor God wag,
word jou geestelike oor opgelei om sy stem te hoor. Sylvia Gunter skryf: ‘Ek verstaan
hoekom Dawid sy siel beveel het om stil te wees. Dis moeilik om stil te word; amper
onmoontlik vir sommige van ons. Ek het egter agtergekom dat my siel en gees al ‘n
geruime tyd vir stilte uitgehonger was en noudat ek my siel weer die smaak van stilte
gegee het, is dit nie tevrede totdat dit ‘n gereelde deel van my dag is nie.’
Sielskos: Rig 19:16-21:25; Matt 12:15-21; Ps 128; Spr 13:17-19
2017/05/25
Psalm 107:2 NLV
Skree dit van die dakke af!
Maak nie saak hoe erg jy misluk nie, God sal jou nog ‘n kans gee. Nadat Jona
ongehoorsaam aan God was, drie dae in die vis se maag deurgebring het en op die
oewer by Nineve uitgespoeg is, sê die Bybel, ‘Die Here het ‘n tweede keer met Jona
gepraat...’ (Jona 3:1 NLV). Koning Dawid se sondes was voorbladmateriaal. Tog het God
hom herstel, en het hy geskryf: ‘...Hy het... my opgetel uit die afgrond van die dood, uit
die modder en die slym. Hy het my voete op ‘n rots laat staan en my op vaste grond
laat loop. Hy het my ‘n nuwe lied gegee, ‘n lofsang om ons God te prys. Baie sal met
eerbied toekyk. Hulle sal op die Here vertrou’ (Psalm 40:2-4 NLV). Wanneer God jou
herstel, maak dit nie saak wie teen jou veg nie. Wanneer Hy jou oplig, kan niemand jou
afbring nie. As God jou gered het, ‘sê dit dan.’ Niemand anders kan jou verhaal vertel
nie. Niemand anders weet wat God vir jou gedoen het nie. Niemand anders weet hoe
ver jy gekom het nie. Niemand anders weet waardeur jy is nie. Jý doen egter – jy weet
dit is net aan God se genade te danke dat jy oorleef het. Moenie toelaat dat die duiwel
jou getuienis steel nie. Dit mag jou dalk langer as ander mense geneem het, maar God
het aan jou die oorwinning gegee. Die duiwel wil jou stilmaak, omdat wanneer jy aan
mense vertel wat God vir jou gedoen het, iemand anders vrygemaak sal word. Die
Bybel sê, ‘Het die Here jou gered? Sê dit dan, jy wat Hy verlos het van die vyand.’ Die
woord vir jou vandag is dus: Skree dit van die dakke af!
Sielskos: Luk 24:50-53; Hand 1:1-11; Ef 4:7-10
2017/05/26
Psalm 16:5 NLV
Moenie afguns vastrapplek gee nie
Het jy toegelaat dat afguns vastrapplek in jou lewe kry? Vind jy jouself waar jy sekere
mense vermy of gebelgd voel oor hulle suksesse? Die Bybel sê, ‘...Jaloesie vreet mens
op’ (Spreuke 41:30 NLV). As jy jouself bevind waar jy die heeltyd iemand kritiseer of
dit wat hulle het, begeer, lees hierdie woorde en dink versigtig en in gebed daaroor
na: ‘‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het,’ sê die Here. ‘Ek beplan voorspoed vir julle, nie
teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. Julle sal na My roep
en kom bid. Ek sal na julle luister’’ (Jeremia 29:11-12 NLV). Afguns sê inderwaarheid vir
God, ‘U het ‘n fout gemaak toe U my gemaak het wat ek is. Ek wil soos daardie ander
persoon wees en hê wat hulle het!’ Nee, God het ‘n unieke roeping en doelwit vir jou.
In plaas daarvan om vir afguns ‘n vastrapplek te gee, laat dit jou motiveer om die beste
moontlike ‘jy’ te wees – die persoon wat God jou geskep het om te wees. As jy ‘n stryd
met afguns voer, is hierdie medisyne uit God se Woord wat jy elke dag moet inneem:
‘Here, U alleen is my erfenis, my beker van seën. U waarborg my lotsbestemming. ’n
Pragtige plek is vir my afgemeet. Wat ek geërf het, is vir my mooi! Ek prys die Here wat
my insig gee; ook in die nag is ek daarvan bewus. Die Here is altyd by my. Ja, Hy is aan
my regterhand; daarom sal ek nie struikel nie. Hieroor is my hart vol vreugde. Ek besing
sy lof, en woon in veiligheid’ (Psalm 16:5-9 NLV).
Sielskos: Gal 1-3; Matt 12:22-37; Ps 101; Spr 13:20-23
2017/05/27
Hebreërs 4:2 NLV
Kry die mengsel reg!
Vir sement om beton te word, moet dit met sand en water gemeng word. As jy nie die
mengsel regkry nie, sal die sement nooit beton word nie. Net soos jou liggaam elke
dag gesonde kos moet kry, moet jou siel deur God se Woord gevoed word. Jy kan egter
nie daar stop nie. Jy moet volgens dit wat jy hoor en lees, optree. As jy nie die daad
by God se Woord voeg nie, gaan dit jou niks baat nie. ‘Want hierdie blye boodskap...
het ons ook ontvang, net soos hulle. Dit het hulle egter niks gebaat nie omdat hulle
die boodskap wat hulle gehoor het, nie geglo het nie.’ Hulle het nie by die boodskap
baat gevind nie, omdat dit nie met geloof gemeng was nie. Om resultate op God se
beloftes te kry, moet jy vertroue in sy krag, wysheid en goedheid saammeng. Hoekom
gaan jy kerk toe en gaan sit op die kerkbanke? Omdat jy volle vertroue het dat die
kerkbanke nie onder jou gaan ingee nie. Die teenoorgestelde is ook waar. Jy mag dalk
sê dat jy glo dat die kerkbank jou gewig sal kan dra, maar as jy nooit daarop gaan sit
nie, oefen jy nie geloof uit nie – omdat jy nie optree volgens dit wat jy glo nie. Wat
beteken dit om in geloof op te tree? 1) Om met God se Woord saam te stem en te weier
om enigiets te sê wat dit weerspreek. 2) Om geduldig te wag op God om sy Woord op
sy eie manier en sy eie skedule te vervul. ‘Wat is geloof dan? Dit is ‘n vaste versekering
dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur...’ (Hebreërs 11:1 NLV). Hierdie
versekering is die onwrikbare waarheid van God se Woord.
Sielskos: Gal 4-6; Matt 12:38-50; Ps 108; Spr 13:24-25
2017/05/28
Filippense 3:13 NLV
Skryf dit neer – skeur dit dan op!
Daar sal altyd mense wees wat slegte dinge van jou sê. ‘Sy sal nooit sukses behaal nie...
Sy ouers was nie belangrik nie en hy gaan ook nie belangrik wees nie!’ Die vraag is:
Wie gaan jy glo, God of jou kritici? Volgens die Skrif: ‘...iemand wat één is met Christus,
is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17
NLV). God sê dat jy deur sy genade al jou kritici verkeerd gaan bewys, so hou op om
na hulle negatiewe voorspellings te luister. Hou op om na familielede, onderwysers,
base en sogenaamde ‘vriende’ te luister wat jou probeer afkraak. Draai ‘n dowe oor na
rassisme en seksisme. Jesus het gesê, ‘...julle sal begryp wat die waarheid beteken, en
die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:32 NLV). Hernuwe jou gedagtes daagliks
met die waarheid van God se Woord (sien Romeine 12:1-2). Jy mag dalk mishandel,
misbruik, verwerp of afgeskeep gewees het, maar dit is tyd om daardie dinge wat
agter jou is te vergeet en te reik na wat voor jou is. Wanneer God ‘n woord oor jou lewe
gespreek het, is dit wat Hom betref, reeds voltooi. Dit is nou jou werk om dit te glo,
dit te spreek en elke dag in die realiteit daarvan te stap. Wanneer iemand iets sê wat
‘n letsel op jou hart en gedagtes los, doen die volgende: 1) Skryf dit neer op ‘n stuk
papier. 2) Vra God om jou te help om hulle te vergewe en om die letsel uit te wis. 3)
Skeur die papier op, gooi dit in die asblik, en ‘...jaag wenpaal toe, na die hemelse prys
wat God aan [jou] wil gee omdat Christus Jesus dit vir [jou] verdien het’ (Filippense
3:14 NLV).
