redakteursbrief · ek was so n senuweewrak dat ek letterlik langs die pad oor my netjies gestrykde...
TRANSCRIPT
1
REDAKTEURSBRIEF Op die pad van hoop
Johan Geyser
Sien jy dit? Dis ‘n blou golf wat storm oor De Eike om die eerstespan op hulle skouers te tel.
Hoor jy dit? Die laaste noot van die skoolkoor weergalm teen die mure. Die gehoor lyk verslae, wat ‘n optrede!
Voel jy dit? Die koue rillings wat by jou opkruip as daar Oakdalers wêreldwyd vereer word vir hulle prestasies.
Jaarliks kies ek ‘n leuse vir myself. Iets waarby ek leef, wat ek wil hê ander mense in my moet sien, wat my
rigting gaan bepaal.
Op ‘n koue aand, 8 jaar terug, het my pa vir my ‘n storie vertel van toe hy op hoërskool was. Die storie self het
my laat skater van die lag, maar daar was iets anders wat my getref het, dis nie iets wat mens op papier kan sit
nie. Daar was ‘n onblusbare vuur in sy oë. Destyds kon ek nog nie begryp waarom hy met so baie passie oor sy
alma mater praat nie. Al wat ek geweet het, was dat daardie selfde vuur in my oë moet brand, en so het ek in
gr. 2 al gedroom om eendag skool te gaan waar my pa was. Die jare daarna het alles gegaan oor Oakdale.
Die dag het uiteindelik gekom in Mei 2015. Die dag van my groot onderhoud met mnr. Latsky het aangebreek.
Ek was so ‘n senuweewrak dat ek letterlik langs die pad oor my netjies gestrykde grysbroek naar geword het.
‘n Bloedrooi gesig en ‘n vuil broek het Mnr. Latsky gegroet. (Die kol wou nie weg nie!). Gelukkig is ek met ‘n
warm handdruk aanvaar om die daaropvolgende jaar by Hoër Landbouskool Oakdale skool te gaan, my pa se
skool, waar ek ‘n man wil word.
Liewe lesers, ek is maar net ‘n 10c in ‘n wensfontein. Vir 90 jaar word hierdie stories vertel - van pa na seun.
Die skildery by die eetsaal se woorde is treffend: ‘En hurkend in die herfs voor stomgetuies, word gesien hoe
seuntjies mans word’.
Vir 90 jaar word seuntjies afgelaai en as mans teruggestuur. Om ‘n Bul te wees het ‘n hoë prys. Respek vir
jouself en ander, integriteit, harde werk en vasbyt, soos wat die gesegde lui: As jy nie ‘n Bul kan wees waar jy
jouself bevind nie, kan jy nêrens een wees nie. Maar, die kameraderie en broederskap maak die saai die oes
werd.
Ons het almal saam as Oakdalers beleef hoe die skielike afsterwe van ‘n broer die gemeenskap en baie gesinne
geruk het, dit is ongetwyfeld dat ons nie hierdie tyd sou kon deurmaak sonder al ons mentors en die leiding
van die Hemelse Vader nie.
So, kom ons vul ons minute, ure en dae met kwaliteit, bring eer aan ons Hemelse Vader deur ons dade en
doen alles tot die beste van ons vermoë - soos net ‘n Oakdaler kan.
Oakdale is nie net ‘n skool nie, dis ‘n leefstyl. Die band tussen Bulle is nie net vriendskap nie, dis broederskap.
Saam kan ons berge verskuif, daarom is my leuse: Vorentoe! Op die pad van hoop!
2
Mnr. André Latsky
Pine, Petrusa en Pieter - vriende Ek wens ons kan aan almal in hierdie gemeenskap so ʼn klein stukkie van julle seer uitdeel. Ons kan dink hoe julle voel, maar ons sal nooit weet nie. En as ons al die trane wat sedert sy dood oor Stefan gestort het, kan opvang, kan ons “dag zero” in die Kaap met ʼn dag of twee uitstel. Tydens die Mr. Surf-geleentheid , skree elke graad 8-leerder sy meester se naam uit en ook die dorp van waar hy kom. En toe Pieter op die pawiljoen gaan staan, toe skree hy sy meester se naam en die plek vanwaar hy kom – Oakdale en hy wys in die rigting van hulle huis. Toe hulle oor die voorblad van die begrafnisbrief moes besluit, het Pine en Petrusa gesit en gesels oor watter foto hul kan gebruik en het Pieter onmiddellik gesê “die akkerlaning”. Oakdale was nie net Stefan se skool nie, nee dit was sy lewe, sy huis. Dis hier waar hy en Pieter op hulle fietse rondgery het, speel-speel elkeen op sy eie stukkie grond geboer het, Saterdag vir Saterdag agter in die doelgebied tydens die eerstespanwedstryde hul eie wedstryde gespeel het. Pine vertel die storie toe die twee klein was en besig was met hul eie wedstryd agter die pale toe die opponente ʼn bal diep skop wat in die doelgebied gaan lê. Toe hy sien die twee Marais’tjies los hulle bal en hulle hardloop vir die wedstrydbal terwyl die aanvallende span op pad is om hulle drie te druk, het hy sy kenmerkende fluit gegee wat net sy kinders ken en die twee het net betyds omgedraai voordat hulle die bal doodgedruk het. Stefan het nie gaan vrugte steel nie, hy het gaan vrugte pluk met ʼn mandjie. In helderdaglig het hy kalm en rustig by die boorde ingestap en die lekkerste soet naartjies gepluk. Dis die ekwivalent van net in jou ‘agterplaas’ inloop en ‘n naartjie te gaan pluk. Dis nie steel nie, want dis sy tuiste.
