inhoudsopgawe - ngkzn.org.za web viewin baie protestantse kerke word die rituele kant van geloof en...

18
3 Oktober 2014 Skakels wat saak maak Inhoudsopgawe SINODE NUUS Kalender Okt - Nov 2014 Spesiale Sinodesitting 5 November Die roeping van die Kerk Watter toegevoegde waarde het Brugbediening vir ons gemeentes? Middellande se Emeriti kuier saam NUUS UIT GEMEENTES NG Gemeente Durban Wes – Ds Gerhard Botha word bevestig NG Gemeente Hayfields - Braaidag is basaardag NG Gemeente Hayfields – Artes toekennings Predikante wat verjaar 20 Sept - 11 Okt 2014 ANDER NUUS Lees die Kerkbode van 3 Okt 2014 Bybelmedia se jongste publikasies Lees in die LiG van Okt 2014 Eerstejaarskamp Stellenbosch HERHALINGS Geen Kalender vir Sept - Okt 2014 Sinodale eNuusbrief : NG Kerk in KZN

Upload: buidat

Post on 31-Jan-2018

233 views

Category:

Documents


12 download

TRANSCRIPT

Page 1: Inhoudsopgawe - ngkzn.org.za Web viewIn baie Protestantse Kerke word die rituele kant van geloof en geloofsbegeleiding reeds baie eeue lank erg verwaarloos. ... Hiervan sou die werke

3 Oktober 2014

Skakels wat saak maak

Inhoudsopgawe

SINODE NUUS Kalender Okt - Nov 2014Spesiale Sinodesitting 5 NovemberDie roeping van die KerkWatter toegevoegde waarde het Brugbediening vir ons gemeentes?Middellande se Emeriti kuier saam

NUUS UIT GEMEENTES NG Gemeente Durban Wes – Ds Gerhard Botha word bevestig NG Gemeente Hayfields - Braaidag is basaardag NG Gemeente Hayfields – Artes toekenningsPredikante wat verjaar 20 Sept - 11 Okt 2014

ANDER NUUS Lees die Kerkbode van 3 Okt 2014Bybelmedia se jongste publikasiesLees in die LiG van Okt 2014Eerstejaarskamp Stellenbosch

HERHALINGS Geen

Kalender vir Sept - Okt 2014 

03 Okt Skole Sluit13 Okt Skole begin14 Okt Sentrum Ontwikkeling Werkgroep (SOW) 21 Okt SBS verg (Sinodale Bedieningspan) 27-30 Okt Geloofsreis Groep 2

04 Nov Argiefwerkgroep 05 Spesiale Sinodesitting

Sinodale eNuusbrief : NG Kerk in KZN

Page 2: Inhoudsopgawe - ngkzn.org.za Web viewIn baie Protestantse Kerke word die rituele kant van geloof en geloofsbegeleiding reeds baie eeue lank erg verwaarloos. ... Hiervan sou die werke

06 Sinodale Span Regte (SSR) 07 Nov KZN Outreach 11 Nov Sinodale Ondersteuningspan (SOS) 25 Nov KZN CMD Uitvoerende Komitee

Inhoud

Spesiale Sinodesitting – 5 November 2014

Op die Spesiale Sinodesitting van 5 November 2014 moet die vergadering besin en besluit of Artikel 1 van die Kerkorde moontlik aangepas moet word om ruimte te maak vir ‘n verruiming van die belydenisgrondslag van die NG Kerk met, onder andere, die insluiting van die Belydenis van Belhar op so ʼn wyse dat daar  ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ʼn belydenisskrif onderskryf nie.

Almal word opgeroep om vir hierdie beklangrike vergadering te bid.Inhoud

Die roeping van die KerkDr Dawie Oosthuysen van die NG Gemeente Margate:

Ietwat meer as drie-en-dertig jaar gelede het ek tot die bediening toegetree. In die afgelope meer as drie dekades het noemenswaardige dinge in die kerk wêreldwyd, maar ook binne die geledere van die Ned Geref Kerk plaasgevind – veral van teologiese belang. Die Sinode van KZN het ‘n lofwaardige missie goedgekeur, te wete: “In Christus saam oppad”. Die logiese vrae wat hieruit voortspruit, is: “Hoe sien die afgelegde weg daar uit?” Veelbetekenend is vir die opvolgvraag: “Hoe en waarheen is ons saam oppad?” Dalende lidmaattalle, dalende erediensbywoning, kerklike onbetrokkenheid, laat vraag op vraag orent spring, vrae soos: “Is die kerk nog ter sake, betekenisvol, sinvol in ons tydsgewrig?” “Kan die kerk maar geïgnoreer word?” “Is die kerk onontbeerlik?” Die kerk het in die skadu te staan gekom, is opsy geskuif. Arnold van Ruler het reeds in die sestiger jare ‘n boek met die titel “Waarom zou ik naar de kerk gaan?” die lig laat sien. Dié vraag is nie nuut nie, al vir etlike dekades – dit het weliswaar van uiterste belang geword! Die ongeïnteresseerdheid in die kerk, in die evangelie, laat ‘n mens na jou asem snak, gewoon omdat die heilsboodskap wat vir die wêreld bedoel is, die diepste vrae waarmee die wêreld worstel, soos onder meer post-modernisme, globalisasie, die ekologie, demokrasie, menswaardigheid, menseregte, godsdienvryheid, pluralisme, verdraagsaamheid, godsdiens en wetenskap, in die gedrang kom. Die innerlike noodsaak van die evangelie, die boodskap van die liefde van God, die heerskappy van Christus, die wêreldwye reikwydte van die Gees, noop die kerk om opnuut indringend hieraan aandag te skenk. Die kerk bevind hom dus in ‘n kritieke situasie. Dié situasie moet baie ernstig in oënskou geneem word. Doen die kerk dit nié, is die prys wat daarvoor betaal word, onberekenbaar. Trouens, dit sou op verraad teen die kerk, die op hande synde koninkryk en by name die evangelie wat ons die wêreld skuld, neerkom. Die kerk het dus voor ‘n onontwykbare keuse te staan gekom. ‘n Worsteling met die kerk in al sy gestaltes ter wille van die evangelie is ‘n onomseilbare opgaaf. Hiervoor sal die kerk vir die hedendaagse mens moet kies. Die kerk wíl vir die moderne mens op sy lewensvrae ‘n antwoord bied. Dít is sy Godgegewe roeping. Hieroor sal ons moet saamdink, saampraat, saam met die Koning van die koninkryk, oppad moet wees. Karl Barth, die welbekende