Sielskos: Gen 24:1-51; 2 Kor 6:14-7:1
2017/05/29
Habakuk 2:2 NLV
Stel doelwitte vir jou lewe
Wanneer jy jou persoonlike doelwitte duidelik gemaak het, kan jy jou persoonlike groei
meet. Hier is agt beginsels wat jou sal help om die regte doelwitte vir jou lewe saam
te stel: 1) Begin met gebed; anders kan die leer wat jy uitklim dalk teen die verkeerde
muur rus. ‘’n Mens kan hoeveel planne maak, maar op die ou einde gebeur wat die Here
besluit het’ (Spreuke 19:21 NLV). 2) Dink op papier. God het vir Habakuk gesê, ‘...Skryf my
antwoord, die visioen, in groot, duidelike letters...’ Dit gee ‘n gevoel van permanensie
wanneer jy jou doelwitte neerskryf. 3) Stel spertye. ‘...Stadig maar seker breek die tyd
aan wanneer die visioen waar sal word...’ (Habakuk 2:3 NLV). Sonder ‘n definitiewe begin
en einde, is dit maklik om uit te stel en nêrens te kom nie. 4) Maak ‘n lys van die stappe
wat jy moet neem. Hou dan die lys ten alle tye by jou; dit sal die pad aandui wat jy
moet neem. 5) Prioritiseer die stappe volgens belangrikheid. Wat moet jy eerste doen?
Wat kan jy later doen? ‘n Georganiseerde plan is altyd beter as om alles in jou kop te
probeer uitpluis. 6) Voeg nou daad by die woord. ‘Wees dus versigtig hoe julle lewe.
Moenie soos ‘n dwaas leef nie, leef wys! Benut elke geleentheid...’ (Efesiërs 5:15-16 NLV).
‘n Gemiddelde plan wat geïmplementeer word is altyd beter as ‘n briljante plan wat net
‘n plan bly. 7) Doen iets elke dag wat jou vorentoe laat beweeg. Byvoorbeeld, lees die
Bybel sistematies binne ‘n jaar deur. Bel ‘n spesifieke aantal kliënte elke week. Oefen elke
dag. 8) Kry doelwitte waaraan jy bereid is om jou lewe te wy. Die Psalmdigter het gesê,
‘Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid kan bekom’ (Psalm 90:12 NLV).
Sielskos: Klaagl 1:1-3:39; Matt 13:1-9; Ps 113; Spr 14:1-4
2017/05/30
Jesaja 43:1 NLV
Jy behoort aan God
Wanneer God jou verlos, besit Hy jou en Hy beskerm sy besittings! Dit word deur die
verhaal van Belsasar geïllustreer. Die Bybel sê: ‘Koning Belsasar het vir 1 000 van sy
vooraanstaande amptenare ‘n groot fees gehou... Terwyl Belsasar so aan die drink was,
het hy beveel dat die goue en silwer voorwerpe wat sy voorganger Nebukadnesar uit
die tempel van Jerusalem verwyder het, daarnatoe gebring word. Die koning wou saam
met sy vooraanstaande amptenare, sy vroue en sy byvroue daaruit drink’ (Daniël 5:1-2
NLV). As hulle net ‘n waardelose koppie so misbruik het, sou dit nie saak gemaak het nie,
maar God het hierdie heilige voorwerpe te veel waardeer om hulle so te laat misbruik.
Dus het die vinger van God in die nag die noodlot van Belsasar op die paleismure
geskryf. ‘Daardie selfde nag nog is Belsasar die koning van die Babiloniërs doodgemaak’
(vers 30 NLV). As ‘n verloste kind van God, is daar ‘n onveranderde beginsel waarop jy
kan staan: ‘Hy het nie toegelaat dat iemand hulle verdruk nie. Hy het konings oor hulle
gewaarsku: ‘Moenie vat aan my gesalfdes nie’...’ (1 Kronieke 16:21-22 NLV). Jy mag dalk
by die huis aan ‘n moeilike situasie moet werk, of teenspoed oor jou geloof ervaar. Jy kan
egter van een ding seker wees – God het te veel in jou belê om toe te laat dat jy vernietig
word. Wanneer Satan dit probeer, sal God hom onderbreek en sê, ‘Hierdie mense mag
nie aan geraak word nie – dit het My te lank gevat om hierdie vrou te leer om te bid... Ek
het te veel jare spandeer om hierdie man op te lei om sy probleme te oorkom... Hulle
het te veel vir my naam verduur. Haal jou hande van hulle af; hulle is Myne!’
Sielskos: Klaagl 3:40-5:22; Matt 13:10-23; Ps 82; Spr 14:5-8
2017/05/31
Lukas 12:15 NLV
Fokus op dit wat waarlik saak maak
Eendag het ‘n man met ‘n engel gepraat. Die engel het gevra, ‘Wat kan ek vir jou doen?’
Die man het geantwoord, ‘Wys my die Wall Street Journal ‘n jaar van nou af. Dan sal
ek weet hoe om my geld te belê en ‘n multimiljoenêr word.’ Die engel het sy vingers
geklap en vir die man ‘n Wall Street Journal van een jaar in die toekoms gegee. Die
man het deur die koerant geblaai en noukeurig bestudeer watter aandele gaan styg
en watter gaan val. Te midde van sy vreugde, het trane egter oor sy wange begin rol.
Hoekom? Omdat hy sy eie gesig in die kolom van die doodsberigte raakgesien het.
God is nie daarteen gekant dat jy besittings het en sukses in die lewe behaal nie. Hy wil
egter hê dat jy moet weet dat hierdie lewe jou net soveel kan bied en tensy jy nie elke
dag in die lig van die ewigheid lewe nie, sal jy jou tyd op die verkeerde goed mors. Jy
mag die tydelike dinge geniet, solank as wat jou fokus op die ewige dinge bly. Paulus
het gesê, ‘Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en
my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie: om die Goeie
Nuus te verkondig dat God mense liefhet sonder dat hulle iets hoef te doen om dit
te verdien’ (Handelinge 20:24 NLV). As jy in Brittanje ‘n honderd jaar oud word, mag
jy dalk ‘n telegram van gelukwensing van die koningin af kry. Dit beteken egter niks
teenoor die ‘Welgedaan’ wat jy van God sal ontvang wanneer jy sy opdrag vir jou, hier
op aarde vervul het nie.
Sielskos: Amos 1:1-5:17; Matt 13:24-35; Ps 117; Spr 14:9-12
2017/06/01
Efesiërs 4:26 NLV
Woedebeheer (1)
Hier is ‘n Bybelse plan vir groei wat woedebeheer insluit: ‘Julle moet op ’n nuwe,
geestelike manier leer dink. Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens
wat na God se beeld geskape is: iemand wat werklik reg lewe voor God en werklik aan
Hom toegewy is. Daarom moet julle die leuen aflê en die waarheid teenoor mekaar
praat. Ons is tog lede van dieselfde liggaam. Moenie sondig as jy kwaad word nie.
Moenie tot die aand toe kwaad bly en die duiwel so ’n houvas gee nie...Moenie enige
vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om
dié wat luister, te bevoordeel... Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van
alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar.
Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat
Christus gedoen het.’ (verse 23-32 NLV). God het aan jou elke emosie wat jy ervaar,
gegee, insluitend woede. Hy wil egter hê dat jy dit op die regte manier sal hanteer.
Wanneer jy kwaad is, moet dit nie ontken nie, maar gebruik dit om ‘n positiewe
verandering mee te bring. Sê, ‘Ek voel kwaad omdat ons verhouding vir my kosbaar
is en ek wil graag daaroor praat.’ Dit bring herstel en oplossings mee. Om voor te
gee dat jy nie kwaad is nie, is basies oneerlik. Dis ook oneerlik wanneer jy oordryf. ‘Jy
luister nooit na my nie... Jy ignoreer altyd my voorkeure... Niemand help my in die huis
nie.’ Sulke veralgemenings is onwaar en irriteer en polariseer ander mense, sodat die
probleem nie opgelos word nie. God se wil vir jou is om jou woede te bestuur, eerder
as wat jou woede jou beheer.
Sielskos: Amos 5:18-9:15; Matt 13:36-46; Ps 121; Spr 14:13-16
2017/06/02
Spreuke 23:16 NLV
Woedebeheer (2)
Wanneer ons woedebeheer uitoefen, is daar twee belangrike Bybelse beginsels:
1) Moenie mense en dinge blameer nie. Blaam is ‘n manier om verantwoordelikheid
te vermy, terwyl jy die vinger na iets anders wys. ‘As jy net betyds is, sal dit nie nodig
wees vir my om aan jou te karring nie,’ of ‘As jy ophou om aan my te karring, sal ek dalk
betyds wees.’ Sulke woorde help nie en jaag net die ander persoon die harnas in, stook
jou woede en gee jou nie die resultate wat jy wil hê nie. 2) Moenie woorde as wapens
of ‘n vorm van beheer gebruik nie. In plaas van om jou emosies te onderdruk, druk
hulle op ‘n gesonde manier uit. Onthou, die doel is om die probleem op te los en die
verhouding te versterk, nie om wonde te veroorsaak nie. Is dit maklik om te doen? Nee,
dis hoekom jy God se hulp nodig het. Die Bybel sê dat jou woorde iemand anders se
gees skade kan aandoen (sien Spreuke 18:14), hulle harte kan breek (sien Spreuke 15:4)
en die verhouding kan vernietig (sien Spreuke 18:21). Salomo het gesê dat woorde
maklik deel word van jou lewe (sien Spreuke 26:22). Wat jy sê, kan lewenslank in die
gedagtes van iemand anders bly. Is dit wat jy wil hê? Sekerlik nie! Aan die ander kant,
is dit nooit nodig om berou te hê oor woede wat reg bestuur word nie. Leer om tussen
die woede wat jy voel en die woorde wat jy spreek, te onderskei. Woede kan dit wat in ‘n
verhouding verander moet word, openbaar. Vra dus vir God om jou te wys wat verander
moet word – eers in jouself en dan in die ander persoon.