Hierdie akkerboom waarvan Stefan deel was, het een akker reeds `n geruime tyd afgegooi wat verkleur het, reeds ontkiem en gegroei het in ʼn sterk gevestigde jong akkerboompie. Dit was ʼn maklike ontkiemingsproses, want Stefan het orals en enige plek aangepas. As ek so na Stefan se liggaamsbou gekyk het, sou hy seker nie een van die grootste akkerbome geraak het nie, maar verseker een van die sterkstes, want hy was klein in postuur, maar ʼn reus in karakter en integriteit. Ek onthou Stefan as hierdie ongelooflike netjiese jongman. Jy kon hom deur ʼn ring trek. Liggaamspostuur regop, selfversekerd, maar altyd nederig. Hy was doelgerig met hoë lewensideale, vandaar ook sy sukses as sportman. Hy het vir sy ouers gesê: “Ek wil nie ʼn veearts word nie, ek gaan ʼn veearts word”. Stefan was ‘n wenner. Altyd gedetermineerd om sy vaardighede te slyp sodat hy in die o.16A-rugby, eerste krieket en eerste tennisspanne gespeel het. ʼn Klein fighter wat nie lui en bang was om te hard te werk en te oefen nie. As ek aan Stefan op die sportveld dink, dan sien ek hierdie “polished” sportman met “flair”. Hy was ʼn natuurlike vasbyter. Sy lewe getuig van balans, want Stefan was ook die toppresteerder in sy graad en verwerf erekleure aan die einde van 2017 – wat hy nog nooit gedra het nie. Stefan was ʼn leier, lid van die VCSV, maar ook ʼn deurleefde Christen. Pine en Petrusa, julle het die resep vervolmaak vir die grootmaak van ʼn pragtige seun. Baie geluk. Min pa’s wat kan erken dat sy seun vir hom ʼn voorbeeld was, maar nie net vir Pine nie, maar vir hoeveel Oakdalers in sy omgang.
Tot ons mekaar weer sien, Stefan
3
Ek glo dat daar in die Marais se huis ʼn deurkosyn is waar die groeimerke van die twee seuns dikwels gemaak is en ek kan dink hoe dikwels daar met die rug teen die kosyn gestaan is. Almal van ons ken ʼn kiddies pool (opblaasswembad) waarin klein kindertjies swem. Nou enige grootmens kan ook daarin swem, maar dis ʼn selfsugtige swembad – want dit gaan net oor jouself. Ek en jy kan ook as Christen in die kiddies pool swem, maar net jou voete sal nat word. Kinders van God moet ʼn tree gee na ʼn groter swembad. Een waar ons saam met ander kan swem, en waar die water soms oor ons kop gaan, waar ander wat saam met jou swem jou uit die water kan lig. Dit gaan hier om saam met medegelowiges te swem. Eers dan besef mens dat die groot swembad oor ander gaan. Dit was reeds Stefan se lewe wat hiervan getuig. Hy was ʼn mens tussen ander, ʼn mens in ander en ʼn mens saam met ander. Hy was klein van postuur, maar Stefan het nie in die kiddies pool geswem nie. Hy het in die oseaan geswem waar hy ongelooflike gevalle van ouersliefde, talente, prestasies, sterk gesinsbande, goeie waarde en nog vele meer beleef het, maar hier het Stefan ook besef dat sy sukses God se sukses was en het hy verseker vele van ons en sy maats uit die water gelig deur sy voorbeeld en liefde vir God. Die laaste merkie van Stefan se groeitoets is op die deurkosyn gemaak, maar van Vrydag maak dit nie meer saak nie, God het ook Vrydag die regmerk op die hekke na die poort van die hemel gemaak. Hier maak Stefan se liggaamsgrootte nie saak nie, maar die grootte van warmte van hart. Stefan Marais sal ʼn legende bly op Oakdale vanweë sy mooi voorbeeld en lewe vir Jesus. Stefan se nalatenskap sal vir jare en jare bly voortleef op Oakdale. Stefan het nooit die geleentheid gekry om sy erebaadjie te dra nie, maar het sy swart erebaadjie Vrydag verruil vir ʼn wit erebaadjie met die balkie “koningskind” in goud geborduur.
Stefan,
My Grootram uit die Dwykavallei.
My ster op die sportveld, die perfeksionis in jou
skoolwerk.
‘n Leier met nederigheid en ‘n droomseun in die
huis.
Jy was en is nog steeds vir my ‘n voorbeeld om na
te streef.
Nou vul jy ons plekkie by Jesus, aan die onderste
punt van die suiderkruis.
Ek sal jou elke aand besoek!
Liefde
Pappa
My liefste Stefan,
Jy is so begaafd… perfeksionis in eie reg.
Jy het so baie ideale vir jouself gehad, en ek weet
as jy so besluit het sou jy dit gedoen het… soos jy
gesê het: “Ek wil nie ‘n veearts word nie, ek GAAN
een word!”
Jy was ‘n stil sterk leier – waarop mamma
ongelooflik trots is.