Page 3: Inhoudsopgawe - ngkzn.org.za Web viewIn baie Protestantse Kerke word die rituele kant van geloof en geloofsbegeleiding reeds baie eeue lank erg verwaarloos. ... Hiervan sou die werke

protestantse denker, was bekend vir sy siening dat alle teologie ten diepste na-denke is, nadenke oor wat rééds gedink is, gesê is, geopenbaar is, na-vorsing, diep indringende deurvorsing van wat rééds gesê is. Die kerk durf haarself nie in ‘n geestelike ghetto opsluit nie. Uiteraard sal die kerk op dusdanige wyse relevant moet wees sonder om die evangelie, die boodskap, die inhoud op enige wyse in die gedrang te bring, te reduseer of op te offer. Hoedanig dit die afgelope dekades tog wel die geval was, is ‘n ope vraag.

Lees verder

Watter Toegevoegde waarde het die Brugbediening vir ons gemeentes?

 Prof Malan Nel het dit onlangs so beskryf:

Wanneer 'n voltydse predikant of pastor weggaan, gaan gemeentes deur ervarings van verlies of verligting. Enigeen van hierdie emosies (of beide) vra vir begeleiding. As individue dit nodig het, die liggaam nog meer!

 En die pennie het mos darem nou goed geval: gemeentes is belangrik! Geen wonder nie dat so baie kerke rondom die wêreld voorsiening maak vir spesifiek opgeleide predikante wat hierdie proses kan begelei. Hierdie interim of brugpredikante is nie pastorale hulpe nie; ook nie maar net charismatiese predikers nie; ook nie maar net kundige bestuurskonsultante nie. Hulle is meer: minstens begeleiers van korporatiewe trauma tydens verandering; minstens pastors wat die binnewerk van gesonde gemeentes verstaan; minstens begeleiers na openheid vir 'n nuwe bediening waar daar voortgegaan word om die bediening aan die gemeente terug te gee.

 Kerke binne ons land vereis opleiding vir hierdie brugpredikante. Gemeentes is net eenvoudig belangrik genoeg om in 'n tyd van vakatures deur spesifiek opgeleide persone begelei te word. Sommige kerke bestuur dit reeds met 'n goed saamgestelde reglement. As geloofsgemeenskappe is ons dit aan mekaar verskuldig. Binne die reformatoriese tradisie was ons nog nooit skaam om te erken dat ons nie maar alles kan doen nie: ons lei begaafde mense op om dit waartoe hulle geroep is, selfs beter te doen.

 Wanneer is die Opleiding?

1. Eerste week: 13-16 Oktober 2014

Dit handel oor hoe gemeentes moet beplan en funksioneer om beter kerk van Christus te wees. Dit staan onder leiding van prof Malan Nel. Ook inleidende sessies oor die Brugbediening.

2. Tweede week: 23-27 Februarie 2015

Die WAT, WAAR en HOE van die Brugbediening word aangebied deur verskeie kundiges, nl, Christo van der Merwe, Willem Boshoff, Johan van Loggerenberg, Dolf de Beer en Howard du Toit.

 

Plek?

Eerste week: Teologiegebou, Universiteit van Pretoria

Tweede week: In Noordoos-Pretoriagemeente se kerksentrum

Kostes? R1570-00 

Skakel Palesa Medupe by die Sentrum vir Kontekstuele Bediening om in te skryf.Kantoor: 012x420 4952 of e-pos: [email protected]

Page 4: Inhoudsopgawe - ngkzn.org.za Web viewIn baie Protestantse Kerke word die rituele kant van geloof en geloofsbegeleiding reeds baie eeue lank erg verwaarloos. ... Hiervan sou die werke

Inhoud

Middellande se Emeriti kuier saam op 20 Sept 2014

Na baie wik en weeg oor die plek waar ons bymekaar sou kom, bied Gert Kok aan dat hy vir ons ’n potjie sal veroorsaak by Ntabamoya waar hy en Antonette tans bly. Dit is ’n wildplaas naby Winterton op pad na die Drakensberge. Heerlike verversings wag vir ons by die aankoms: Oom Jorrie Jordaan, Tewie en Esme Willemse, Herklaas en Riana Viljoen, Marthinus en Anita van Rooyen en Hennie Hattingh, pas jarig, kom in die koele luggie aan. Ongelukkig kan Lewies Boshoff en Arnold Nadel dit nie inpas nie.Daar is nie eintlik ’n program nie maar elkeen kry ’n

klippie en bekyk dit om iets van sy/haar persoon en omstandighede daarin te vind. Daar is erns en komedie in elkeen se weergawe. Hier is skerp plekke wat glad geskuur is en daar is breuke en growwe plekke wat nog gelaat is.  Dit laat die geselskap oopgaan en verskeie belewenisse kom na vore. Persoonlike traumas en vreugdes word met mekaar gedeel.  Hennie Hattingh vertel:  "Twee weke gelede was hier die soveelste plaasaanval in die distrik van Paulpietersburg. 'n Egpaar is op hul plaas doodgeskiet. Lidmate van die N.G. Gemeente Paulpietersburg was binne minute nadat die noodsein afgegaan het op die toneel en het die lyke gevind en alarm gemaak.