Sielskos: Eseg 1-4; Matt 13:47-58; Ps 4; Spr 14:17-20
2017/06/03
Lukas 6:45 NLV
Woedebeheer (3)
Wat jy op die hardeskyf van jou rekenaar stoor, kan met die druk van ‘n knoppie
herroep word. Jesus het gesê: ‘‘n Goeie mens bring goeie dade voort uit ‘n goeie
hart en ‘n slegte mens bring slegte dade voort uit ‘n bose hart. Wat ook al in jou
hart leef, bepaal wat jy sê.’ Wanneer jy ou wrokke op jou “hardeskyf” aflaai, word jy
bitter. Wanneer jy kwaad is, hanteer dit vinnig. Moet ook nie rondsit en hoop dat
die ander persoon die lig sal sien en sal jammer sê nie. Wat as hulle dit nooit doen
nie? Jesus het gesê, ‘As een van jou medegelowiges iets verkeerds teen jou gedoen
het, gaan wys hom daarop...’ (Matteus 18:15 NLV). Wat is vir jou meer kosbaar – jou
sienswyse of die verhouding? Wanneer jy weier om ‘n kwessie te hanteer, voeg jy
nog ‘n geraamte in jou emosionele kas by. Dink wat dit aan jou doen. Dokters sê dat
wrokke en griewe jou maagwand vreet, jou immuunstelsel aanval en jou vatbaar
vir hartprobleme, kanker en ander fisiese, sosiale en emosionele afwykings maak.
Dis nie al nie! Dit neem jou gedagtes in beslag, dreineer jou energie en beperk jou
kreatiwiteit. Dit plaas druk op jou verhouding met God, jou familie en vriende en
neem die geleentheid van jou oortreder af weg om dinge met God en met jou reg
te maak. Totdat jy nie die kwessie hanteer het nie, sal jy dit soos ‘n gewig aan jou
enkel rondsleep. Weier om so te lewe! Vra God vir die nederigheid en moed om die
kwessie vandag nog te hanteer.
Sielskos: Eseg 5-9; Matt 14:1-12; Ps 124; Spr 14:21-24
2017/06/04
Efesiërs 4:29 NLV
Woedebeheer (4)
Die Bybel sê: ‘Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende
woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel. Ja, moenie God se Heilige Gees
hartseer maak nie...’ (verse 29-30 NLV). Wanneer jy woedend reageer, maak jy nie net
die ander persoon seer nie, jy maak ook die Heilige Gees hartseer. Het jy al ooit daaraan
gedink? As volgelinge van Christus is ons geroepe om te probeer verstaan wat die
ander persoon nodig het. Dit beteken dat ons nie vorige oortredings of ander mense
bysleep nie en nie opmerkings oor iemand se gewig, kleur, IK of fisiese, verstandelike
en emosionele beperkings maak nie. Moenie dinge ophaal wat die kwessie vertroebel
en jou daarvan weerhou om ‘n oplossing te vind nie. God het jou met die kapasiteit
vir woede gemaak, omdat wanneer dit reg hanteer word, dit die krag kan wees om
positiewe verandering mee te bring. Dus: 1) Soek ‘n oplossing, nie ‘n oorwinning nie.
Om ander mense name te noem of sleg te sê, maak dinge net erger. Jou fokus moet
nie wees op dit wat hulle gedoen het nie, maar op dit wat julle saam kan doen om
die kwessie op te los. 2) Erken jou foute en vra vergifnis. Dit maak dit makliker vir
die ander persoon om sy of haar foute te erken, wanneer jy dit ook doen. 3) Vir elke
moeilikheid wat jy aanspreek, gee ook ‘n opregte kompliment. In plaas van om te
kritiseer, probeer om te sê, ‘Ek is seker dit was nie maklik vir jou om hierdie te hoor
nie. Dankie dat jy met soveel grasie na my geluister het.’ Deur op oplossings, eerder as
blaam te fokus, ontvang mense die geleentheid om goeie verhoudings na te streef.
Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18
2017/06/05
Spreuke 11:13 NLV
Woedebeheer (5)
As jy ernstig daaroor is om jou woede te beheer, is daar twee dinge wat jy in
gedagte moet hou: 1) Moenie jou vuil wasgoed in die openbaar was nie. Wanneer
jy seergemaak en kwaad is, is dit natuurlik om oor jou oortreder te wil skinder.
Moet dit nie doen nie. Die Bybel sê, ‘’n Geskinder lap geheime uit; betroubare
mense bewaar geheime.’ Vuil wasgoed word gewoonlik op twee maniere gewas: a)
Vernedering: Jy sê dinge wanneer jy weet dat ander mense dit sal hoor. b) Subtiel:
Jy maak grappe oor hulle voorkoms, hulle familie en vriende, hulle persoonlike
gewoontes en kwessies, om hulle sodoende te verneder. Dit vergroot die gaping
tussen julle, wat versoening bykans onmoontlik maak. Die Bybel sê, ‘...Liefde bedek
wat verkeerd gedoen is’ (Spreuke 10:12 NLV). 2) Moenie op ‘n onchristelike manier
optree nie. Moet byvoorbeeld nie sê, ‘Hy het dit oor homself gebring, dus moet hy
maar self daaroor kom nie.’ Dit mag dalk waar wees, maar as ‘n volgeling van Christus
kan jy nie wegstap en wonde los om te sweer nie. ‘Vergewe mekaar soos God julle
vergewe het...’ (Efesiërs 4:32 NLV). Hoe het Christus jou vergewe? Was dit nadat jy
jou foute erken, bely, berou en genade verdien het? Nee. Paulus sê, ‘God laat blyk sý
liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat
ons nog sondaars was’ (Romeine 5:8 NLV). Net soos God die inisiatief geneem het,
word jy geroep om genade te bewys aan mense, voordat hulle vergifnis vra. Selfs as
hulle kies om jou vyand te bly, moet jy hulle steeds vergewe. Slegs dan sal jy vrede
hê, sal jou wonde gesond word en sal jy in staat wees om dit agter jou te sit.
Sielskos: Eseg 10-13; Matt 14:13-21; Ps 129; Spr 14:25-28
2017/06/06
Jesaja 43:18-19 NLV
Laat jou verlede gaan
Die komediant, Jerry Lewis, het gegrap dat sy beste trougeskenk ‘n video van die
seremonie was. Wanneer dinge in sy huwelik sleg gegaan het, kon hy die video
agteruit kyk en ‘n vry man by die kerk uitstap! Ons glimlag, maar jy kan nie teruggaan
en jou verlede herskryf nie. Wanneer jy by die verlede stilstaan, is dit altyd ten koste
van jou toekoms, maar wanneer jy uit jou verlede leer, het dit die potensiaal om
jou toekoms beter te maak. Wanneer jy jouself vind waar jy sê, ‘As ek maar net toe
geweet het wat ek nou weet,’ herinner jouself daaraan dat jy dieselfde ding oor
tien of twintig jaar gaan sê, mits jy aanhou groei. Jy sê, ‘As ek maar net gewillig was
om my eggenoot te vergewe in plaas van om hom of haar te straf, kon ek dalk my
huwelik gered het en ‘n wonderlike verhouding gebou het.’ Miskien stoei jy met
die herinnering van ‘n aborsie en wonder wie die kind vandag sou wees en aan die
vreugde wat hy of sy sou bring. Miskien is jy ‘n goeie persoon wat ‘n slegte ding
gedoen het en nou ‘n misdaadrekord het. God sê: 1) ‘...Julle sondes is vergewe op
grond van wat Jesus vir ons gedoen het’ (1 Johannes 2:12 NLV). 2) ‘Ek... is die Een
wat julle sondes uitwis. Ek doen dit ter wille van Myself en dink nie weer daaraan nie’
(Jesaja 43:25 NLV). 3) ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het. Dis niks in
vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie. Ek gaan iets nuuts doen. Dit het alreeds
begin gebeur!.. Ek gaan ‘n pad maak...’ Laat jou verlede vandag gaan.
Sielskos: Eseg 14:1-16:52; Matt 14:22-36; Ps 1; Spr 14:29-32
2017/06/07
Spreuke 21:6 NLV
Wees getrou aan jouself
Dis makliker om jou integriteit te behou as om dit te herwin. Dit mag jou dalk benadeel
om die regte ding te doen, maar dit sal jou meer benadeel om jou beginsels te laat vaar.