Jy was ‘n ware Oakdaler wat voluit gelewe het in
alle opsigte... en verseker ‘n voorbeeld vir almal.
Net ‘n kyk was genoeg om jou hartsgeheime met
my te deel… en dit was genoeg…
Ons sal jou laat voortleef.
Mamma sal vir altyd lief bly vir jou.
Stefan, die beste broer waarvoor enige kind kan vra. Wanneer jy op die sportveld is, ‘n toets skryf, of met jou “blazer” onderdeur die akkerbome kom het jy altyd jou Christenskap, talent en leierskap voluit met trots en altyd nederig gedoen. Ek gaan jou baie mis. Ek bid elke aand vir jou. Ek sê vir God Hy kan nie ‘n beter engel hê as jy nie. Lewe nou jou “legend” voort, voluit soos ek jou ken… en met baie trots en nederigheid. Liefde jou kleinboetie Piet
4
LANDBOU
Katz se snor
Mickél Stemmet
Droogte, die enigste ding wat meer genoem kan
word in gesprekke as politiek.
As ‘n Oakdaler en boerseun kan ek getuig dat die
Buiteplaas en die Riversdal-vlakte die afgelope
paar jaar groot klimaatsverandering ondergaan
het en soos talle ander boere, gesinne en skole
voel ek ook die angs sowel as die vreugde wat
tydens droogte of reëntye ervaar word.
Tydens 2017 het Oakdale se Buiteplaas ‘n
moeilike tyd ondergaan weens droogte. Oom
Tony Katz moes behoorlik swoeg en sweet om
dinge op die plaas aan die gang te hou. Tydens
hierdie tydperk het Oakdalers oom Tony skaars
gesien, maar wanneer hulle hom gesien het was
sy kleurvolle , rooi en wit , Oakdale sokkies tot by
die knieë opgetrek en sy vellies asvaal.
Ons was baie dankbaar vir ondersteuning van
boere en voermaatskappye sowel as ‘n
onselfsugtige voerskenking van oom Burre
Burger.
In 2018 word die Oos-Ruêns deur God se genade
geseën met goeie reën wat Riversdal se
Korintepoort dam se watervlakke met tot meer as
10% laat styg het. Die Buiteplaas se lande is
hervorm weens die reën en ‘n verligte oom Tony
kan ‘n slag weer lekker uitstappies skool toe maak
en vra wie die middag of naweek op die plaas wil
gaan werk en swem.
Ons is geneig om altyd te vrees vir droogtes en
vloede, maar ons maak nooit voorsiening vir dit
wat gedoen moet word voor en tydens sulke
situasies of tydperke nie.
Oom Tony aan die einde van ‘n suksesvolle dag op
die Buiteplaas.
Hier is ‘n paar Bul-wenke wat jou sal help om
beter voorbereid te wees vir en tydens droogtes :
1) Wanneer jy bad, stort of tande borsel:
As jy bad , moet jy seker maak dat jy net
genoeg water tap om jou te was , nie om
tot by nekdiepte te “ relax “ nie.
As jy stort , moet jy jouself net natmaak ,
die kraan toedraai , jouself was en dan
kan jy weer vining jouself afspoel.
As jy tande borsel, moet jy nie die kraan
die heeltyd oop los nie. Draai dit oop
wanneer jy jou mond wil uitspoel.
2) Wanneer jy skottelgoed of klere was:
Maak seker dat wanneer jy ‘n wasmasjien
of skottelgoedwasser gebruik dat jy nie dit
stel om te veel water te gebruik tydens
die afspoel-periode nie.
5
As jy skottelgoed was moet jy sekermaak
dat jy nie die heeltyd die kraan laat loop
om goed mee af te spoel nie.
3) Ander gevalle :
As jy ‘n koffie-drinker is, soos ons Oakdale
onnies, moet jy seker maak jy is nie
verslaaf daaraan nie, want meer koffie is
gelyk aan meer waterverbruik.
As jy weet jy het ‘n sensitiewe maag, moet
asseblief nie snaakse kosse eet wat jou
maag omkrap nie. Dit gaan daartoe lei dat
jy meer toilet toe gaan wat jou dan ook
gaan forseer om die toilet te spoel (want:
omgekrapte mage = omgekrapte toilette).
Ons prentjiemooi Buiteplaas.
Tydens groot reën is ons ook geneig om geld te
spandeer om lekkende dakke reg te maak of om
water van die stoep af te vee. Ons lag ook dikwels
vir mense wat nie kan werk toe gaan nie of
kinders wat “ongelukkig” nie skool kan bywoon
weens vloede nie. In Oakdalers se geval
bewonder ons Donkerbos wat oorstroom en die
enorme waterplasse op die skoolterrein.
Ons dink egter nooit daaraan om die oortollige
water te benut nie. Ons as Bulle het hiervoor ook
‘n paar oplossings:
Bou damme vir ingeval daar eendag dalk
‘n vloed of groot reën eendag sal kom.
Koop of bou tenke, sodat jy water maklik
deur ondergrondse pype of dakdreine kan
lei tot in die tenke.
Stoor groot houers vol water vir ingeval.
Drink meer Oros, sap of gaskoeldrank,
sodat jy die bottels kan gebruik as
waterhouers.
