bulle-tin uitgawe 12 2015
DESCRIPTION
Die amptelike nuusblad van die SAP TIN Eenheid Veterane BondTRANSCRIPT
UITGAWE 12 SEPTEMBER / OKTOBER 2015
SAP TIN EENHEID VETERANE BOND
SIELSKOS
Deur: Ilana Loubser
Geroep om 'n priester te wees
Openbaring 5:10 NLV
Johannes skryf, '...omdat U... met u bloed mense vir God vrygekoop het, uit elke geslag
en taalgroep, volk en nasie. U het hulle laat deel in u koninklike regering en hulle priesters
vir ons God gemaak...' (vers 9-10 NLV).
Kom ons kyk wat dit behels om as 'n 'priester' geroep te wees: Hulle het in drie
verskillende vlakke van lig gedien. Dink aan die Ou Testamentiese tabernakel. Die
priesters het die meeste van hulle tyd met mense in die buitenste hof deurgebring, wat
deur daglig verlig is. Hulle het minder tyd in die binneste hof deurgebring, waar 'n
kersstaander met sewe takke, 'n menora, die offerbrood op 'n tafel verlig het. Slegs een
keer 'n jaar sou die hoëpriester die Allerheiligste binnegaan, waar die lig van God se
teenwoordigheid so intens was, dat daarna as die 'Shekinah' verwys is. Wanneer God jou
roep om te dien, sal jy die meeste van jou tyd in die buitehof spandeer om aan ander
mense se behoeftes te voldoen.
Soms sal jy na die binnehof toe gaan, waar die lig van God se Gees sy Woord verlig en
jou iets gee om te sê wat die moeite werd is om te hoor. In tye van krisis, wanneer
menslike wysheid nie die probleem gaan oplos nie, sal jy die Allerheiligste moet binnegaan
en die tipe lig ontvang wat net van God self af kan kom. Mense gaan weet dat jy daar was,
want, soos Moses, sal hulle sien dat daar iets anders aan jou is wanneer jy uitkom. Om 'n
priester te wees is 'n hoë roeping. God het jou egter daartoe geroep, en as jy gewillig is
om die prys te betaal, kan jy 'n teken van sy teenwoordigheid saam met jou dra, waar jy
ook al gaan.
Eksodus 33:11 NLV
Nie net dien priesters in drie verskillende vlakke van lig nie, hulle funksioneer ook op drie
vlakke van intimiteit met God. Die lewe van Moses is 'n goeie illustrasie hiervan. Toe God
Moses roep om die mense van Israel te lei, het Hy deur 'n brandende bos met hom gepraat.
Toe dit gebeur het, het Moses gesê, '...Ek wil tog 'n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike
verskynsel te bekyk...' (Eksodus 3:3 NV).
Ons hoef nooit te twyfel aan God se gewilligheid om met ons te praat nie. Ons moet egter 'n
'bietjie nader' gaan, ons skedule onderbreek, en ontvanklik te wees vir wat Hy vir ons wil sê.
Kan God gedurende 'n advertensie breuk tydens jou gunsteling televisieprogram met jou
praat? Hy kan, maar Hy sal waarskynlik nie. Hy is 'n koning, en Hy wil hê dat ons die regte
protokol moet volg wat hy in sy Woord vir ons daar gestel het om Hom te nader. Daarna het
God met Moses op 'n berg gepraat en die Tien Gebooie aan hom gegee. Toe Hy dit doen, het
die hele berg deur God se teenwoordigheid gebrand en gerook (Eksodus 20:18).
Toe dit gebeur, het die mense gebewe en vir Moses gesê, '...Jý moet maar met ons praat. Ons
sal na jou luister. Moenie dat God self met ons praat nie. Ons sal dan sterf' (Eksodus 20:19
NLV). Uiteindelik het Moses so intiem met God geword dat '...die Here met Moses gepraat [het]
soos vriende wat gesels en mekaar in die oë kyk...'. Verbeel jouself om van aangesig tot
aangesig met God te gesels! Wat 'n voorreg! Dit moet die begeerte van jou hart wees. Dis
wanneer jy God van aangesig ontmoet en persoonlik van Hom gehoor het, wat jy waardig vir
die taak is.
Deur: Martin Loubser.
Finansies van die Bond.