‘Mense wat op ‘n oneerlike manier ryk word, is net soos ‘n voël wat eiers uitbroei wat
sy nie gelê het nie. Hulle sal al hulle rykdom verloor. Aan die einde van hulle lewens sal
hulle niks anders as dwase wees nie!’ (Jeremia 17:11 NLV). In 1994 het die gholfspeler,
Davis Love, ‘n een-hou boete op homself in die tweede rondte van die Westerse Ope
gelê. Hy het sy merker uit ‘n ander speler se pad verwyder en kon toe nie onthou of hy
sy bal weer op die oorspronklike plek neergesit het nie. Omdat hy nie seker was nie,
het hy homself met ‘n ekstra hou beboet. Daardie een hou het veroorsaak dat hy uit die
toernooi geëlimineer is. Teen die einde van die jaar was Love $590 kort om outomaties
vir die Meesters te kwalifiseer en moes hy ‘n toernooi wen om daarvoor te kwalifiseer.
Gelukkig het die storie goed geëindig. Die week voor die Meesters geleentheid het
hy ‘n toernooi gewen en op die ou einde $237,600 gewen deur tweede in die 1995
Meesters te eindig. Later, toe hy gevra is hoe hy sou voel as hy die Meesters misgeloop
het as gevolg van die boete wat hy homself opgelê het, het Love geantwoord, ‘Die
vraag is hoe ek sou gevoel het as ek gewen het en die res van my lewe moes wonder
of ek gekul het.’ In die woorde van Shakespeare: ‘To thine own self be true, and it must
follow, as the night the day, thou canst not then be false to any man.’
Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Matt 15:1-14; Ps 48; Spr 14:33-35
2017/06/08
Spreuke 10:32 NLV
Gebruik woorde wat by ‘n Christen pas
Toe George H W Bush in 1988 homself as president van Amerika verkiesbaar gestel het,
het hy erken dat hy ‘n onvanpaste opmerking oor die Amerikaanse joernalis Dan Rather
en die Withuis korrespondent Lesley Stahl tydens ‘n konfrontasie op die lug gemaak het.
Bush het na Rather as iets verwys wat mens nie in goeie geselskap sal oorvertel nie en
ook God se naam ydellik gebruik. Toe hy daaroor gekonfronteer word, het hy gesê, ‘As
ek geweet het dat die mikrofoon aan was, sou ek nie die Here se naam ydellik gebruik
het nie. Ek vra om verskoning daarvoor.’ Die waarheid is, hy moes dit nooit gesê het nie,
of die mikrofoon aan was of nie! Die Bybel sê, ‘Die Here sien alles wat ‘n mens doen. Hy
weet van elke tree wat jy gee’ (Spreuke 5:21 NLV). Eeue gelede het Jesus verklaar: ‘Die
tyd kom dat alles openbaar sal word; alles wat geheim gehou word, sal onthul word. Wat
julle ook al in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word, en wat julle agter geslote
deure gefluister het, sal van die dakke af geskree word vir almal om te hoor!’ (Lukas 12:2-
3 NLV). Neem ‘n oomblik en dink na oor hierdie twee Skrifgedeeltes: ‘’n Regverdige mens
dink eers voor hy antwoord. By goddelose mense se monde borrel daar slegte dinge uit’
(Spreuke 15:28 NLV). ‘Die regverdige weet wat die gepaste dinge is om te sê. Wat die
goddelose sê, bring moeilikheid’ (Spreuke 10:32 NLV). Die eerste Skrifgedeelte sê dat ‘n
wyse persoon dink voor hy of sy praat, omdat hulle besef dat elke woord gevolge het. Die
tweede Skrifgedeelte sê dat ‘n regverdige persoon outomaties weet wat aanvaarbaar is
en weet dat God elke woord hoor.
Sielskos: Eseg 20-21; Matt 15:15-28; Ps 132:1-10; Spr 15:1-4
2017/06/09
Eksodus 39:14 NLV
Die wonder van die borssak (1)
As jy na die borssak kyk wat deur Israel se hoëpriester gedra is, sal jy sien hoe kosbaar
jy as verloste kind in God se oë is. Die Bybel gee ons gedetailleerde inligting oor dit
wat die hoëpriester gedra het en daar is nie onbelangrike detail in God se Woord nie.
As ons die borssak ondersoek, sien ons iets wonderliks in die manier hoe die Here na
ons kyk. Daar was twaalf stene in die borssak en op elke steen was die naam van die
twaalf stamme van Israel gegraveer. Omdat Jesus ons Hoëpriester is, kan ons na die
borssak kyk en daaruit leer. Dit was kosbare stene. God het nie gewone klippies en
stene gebruik wat algemeen in Israel beskikbaar was nie; Hy het die duurste, raarste
en kosbaarste juwele soos karneool, smarag, topaas, saffier, turkoois en oniks gekies
om ons te verteenwoordig. Let op die woord ‘kosbaar’. Die Bybel sê dat jy kosbaar in
God se oë is (sien Jesaja 43:4). Die Bybel sê ook dat ons deur die kosbare bloed van
Jesus gered is (sien 1 Petrus 1:19). Hoe bepaal jy die waarde van iets? Deur die prys
wat iemand gewillig is om daarvoor te betaal. Daar is dus ‘n waarheid wat jy in gedagte
moet hou wanneer jy verkeerd doen en Satan jou aan al jou foute en tekortkominge
herinner. Met kennis van al jou sondes – in die verlede, hede en toekoms – het God jou
so liefgehad dat Hy sy Seun gestuur het om jou deur sy kosbare bloed te verlos. Solank
as wat jy op Christus vertrou, verminder jou waarde in God se oë nooit nie. Hoekom
dink God jy is kosbaar? Omdat Hy jou te alle tye ‘in Christus’ sien.
Sielskos: Eseg 22-23; Matt 15:29-39; Ps 132:11-18; Spr 15:5-7
2017/06/10
Hebreërs 4:14 NLV
Die wonder van die borssak (2)
Let nog twee dinge oor die borssak op wat deur Israel se hoëpriester gedra is: 1) Dit
was naby aan sy hart. Die hoëpriester het een maal ‘n jaar na die binneste heiligdom
gegaan waar God se teenwoordigheid was, om vergifnis vir die volk se sondes te
kry. Hy het verskillende goed gedra wat elk verskillende waarhede verteenwoordig
het. Van al hierdie klere wat hy aangetrek het, was die borssak egter die naaste aan
sy hart. Dit spreek van God se liefde en waardering en sy begeerte om naby aan jou
te wees. Vandag sê Hy vir jou: ‘...Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat
nie’ (Hebreërs 13:5 NLV). Wat ‘n wonderlike belofte! 2) Die name van die stamme
was nie net op die borssak geskryf nie, maar gegraveer (sien Eksodus 39:14 NLV).
Wanneer iets geskryf is, kan dit per ongeluk uitgevee word, maar nie wanneer dit
gegraveer is nie. Daar is twee maniere wat jy kan sondig. Eerstens deur opsetlik te
kies om te sondig en tweedens wanneer jy as gevolg van swakheid struikel. God sal
jou teregwys en jou korrigeer om jou weer op die regte pad te kry, maar Hy sal nooit
sy rug op jou draai of jou weggooi nie. Nee, jy is te kosbaar vir Hom. Hy onthou die
prys wat Hy vir jou betaal het en Hy sê, ‘En Ek sal hulle name nooit uit die Boekrol van
die Lewe vee nie...’ (Openbaring 3:5 NLV). Solank as wat jy jou vertroue in Christus
stel, kan jy seker van God se liefde en aanvaarding wees.
Sielskos: Eseg 24:1-27:24; Matt 16:1-12; Ps 143; Spr 15:8-10
2017/06/11
1 Petrus 2:7 ABA
Die wonder van die borssak (3)
Ons leer die volgende deur na die borssak te kyk wat deur die hoëpriester van Israel
gedra is: a) ons is kosbaar vir God; b) ons is naby aan sy hart; c) Hy sal nooit sy rug op
ons draai nie. Jy sê, ‘As God nooit sy rug op ons sal draai nie, beteken dit ons kan lewe
soos ons wil?’ Nee. As ‘n verloste kind van God, is jy nie net kosbaar in sy oë nie, Hy is
ook kosbaar in jou oë. Dus sal jy jou verhouding met Hom bo alles anders eer en dit ten
alle koste beskerm teen enigiets wat dit bedreig. As jy besef hoe kosbaar en waardevol
jy in God se oë is, sal jy dan nog wil uitgaan en sondig of aanhou om in sonde te lewe?
Natuurlik nie! Inteendeel, jou gedagtes sal meer in lyn wees met: ‘Hierdie is nie hoe ‘n
gelowige wat kosbaar vir die Here is, optree nie.’ ‘n Kosbare diamant behoort nie in die
modder, vuilheid en gemors van sonde nie. Sy regte plek is naby aan die hart van God
waar dit kan sprankel en glinster. Jy word deur die besef van jou ware, regverdige en
kosbare identiteit in Christus bo die begeerte om te sondig, verhef. Dit veroorsaak dat
jy as kind van die Koning wil optree en lewe. ‘n Heilige lewe is inderdaad die resultaat
wanneer jy jouself sien soos God jou sien – ‘in Christus.’ In plaas daarvan om aan die
versoeking toe te gee, sal jy jouself afvra, ‘Wat sou Jesus in hierdie situasie doen?’ Dan
sal jy op sy krag staatmaak om die regte ding te doen. ‘n Opregte besef van God se
genade verhoed nie heiligheid nie, dit produseer dit.