Oakdale maak staat op leerders, oudleerlinge,
personeel, oom Tony, oom Hennie en vele ander
buitestaanders om die landbou stewig,
gestabiliseerd en vooruitstrewend te maak sodat
salarisse betaal kan word en Oakdalers gevoed
kan word. Dit is daarom ook ons almal se
verantwoordelikheid om Landbou in ons streek,
sowel as land bietjie vir bietjie te bou en in sekere
gevalle te herbou.
6
Onderhoud met oudskolier: Marco Botha
Oud-hoofseun, Harvard student, sportjoernalis en skrywer. Wat kan Marco Botha nie doen nie?
Hierdie merkwaardige jongman het tyd afgeknyp om met ons te gesels.
1. Vertel ons ’n storie van Marco op skool (Verkieslik een wat die administrasie met ’n effense frons
sal laat).
Dié storie sal die onderwysers vandag nie meer laat frons nie, maar ek onthou dit kristalhelder as die
stewigste uittrap (én lewensles) wat ek op Oakdale gekry het. In my standerd 9-jaar het ek vir mnr.
Liebenberg regtervleuel gespeel toe Windhoek Gimnasium met ’n toerspan op die plaas aangeland kom.
Ons het op ’n weeksdag op De Eike gespeel toe ek die dag ’n driekuns aan drieë gedruk het. Met die derde
een het ek die bal op die oorkantste tientreëlyn gekry en in die rigting van die boorde doellyn toe gesuiker.
’n Namibiër het my probeer vang, maar hier van die kwartlyn af het ek vir hom begin waai en heel
windmakerig die bal agter die pale geplant. Die volgende oomblik kry iemand my hier van agter af aan die
neksening beet – ’n bloedrooi mnr. Frans Marais. “My kind,” begin hy, “WAT OP AARDE DOEN JY? Windgat,
mannetjie! Hier op Oakdale wees ons nie so nie. Jy druk die blerrie drie as die geleentheid oor jou pad
kom, steek jou trui in, trek op jou sokkies en gaan wag vir die afskop. Sies, man! Nie op hierdie plaas nie.
Maar dis ’n mooi drie…” Ek het daarna op universiteit weer so ’n skoudrie gedruk, en daardie aand is ek in
die koshuis geroskam. Dit het my dadelik weer aan Mnr. Marais laat dink – die dag toe hy die gaping gesien
het om my ’n lewensles oor nederigheid te leer. Daai’s Oakdale.
2. Jou eerste boek, Die Baanbrekers, is reeds ’n paar jaar op die rakke en baie gefokus op feite. Is dit
wat ons in die toekoms ook uit jou pen kan verwag of is daar 'n roman of 'n digbundel ook in die
pyplyn?
As joernalis was dit my werk om feite in te samel en om dit dan sinvol te verpak. Die sprong van nuusmedia
na die skryf van nie-fiksie was redelik maklik. Ek het sopas weer ’n manuskrip afgehandel wat ek saam met
die internasionale krieketafrigter Paddy Upton geskryf het. Maar ek wil baie graag in die nabye toekoms ’n
roman – ’n storieboek – skryf. Ek is ’n storieverteller eerder as ’n verslagdoener. Op Oakdale is ons geleer
stories vertel. Mevrou Yda Coetsee het toegesien dat elke Oakdaler met ’n ryke woordeskat bemagtig
word voordat ons in standerd 8 by mnr. Hennie Joubert aangekom en daar die vryheid gegun is om daardie
woorde kreatief in stories te omskep. Daar was nie ’n enkele ou in my jaargroep wat nie ’n netjiese storie
aanmekaar kon timmer nie, selfs al was dit beklangs en nie geskrewe nie.
3. Belangrikste aspekte van 'n jong man se vorming?
Die behoefte en vryheid om uit te vind wie jy regtig is, en om dan ’n lewe vir jouself staan te maak uit die
talente waarmee jy die grootste kans het om ’n verskil in jou gemeenskap en die wêreld te maak.
4. Wat is ware sukses?
As jy iets doen wat aan jou lewe betekenis gee; in Engels meaning. Nie noodwendig iets wat jou gelukkig
maak nie, maar iets waarmee jy bereid is om te volhard self wanneer dit nie lekker is om dit te doen nie.
7
Brendan Venter het by Saracens ’n kultuur geskep waar hy die rugbyspelers aangemoedig het om hul
sukses en menswees te meet aan die teenwoordigheid van minstens drie dinge in hul lewe: Iets om te
doen; iemand om lief te hê; en iets om voor te hoop.
5. Voltooi: 'n Man is nie 'n man as hy nog nie...
… snags vrugte in die boord gesteel het sonder dat oom Pensie jou gevang het nie.
6. In jou beroep is dit onafwendbaar, ’n mens beweeg immers rond saam met die 'grotes', dat daar 'n
gevierde persoon was wat jou sprakeloos gelaat het. Vertel ons van so 'n geval of beroemde.
Een mens wat ’n onuitwisbare indruk op my gelaat het, is ’n gewese SA Boer van die Jaar, Piet Karsten. Ek
het op 24 November 2015 met hom ’n onderhoud gevoer. Dit was net 52 minute lank, maar dit was een
van daardie ure waaraan jy agterna vir dae aaneen terugdink. Werklik ’n inspirerende mens met ’n
positiewe lewensuitkyk en grond onder sy naels wat as bewys dien vir die verskil wat hy en sy mense aan
die lewe van derduisende ander mense maak. En dit vir ’n man wat op 6 ha grond begin boer en uit ’n paar
“groente-goedjies” een van die wêreld se voorste boerdery op die been gebring het.