Dit was my voorreg om die volgende oggend asook die daaropvolgende Sondagmiddag met die betrokke boere en hul gesinne asook met die dogter van die oorlede egpaar en haar man in 'n groep gesprek te kon voer. Ons het met mekaar gewerk uit Psalm 91 en het groot troos gevind in die wete dat God steeds in beheer is. Ons is deur die Heilige Gees oortuig dat:

1. God nie in ons lewens 'n gesindheid van vrees wil hê nie, maar wel van volle vertroue in Hom wat steeds in beheer is en bly.2. God wil nie die kwaad nie. Dit is die mens wat die kwaad kies ( Op hierdie punt het ons ook gekyk na die boek van Adrio König : "God, waarom lyk die wêreld dan so?" waarin veral ook met Psalm 73 gewerk word.

Ek is daarvan oortuig dat die Here op Sy eie besonder manier kalmte en vertroosting bring."

Herklaas vertel van die gemeente waar werklik gebid word en waar dit maar net ’n enkele kennisgewing verg om die biduurgroep bymekaar te kry vir spesiale voorbidding.

Nou moet die potjie gelos word om stadig gaar te word en almal klim in Gert en Herklaas se motors om die uitkyk-koppie uit te ry. Bo is die uitsig rondom asemrowend. Dit is baie droog maar nogtans pragtig. Gelukkig is almal behalwe Gert warm aangetrek, want die luggie is maar koel. Daar is die groen sirkel van besproeide lande en huise en skure aan die een kant en droë bulte en berge aan die ander kant. Terug tuis is die potjie reg en die mae gereed vir die fees. Nou is die wat aan tafel sit en die wat ’n bord op die skoot kan balanseer geskei en die geselskap vloei voort. Te gou word dit koffietyd en ons kan saam vir Gert en Antonette aan die Here opdra waar hulle wag op die Here vir hulle toekoms. Toe blaas ons ’n tevrede aftog. Ons is nog betyds tuis om die Sharks se sege te beleef. Baie dankie Gert en Antoinette.Inhoud

NUUS UIT GEMEENTES

Page 5: Inhoudsopgawe - ngkzn.org.za Web viewIn baie Protestantse Kerke word die rituele kant van geloof en geloofsbegeleiding reeds baie eeue lank erg verwaarloos. ... Hiervan sou die werke

NG Gemeente Durban Wes

Ds Gerhard Botha en sy gesin is op Sondag 28 September 2014 amptelik verwelkom in die gemeente. Ds Botha is bevestig as medeleraar van die NG Gemeente Durban wes. Ds Gerhard is die Uitvoerende Voorsitter van die KZN CMD. Inwonende Direkteur van die Malvern Kinderhuis asook direkteur van die Morester Kinderhuis in Ladysmith wat ‘n sateliet huis in Newcastle insluit. Om predikantsbevoegdheid te behou vereis die Kerkorde dat ‘n leraar aan ‘n gemeente gekoppel sal wees. Aan sy regterkant staan Di Franna Herselman en Sameul Marx, die ander twee leraars van die gemeente.

Inhoud

NG Gemeente Hayfields – Nasionale braaidag is Hayfields se basaardag.

Nasionale Braaidag was Hayfields se Basaardag. ‘n Feestelike geleentheid met braai, lekker kuier, lekker koek, lekker speel, lekker musiek, lekker lag EN lekker hard werk! Braaidag het beslis bygedrae tot ‘n gemoedelike en ontspanne atmosfeer en oop beursies. Inhoud

NG Gemeente Hayfields se jeug hou ‘n Artes aand

Die Jeug van Hayfields onder leiding van André Kock het ‘n Puik Artes toekenningsaand gehou. Die gemeente moes meeding (natuurlik sonder hulle mede wete) in die wonderlikste kategorieë soos bv. blinkste pankop, bid en slip, vuilste kar, hubaarste wewenaar, vriendelikste diaken, die laatste laat-kommer, die agterste-sitter ens. ens. Onder luide toejuiging moes elke wenner van die betrokke kategorie sy of haar artesbeeldjie op die verhoog gaan ontvang. Daarna is die gemeente vriendelik dog vrywilllig betrek in ‘n ‘impromptu’ toneelstuk tot groot pret en vermaak van almal. Natuurlik is die geleentheid afgesluit met ‘n ete by keurig gedekte tafels wat deur die gasvrouens voorberei is. Bande is gebind en verhoudings versterk!

Inhoud

Page 6: Inhoudsopgawe - ngkzn.org.za Web viewIn baie Protestantse Kerke word die rituele kant van geloof en geloofsbegeleiding reeds baie eeue lank erg verwaarloos. ... Hiervan sou die werke

Predikante wat verjaar 20 Sept – 10 Okt 201421 Sept - Rupert de Koning, Sel. 0733663777, ePos: [email protected] Sept – Hennie Hattingh, Sel. 0829233910, ePos: [email protected] Sept – Deon Burgers, sel. 0731568521 25 Sept – Roelie Erasmus, Sel. 0824662430, ePos: [email protected] Sept – Haas Burger, Sel. 0836549654, ePos: [email protected] Okt – Gerhard Louw, Sel. 0718806921, ePos: [email protected] Okt – Johan de Wet, Tel. 0324562596, ePos: [email protected]

ANDER NUUS

Lees in die Kerkbode van 3 OktoberMoreleta reik uit na arm bure

Die kloof tussen ryk en arm is een van die grootste potensiële bronne van konflik in die land. Hierdie kloof sien ʼn mens langs die NG kerk Moreletapark in Pretoria, waar ʼn plakkerkamp tussen welgestelde mense se huise staan. Lees hoe die gemeente hierop gereageer het: nie deur te baklei nie, maar deur uit te reik; nie met haat nie maar met liefde. Deur grense oor te steek met die liefde van Christus, bring die gemeente nuwe lewe in ʼn situasie wat baie as hopeloos sou beskou.