Sielskos: Gen 1:1-2:3; Joh 1:1-18
2017/06/12
1 Petrus 1:19 NLV
Kosbare bloed – kosbare jy!
Die Bybel sê, ‘...En dié losprys was nie dinge wat vergaan soos goud of silwer nie.
Inteendeel, dit was die kosbare bloed van Christus...’ (verse 18-19 NLV). Jy moet op ‘n
plek in jou lewe kom waar jy gemaklik is met wie jy ‘in Christus’ is; waar jy nie toelaat
dat jou selfwaarde op die opinies of aksies van ander gebaseer word nie. Hou op
om jou waarde in jou voorkoms, jou beroep, of hoe ander mense jou behandel, te
bepaal. Jou waarde in God se oë is onskatbaar, omdat Jesus se bloed vir jou gevloei
het. Kosbare bloed – kosbare jy! Ja, jy het foute. Ja, daar is dinge aan jou wat moet
verander, maar God is besig om aan jou te werk, net soos Hy aan almal anders werk.
Moenie iemand anders toelaat om jou minderwaardig te laat voel nie. Jy is ‘n kind
van God, deur bloed gekoop! Moenie dat hulle jou waardeloos laat voel omdat hulle
nie weet hoe om jou reg te behandel nie, of jou nie liefhet soos jy verdien om liefgehê
te word nie. Moenie jou lewe spandeer om hulle aanvaarding en goedkeuring te
probeer kry nie. Jy is reeds deur God aanvaar en goedgekeur, maak dus seker dat
jou selfwaarde van Hom af kom. Jy is deur Christus se bloed verlos, jy word deur
Christus se bloed bedek en jy word deur Christus se bloed aanvaar. Omdat sy bloed
‘kosbaar’ is, beteken dit dat jy ook kosbaar is. Satan sal graag wil hê dat jy dit moet
vergeet en jouself net in die lig van jou foute en swakhede sien. Staan eerder elke
oggend op, kyk in die spieël en verklaar, ‘Ek is kosbaar, omdat ek deur die kosbare
bloed van Jesus verlos is!’
Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Matt 16:13-28; Ps 80:1-11; Spr 15:11-14
2017/06/13
Lukas 24:16 NLV
God is vandag by jou
Wanneer jy voor ‘n krisis te staan kom, is dit maklik om perspektief te verloor. Dit het
met twee van Christus se dissipels op die pad na Emmaus gebeur. Ontmoedig deur
sy dood, was hulle... ‘druk in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur
het. Terwyl hulle nog so loop en gesels en dinge probeer ontrafel, het Jesus self
nadergekom en saam met hulle verder geloop. Hulle oë is egter verhinder om Jesus
te herken’ (verse 14-16 NLV). Wanneer jy jou oë van Jesus afhaal, begin jy hulpeloos
oor jou situasie voel. Dr Michael Youssef sê: ‘Wanneer ek voor ‘n krisis te staan kom, is
ek die tipe persoon wie se visie vervaag. My persepsies is verkeerd. My oordenkinge
is eensydig. Ek sluit dikwels mense wat my kan help, uit, soos die twee dissipels. Hulle
visie was vaag oor die persoon wat saam met hulle gestap en met hulle gesels het.
Die een oor wie se dood hulle gerou het was lewendig, maar hulle het dit nie besef
nie omdat hulle fokus verkeerd was.’ Alles het egter verander die oomblik toe hulle
Jesus herken het. ‘Hulle het daar en dan opgestaan en na Jerusalem teruggegaan... Toe
vertel hulle wat op pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het deur die
breking van die brood’ (verse 33-35 NLV). Hulle het daar en dan verander, van vrees na
moed, pyn na vreugde en moedeloosheid na hoop. Paulus het geskryf, ‘Ek bid verder
dat God julle geestelike oë sal oopmaak...’ (Efesiërs 1:18 DB). Wanneer jy ophou om op
die probleem te fokus en jou oë op Jesus rig, kry jy 20/20 visie en word jy met hoop
gevul.
Sielskos: Eseg 31-33; Matt 17:1-13; Ps 80:12-19; Spr 15:15-17
2017/06/14
Efesiërs 4:32 NLV
Vergewe – en stel jouself vry
Jare na haar marteling en ervaring in ‘n Nazi konsentrasie kamp, was Corrie ten Boom
besig om in ‘n kerk te praat toe sy van aangesig tot aangesig kom met een van die
wreedste wagte wat sy in die kamp teëgekom het. Hierdie man het haar en haar suster
verneder en mishandel. Hy het opmerkings gemaak en hulle visueel ‘verkrag’ toe hulle
in die stort gestaan het om van luise ontslae te raak. Nou het hy hier voor haar met
‘n uitgestrekte hand gestaan en gevra, ‘Sal jy my vergewe?’ Corrie het gesê, ‘Ek het
daar gestaan met ‘n koudheid wat my hart binnegedring het, maar ek het geweet dat
my wil die temperatuur van my hart kan oorwin. Ek het gebid, ‘Jesus, help my!’ Ek het
stokkerig my hand in syne geplaas en toe ‘n wonderbaarlike ding ervaar. Dit het in my
skouer begin en by my arm afgejaag, tot by ons hande. Toe het die warm versoening
my hele wese deurspoel en trane na my oë toe gebring. ‘Ek vergewe jou, broer,’ het ek
met my hele hart uitgeroep. Vir ‘n lang oomblik het ons mekaar se hande vasgehou,
die voormalige wag en die voormalige gevangene. Ek het nog nooit die liefde van God
so intens ervaar soos op daardie oomblik nie.’ Die Bybel sê, ‘Wees eerder vriendelik met
mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van
wat Christus gedoen het.’ Wie sukkel jy om vandag te vergewe? Styg bo jou gevoelens
uit en doen dit! Wanneer jy dit doen, stel jy jouself vry en kan jy in die vrede en vreugde
van die Here stap.
Sielskos: Eseg 34-36; Matt 17:14-27; Ps 73:1-16; Spr 15:18-21
2017/06/15
Nahum 1:7 NLV
Vertrou op God se goedheid
Die Bybel sê, ‘Toe die volk sien dat Moses lank wegbly en nie van die berg af kom nie,
het hulle na Aäron toe gegaan. Hulle het vir hom gesê: ‘Maak vir ons ‘n god wat ons
kan lei...’’ (Eksodus 32:1 NLV). Hoekom het Israel ‘n goue kalf gemaak? Omdat hulle ‘n
god wou hê wat ‘n mens kan sien. Dit is moeiliker om ‘n verwantskap met ‘n onsigbare
God te hê en Moses, sy verteenwoordiger, het so lank op die Sinaiberg gebly dat hulle
hulpeloos en vergete gevoel het. Hulle het toe gedoen wat ons doen wanneer ons bang
is – ons keer weer terug na die bekende toe. Mark D Roberts skryf: ‘Hoe dikwels bevind
ons onsself in ‘n situasie soos die Israeliete s’n? Ons hoor dat God ons tot iets nuuts
roep en tree moedig in geloof vorentoe. Wanneer ons egter nie sy teenwoordigheid
aanvoel nie en dit voel of ons gebede teen die plafon vassit, voel ons vergete, bang
en hulpeloos. Dan keer ons terug na die bekende en voel gerusgestel.’ Nancy Ortberg
sê, ‘Die moeilike deel van verandering is dikwels om te gaan waar God is. Baie van ons
skree en skop in plaas daarvan om met vertroue na die ander kant te beweeg, waar
God is en waar ons nuwe fasette van Hom kan ontdek wat ons nie vroeër verstaan het
nie. Of dit nou die afsterwe van ‘n geliefde is, jy jou werk verloor het, na ‘n ander plek
toe moet trek of wanneer jou kinders uit die huis is – wanneer ons deur die moeilike
tye beweeg, sal ons ontdek dat ons wonderlike, goeie God daar is.’ Wanneer God ‘n
deur toemaak, maak Hy ‘n ander een oop – maar jy moet egter gewillig wees om deur
die deur te stap.
Sielskos: Eseg 37:1-40:9; Matt 18:1-9; Ps 73:17-28; Spr 15:22-24
2017/06/16
Eksodus 33:14 NLV
Shalom
Die Hebreeuse woord vir vrede is shalom. Wanneer jy apart van God lewe, sal dit altyd
net ‘n filosofiese fantasie wees, ‘n vis wat net buite bereik van jou hoek bly. Huwelike
stort ineen omdat ons na ‘n volmaakte maat soek wat ons die perfekte vrede ,waarna
ons streef, kan gee en ons dan ontdek dat hulle dit nie kan doen nie. Daar is ‘n storie
van ‘n vrou by ‘n skemerkelkgeleentheid wat haar bes gedoen het om gelukkig te
lyk. ‘n Gas wat die enorme steen aan haar vinger opgemerk het, het gesê, ‘Wow! Wat
‘n pragtige steen!’ Sy het geantwoord, ‘Dankie. Dit is die Callahan diamant.’ Die gas
het gesê, ‘Ek wens ek het een gehad.’ ‘Nee jy doen nie, saam met die steen kom die
Callahan vloek,’ het sy geantwoord. ‘Die Callahan vloek – wat is dit?’ het die gas gevra.