7. Jou wenslysie het seker al redelik baie regmerkies, maar watter drome streef nog na
verwesenliking?
Ek het in 2017 begin met ’n meestergraad deur Harvard-universiteit. Dit nadat ek vroeër twee keer deur
Stanford en een keer deur Harvard keuring geweier is. Wanneer ek die dag graad vang, sal ek aan my vrou
kan bewys dat my hardkoppigheid ook voordele inhou.
8. Die grootste les wat die lewe jou tot dusver geleer het?
Die lewe is ’n spanpoging – ouens wat op hul eie én oor ander mense loop, sal nooit die volle omvang van
menslike goedheid en liefde kan ervaar nie.
9. Grootste invloede?
Buiten direkte familie, het veral die volgende mense my lewe op besonders en eiesoortige maniere help
vorm: Mnr Latsky, De Wet Strauss (my inwonende hoof in Dagbreek op Stellenbosch), Stan du Plessis
(Bedryfshoof van Stellenbosch Universiteit), Theo Vorster (van Sakegesprek-faam), Bun Booyens (gewese
redakteur van Die Burger vir wie ek deur vuur sal loop), en Ton Vosloo (gewese uitvoerende hoof van
Naspers).
10. Wat was die klein Marco Botha se grootste droom gewees?
Ek wou ’n Springbok-rugbyspeler word. Toe sien ek vir Pedrie Wannenburg uitblink op die Cravenweek van
1999 in George. Toe sê ek vir my pa ek wil na daardie ou se skool toe gaan. Toe word ek in 2000 ’n Turk. En
daar maak Oakdale toe vir my soveel meer deure oop as wat my 13-jarige self ooit vir homself sou kon
droom.
8
FOTO BO: Marco in ligte luim saam met Toks van der Linde
FOTO BO: Die omslag van Marco se eerste boek, Die Baanbrekers.
9
PRAAT SAAM
Met Tiaan Viljoen
Ons nuwe Bulletjies is verwelkom en het die plaas gou-gou gewoond geraak. Beskik hulle
oor buitengewone vermoëns en verskuilde talente? Dalk ‘n taalkenner of digter onder
hulle? Wat dan nou beter as ‘n paar vragies om ons graad aggies beter te leer ken. SO
PRAAT DIE TURKE!
HOEKOM HET JY OAKDALE BO ANDER SKOLE GEKIES?
Armand Combrinck: My pa was in Oakdale en hy het my al baie goeie stories van die skool
vertel. Ek het nog niks negatief van Oakdale gehoor nie en toe word dit my eerste keuse.
Christo van Tonder: Ek het besluit om Oakdale toe te kom vir die eenvoudige rede dat geen ander
skool goeie dissipline en hoë standaarde handhaaf soos Hoër Landbouskool Oakdale nie. Ramòn Uys: Volgens wetgewing moet ek in die hoërskool wees. Nee, ek grap sommer. Oakdale se
waardes en kwaliteit onderrig kan met geen ander skool vergelyk word nie.
Lennie Vermaak: Oakdale se sport en onderwys is van die beste wat jy kan kry.
WIE IS JOU GUNSTELING ONDERWYSER(ES) EN HOEKOM?
Eben von Below: Mnr. Evert. Hy bied goeie klasse aan en help my altyd wanneer ek ingewikkelde werk
nie verstaan nie. Hy is vriendelik en ons deel boonop dieselfde stokperdjie ook, hengel.
Divan Snyman: Mnr. Bennie Aucamp. Hy bied my gunstelingvak en
aktiwiteite aan: Landbou, jeugskou en toutrek! Sy lesse maak hy
interessant en maak altyd seker dat sy leerlinge die werk verstaan.
Marnus Rall: Definitief mnr. Hattingh. Hy is ‘n baie lekker onderwyser. Hy sal altyd daar
wees vir ‘n vraag of dit nou oor skoolwerk is of as jy net sommer wil praat. Sy lewenslesse
help my om ‘n beter mens te wees en met sy grappe hier en daar raak Engels nooit vervelig
nie.
Lennie Vermaak: Juffrou Tess. Sy gee goeie Afrikaanse lesse en is snaaks. Sy raas min en inspireer ons
om ons beste te doen.
10
‘n TAALTAMELETJIE VIR ONS TAALKUNDIGES. KON DIE TURKE DIT BAASRAAK?
Wat beteken die woord: dweil?
Geswaai Rond dwaal
Iemand wat nie baie “oop” is nie en almal in die moeilikheid laat beland, baie slordig is en
spoeg as hy praat.
Kwyl Moord
Jammer Bulle, die regte betekenis van dweil is: mop.
11
Vervolgverhaal
BELOWE JOU, BELOWE MY
Eugene Marais
Die dae is besig om langer te raak. Graad 10 is ‘n stresvolle jaar, daaroor is daar nie twyfel nie, maar steeds
voel dit vir my dat hoe ek dit beleef, abnormaal is. Ek meen, niemand anders lyk of hulle al verander het nie,
en ons is alreeds verby die halfpunt van die tweede kwartaal. Selfs my vriende het my al meer begin vra of
daar iets fout is, en dit het my laat dink dat daar wel is.