Blommeland en Tjokkershoop!

Op Strydenburg en Hopetown in die Noord-Kaap het die liefde van Christus praktiese gestalte aangeneem in twee sentrums vir vroeë kinderontwikkeling - en dowwe ogies weer laat blink.

Heelmaaktaal!

Deon Snyman se pad het geloop deur die konserwatiewe Potchefstroom van die 1980's, deur Zoeloeland met Dingaan se kraal en Piet Retief se graf, en tot in Worcester waar bomme ʼn gemeenskap geskend het. Dit alles het hom soveel geleer oor versoening.

Lees ook:

- Diversiteit: die studente wys die pad- 'NG Kerk wil Belhar ter wille van homself insluit'- Godsdiens in skole: wat mag en wat mag nie?- ʼn Lig skyn in Madagaskar se duisternisInhoud

Jongste Bybelkor-publikasiesDaniël... Jaco Thom

Page 7: Inhoudsopgawe - ngkzn.org.za Web viewIn baie Protestantse Kerke word die rituele kant van geloof en geloofsbegeleiding reeds baie eeue lank erg verwaarloos. ... Hiervan sou die werke

Die heerskappy behoort aan God ... ʼn 11-weke-studie vir kleingroepe

Die boek Daniël is nie net vol onvergeetlike heldedade nie. Dit is geskryf om gelowiges aan te spoor om in moeilike tye op God te bly hoop. Daarom vleg daar een element soos ’n goue draad deur al hierdie verhale: Daniël en sy drie vriende se onwrikbare vertroue op God.

Ons leef in ’n tyd waarin dit nie meer in is om te staan by wat jy glo nie en om kompromieë aan te gaan. Wanneer jy die boek Daniël lees, besef jy egter: Geen kompromieë met die wêreld is vir gelowiges moontlik nie. Dit is ook nie nodig nie, want die God van Daniël is vandag steeds in beheer van die lewe van dié wat in alle omstandighede aan Hom getrou bly.

Prys: R55,00 (BTW en posgeld ingesluit). Reeds beskikbaar.

Inligting, Navrae en Diensverskaffing:

Skakel 0860 26 33 42 óf 021 873 0822Of stuur jou bestelling per e-pos na: [email protected] koop direk met jou kredietkaart op die webtuiste: www.bybelmedia.co.za

Hans SteynBybel-MediaE-pos: [email protected]: 021 864 8223

Die Emmausgangers se ontmoeting met JesusIn Christus saam op pad’n 8-weke-saamreisgids vir groepeTydens ʼn vergadering van die NG Kerk in KwaZulu-Natal se Visionêre Leierspan-vergadering het die Emmausgangers-verhaal homself eenvoudig vir die groep kom aanbied. Hulle het ontdek dat dié verhaal ʼn rykdom begeleidende inhoud vir hulle as span bevat.Elke lid van die leierspan het ʼn eie studie van hierdie Skrifgedeelte gedoen en ʼn eie tema daarin gevind. Hulle het uiteindelik verwonderd gestaan voor die rykdom wat uit hierdie bekende verhaal na vore gekom het. Dit is hierdie rykdom wat in dié saamreisgids neerslag gevind het.Hierdie boek sal enige kleingroep en individu verwonderd laat staan voor die rykdom wat in die verhaal van die Emmausgangers opgesluit is. Deur saam te soek na die krag en die wil van God en deur mekaar vas te hou, sal lesers ʼn nuwe opgewondenheid oor hulle bediening ervaar en besef dat ook húlle gestuur word.Lees meer >>

Page 8: Inhoudsopgawe - ngkzn.org.za Web viewIn baie Protestantse Kerke word die rituele kant van geloof en geloofsbegeleiding reeds baie eeue lank erg verwaarloos. ... Hiervan sou die werke

Verander en word ʼn teken van God se nuwe wêreldPrente van die koninkrykJesus se gelykenisse oor God se nuwe wêreldIemand het gesê ’n gelykenis is soos ’n grap. As jy dit eers moet verduidelik, is dit nie meer ’n grap nie. Só werk ’n gelykenis ook. Dit skep ’n beeld wat jy moet snap, en waarop jy moet reageer: met skok, verontwaardiging, verbasing… Jy kan nie neutraal bly of afgetrokke daarna luister en tog die boodskap verstaan wat dit wil oordra nie.In hierdie Bybelstudie met ses ontmoetings lei Jaco Thom individue en kleingroepe deur Jesus se gelykenisse oor God se koninkryk, sy nuwe wêreld. Hierdie gelykenisse wil nie (net) ons insig in God se nuwe wêreld verander nie, maar ons hele lewe. Ons kan nie in die spieël van die gelykenisse kyk, die nuwe werklikheid van die koninkryk raaksien en dan maar net omdraai, wegstap en dieselfde bly nie. Ons moet met ons lewe daarop antwoord.Prente van die koninkryk roep jou op om jou lewe te verander sodat jy hoe langer hoe meer ’n teken van God se nuwe wêreld sal wees.Lees meer >>

Rituele roetemerkers vir die drumpels van die leweVan voor die wieg tot na die grafVan voor die wieg tot na die graf is ʼn boek wat baie leraars en gelowiges sal help om opnuut na te dink oor liturgie en rites – oor alles wat ons in die Naam van die Vader, die Seun en die Gees sê en doen.In baie Protestantse Kerke word die rituele kant van geloof en geloofsbegeleiding reeds baie eeue lank erg verwaarloos. Daar word gou gepraat van leë rites en van vormgodsdiens. Daarmee word amper alle rituele – soms selfs die sakramente – verdag gemaak.