Danksy lede en ondersteuners wat hard woeker met projekte is die Bond weer operasioneel en kan
normale huishoudelike sake voortgaan
Ek wil weereens namens die bestuur en die bondlede langs hierdie weg my dank uitspreek aan
lede en ondersteuners wat uit hulle eie inisiatief en uit hulle eie sak projekte aangepak het om die
wa deur die drif te trek.
Ek wil weer die volgende mense spesifiek bedank :- Ons Koördineerder, TIN veteraan Henk van
Heerden met sy wyn, beker, plakker en braaitang projekte, TIN veteraan Henry Visagie met sy
horlosie projek en ondersteuner Johannes Wolmarans met sy “patches”, T-hemde en pette, beide
die Bond en die Beelde se fonds ʼn betreklike hupstoot kon gee. Hulle bydrae het meegebring dat
die bond se normale operasionele funksies ten minste kon voortgaan.
FNB rekeninge is nou vir beide die Bond en die Beelde geopen. Registrasie van die Bond as ’n nie-
winsgewende organisasie is in proses.
Onthou dat dit enige lid vrystaan om op enige stadium navraag te doen en geregtig is op ʼn uitleg
van die inkomste en uitgawes van die Bond. ([email protected])
BESTUURSVERSLAG DEUR
DIE WAARNEMENDE VOORSITTER
Bond dasse
Die Bond se dasse is bestel aangesien ons nou genoeg fondse het om daarvoor te betaal. Die
eerste proefdas is aan die bestuur voorgelê op Saterdag 24 Oktober en die verskaffer is aangesê
om met die vervaardiging daarvan voort te gaan. Die weef van die dasse sal tussen 4 en 6 weke
neem voor lewering.
Die Bond se Webwerf
TIN veteraan Blackie Swart is hard aan die werk om die webwerf in ere te herstel. Die webtuiste is
reeds geregistreer maar ons wag steeds dat hy wys wanneer jy hom op Google soek. Weereens ʼn
spesiale woord van dank aan hom namens die bestuur en lede wat dit op sy eie inisiatief en sak vir
die Bond hanteer.
Ons beelde en die beeldefonds.
Onder die bekwame leierskap van ons Kommunikasie Koördineerder, Henk van Heerden en die
entoesiasme van talle lede vorder ons beeldeprojek goed en is in volle vaart. Daar is ʼn magdom
werk gedoen om dit te laat gebeur en is ons positief dat ons beelde een van die dae weer ons
trotse geskiedenis sal uitbeeld!
Die miniatuur beeldeprojek het so gevorder dat daar reeds 40 beeldjies, of op bestelling is, of by
hulle nuwe eienaars in hulle huise pryk. Onthou dat die beeldjie ʼn “limited edition” gaan wees,
daarom moet daar, Indien daar nog enige belangstelling is om so ʼn beeldjie te bekom, so gou as
moontlik met Henk by [email protected] kontak gemaak moet word vir bestellings en om
teleurstelling te vermy.
Die amptelike blad van die SAP TIN veterane Bond; Die bulle-TIN.
Sonder die insette van lede is hierdie blad niks anders as ʼn nuusbrief nie en wil ons lede asseblief
aanmoedig om moed bymekaar te skraap en vir ons hulle stories, ondervindings of enige ander
insette te stuur sodat dit ʼn lekker lees ondervinding vir die lesers kan wees.
Neem kennis dat die bulle-TIN voortaan elke tweede maand sal verskyn om die werkslas, tyd en
moeite met die samestelling daarvan te regverdig.
Werwing van nuwe lede en ondersteuners.
Almal word vriendelik versoek om nuwe lede vir die Bond te werf, bring die mense wat u weet
kwalifiseer aan boord sodat ons ons agtergrond en geskiedenis kan deel. U word egter versoek om
nie aansoekvorms of bankbesonderhede te verstrek nie aangesien dit vantevore chaos veroorsaak
het. ʼn E-pos adres van ʼn belangstellende op die Facebook groep of aan my by
[email protected] sal sorg dat die aansoeker onmiddellik mee gewerk word.
DIE STERKTE VAN DIE BOND
Die totale sterkte van die bond is tans 96. Dit word soos volg saamgestel:-
Bestuurslede 4
Erelede 3
Lede 70
Ondersteuners 16
Oorlede 3
Geskors 2
Martin Loubser
Weereens dankie aan elkeen wat ʼn inset gelewer het, moed ingepraat het en geduldig
was. Ons is ʼn jong maar trotse bond en die “veglustige leeu” sal van krag tot krag gaan.