Die vrou het gesug en gesê, ‘Meneer Callahan!’ Perfekte vrede kan net van God kom.
Vrede is nie die afwesigheid van probleme nie, maar die teenwoordigheid van God te
midde van ons probleme. Niemand vind ooit vrede deur daarna te soek nie. Jy kan nie
vrede vind nie; dit vind jou wanneer jy jou lewe aan die Een wat gesê het dat Hy sal
saamgaan sodat jou hart kan rus, oorgee. Net God se teenwoordigheid bring vrede
mee. Die waarborg van God se liefde, God se hulp en God se teenwoordigheid neem
die stres van die lewe weg. Wens jy vandag vir vrede? Wanneer jy jou lewe aan Christus
oorgee, sal jy ‘...God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat mens ooit kan
dink...’ (Filippense 4:7 NLV).
Sielskos: Eseg 40:10-42:20; Matt 18:10-20; Ps 139:1-6; Spr 15:25-27
2017/06/17
Hebreërs 12:1 NLV
Wat vertraag jou spoed?
Die Bybel sê, ‘...kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat
so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat
voor ons uitgestrek lê.’ Wat vertraag jou spoed, of pootjie jou? In die lewe kry jy net
een geleentheid om te hardloop, hardloop dus om te wen. Moenie terugkyk nie, sodat
jy nie struikel of jou plek in die wedren verloor nie. Moenie angstig oor die volgende
rondte wees nie, fokus net op die volgende tree. As jy hom mis, mag jy dalk val en nie
weer opstaan nie. Hou aan en voor jy dit agterkom sal jy meer rondtes agter jou, as
voor jou hê. Laat elkeen tel. Baie van ons dra die gewig van ons bekommernisse rond.
Ouer en wyser mense het egter agtergekom dat hulle bekommernisse van geen ware
belang is nie. Ons mors ons krag om vure dood te slaan wat op hulle eie sou uitbrand.
Tyd is jou kosbaarste hulpbron. Wanneer jy tyd spaar, vermeerder jy jou bates en
verminder jou laste. Reis lig. Gooi die bagasie wat jou saboteer en jou sinlose vrese
weg. Daar is genoeg pynlike beproewings in die lewe; hoekom nie die onbenulliges
weggooi nie? Toe die blinde Bartimeus hoor dat Jesus binne bereik was, het hy sy
kleed uitgetrek sodat hy nie daaroor moes struikel nie en na Jesus toe gehardloop.
Sy geloof het vrugte afgewerp: ‘...Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus
aangegaan’ (Markus 10:52 NLV). Jy sal nooit weet hoe suksesvol jy kan wees, totdat jy
ontslae raak van die dinge wat jou spoed vertraag en jou pootjie nie.
Sielskos: Eseg 43-45; Matt 18:21-35; Ps 139:7-12; Spr 15:28-30
2017/06/18
Lukas 5:5 NLV
Verstaan hoe God werk
Die Bybel sê: ‘Toe Hy [Jesus] klaar gepraat het, het Hy vir Simon gesê: ‘Vaar nou dieper
in en gooi jou nette uit, en jy sal baie vis vang.’ ‘Meneer,’ het Simon geantwoord, ‘ons
het die hele nag hard gewerk en het niks gevang nie. Maar as u so sê, sal ons weer
probeer.’ En hierdie keer was hulle nette so vol dat dit begin skeur het!.. Toe Simon
Petrus besef wat gebeur het... was [hy] verbyster deur die groot visvangs... Jesus het
vir Simon geantwoord: ‘Moenie bang wees nie! Van nou af sal jy mense vang!’ En toe...
het hulle alles net so laat lê en Jesus gevolg’ (verse 4-11 NLV). Die ware toets van jou
geloof kom wanneer niks wat jy probeer het, gewerk het nie en God dan jou geloof
toets. Dan kan jy dat jou vertwyfelinge die oorhand kry, of saam met Petrus sê, ‘Maar as
u so sê, sal [ek] weer probeer.’ God werk op drie maniere: 1) Hy gebruik die alledaagse
om die wonderlike te doen. Jesus het by hulle werkplek opgedaag waar niks spesiaals
ooit gebeur nie en hulle lewens verander. Soek God in jou daaglikse roetine en moenie
verras wees as Hy jou verras nie. 2) Hy beweeg jou uit die sekuriteit van die vlak waters
na die risiko van die diep waters. Die groot vangste en die groot storms word in
dieselfde see aangetref. As jy die een wil hê, moet jy bereid wees om die ander een te
hanteer. 3) Hy betrek jou by een ding om jou iets anders te leer. Christus het hulle by
‘n groter wonderwerk betrek: om die siele van mense te vang. Dis ook sy plan met jou
vandag. Dit begin wanneer jy sê, ‘Maar as u so sê, sal [ek] weer probeer.’
Sielskos: Eseg 37:1-14; Matt 27:50-53; 1 Tess 4:13-18; Rom 8:11
2017/06/19
Filippense 2:5 NLV
Jy moet die regte gesindheid hê
Hoeveel werksgeleenthede word daagliks verloor, omdat mense die verkeerde
gesindheid het? Hoeveel mense word nie bevorder as gevolg van die manier waarop
hulle hul werk en die mense rondom hulle benader nie? Hoeveel huwelike val uiteen?
Dit is ontelbaar. Geeneen moet egter ooit ‘n werk verloor, ‘n bevordering misloop of
‘n huwelik vernietig as gevolg van ‘n verkeerde gesindheid nie. Hoekom nie? Omdat
jou gesindheid ‘n keuse is. Chuck Swindoll skryf: ‘’n Mens se gesindheid is vir my
belangriker as opvoeding, geld, omstandighede, mislukkings, suksesse en wat ander
mense dink, sê of doen. Dis belangriker as voorkoms, talente of vermoë. Dit kan ‘n
maatskappy, ‘n kerk of ‘n huis maak of breek. Die merkwaardige waarheid is dat ons
elke dag ‘n keuse oor ons gesindheid vir daardie dag het. Ons kan nie ons verlede
verander nie, ons kan nie die feit verander dat mense op ‘n sekere manier optree
nie. Ons kan nie die onvermydelike verander nie. Ons kan net ons gesindheid kies
of verander. Ek is oortuig daarvan dat die lewe uit 10 persent omstandighede en 90
persent hoe ek daarop reageer, bestaan. Ons is in beheer van ons gesindhede.’ Paulus
skryf, ‘Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees.’ Hy het mense altyd met
liefde, genade, aanvaarding en ‘n dienende hart benader. As jou gesindheid nie so
goed is soos wat dit kan wees nie, begin vandag nuut. Bid: ‘Vader, gee my ‘n Christelike
gesindheid teenoor almal wat ek ontmoet.
Sielskos: Eseg 46-48; Matt 19:1-14; Ps 139:13-24; Spr 15:31-33
2017/06/20
Eksodus 4:2 NLV
Ken jou roeping (1)
Toe God vir Moses geroep het, was een van die eerste vrae wat Hy hom gevra het: ‘...
Wat het jy daar in jou hand?..’ Moses het ‘n herderstok vasgehou – een wat hy elke dag
gebruik het om sy skape te lei en te beskerm. God het egter ‘n ander plan daarvoor
gehad – ‘n groter een! Hy het dit gebruik om die Rooi See te skei en om Israel na die
Beloofde Land te lei. Wanneer God vir jou vra, ‘Wat het jy daar n jou hand?’ wil Hy hê
dat jy oor jou talente, ervarings, verhoudings, opvoeding, hulpbronne, gedagtes en
persoonlikheid moet nadink. Dr Martin Seligman verwys daarna as die sterkpunte uniek
aan elke persoon. Hulle word in ses kategorieë verdeel: 1) Wysheid en kennis. Dit sluit
dinge soos nuuskierigheid, leergierigheid, goeie oordeelsvermoë en sosiale intelligensie
in. 2) Moed. Dit sluit volharding en integriteit in. 3) Medemenslikheid. Die kapasiteit vir
mededeelsaamheid en die vermoë om genade te bewys. 4) Geregtigheid. Die vermoë
om regverdig te wees en ander te lei. 5) Matigheid. Kwaliteite soos selfbeheersing,
verstandigheid en nederigheid. 6) Voortreflikheid. ‘n Waardering vir skoonheid,
dankbaarheid, die vermoë om te hoop en die kapasiteit vir vreugde. Ons almal het die
kapasiteit vir een van hierdie sterkpunte, maar die van hulle wat die meeste binne in
jou resoneer, is jou kenmerkende sterkpunte. Sodra jy dit identifiseer, sal jy begin om
jou roeping te verstaan. Wees egter versigtig, die Vyand wil jou oortuig dat God jou nie
as gevolg van jou swakhede kan gebruik nie, terwyl die teenoorgestelde waar is. Chuck
Colson was die Withuis se hoofprokureur tot die Watergate skandaal plaasgevind het.