Page 9: Inhoudsopgawe - ngkzn.org.za Web viewIn baie Protestantse Kerke word die rituele kant van geloof en geloofsbegeleiding reeds baie eeue lank erg verwaarloos. ... Hiervan sou die werke

Hoewel ’n mens verstaan waar dit vandaan kom, sou ons met reg kon verwag dat ons vroeër al ’n goeie balans tussen woord en sakrament (en ook woord en liturgie) sou kry.Gelukkig lyk dit of die tyd vir ’n billike herevaluering nou naderkom. Ons oë gaan oop vir die belangrikheid van sakramente en rituele. Ons besef ons het die sakramente, liturgiese handelinge en rites nodig – weekliks, selfs daagliks – maar soveel te meer in tye van onsekerheid en oorgang soos ons dit nou al so lank in Suid-Afrika beleef. Sonder hierdie rituele en rites verarm ons gemeentes en bedienings.Met hierdie boek laat Cas Wepener ons opnuut nadink oor die heilige handelinge en aksies van die kerk waardeur die Here – gewoonlik in kombinasie met die Woord – ons wil leer om te glo, te hoop en lief te hê. Hy gee praktiese voorbeelde van wat ons kan doen, asook voorstelle vir liturgieë wat in gemeentes gebruik kan word.Lees meer >>

Inhoud

Lees in die LiG van Oktober ... Ontmoet die Flooze se Braambossie (foto)Here, help! Die lewe is taai.Oupa en ouma kom by ons blyMy vrou se kanker ...Hykie Berg en sy Melissa “Ons hardloop na die Lig”

Inhoud

Eerstejaarskamp 2015 - Stellenbosch Moedergemeente

Oudergewoonte bied NG Stellenbosch Moederkerk en Kruiskerk ‘n eerstejaarskamp in 2015 aan.

Die inskrywings vind aanlyn plaas by, www.kruiskerk.com;

Hier is die inskrywings-'link' wat gebruik kan word:

http://kruiskerk.com/eerstejaarskamp2015

of kontak Loreza Mostert:[email protected] | 072 969 5915 | 021 883 3458

Inhoud

HERHALINGS Geen

Vir meer inligting, onderhoud-geleenthede of media navrae, bel Amanda van der Westhuizen by 021 864 8231 of 082 568 2768.

Page 10: Inhoudsopgawe - ngkzn.org.za Web viewIn baie Protestantse Kerke word die rituele kant van geloof en geloofsbegeleiding reeds baie eeue lank erg verwaarloos. ... Hiervan sou die werke

Inhoud

Die roeping van die Kerk - (vervolg)

In Christus saam oppad – waarheen?

Een van die belangrikste teologiese ontwikkelinge na die Tweede Wêreldoorlog was die klaarblyklike bewuswording van die gerigtheid van die kerk op die wêreld. Die sogenaamde missionale gerigtheid van die kerk het ‘n uiters gewilde uitdrukking geword. Ook hier te lande, in die Ned Geref Kerk. By die Algemene Sinode vergadering in 2013 was dit die grondliggende tema. Tereg. Verblydend. Hierdie aksent van die kerk die afgelope vier dekades is ondenkbaar sonder die invloed van Barth. Die wyse waarop hy die gesig van die kerk welbewus na die wêreld toe gedraai het, vorm die hartklop van sy teologie. Barth wou niks anders as ‘n kerklike teoloog wees nie. Sy meesterlike dogmatiese reeks staan nie om dowe neute as Kirchliche Dogmatik, Kerklike Dogmatiek, bekend nie. Sy keuse was vir ‘n evangeliese teologie wat uitgesproke Bybels wil wees; dit wou ‘n teologie van die Woord wees. Dit was vervolgens vir hom van kardinale belang om vanuit God se openbaring in Christus te dink.

Wat hier onmiddellik opgemerk moet word, is dat dit in Barth se teologie primêr om die wêreld gaan, nie om die kerk nie. In hoeverre ons hier tog wel op ‘n relativering van die kerk stuit, is natuurlik ‘n ope vraag, waaroor ons nooit genoeg kan nadink nie. Hopelik nie. Die kerk kry dus geen eie gewig of betekenis in die samehang van God se geskiedenis met die wêreld nie. Paragraaf 72 van sy Kirchliche Dogmatik, te wete “Die Gemeinde für die Welt”, die gemeente vir die wêreld, spreek boekdele. In geen onduidelike terme word op die kerk gewys as ‘n gemeenskap wat op die wêreld gerig is. ‘n Kerk wat maar net as ‘n gemeenskap gesien word wat in die persoonlike heil deel, is egoïsties. Hy noem dit ‘heilige egoïsme’. In die Nuwe Testament domineer die roepingsgeskiedenisse, nie die bekeringsgeskiedenisse nie. Die persoonlike deel-hê aan die heil staan nie voorop nie, maar wel die deelname aan die beweging van God se Gees om wêreldwyd van Christus te getuig. Die roeping van die kerk is nie om egoïsties, in ‘n ghetto-bestaan, jou in die heil te verlustig nie, maar om die getuienis aangaande Christus na die wêreld toe te vat. Die kerk moet uitbreek, uit sy na-binne-gekeer-wees, na die wêreld toe. Barth praat van die onvergelyklike “Ausbruch der christliche Gemeinde in die Welt hinein”, die uitbreek van die Christelike gemeente die wêreld binne. Dít is die kerk se primêre roeping! Hy sê dat die kerk nog nooit tevore sedert die 2de eeu so bewus was van sy opdrag en sending na die wêreld toe was as juis in die moderne tyd nie. Die moderne tyd staan inderdaad bekend as die “Zuwendung der Kirche zur Welt”, die wending van die kerk na die wêreld. Barth sien dit as ‘n merkwaardige sameloop van omstandighede, juis in ‘n tyd toe mense hulle van die kerk begin losmaak het. Die kerk het vrygeraak toe hy hom welbewus na die wêreld gewend het. Die roeping van die kerk, die ‘behoud’ van die kerk, is in sy na-buite gerig-wees geleë, in sy op-die-wêreld–gerig-wees. Dit gaan nié vir die kerk om homself nie, maar om die wêreld.