Vordering en statistieke
Aansoekvorms op aanvraag uitgestuur:- 548
Aansoekvorms teruggestuur en goedgekeur:- 134
Lede wat na goedkeuring betaal en as lede geregistreer is:- 86
Aansoeke afgekeur wat nie aan toelatingsvereistes voldoen nie:- 6
STORIES UIT DIE BOS
INSPUITING IN SALISBURY
Deur: Stoney Steenkamp
Ai, soos julle weet, as ‘n man so vêr van die huis af is soos Salisbury van Upington af is, verloor
mens partykeer jou inhibisies en doen jy dinge wat jy nooit normaalweg sal doen nie. Daar is
mos die gesegde hier by ons in Upington dat ons Polisiemanne bly en werk noord van die
Oranjerivier maar as ons oor die brug suid gaan vir afgedeelde of ander dienste verander ons
heeltemal van persoonlikheid.
In 1975 net voor die skietstilstand in Rhodesië het ons opleiding op Nkomo net buite Salisbury
gekry. Die dag voor ons sou uitgeplaas word na ons “basisse” moes daar finaal voorraad in
Salisbury gehaal word. Net die Voorrade Offisier en dan die twee voorraad “Big Daddy”
bestuurders mag saam gegaan het maar as daar nou siekes is (eintlik maar die sick, lame en
lazy), kon diè saamgaan om ‘n geneesheer te gaan spreek of dan ‘n pilletjie of twee by ‘n
apteek te gaan kry.
Ons was so agt “siekes” wat wou saamgaan en ek kan julle verseker, ek was die gesondste van
almal want ek het absoluut niks makeer nie. Ek het op daardie stadium al meer as n jaar
onderbroke grensdiens in Rhodesië gedoen en het dus Salisbury redelik goed geken. Ek wou
dus maar net nog ‘n vinnige geleentheid kry om my rondloopplekke te gaan “inspekteer”.
So is ons toe met twee “Big Daddys” daar weg maar tot my ontsteltenis het die Voorrade
Offisier ‘n baie skerp oog oor ons “siekes” gehou en is ons heel eerste na die RLI (Royal Light
Infantry) siekeboeg gebring sodat daar na ons kwale omgesien kon word. Ek moes toe vinnig
dink en het sommer ‘n keelseer versin omdat dit die eerste ding is wat ek aan kon dink. Op
daardie stadium het ek die Gunston 30’s kwaai gebruik omdat dit iets nuut was en diè pakke
30 sigarette nog nie in die “States” bekombaar was nie. Ek het ook baie van die 30’s pakkies
gehou omdat dit lekker groot was en mens dit bo-op jou brandewyn glas kon sit om te keer
dat die vlieë nie daar inval nie. Die 20’s pakkies het ‘n gaping op jou glas gelaat en die vlieë
was geneig om daar in te gaan om ook te gaan suip.
So word die ry waarin ons staan korter en kry die manne pilletjies en dies meer, tot my beurt
kom. Wat die “nursie” in my keelgat gesien het weet ek tot vandag toe nog nie, seker maar die
nagevolge van die Kanonkoeëls en oom Richard Louw se gebruik maar daar en dan moet ek
opgeneem word in die hospitaal want ek het dan nou kwansuis ‘n erge keelinfeksie. Dit het my
tot in my “boots” geskok want ek wou die volgende dag bitter graag saam met die manne veld
toe gaan.
So lê ek dan nou maar in my onderbroek onder die laken op ‘n kooi in die siekeboeg en wag
terwyl ek planne beraam toe daar ‘n Indiër man met ‘n wit jas ingestap kom. Daardie tyd,
soos almal weet, was dit ondenkbaar dat ‘n nie-wit dokter enigsins aan jou raak. (Ek praat nou
nie van die RAR medics in die veld nie). Kom die man so ewe en sê vir my ek moet op my
maag draai. Ek draai nog om toe hy my onderbroek effe afruk en stamp daar ‘n
beesspuitnaald in my boud in wat skrik vir niks.
Ek hoef nie te sê dat dit ‘n groot skok en vernedering vir my was nie, maar nou ja, ek kon ook
nie te veel emosie wys nie want die inspuiting het soos die hel gebrand en ek was bang, praat
ek, sou hy agter kom hy het my flippen seergemaak..