Eers toe hy in die tronk opgesluit is, was hy toegerus om sy bediening, Prison Fellowship,
te begin. Ken dus jou roeping.
Sielskos: 2 Kor 1-4; Matt 19:15-30; Ps 144:1-8; Spr 16:1-3
2017/06/21
Johannes 14:12 NLV
Ken jou roeping (2)
Jou roeping sal altyd aan ‘n behoefte of geleentheid om goed te doen gekoppel wees.
Dit was deur die krete van sy volk in slawerny, wat Moses sy roeping ontdek het. So ook
William Wilberforce. Hy het sy lewe daaraan gewy om slawerny in Engeland uit te roei.
Nelson Mandela was ‘n prokureur met die potensiaal om goed geld te maak. Hy het
egter ‘n ander pad gekies – een wat jare se gevangenisskap tot gevolg gehad het. Toe hy
uiteindelik vrygelaat is, het hy nie weerwraak gesoek nie, maar geregtigheid en gelyke
regte vir sy mense wat sy land verander het. Esegiël skryf: ‘Ek het by die Judese ballinge
gekom... Ontsteld en verstom het ek sewe dae lank tussen hulle gesit. Toe die sewe
dae verby is, het die Here vir my ‘n boodskap gegee...’ (Esegiël 3:15-16 NLV). As jy jou
roeping wil ontdek, begin om vir situasies wat jou ontstel te bid. Ons probeer dikwels
ongemak vermy, maar as jy aanvoel dat jou roeping behels om met die armes te werk,
spandeer tyd tussen mense wat armoedig is. Laat jou hart toe om sag te word; dra binne
in jou die oortuiging dat dinge moet verander en hou aan om te bid, ‘Here, maak my ‘n
agent van verandering.’ Toe Jesus sy dissipels geroep het, het Hy mense uit verskillende
agtergronde gekies: ‘n dokter, ‘n regeringsamptenaar, ‘n groep vissermanne. Hy het
inderwaarheid vir hulle gesê, ‘Ek glo in jou. Ek sal jou dit wat Ek weet, leer,’ en hulle
belowe dat ‘...wie aanhou om in My te glo, sal ook die werke doen wat Ek doen...’ Jesus
bemagtig sy volgelinge om uit te gaan en soos Hy te lewe. Dit is wat Hy jou vandag roep
om te doen.
Sielskos: 2 Kor 5-8; Matt 20:1-16; Ps 144:9-15; Spr 16:4-7
2017/06/22
Jesaja 40:29 NLV
Skud jou boks
‘n Klein seuntjie was verlam en die dokters het gesê dat daar niks was wat hulle vir
hom kon doen nie. Sy ma het toe ‘n lemoenkissie gevat, hom daarin gesit, ‘n tou
daaraan vasgemaak wat sy om haar middel gebind het en hom saam met haar
gesleep. Na ‘n ruk het die seuntjie ‘n gewoonte ontwikkel waarvan sy ma nie gehou
het nie: Hy het begin om sy boks te skud. Soms het hy die boks so geskud dat hy
uitgeval het. Maak nie saak hoeveel keer sy ma hom teruggesit het nie, hy het dit
aanhoudend gedoen. Hy het later die kuns vervolmaak om die boks so te skud dat
hy binne sekondes uit sou wees. Tot almal se verwondering, het hy leer loop en ‘n vol
lewe gelei. Die seuntjie het iets gedoen wat die dokters en selfs sy ma nie geglo het
kon gebeur nie. Hy het geweier om ‘n lewe binne in die boks waarin ander mense
hom gesit het, te aanvaar. Het iemand jou vandag in ‘n boks gesit? Indien so, hou
aan om die boks te skud tot jy vry is! Ander mense is selfaangestelde kundiges wat
ons vertel wat ons kan en nie kan doen nie. Hulle waardeer nie altyd iets wat ‘buite
die boks’ is, iets wat ongewoon is nie. Een van die grootste beloftes in die Bybel is:
‘...Hy maak die magteloses sterk.’ Begin om Skrifgedeeltes te lees wat jou jou boks
gaan laat skud. Een van hulle is: ‘Wat my betref, ek is vol van die Geesteskrag van die
Here...’ (Miga 3:8 NLV). Nog een: ‘...Menslik gesproke is dit onmoontlik. Maar by God
is alles moontlik!’ (Matteus 19:26 NLV). Verklaar vandag: ‘Here, U het dit beloof, ek
glo dit en so is dit!’
Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Matt 20:17-28; Ps 8; Spr 16:8-11
2017/06/23
Numeri 14:8 NLV
Breek uit die boks uit!
Toe die volk die reuse in die Beloofde Land sien en na Egipte wou terugkeer, het Kaleb
gesê, ‘...die Here... sal... ons in die land laat kom en dit vir ons gee...’ Op daardie punt het
twee dinge gebeur: ‘Die gemeenskap het egter gedreig om hulle met klippe dood te
gooi. Die Israeliete het toe bewus geword van die Here se magtige teenwoordigheid
by die tabernakel’ (vers 10 NLV). Toe die mense rondom Kaleb nee gesê het, het God
ja gesê – en jy het net sý goedkeuring nodig! Wanneer jy dit het, kan jy die negatiewe
mense rondom jou ignoreer en vorentoe beweeg. Daar was ‘n tyd wat mense gedink
het die aarde is plat en dat ‘n man nooit op die maan sou loop nie. In 1899 het die
Amerikaanse departement wat patente toeken amper toegemaak, omdat die hoof van
die departement, Charles H Duell, gesê het, ‘Alles wat ontdek kan word, is reeds ontdek.’
In retrospek is hierdie stelling belaglik, maar sommige van ons het dieselfde sienswyse.
Ons hou op om te leer omdat ons dink dat ons te oud is. Ons is bang om van beroep te
verander omdat ons dalk ons pensioen in gedrang kan bring. Ons jaag nie ons drome
na nie omdat ons bang is dat ons sal simpel lyk of misluk. Ons raak gewoond aan die
beperkinge wat ons op onsself plaas en sê, ‘Ek kan dit nie doen nie.’ Ons het ‘n boks
gebou, daarin geklim en nou soek ons iets of iemand wat ons vir ons gebrek aan geloof
kan blameer. God het jou nie in die boks geplaas nie – jy het – en jy moet die eerste stap
neem om uit die boks te breek. Besluit vandag om dit te doen en God sal jou pogings
seën.
Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Matt 20:29-34; Ps 17; Spr 16:12-15
2017/06/24
1 Tessalonisense 5:18 NLV
Dit help nie om te kla nie
Die Bybel sê basies een ding oor kla – moet dit nie doen nie. Jy sê, ‘As jy my probleme
gehad het, sou jy ook gekla het.’ As jy so voel, lees die volgende: ‘Doen alles sonder kla
of teëpraat’ (Filippense 2:14 NLV). Hier is hoekom jy so moet lewe: 1) Om te kla maak
dinge gewoonlik net erger. Dis ‘n nare siklus – jy het ‘n probleem waaroor jy kla. Jy voel
sleg, dus hou jy aan met kla en eindig met stres, nie ‘n oplossing nie, op. 2) Om te kla
gaan jou nie kry waar jy nodig het om te gaan nie. In plaas daarvan om die situasie
aan God oor te gee, twyfel jy aan sy wysheid en voorsiening. Duisende Israeliete het in
die woestyn omgekom omdat hulle dit gedoen het. Paulus skryf: ‘En moenie mor soos
sommige van hulle nie, want dit is die rede waarom God die doodsengel gestuur het
om hulle dood te maak. Al hierdie dinge het met hulle gebeur as ‘n voorbeeld vir ons...’
(1 Korintiërs 10:10-11 NLV). Wanneer jy jou seëninge miskyk en op jou probleme fokus,
verloor jy jou vreugde. 3) Om te kla kan na siektes wat deur stres veroorsaak word, lei.
‘Innerlike kalmte bevorder die gesondheid...’ (Spreuke 14:30 NLV). Hoeveel mense wat
kla het werklik innerlike vrede? Begin eerder jou seëninge tel as om te kla. Die skrywer
Barbara Johnson gee vir ons hierdie tong-in-die-kies voorbeeld: ‘’n Handgeskrewe
plakkaat was aan ‘n telefoonpaal vasgemaak en het gelees: VERLORE. Drie-been hond,
blind in die linkeroog, regteroor wat af is en is onlangs reggemaak. Sy naam is Lucky.’’
Die woord vir jou vandag is: ‘Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat
God van julle as Christene verwag.’