Hierdie geboorte van ‘n kragtige sendingbewussyn, meer modern missionale bewussyn, het onder meer tot die ontstaan van groot sendinggenootskappe en ‘n ekumeniese bewussyn gelei. Die nuwe denke oor die verhouding tussen kerk en wêreld was gewoon ‘n bevrydende ontwikkeling. Hieruit sou die apostolaatsteologie van AA van Ruler en JC

Page 11: Inhoudsopgawe - ngkzn.org.za Web viewIn baie Protestantse Kerke word die rituele kant van geloof en geloofsbegeleiding reeds baie eeue lank erg verwaarloos. ... Hiervan sou die werke

Hoekendijk in teologiese kringe voortspruit. Die kerk is verstaan as niks anders nie as ‘n funksie van die apostolaat. Die kerk is per definisie ‘n gestuurde grootheid. Apostolaat en sending is by name God se prerogatief. Die missio Dei sou insgelyks deel van ons kerklik-teologiese taalgebruik word. God is deur Christus en die Gees werksaam in die wêreld. Hiertoe is die kerk as medewerker geroep. Dit gaan om die heil vir die wêreld. Die kerk het van Godsweë die roeping om die heil te gaan bemiddel. Hierin is die kerk se solidariteit met die wêreld geleë.

Die ‘nuwe tyd’ wat na die Tweede Wêreldoorlog ingelui is, sou Friedrich Gogarten ‘sekularisasie’ noem. Dit sou in die tyd van die modernisme die gebruiklike term word. Dietrich Bonhoeffer sou egter liefs na die ‘mondigheid’ en die ‘outonomie’ van die moderne mens verwys – ‘n wêreld waarin die koste van onvoorwaardelike dissipelskap (Nachfolge, navolging) uiters belangrik sou wees. Die kerk sou hom, volgens Bonhoeffer, toenemend in ‘n religielose tyd bevind, ‘n tyd waarin die sogenaamd mondige mens leef etsi deus non daretur, asof God nie bestaan nie. Dit sou egter vir God geen verhindering wees om by mense teenwoordig te wees nie. Die roeping van die kerk sou op niks anders neerkom nie as om, in Naam van Christus, in navolging van Christus, selfontledigend vir ander daar te wees. Daarin sou die transendensie van God ervaar kon word. Christus was by uitenemendheid “der Mensch für Ander”, die Mens vir ander. Hiertoe word die kerk geroep: om ‘n kerk vir ander te gaan wees. Die identiteit van die kerk bestaan juis in sy gerigtheid op ander. “Die Kirche ist nur Kirche, wenn sie für andere da ist”, die kerk is alleen kerk wanneer dit vir ander daar is. Bonhoeffer het, soos Barth, ekklesiologie en Christologie baie nou op mekaar betrek. Die kerk sou dus as nuwe gemeenskap plaasvervangend vir die hele mensheid moes bestaan. Die roeping van die kerk is nié net ‘om siele te wen’ nie, maar om mense te leer om uit die verworwe heil te gaan lewe.

Hierdie wending na die (mense)wêreld, hierdie Christologiese heilsuniversalisme, wat so eie aan die teologie van Barth en gevolglik ook Bonhoeffer en Hoekendijk was, het ongelukkig aan sekere gevare nie ontkom nie: die evangelie is op eensydige wyse Diesseitig verstaan – alles speel hom duskant die graf af. Die vertikalistiese verstaan van die evangelie is toenemend deur ‘n sterk horisontalistese verstaan gedomineer. Die teologie het antimetafisiese trekke begin vertoon. Oor die transendensie van God is op ‘n klaarblyklike wyse immanent gedink. Die evangelie het gedreig om tot pure antropologie te verword; die Godservaring het min of meer in die ervaring van medemenslikheid opgegaan. ‘n Misverstane Bonhoeffer het gelei tot die vereenselwiging van geloof en medemenslikheid. Hiervan sou die werke van JAT Robinson, Harvery Cox en selfs Dorothee Sölle, om enkeles te noem, wel deeglik getuig. Dit sou die ekumeniese teologie ongelukkig ook nie vrypring nie. Dit is duidelik dat die diepste intensies van die Verligting, hoe onbedoeld ookal, hier omhels is. Die prys wat hiervoor betaal was, was baie duur. Die roeping van die kerk is gerelativeer, omdat die evangelie nie meer verstaan is as die boodskap van verlossing uit verlorenheid en sonde nie, maar as die boodskap van ‘n nuwe mensheid, van ‘n hoopgewende toekoms waarin die mens tot sy ware eintlikheid sal kom. Hoe goed laasgenoemde ookal op die oor val, is dit nie die ware artikel nie. Laasgenoemde kan nie sonder eersgenoemde nie.