Daardie Indiër dokter was skaars by die deur uit toe gryp ek my klere en ontslaan my sommer
self uit die hospitaal. Gelukkig kon ek nog ons voorrade trok opspoor waar dit besig was om
voorrade te laai en is toe daarmee saam terug Inkomo toe en die volgende dag veld toe.
Daar was natuurlik die nodige navrae en ondersoeke omdat ek nou kwansuis uit die hospital
sou gedros het. Ek het darem voor ons Augustus 1975 uit Rhodesië onttrek het, gehoor dat dit
‘n vooraf opgestelde plan was en dat die nodige reëlings tussen die Voorrade Offisier en die
dokter getref is want hulle het geweet ek versin my siektetoestand en hulle wou my net ‘n
streep trek.
Ek kon maar net sowel in die hospitaal gebly het want daardie volgende ses maande in
Rhodesië was die frustrerendste van al my bos trips. Dit was skietstilstand en alle lede was tot
hul basisse beperk. Ons het twee SAP kompanies en ‘n PATU groep op Centenary in die
Noord-Oos Rhodesië gelê en kon nie veel anders doen as om bollie aan te jaag nie. Gelukkig
kon ons darem so af en toe op R&R Salisbury toe gaan en dan het ons ook ‘n paar rugby
wedstryde in Salisbury en omliggende plekke vir die SAP teen die Rhodesiese magte soos die
BSAP en RLI gespeel.
MY ONVERGEETLIKE DAG
Deur: MC Loubser
Vir die ooms en tannies wat my nie ken nie, my naam is MC Loubser, ek is 13 jaar oud en die
heel eerste ondersteuner van die SAP TIN Veterane Bond. Ek is baie trots op die feit dat ek
eendag die geskiedenis van ons Polisie in die Bosoorlog sal kan voortsit. Ek sou nie my storie
kon vertel as dit nie vir oom Neil Brand was nie. Oom Neil was die tweede ondersteuner van die
bond en kom uit ‘n Weermag agtergrond, dit was deur hom dat ek hierdie onvergeetlike dag
beleef het.
Van kleins af was ek baie belangstellend in die dinge wat my pa doen. Ek het gewoond geraak
aan sy uniform wat hy elke dag gedra het en hom nou en dan bewonder as hy sy parade
uniform aantrek. Hy het ook ‘n groot militaria versameling en hy moes duisende vrae
beantwoord namate ek in die militêre dinge begin belangstel het. Soos ek groter geword het,
het ek na die betekenis van embleme en veral medaljes begin vra. My navraag oor my pa se
grensdiensmedalje het ‘n nuwe wêreld laat oopgaan en ek het begin leer van die Grensoorlog
en hoe die Polisie en Weermag daarin betrokke was. Ek het op ‘n kaart geleer waar SWA,
Rhodesië en die RSA grense was en hoe dinge gewerk het al het daardie lande nou ander
name.
Van ouderdom 9 af het ek heelwat kennis van vuurwapens, en veral militêre vuurwapens
begin opdoen. Ek het die voorreg gehad om by my pa se kursusgangers wat in die Polisie
Taakmag is te sien hoe lyk die wapens wat nou se dae gebruik word. Ek het geweet dat die
R1 op die grens gebruik is en mooi geweet wat die verskil tussen ‘n R1 en ‘n FN is.
My pa het my ook van die LMG (wat alles
behalwe lig is) vertel. Ek het ook ‘n goeie idée
gehad van hoe die AK 47 lyk omdat mens dit
heelwat op TV sien. Om van iets te hoor en om
dit te sien is twee verskillende dinge. Om my
nuuskierigheid te bevredig het my pa by ‘n oom,
die een wat ook nou ons beeldjies maak,
skaalmodelle van die R1 en die AK 47 laat maak
om my ‘n idée te gee van die grootte daarvan en
hoe dit lyk.
Dit was toe my pa die foto van my en die model
R1 op Facebook plaas, kort voor my 12de
verjaardag, wat my droom waar geword het.
Oom Neil Brand het die plasing gesien en met my pa kontak gemaak. Hy het gesê dat dit baie
beter is om hierdie dinge in lewende lywe te sien eerder as ‘n skaalmodel. Ek kon nie glo toe my
pa vir my sê dat die oom wil hê ons moet deurgaan na ‘n skietbaan in Delmas toe sodat ek met
al die wapens uit die grensoorlog kan kennis maak nie. Dit was my 12de verjaardaggeskenk en
die dag na my 12de verjaardag.