Daardie gevoel van leegte en angs het weer stadig om my gevou. Dis nie dat dit nog nooit gebeur het nie,
maar die feit dat dit deesdae al hoe meer gebeur het, het my angstig gemaak. Dalk is dit omdat jy so lanklaas
by die huis was? het ek by myself gedink, maar vinnig het ek die idee uit my kop gevee. Jy’s al vir 10 jaar in
die koshuis, kom oor dit. Stadig het ek opgestaan en uit die kamer beweeg, maar die gevoel het my soos my
skaduwee gevolg. Dalk is jy ‘homesick’? Ek draai toe regs, in die rigting van die telefoonhokkie. Ek stap in, lê
met my rug teen die muur en tel die foon op. My vingers het eers oor die knoppies gedryf, maar na ‘n oomblik
se twyfel, tik ek die nommer in. Die telefoon lui vir amper ‘n minuut, en net toe ek wou neersit, tel iemand
op.
“Anna Kritzinger, goeie middag.”
“Haai Ma, dis Liam.”
Ek raak stil terwyl ek dink aan wat om te sê.
“Hoe gaan dit daarso?”
Daar heers ‘n oomblik se stilte, kort genoeg dat jy nie dink die verbinding is verbreek nie, maar lank genoeg
om agter te kom iets is nie honderd nie.
“Dit gaan heel oraait dankie. Baie besig, jy weet mos.”
Weer kom daardie oomblik se stilte. Iets is definitief fout.
“Is daar ‘n rede dat jy gebel het?” vra sy. Haar stem klink gespanne, droog.
“Wou eintlik maar net weer bietjie praat, jy weet. Hoor hoe die dinge daar loop.”
Ek wou vra, maar besluit daarteen. As sy iets met my wou deel, sou sy. Sy en Pa het tien teen een weer een
van hulle woordewisselings gehad.
“Maar ek moet nou gaan, stuur groete vir Pa.”
Sy maak ‘n vreemde geluid, iets tussen ‘n snik en ‘n kreun, en sê dan “Ek... ek maak so.” Ek sit die foon neer
en staan nog ‘n rukkie in die telefoonhokkie, en gaan dan maar terug na my kamer toe.
12
Die gevoel van angstigheid het na die oproep net erger geraak. Ma raak met tye hartseer, dit weet ek, maar
sy’t nog nooit oor die foon begin huil nie. Ek wou haar weer bel, vir haar vra wat fout was, maar dit het
gevoel of ek dit net erger sou maak. My konsentrasie het in die klasse gewyk, maar dit het nie gelyk of die
onderwysers agtergekom het nie.
“Lyk of iemand jou gisteraand lelik bygekom het,” kom die fluisterstem van agter my.
“Jy moet die ander ou sien,” sê ek oor my skouer.
“Ek’s seker daarvan,” sê hy laggend. “Wat het jy gedoen, hom met jou woordeskat gebombardeer?” kom die
sarkastiese vraag.
“Meneer Robertson!” bulder juffrou De Bruin se stem oor die klas.
“Noem my net Kwagga, Juffrou,” sê Kwagga blitsvinnig.
Sy kyk hom aan, haal diep asem en praat weer, rustiger die keer: “Kwagga,” sê sy terwyl sy sonder twyfel al
die geduld waaroor sy beskik bymekaar skraap. “Kan jy die geselsies hou tot pouse, of is dit te veel gevra?”
vra sy spottend.
“Wel, Juffrou, ek sal nou verkies, maar as Juffrou baie mooi vra...” Die klas giggel en brom vir ‘n rukkie, maar
raak vinnig weer stil. Verstom kyk die juffrou na hom, maar dan glimlag sy.
“Ek kan ook nie kwaad bly vir jou nie,” sê sy soos sy haar kop skud.
Kwagga lê terug in sy bank en sprei sy arms wyd voor hom uit.
“Dis maar net nog een van die voordele van ek wees, Juffrou,” antwoord hy en die klas raak weer aan die
giggel.
“En daai is hoe jy maak as ‘n onderwyser jou uittrap,” sê Kwagga met ‘n breë glimlag toe ons opstap koshuis
toe.
“Lyk maar na gatkruip vir my,” tart ek hom, maar die effense huppel in sy stap gaan nie weg nie.
“Ag, nonsens man. Ek’s net vriendelik,” sê hy en kyk dan effens kant toe. “En myself, nie soos ander mense
nie.”
“Net omdat ek nie met die onderwyser praat asof hulle my kamermaat is nie beteken nie ek’s nie myself
nie,” sê ek so onsarkasties soos wat ek kan.
“Hy chill, dude,” sê hy en gooi sy hande onskuldig in die lug. “Ek sê net, jy hoef nie heel periode bang te wees
om iets te sê nie.”
“Jy weet hoe ek is...” sê ek en sukkel om die irritasie uit my stem te hou.
Gelukkig verander hy die onderwerp. “Maar wie het jou so laat lyk. Gee my net ‘n naam,” sê hy en lig sy
vuiste voor sy gesig. “Ek sal hom gou-gou uitsort.” Hy hop rond op sy tone soos ‘n bokser in die kryt.
“Ag, jy’s verspot. Maar niemand het my bygekom nie” antwoord ek hom.
“Ooo,” sê hy en kantel sy kop effens na die een kant toe, “so dis maar net jou gesig?”
13
“En dit is presies hoekom jy die swakste beste vriend ooit is,” sê ek laggend.