Die pad vorentoe

Die een les wat uit die voorafgaande geleer word, is onder meer dít: Mense van alle tye is vir God gemaak; hulle kan hulleself nie van God losmaak nie, self al keer hulle God die rug toe. Augustinus het tereg opgemerk: Tu nos fecisti ad te, et cor inquietum est, donec

Page 12: Inhoudsopgawe - ngkzn.org.za Web viewIn baie Protestantse Kerke word die rituele kant van geloof en geloofsbegeleiding reeds baie eeue lank erg verwaarloos. ... Hiervan sou die werke

requiescat in te, U het ons vir U gemaak en ons hart is onrustig totdat rus vind in U. Maar van nature weet die mens dit nie, so min as wat die post-moderne mens dit weet. Alle mense van alle tye soek na ‘n diepgrypende rus wat alleen in God te vinde is. Die blywende belang van die kerk is nie van sosiale veranderinge afhanklik nie, maar van die vraag of die kerk die evangelie só kan verkondig, dat mense in elke nuwe tyd hulleself en hulle eie nood daarin herken en opgeroep kan word tot die hoop wat net die evangelie kan bied. Hierin is die uniekheid van die kerk, God se vreemde gemeenskap, geleë. Ten einde dit te kan doen, mag die kerk nie aan die verlede bly vaskleef nie, maar moet mense in die hede aanspreek, waar hulle hulle ookal bevind. In snel veranderende tye, is geloof in die vastheid van die Woord van God en die dissipelskap wat daaruit voortvloei, van lewensbelang. Dit is die saak van die kerk in elke nuwe tyd om die evangelie so te verkondig dat mense in God glo en voor sy aangesig sal lewe. Die emansipasie van die mens, veral sedert die Verligting, is ‘n gegewe. Sy vryheid kan egter alleen van God uit verstaan word; die mens moet leer om sy vryheid as ‘n gawe van God te erken, en nie as ‘n vryheid van die binding aan God nie.

Die evangelie is van blywende belang omdat dit nie van hierdie wêreld is nie, dit is nie deur mense uitgedink nie; die evangelie kom van God wat op gesagvolle wyse die weg na ‘n lewe in sy volheid aantoon. Die kriterium vir wat die kerk moet verkondig, is nie die verstaansmoontlikhede van die moderne mens nie – net die Woord van God kan die nood van die mens blootlê. Die diepste nood van die mense van alle tye is hulle sonde en verlorenheid. Die prediking moet ontdekkend wees; dit moet mense se diepste nood blootlê, sy behoefte aan ware vrede met God. In elke nuwe tyd sal die kerk na woorde moet soek om juis dít in die hand te werk.

Die volle heil moet verkondig word. Dit raak dus die nood van mens ook op horisontale vlak, sy verhouding tot sy medemens, die wêreld, sy ekonomiese en politieke bestaan. Ons hele lewe staan onder die kritiek van die Woord van God. As instrument van die koninkryk van God sal die kerk altyd bewus moet wees van sy kritiese taak teenoor die samelewing. Kerk en teologie sal ernstig moet bly vra na sy rol in die maatskaplike en politieke lewe. Daar is nie ‘n terrein van ons aardse bestaan, nie ‘n vierkante sentimeter, waar die Christelike geloof nie sy invloed moet laat geld nie, waar Christus nie sê ‘Ek is Here daaroor’ nie (A. Kuyper). As die kerk toelaat dat hy ideologies vasgevang word in ‘n bestaande situasie, moet hy nie vreemd opkyk as hy irrelevant begin raak nie.

Aangesien die kerk ‘n missionale gerigtheid het, sal die kerk inderdaad, soos Bonhoeffer gesê het, ‘n kerk vir ander moet wees. ‘n Na-binne-gekeerde kerk is ‘n kwynende kerk. Barth het gesê die kerk moet ‘n kerk vir die wêreld wees. Die kerk is die instrument waardeur God na die wêreld uitreik om dit daar met woord en daad uit te leef. Willie Jonker, een van die groot teoloë, ‘n profeet in eie reg, van die NG Kerk, het deurlopend klem daarop gelê dat die kerk maar net één saak dien, die saak van God se koninkryk. Daarin is die kerk se unieke betrokkenheid in die maatskaplike en politieke lewe geleë; sy styl is die styl van die Koning van die koninkryk, die gekruisigde en opgestane Heer van die kerk, Christus. Die kerk trek hom in bewoënheid die lot van mense, alle mense, aan en dien hulle dan met die liefde, profeties, diakonaal, welbewus vanuit die perspektief van God se koninkryk, met die metodes en styl wat eie aan die Koning van die koninkryk is. Geen ander instansie kan die kerk hierin vervang nie. Daarom sal die kerk dit met die grootste nougesetheid denkbaar moet doen. As gemeente van Christus moet hy die lewende Christus in die wêreld sigbaar gaan maak. Die weg wat die kerk moet bewandel, is die weg van verootmoediging, van inkeer tot sy eie saak en opregte dissipelskap, in die ware navolging van Christus, in die imitatio Christi, die nabootsing van Christus (Calvyn), in die

Page 13: Inhoudsopgawe - ngkzn.org.za Web viewIn baie Protestantse Kerke word die rituele kant van geloof en geloofsbegeleiding reeds baie eeue lank erg verwaarloos. ... Hiervan sou die werke

volle oorgawe van die eie lewe aan God en die mense. Wat die kerk vandag opnuut ontsettend nodig het, is ‘n opregte soeke na die betekenis van egte dissipelskap. Die situasie in Suid-Afrika verkeer nog steeds in ‘n kritieke toestand. Aardskuddende verskuiwings vind steeds plaas. Suid-Afrika het ‘n slagveld van ideologieë geword. Dit roep om ‘n nuwe bewussyn as kerk van die koninkryk, ‘n land wat smag na verlossing, hoop en bevryding.