Ek het met groot opgewondenheid die saterdag oggend lank voor my pa hulle wakker geword.
Ek het saam met my klere, my pa se bospet op my kop gesit soos oom Neil gesê het ek moet
doen en ek kon nie wag dat ons in die pad val nie. My pa sou my persoonlike instrukteur vir die
dag wees en hy het my gewaarsku dat hy geen nonsens gaan vat nie. Hy het gesê dat oom Neil
gesê het dat ek die dag bietjie in hulle spore gaan terugloop sodat ek ‘n idée het van hoe dit
regtig was.
Ons het by die skietbaan aangekom en my pa het my al soortvan begin touwys maak voordat
oom Neil daar aangekom het deur vir my die “moets” en “moenies” te begin verduidelik
Ek het op die pistoolbaan begin met my pa se Z88 dienspistool waar ek geleer het hoe om
visiere te gebruik en snellerdrukking reg toe te pas. Ek het uitgevind dat ek ‘n natuurlike gawe
het om ‘n vuurwapen te gebruik en die grootmense was verbaas dat ek van die begin af fyn
korrel en baie raak skiet. My pa het gelag en nog vir my ma gesê dat hy wens al die polisie
studente wat op die skietbaan kom so vinnig kon leer.
Na die pistool, terwyl ons nog op die pistoolbaan
was, het oom Neil vir my die Uzi gegee om mee
te skiet en ek kan nie die gevoel beskryf
wanneer jy die eerste maal met ‘n wapen op
outomaties skiet nie. Ek het die twee wapens
geniet maar nie besef wat nog vir my voorlê nie.
Ons is na die geweerbaan en oom Neil het my geroep na sy motor toe. Uit die kattebak het hy ‘n
Bren Ligte Masjiengeweer gehaal. Die geweer was amper groter as ek en hy het vir my
verduidelik dat dit die oomblik was wat ek so ‘n voorsmakie moes kry van wat Pappa en oom
Neil moes doen. Pappa het gesê dat hulle die wapen op patrollie te voet moes dra, heeldag en
elke dag. Dit was ‘n stywe entjie na die vuurpunt toe en ek is toe aangesê om die wapen te dra.
Ek kon nie glo dat hulle dit ‘n “ligte” masjiengeweer kon noem nie en het alles wat ek het
ingespan om die wapen tot op die vuurpunt wat so 300 meter was, te dra. Ek was baie bly toe ek
die wapen weer vir oom Neil kon teruggee en het my Pa te lekker gegiggel oor ek so steun en
kreun.
Op die geweerbaan het oom Neil die vuurpunt opgestel op so 120 meter van die teikens af. Ek en
my Pa het ‘n teiken gaan opsit en toe ons terugkom op die vuurpunt het die oom vir my ‘n LM 5
gegee. Ek het al die Polisie se R5 gesien en daar is aan my verduidelik dat die twee presies
dielfde is behalwe dat die LM 5 nie outomaties kan vuur nie. My Pa het vir my die werking en
hantering van die wapen gewys en ek het met die wapen geskiet.
Ek het geweet dat na die LM 5 die wapen waarmee ek eindelik moes kennis maak, die R1 aan die
beurt kom. My Pa het my gewaarsku vir dae voor die tyd dat die R1 my maer skouer hard gaan
skop en terwyl ek met die LM 5 skiet die skop van die wapen probeer vergelyk deur te sê dat die
R1 omtrent 5 maal harder skop.
Ons het die teikens gaan omruil en die oomblik van
waarheid het aangebreek. Op die skietpunt het ‘n FN vir
my gewag, ek het dit dadelik aan die houtkolf herken. My
Pa het eers vir my deur die hele prosedure gewerk en
gedemonstreer deur self met die wapen te skiet.
Ek sal die woorde nooit vergeet nie:- “sien jy seun, hierdie gun het nie ‘n sissy grip nie, die
agterkant van die kolf is staal en jy moet hierdie wapen behoorlik in die skouer kry en goed vasvat
anders gaan jy seerkry”. Ek het gaan lê en met oom Neil en Pappa se motivering fyn korrel gevat
en die sneller stadig gedruk.