“Doen net my werk, ou,” sê hy asof dit die algemeenste feit in die wêreld is. “Iemand moet jou elke nou en
dan afbring aarde toe.”
Ek staan weer in die telefoonhokkie, en weer dryf my vingers oor die knoppies. Ek het nou al elke Vrydag vir
die afgelope vier weke huis toe gebel en dieselfde vraag gevra, en elke keer dieselfde antwoord gekry. Help
dit regtig om weer te probeer? Ek begin ook die idee kry dat Pa nie meer met my wil praat nie. Elke keer is
hy besig, of weg op ‘n ‘business trip’. Die laaste keer wat ek en hy ‘n woord gepraat het, was nog in Januarie.
Ek sou huis toe gaan in die eerste kwartaal vakansie, maar Ma het na die rugbytoer gesê dat dit beter sou
wees as ek by die koshuis bly. Ek haal diep asem, en tik die nommer in. “Anna Kritzinger, hallo,” kom Ma se
stem oor die lyn.
“Haai, Ma, dis ek... alweer,” sê ek so half afdwalend. Sy sug voor sy weer begin praat.
“As dit is oor die rugby...”
“Dit is,” val ek haar in die rede, “maar voor jy nee sê, hoor net eers.”
“Liam...” sê sy verslae.
“Dis die laaste wedstryd van die kwartaal,” gaan ek voort. “En julle het nog nie een van my wedstryde gekyk
van laasjaar se interskole nie. Ek het selfs meneer Van Zyl oorreed dat ek nie volgende week skool toe hoef
te gaan nie, so ek kan dan sommer saam met julle terugry vir die vakansie.” Ek wag vir ‘n antwoord. Ek wil
regtig net hulle sien, en ek speel altyd beter as hulle kom kyk.
“Ek’s jammer Liam, maar ons kan net nie deurkom nie.”
“Maar hoekom nie?” vra ek kermend. “Ek het julle basies ses maande laas gesien.”
“Ons kan net nie. Dis moeilik om te verduidelik.” Sy klink weer moeg. Ek besluit maar om op te gee. Dis in
elk geval puntloos.
“Oukei, dis seker reg,” sê ek en probeer met my stemtoon ‘n punt daarvan maak dat dit nie is nie.
“Liam... daar’s nog iets,” sê sy net voor ek wou neersit. “Jou pa is die hele vakansie weg vir werk.” Haar stem
kraak met elke woord. “En ek moet … ek moet weer Kaap toe, so jy moet na ‘n vriend gaan die vakansie.” Ek
staan verstom, en laat val amper die foon uit my hand.
“Is Ma ernstig?” vra ek met ‘n droë stem.
“Ek’s baie jammer...” begin sy, en dit klink of sy weer gaan begin huil. Maar nou het al my simpatie vir haar
verdwyn, en woede stoot by my keel op.
“Watter tipe ma los haar kind vir ses maande in die koshuis, en al twee kere wat sy kans kry om hom te sien,
stuur sy hom iewers anders heen?” Ek voel hoe die bloed oopstoot na my wange, nie uit skaamte nie, maar
woede.
“Liam, asseblief...”
14
“Nee, moenie nou maak of Ma die slagoffer is nie,” sê ek verwytend. “Het ek iets verkeerd gedoen? Of hou
Ma-hulle net nie meer genoeg van my om al daardie moeite te doen en my te kom haal nie?”
“Jy weet ek is lief vir jou...”
“Wel, dit lyk defintief nie so nie.” Ek praat aan, sonder om eers te dink, net op instink. “Wat van ek bly
sommer tot in matriek permanent in die koshuis? Of nog beter, wat van ek kry net ‘n ander huis?” Sy begin
snik, en sê nog iets, maar ek kan nie die gemompel uitmaak nie. Ek druk dit nog verder. “Maar dis ‘fine’, Ma,
ek maak so, laat ek jou darem net nie oorlaai met onnodige verantwoordelikhede nie.” Ek gooi die foon neer
en storm by die telefoonhokkie uit.
Die woede het my heeltemal oorval, en dit wou nie weg gaan nie. Maar dit was ‘n dryfveer vir my. Dit het
my laat vergeet van hoe baie ek eintlik wou huis toe gaan, hoe baie ek eintlik my ouers wou sien. Maar dis
reg, het ek by myself gedink. As sy my nie daar wil hê nie, dan wil ek nie daar wees nie.
15
Sooner or later, the
House always wins
Kyle Grundlingh
Asof die jeug nie genoeg probleme het nie. Inspuitings en
supplemente - die hedendaagse probleme wat die land se jeug in die
gesig staar. Jaarliks konfronteer `n harde waarheid die land se jeug. Is
my bene groot genoeg? Hoe lyk my arms? Is ek op standaard? Pas ek
in? Hierdie is die vrae wat gevra word wanneer jy dit oorweeg om te
dobbel met supplemente en aanvullings, want dit is presies wat dit is,
dobbel. En soos die Engelse spreekwoord lui,”the house always wins”.
Die harde waarheid is dat `n lae selfbeeld baiekeer as katalisator
optree. Is ek goed genoeg? Kan ek beter wees? Wat kan ek doen om
die beste te wees? Die kort pad na sukses is mos altyd die maklikste
roete om te kies? Dit is waar aanvullings en steroïede jou die pad
byster kan laat raak.