Die oorgang van ‘n ou na ‘n nuwe era is lank en moeisaam. Die einde is nog nie in sig nie. Kulturele verskuiwinge is steeds besig om plaas te vind. Skenk die kerk, by name die NG Kerk, genoegsaam aandag aan die hedendaagse mens en sy kulturele posisie, hier, in Afrika, by name hier, in Suid-Afrika? Is talle lidmate, selfs sommige predikante in die Ned Geref Kerk, nie steeds besig om in ‘n ‘valse behoudsug’ (A Kuyper) elke vorm van verandering vreesagtig as ‘n bedreiging te sien nie? Die NG Kerk verkeer lank nie meer in ‘n posisie van isolasie nie. Naas die Nederlandse- het ook die Duitse en Amerikaanse teologie hulle invloed wel deeglik hier te lande laat geld. Soms ten goede, soms nié. Die NG Kerk het lankal sy dominante posisie, ook geestelik en teologies gesproke, binne die totale landsopset verloor. In ‘n sekere sin het die NG Kerk eensaam geword. Maar dit is ‘n eensaamheid wat ‘n stuk bevryding tot gevolg gehad het. Wat die kerk in die verlede as ‘n verleentheid gesien het, het hom al meermale op die drumpel van die grootste geleethede gebring. Carpe diem, gryp, pluk die dag!

Die NG Kerk sal hom dus wel deeglik moet afvra wat dit beteken om ‘n kerk van die koninkryk te wees; dat die kerk ‘n boodskap vir ons situasie het, ly geen twyfel. Die NG Kerk sal diep moet nadink oor wat dit beteken om ‘n kerk vir ander, ‘n kerk vir die wêreld, ‘n kerk van die koninkryk te wees. Of die NG Kerk hom al volkome aan die idee dat ons primêr ‘n kerk van die Afrikaner is, ontworstel het, is ek nie so seker nie. Dit kan hoogstens in sekondêre sin goed en reg wees. Dit lê op ons weg om ‘n kerk vir ander, vir die wêreld te wees. Alleen so sal die NG Kerk aan sy Godgegewe roeping kan beantwoord. Die kerk moet hom diensbaar aan alle mense stel, ter wille van die koninkryk, soos die Koning van die koninkryk. Hiervoor sal ons in ‘n nuwe vertroue op God moet leef, gefokus op sy koninkryk. Hiertoe kan net die Gees ons bevry. Christus bevry ons deur sy Gees tot ‘n besorgdheid oor sy koninkryk, om na buite gerig te wees. Eers dan, maar eers dán, lei dit ook na ‘n gesonde gerigtheid na binne. Mag Christus ons bevry tot die styl van die Koning van die koninkryk, Christus, die Here, deur in ootmoed, in selfvernedering, selfopofferend die weg van die kruis te bewandel, volgens die styl van die Gekruisigde, omdat sy liefde wat geen grense ken nie, wat ook die vyand omvat, ons dring, vry van ‘n selfhandhawingsdrang, ‘n valse behoudsug. Eers as die Gees ons vrygemaak het, sal ons waarlik vry wees. Pas dan sal ons in die rykste sin van die woord ‘God se liefdesruimte’ (Barth) kan wees. Elkeen wat sy lewe om Christus en sy koninkryk ontwil verloor, sal dit vind. Dit geld by name ook vir die kerk. Die boodskap wat ons die wêreld skuld, Afrika skuld, Suid-Afrika, Kwazulu Natal skuld, is die boodskap van die koninkryk, dus ‘n boodskap van hoop, nie net met die oog op ons ewige heil nie, maar ook vir ‘n nuwe menslike (naas)bestaan in Suid-Afrika. Dit is alleen die unieke boodskap van die koninkryk wat mense verander, volkere verander, gesindhede verander, strukture verander, wat ware vrede bring. As die NG Kerk dít doen, sal dit hom van allerlei bindinge bevry.

Mag die Here gee dat die goeie werk wat Hy in KZN begin het, te wete om welbewus saam met Christus oppad te wees, dag in en dag uit in toenemende sin ‘n al hoe heerliker wordende werklikheid word, op sinodale vlak, in gemeentes, in ons huise, in die samelewing. Mag die kerk, soos Flip Theron tereg gepleit het, soos ‘n lentebloeisel wees

Page 14: Inhoudsopgawe - ngkzn.org.za Web viewIn baie Protestantse Kerke word die rituele kant van geloof en geloofsbegeleiding reeds baie eeue lank erg verwaarloos. ... Hiervan sou die werke

wat getuig dat God se somer op hande is, bedoelende God se nuwe wêreld, God se koninkryk. Hiervoor is ons saam-oppad-wees met die Koning van die koninkryk, met Christus onontbeerlik.

Mag die NG Kerk, ook hier in KZN, in ware vryheid ‘n teken, ‘n bastion van hoop word, vry om nie net ‘n bepaalde volk of groep diensbaar te wil wees nie, vry om vir alle mense alles te wees, ten einde soveel moontlik mense vir Christus te wen (vgl. 1 Kor 9:22). So sal ons weer ons ware identiteit vind: ‘n kerk van die koninkryk, ‘n kerk vir ander, ‘n kerk vir die wêreld, ‘n kerk vir die hele Afrika, die hele Suid-Afrika... Mag Christus ons deur sy Gees daartoe help.

Inhoud