Ek het my as afgeskrik toe die skoot klap en my skouer was lam maar my pa het uitgeroep “great
shot seun, hou hom daar!”
Ek het stadig skoot vir skoot deur die magasyn gewerk maar na my 12de skoot moes ek die
geweer neersit, asem skep en ek moet eerlik wees, ook ‘n paar trane pik. My skouer was morsaf
en het gevoel of ‘n kar my getrap het. Ek het my laaste 13 skote afgevuur en was beide jammer
en bly toe die magasyn uiteindelik leeg is.
My pa het my sukkelend opgehelp en gesê ons moet na
die teiken gaan kyk. My skouer het so gepyn dat ek nie
kon help om weer die trane weg te vee oppad teiken toe
nie. Pappa het gesê;- “toemaar, daardie trane sal gou
opdroog as ons by die teiken kom!” My pa was reg, al my
skote was op die teiken en ek het die trane vinnig
afgedroog. Ek kon nie glo hoe akkuraat die wapen op so ‘n
groot afstand is nie en my pa het opgemerk dat dit ons
behoud in die bosoorlog was, hy het gesê dat jy ‘n terroris
met die R1 agter ‘n boom kan uithaal. Ek was baie trots op
myself toe oom Neil en Pappa altwee vir my sê dat dit baie
ongewoond is vir iemand wat die eerste keer skiet.
Oom Neil het gesê dat ons ‘n ruskansie
gaan vat en dat ons na ‘n ander skietbaan
gaan beweeg. Ons het opgepak en ek was
dankbaar om so ‘n bietjie asem te skep.
Terwyl ons die ruskansie vat het ‘n ander
oom my geroep en vir my gevra om ‘n paar
skote met sy jaggeweer te skiet sodat hy die
teleskoop kon toets, ek dink dit was ‘n 243.
Na die R1 kon ek die geweer se skop
gladnie eers voel nie, die oom het gesê dat
hy gesien het ek het ‘n fyn oog en ek het vir
hom ‘n mooi groepering in die kol geskiet.
Toe oom Neil vir my die Bren gee en sê dat ons nou na ‘n ander skietbaan gaan het ek geweet
wat nou voorlê. Die oom het die Bren op die vuurpunt opgestel en weereens het Pappa my
deur die werking en prosedure van die wapen gewerk. Dit was meer gemaklik om met die
wapen aan te lê omdat hy op pote was voor en ek met my linkerhand boöp die kolf die wapen
lekker in die skouer kon vastrek. Pappa het verduidelik dat ek die sneller in kort sarsies moet
druk en nie alles aaneen moet skiet nie. Ek het gedoen wat Pappa sê en die woord “water”
gesê elke keer as ek die sneller druk.
Die oomblik toe die laaste skoot klap en ek dink alles is klaar, ruk oom Neil ‘n haas uit die hoed
en sit ‘n tamaai kersie op die koek. Ek het gedink ek droom toe hy ‘n AK 47 uithaal en vir my sê
dat ons ook met die vyand se wapen gaan skiet! Dit het van my onvergeetlike dag die perfekte
dag gemaak.
Die kinders by die skool, toe ek hulle vertel het my natuurlik gladnie geglo nie. Baie grootmense
glo dit ook nie as ek hulle vertel nie en ek moes maar altyd vir pappa roep om te bevestig dat ek
nie jok nie. Gelukkig het ek nou my eie selfoon en kan ek die foto’s wys. Die EEN dag wat ek
NOOIT sal vergeet nie!
DITJIES EN DATJIES OP FACEBOOK
VERJAARSDAE
NOVEMBER
1 Johan Theron 082 450 5291
2 Tom Clack 084 999 3597
11 Jan du Preez 082 604 2757
12 Andries Greyling 083 575 6020
16 Toffie Risk 083 300 4653
18 Philipus Koen 082 596 6430
21 Chris Lotter 082 848 4654
22 Ian Kirby 082 756 7173
24 Andre Brits 083 259 9290
25 Pieter de Bruin [email protected]
29 Tharon Knoetze [email protected]
VERJAARSDAE
Desember
13 Ampie Saaiman 072 402 9190
15 Dean van der Sandt 071 049 9309
17 Johannes Viktor 078 245 4013
17 Johan Harmse 082 784 9989
19 Jacobus Brits 083 644 6305
24 Nicolaas Pretorius 084 211 1573
24 Mary- Ann Kotze 071 528 7435
HULDE AAN HULLE WAT DIE HOOGSTE
PRYS BETAAL HET
SEPTEMBER3 1988 Konst. L du Preez
OKTOBER9 1978 Sers. J Bender
23 1974 A/O JP Dippenaar
23 1974 Sers WA du Plessis
30 1974 Konst. A Boshoff
MALEOSKOP BEELDEFONDS
Help ons om ons geskiedenis te restoureer.