Sielskos: Hoogl 1-4; Matt 21:1-17; Ps 21; Spr 16:16-19
2017/06/25
Daniël 12:3 NLV
Waarvoor sal jy onthou word?
Dr James Kennedy het geskryf: ‘Dink aan die groot piramide van Giza, een van die wêreld
se grootste strukture. Iemand het dit as ‘n gedenkteken aan homself gebou – koning
Khufu, wat nie ‘n naam is wat die meeste van ons ken nie! Die Sjah van Indië het die
Taj Mahal as ‘n huldeblyk aan sy vrou gebou, maar wie onthou haar naam, Arjumand?
Wat van die Groot Muur van China? Ruimtereisigers kan dit uit die ruimte sien en tog
onthou niemand vir Qin Shihaung, wat oorspronklik vir die grootste mensgemaakte
struktuur in die wêreld verantwoordelik was, nie. Terwyl hierdie mense vergete is, kan
jy ‘n permanente impak op die wêreld maak. Hoe? Deur ander mense na Christus te lei!’
Die Bybel sê, ‘Hulle wat ander mense leer, sal skitter soos die naghemel...’ Louis Pasteur,
die pionier van die immuniteitsleer, het in ‘n tyd geleef waar duisende mense elke jaar
aan hondsdolheid gesterf het. Hy het vir jare aan ‘n teenmiddel daarvoor gewerk en
net toe hy op die punt was om dit op homself te toets, is ‘n negejarige seun genaamd
Joseph Meister deur ‘n hondsdol hond gebyt. Die seun se ma het by hom gepleit om
die teenmiddel op haar seun te toets. Pasteur het hom vir tien dae daarmee ingespuit
en die seun het gelewe. Dekades later, uit al die huldeblyke wat Pasteur kon kies, het hy
gevra dat die volgende woorde op sy grafsteen gegraveer word: JOSEPH MEISTER HET
GELEWE! Jou grootste erflating kan diegene wees wat vir ewig lewe omdat jy Christus
met hulle gedeel het. Jesus het gesê, ‘...Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en
lewe’ (Johannes 6:63 NLV). Wat verander harte en lewens? Die woorde van Jesus!
Sielskos: Ester 4:9-5:3; Heb 4:7-16
2017/06/26
Lukas 5:16 NLV
Wanneer Jesus gebid het (1)
As jy oor gebed wil leer, kyk na die lewe van Jesus: 1) Hy het gebid wanneer die
druk verhoog het. ‘Tog, ten spyte van Jesus se bevele, het die berig oor sy mag selfs
vinniger versprei en groot skares het gekom om Hom te hoor preek en van hulle
siektes genees te word. Maar Jesus het Hom gereeld in ‘n verlate plek afgesonder
om te bid’ (verse 15-16 NLV). Dis wanneer jy dink dat jy nie tyd het om te bid nie,
wat jy gebed die nodigste het. Om tyd saam met God te spandeer, is die geheim
om in sy krag te deel. 2) Hy het gebid wanneer Hy belangrike besluite moes neem.
Toe Jesus sy naaste vriende moes kies, het Hy sy Vader se leiding gevra. ‘Eendag
kort hierna het Jesus na ‘n berg gegaan om te bid, en Hy het die hele nag in gebed
deurgebring. Teen dagbreek het Hy al sy dissipels saamgeroep en twaalf van hulle
gekies om apostels te wees...’ (Lukas 6:12-13 NLV). Ons kan ‘n jaar en ‘n klein fortuin
spandeer om ‘n troue te beplan en tog vra ons nie vir God se leiding wanneer ons ‘n
lewensmaat kies nie. God is nie net die skepper van die heelal nie, Hy is die direkteur
Later het Simon en sy makkers agter hom aangegaan en toe hulle Hom kry, sê hulle vir
Hom: ‘Almal vra na U.’ Jesus het egter geantwoord: ‘Ons moet ook nog verder gaan na
die omliggende dorpe sodat Ek ook daar kan preek. Dit is immers waarvoor Ek gekom
het.’ So het Hy dan deur die hele Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste
uitgedryf’ (Markus 1: 35-39 NLV). Tensy jy God se plan kry en daarby hou, sal ander
mense jou lewe vir jou probeer beplan. Gegewe die sukses wat Jesus in elke dorp wat
Hy besoek behaal het, sou baie predikers op ‘n dorp gebly het en ‘n kerk daar gevestig
het waar hulle die beloning van hulle bediening sou kon geniet. Nie Jesus nie; Hy het
op sy eie manier dinge gedoen. Wanneer jy op sommige van jou foute terugkyk, sal jy
sien dat besluite gemaak is in antwoord op druk en nie in antwoord op gebed nie. God
het ‘n plan en ‘n skedule vir jou lewe. Om daarby te hou, moet jy gereeld bid. Jesus het
besef dat Hy net genoeg tyd gehad het om dit te doen wat sy Vader wou hê hy moes
doen en dit het Hom die vermoë gegee om vir ander dinge nee te sê. Jy is geroep om
ander mense lief te hê – maar om God te behaag. Jou vertroue in gebed kom van die
wete dat jy binne God se wil optree (sien 1 Johannes 3:21-22).
Sielskos: 1 Sam 4-7; Matt 22:1-14; Ps 64; Spr 16:26-30
2017/06/29
Lukas 22:31-32 NLV
Wanneer Jesus gebid het (4)
Wanneer Jesus gebid het, was Hy bekommerd oor die mense wat Hy liefgehad het. Hy
het vir Petrus gesê: ‘...Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het
vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het,
moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun.’ Petrus het weer tot inkeer gekom. Die
dissipel wat sy Here in ‘n oomblik van swakheid verloën het, het uiteindelik voor skares
van duisende mense gestaan en die evangelie aan hulle verkondig; en drieduisend van
hulle is vir Christus gewen. Jesus het nie net sy dissipels geleer nie, Hy het hulle ook oor
gevaar gewaarsku. Hy het egter besef dat die grootste geskenk wat Hy vir hulle kon gee,
was om vir hulle te bid. Dit is ongelukkig ‘n waarheid wat ons gewoonlik later, eerder as
vroeër, besef. Ons belowe, ons red, ons dreig en wanneer al ons ander pogings misluk
het, bid ons. Gebed moet nie jou laaste uitweg wees nie, dit moet jou eerste reaksie
wees. Gebed neem die situasie uit jou hande en plaas dit in God s’n. Onthou jy die vier
mans wat hulle siek vriend gedra het en hom voor Jesus se voete neergelê het? (sien
Markus 2:3-5). Dit is wat jy doen wanneer jy vir iemand bid. Dit is nie maklik om die
gewig van iemand anders op te tel en hulle elke dag in gebed na God toe te dra nie. Dit
is egter die effektiefste guns wat jy vir hulle kan doen. Wanneer ‘n geliefde jou teleurstel
of seermaak, lig hulle in gebed op eerder as wat jy hulle terug kwets. Nooi God in die
situasie in en staan dan terug en laat Hom toe om te werk.
Sielskos: 1 Sam 8-10; Matt 22:15-22; Ps 95; Spr 16:31-33
2017/06/30
Lukas 22:41-42 NLV
Wanneer Jesus gebid het (5)
Jesus het gebid voor Hy voor die grootste krisis in sy lewe te staan gekom het. Die Bybel
sê: ‘Jesus het uit die stad gegaan na die Olyfberg, soos Hy gewoond was om te doen.
En die dissipels het Hom gevolg... Jesus het Hom toe van hulle afgesonder... Daar het
Hy gekniel en gebid: ‘Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans
nie my wil nie, maar u wil geld!’ Daar het ‘n engel uit die hemel aan Jesus verskyn en
Hom versterk’ (verse 39-43 NLV). Jesus het nie gewag tot die uur van sy grootste krisis
aanbreek, voor Hy gebid het nie. Vir drie-en-‘n-half jaar gedurende sy aardse bediening,
het Hy ‘n lewe van gebed gebou. Voor Hy Lasarus uit die dood opgewek het, lees ons,
‘...Jesus het sy oë hemelwaarts gerig en gesê: ‘Vader, Ek is dankbaar teenoor U dat U na
My geluister het. Ek weet dat U altyd na My luister...’ (Johannes 11:41-42 NLV). Jesus het
so ‘n intieme verhouding met sy Vader gehad dat Hy in tye van druk en pyn na God toe
kon gaan, met die vertroue dat Hy sy ondersteunende genade sou ontvang. Totdat jy
dieselfde kan doen, sal jy weerloos teenoor ander mense en situasies buite jou beheer
wees. Dink jy Jesus het so baie gebid omdat Hy wou, of omdat Hy gedink het dat Hy
veronderstel is om dit te doen? Hy wou! Mense wat baie bid weet: Hoe minder jy bid,
hoe minder wil jy bid en hoe meer jy bid, hoe meer wil jy bid. Die krag agter Christus se
wonderbaarlike sukses was die krag van gebed. Begin vandag en wy jouself daaraan
toe om elke dag te bid.
Sielskos: 1 Sam 11-13; Matt 22:23-33; Ps 98; Spr 17:1-3