Elke vleiskop wat begin oefen in die gim kry `n behoefte om iets te
gebruik wat hom sal help om net `n bietjie vinniger te laat bou. Geduld
sit nie met gym om dieselfde tafel nie. Dit begin alles met daai eerste
klein botteltjie ‘gif ’ wat die verkoopsman by ‘n groot kettingwinkel
aan jou afsmeer. Die groot ding wat hulle weglaat, is dat hierdie
aanvuller jou nie gaan help bou nie. So, na 2 weke, is jy terug by
daardie verkoper en nou wil hy iets “beter” aan jou verkoop. Jy koop
hierdie produk, maar weet jy wat die gevolge is?
Hierdie middels wat die verkoopsman aan jou verkoop, is en bly baie
gevaarlik vir jou maak nie saak hoe oud jy is nie. Jou voorland is goed
soos nierstene, lewer- en hartversaking, dehidrasie en testosteroon-
vlakke wat wankel.
As gevolg van bottels en houers vol proteïene wat die vleiskkop op
een slag inneem, sukkel jou niere en lewer om al hierdie proteïene en
minerale af te skei wat dikwels kan veroorsaak dat daar minerale in
jou niere agterbly, omdat jy nie genoeg water inneem nie. So, as
hierdie minerale verhard, vorm dit nierstene wat een van die
pynvolste ervarings is. Manne, gaan vra maar vir die ouer geslag,
nierstene is seerder as slangbyt.
In ons tienerjare vervaardig die liggaam die meeste testosteroon ooit.
Boonop, gebruik jy aanvullings en supplemente wat testosteroon
bevat en gevolglik is die testosteroonvlakke hoog . As gevolg van die
Dit is wat meneer Jansen, ons
ervare biokinetikus, oor die
gebruik van kreatien te sê het:
Kreatien is `n produk wat baie
sportspelers deesdae gebruik.
Dit is veral deesdae baie gewild
onder die tienerseuns. Kreatien
het sy voordele, maar verseker
ook sy slegte newe effekte.
Kreatien verskaf ATBC (vinnige
energie) wat jou sal help om
meer oefeninge in `n korter tyd
te doen. Meer spierweefsel word
gebou en so vergroot
spierweefsel ook baie vinniger.
Dit beteken dat spierweefsel ook
meer vog terug hou.
Indien spierweefsel vergroot,
word jou spiermassa swaarder,
terwyl jou beenstruktuur kleiner is, wat ook later dan beserings
kan veroorsaak.
Te veel kreatien het ook `n
negatiewe uitwerking op die
niere en lewer. Die rede hiervoor
is dat hoe meer jou liggaam van
hierdie produk inkry, hoe harder
moet jou organe (niere en
lewer) werk om hierdie stowwe
af te skei. Kreatien veroorsaak
ook baie krampe. Dit vergroot
die selle in die mens se liggaam,
wat dan groter hoeveelhede
vloeistowwe opneem, dehidrasie
vind dan plaas, wat dan
aanhoudende krampe tot gevolg
het.
Ek is teen kreatien en steroïedes
omrede ons leerders nog in hul
groeifase is en omdat hierdie
produkte ‘n groot rol speel met
liggaamsbou, is kinders geneig
om ‘n groot lading te plaas op
hul beenstrukuur wat hul groei
belemmer en ook beserings tot
gevolg het.
16
ekstra testosteroon begin jou liggaam minder natuurlike testosteroon vrystel. Vergelyk dit so: ‘n Graad een
leerder sal nooit ‘n matriekvraestel kan skryf nie, dieselfde geld vir jou testosteroonafskeidingsstelsel. Die
stelsel ‘vergeet’ hoeveel om af te skei vir ‘n sekere taak wat die spier moet verrig. Jou liggaam kan dus nie
meer self die nodige testosteroon vrystel nie en nou moet jy sterker aanvullings of selfs ander middels soos
steroïede gebruik. Behalwe dat dit gebeur, begin jy nou ook wonder hoekom jy ewe skielik so baie puisies
het, wel, die antwoord is reg onder jou neus.
Enorme hoeveelhede kreatien bestaan in hierdie aanvullings. Kreatien stoot omtrent ‘n dam water na jou
spiere. So, jy kan self dink dat jy baie meer water moet drink, aangesien alles na jou spiere toe gaan, maar
jy wat die verkeerde besluit gemaak het om hierdie produk te koop, gaan tien teen een ook nie genoeg
water drink nie - wat gaan veroorsaak dat jy jou eie naam met `n plank gaan slaan as jy flou neerval in die
gim as gevolg van dehidrasie.
Dis ‘n swak hand waarmee jy gedeel is: Steroïedes begin nou ‘n moontlike opsie raak en later sal dit jou
grootste ondergang veroorsaak. Dit maak nie saak watter tipe jy wil gebruik nie, dit bly onwettig en dit
word as `n dwelm deur alle sportsrade én deur die polisie beskou. As dit aan jou gevind word, kan jy in
hegtenis geneem word en jy kry ‘n kriminele rekord, net omdat jy gevoel het jy pas nie in op hoërskool nie.
En buitendien, is jy bereid om jou ware manlikheid op te offer om groter bene of arms te hê?
Ek stel dit so: Om te dobbel met geld is sleg, maar om te dobbel in die gebruik van supplemente, is ‘n
katastrofe. Onthou net: ‘the House always wins’.