Elke bietjie help!!!
MINIATUUR TIN BEELDJIES
• Hou in gedagte dat hierdie beeldjies ’n
BEPERKTE UITGAWE is.
• ’n Bêrekoop opsie is beskikbaar teen 3
maandelikse paaiemente van R500-00 elk.
Bestel by Johannes Wolmarans
072 487 2341 [email protected]
TIN Pet R 70-00
TIN Hemp R 180-00
Patches R 50-00
TIN PETTE, T-HEMDE EN PATCHES
CAMO Patches R 70-00
Bestel by Henk van Heerden
082 770 5574
TIN wyn bottels R 70-00
TIN bekers R 80-00
TIN plakkers R 5-00
Maleoskop wyn bottels R 70-00
TIN Braaitange R 200-00
TIN PLAKKERS, BEKERS, WYN EN TANGE
STAANDE EN NUTTIGE INLIGTING VIR NUWE
LEDE
Dra van die seremoniele drag.
Soos vervat in die Grondwet Par 5.3
BELANGRIKE EN NUTTIGE INLIGTING
BESTUUR
Voorsitter: (Waarnemend) en
Sekretaris: Martin Loubser Sel: 084 990 2025 epos: [email protected]
Kommunikasie: Henk van Heerden Sel: 082 770 5574 epos: [email protected]
Tesourier: Robert van Onselen Sel: 079 826 8468 epos: [email protected]
Addisionele lede:
Elnic Steenkamp Sel: 072 184 7703 epos: [email protected]
Robbie Cooke Sel: 082 781 7571 epos: [email protected]
EREPRESIDENT
Johan Viktor (Genl)
Facebook geslote groep (slegs vir TIN lede)
https://www.facebook.com/groups/535440839915941
http://za.linkedin.com/pub/tinveteraan-bond/a1/494/548/
Facebook Page (vir almal)
https://www.facebook.com/coinveteransleague
Indien daar enige iemand is wat in die boek belangstel en ‘n kopie wil aanskaf kan hulle die
skrywer direk kontak by:
082 859 0764
(011) 803 6348
Die prys van die boek is R 350.00
VAN OVAMBOLAND TOT MASJONALAND
KENNISGEWING DEUR DIE REGISEUREk wil dit onomwonde duidelik stel dat die redaksie GEEN verantwoordelikheid neem vir
die korrektheid van die inhoud van jou plasing nie. By ontvangs van jou inset doen ek
die nodige taalversorging en sal maksimum dalk uitbrei op afkortings en TIN terme sodat
ons leke lesers ook verstaan. Dit klink dalk na ʼn snaakse versoek maar moenie plasings
stuur as jy dit nie gepubliseer wil hê nie.
Plasings wat jy op Facebook maak is openbare inligting en sekere plasings word as ʼn
reël van ons groep afgetrek en in die blad geplaas vir diegene wat nie op ons Facebook
groep is nie. As jy ʼn probleem hiermee het moet jy my asseblief laat weet, ons sal jou
versoek respekteer.
Martin Loubser
VERSOEK DEUR DIE REDAKTRISE
Ek wil almal vriendelik vra (ek sal selfs soebat as ek moet) om tog pen op papier te sit
en julle bosstories met ons te deel, ernstig of komies. Die blad sal niks anders as ʼn
inligtingsblad wees as dit nie vir die stories is wat lede tweemaandeliks plaas nie. As jy
nie ʼn skrywer van formaat is nie, moet jy nie bekommer oor spelfoute en
taalkonstruksies nie, die regisseur (Martin Loubser), klap ʼn storie vinnig reg.
Ilana Loubser
Stuur insette, stories, foto’s en ander plasings
na [email protected] voor die 20ste van
Oktober 2015.
Redaktrise – Ilana Loubser Sel: 084 579 1269
Regisseur – Martin Loubser