kampeervaardigheid ii - baanbrekers honneur... · 2015. 5. 25. · kampeervaardigheid ii – bladsy...
TRANSCRIPT
Kampeervaardigheid II
Kategorie: Ontspanning
Vlak: Vlak 1
Jaar Ingestel: 1986
Itemnommer: YOU5213
Oorsprong: Wêreldkonferensie
www.baanbrekers.co.za
© Sewendedag-Adventistekerk (2014)
Kampeervaardigheid II – Bladsy 2
1. Wees ten minste in Graad 6 of 11 jaar oud.
Hierdie vereiste kan tydens evaluasie bevestig word.
2. Ontwikkel ’n persoonlike filosofie van buitelewe etiket, soos hoflikheid teenoor ander
kampeerders en natuurbewaring.
Wees bedagsaam teenoor ander kampeerders. Koop eerder ‘n tent met neutrale kleure wat met die
omgewing sal saamsmelt. Blou, groen en bruin kleure word verkies bo rooi en oranje. Mense gaan
kamp om te ontsnap van die skrilheid van die stad – so laat dit agter.
Wees ook bewus van die hoeveelheid geraas wat in julle kamp gemaak word. Moenie ‘n irritasie
wees vir ander mense of die dierelewe nie. Indien julle in die wildernis kampeer, maak seker dat
julle kamp buite sig van die staproete is. Die Parkeraad het gewoonlik riglyne ten opsigte van waar
daar gekamp mag word. Vind uit wat hierdie riglyne is en volg dit.
Moet nooit iemand anders se kampterrein betree sonder hulle toestemming nie, veral wanneer julle
tussen julle kampterrein en ander dele van die kampeergronde beweeg. Dit is baie onbeskof om
deur ‘n ander kamp te stap so gebruik eerder die pad, selfs al sal dit langer neem.
Laat die area skoner as wat julle dit gekry het. Indien julle ‘n groep kinders op ‘n kamp neem kan
julle ‘n kompetisie hou om te kyk wie kan die meeste rommel optel voor julle huis toe gaan. Moet
ook nie die bome verniel deur takke af te breek of klein boompies uit te trek nie.
3. Ken en verstaan die volgende ses W’s vir die kies van ’n goeie kampeerterrein:
a. Wind
Vind gebiede wat teen die wind beskut is. Dit vereis dat jy weet of raai wat die algemene
windrigting is (wenk: kyk na die huidige windrigting en die rigting waarinn die bome leun).
b. Water
Vars drinkwater moet beskikbaar wees. Pasop vir dreineringsgebiede, vloede en ander
waterverwante risiko's. Moerasagtige gebiede kan ‘n hoë muskietbevolking hê wat kampeer baie
onplesierig kan maak.
c. Wilde dinge
Pasop vir tekens van groot soogdiere soos luiperds, rooikatte en seekoeie. Kyk ook uit vir die
klein wilde dinge soos slange, spinnekoppe, bosluise, steekvlieë en muskiete.
d. Woud (hout)
Daar moet voldoende hout beskikbaar wees vir ‘n kampvuur, maar geen dooie hout bo jou
slaaparea nie. Ondersoek die bome om seker te maak dat hulle nie op jou sal val in sterk wind
nie.
e. Weer
Kennis van die weerpatrone van ‘n gebied kan help om op die beste plek vir die kamparea te
besluit.
f. Wil
Maak seker dat die eienaar van die grond jou toelaat om op sy eiendom te kamp. Maak seker
dat jy die korrekte permitte vir kampgebiede het.
4. Demonstreer jou vermoë om die wildernis en jou waterbron te beskerm deur middel van
behoorlike persoonlike higiëne en kooksanitasie.
‘n Kampuitstappie sal jou nie kwytskeld van die behoefte vir higiëne en sanitasie nie – dit maak dit
net ‘n bietjie minder gerieflik. As jy op kampeergronde kamp wat oor toilette beskik, gebruik dit. As
jy in die wildernis kampeer sal jy ‘n latrine (vir groter groepe) of katgate (vir kleiner groepe) moet
maak. Dit moet ten minste 60 meter weg van enige waterbron (soos ‘n stroom, rivier of meer)
wees, en ten minste 30 meter weg van jou kamp. Grawe ‘n vlak gat 7-10cm (katgat) diep en
gebruik dit as jou toilet. Gooi dit (en enige toiletpapier) dan met grond toe. Op hierdie diepte is
daar baie bakterieë in die grond wat jou afval sal komposteer. As jy ‘n dieper gat grawe sal dit
langer neem.
Kampeervaardigheid II – Bladsy 3
Hou ook jou kombuis skoon en was jou skottelgoed sodra jy klaar geëet het. Skottelgoed moet met
warm, skoon seepwater gewas word. Gooi ‘n paar druppels bleikmiddel in jou afspoelwater. Dit is ‘n
goeie idee om jou skottelgoedwater te kook terwyl jy jou kos voorberei sodat dit gereed is om te
gebruik wanneer jy klaar geëet het. Was eers die eetgerei, gevolg deur die kookgerei. As jy klaar is,
raak ontslae van die “grys water” soos voorgeskryf deur die kampterrein se bestuur (indien op ‘n
terrein). Andersins, gooi die grys water ten minste 60 meter van enige waterbron af weg.
5. Neem deel aan ’n naweekkamp.
Naweekkampe is groot pret, veral as die kampeerders kampeerkennis het! Elke vyf jaar hou die
Sewendedag-Adventiste Divisies ‘n divisie-wye-saamtrek, wat mense van regoor hul divisie
bywoon. Baie klubs van buite die divisie woon dit ook by.
Binne die divisies is unies, en baie van hulle hou ook elke vyf jaar saamtrekke. Unie-saamtrekke
word tussen divisie-saamtrekke gehou. Unies is groepe van plaaslike konferensies. Baie
Baanbrekerklubs woon elke jaar konferensie-saamtrekke by. Benewens hierdie saamtrekke, hou
sommige klubs hulle eie kampe. Natuurlik gaan kamp Baanbrekers ook graag saam met hul vriende
en families en dit kan ook gebruik word om aan hierdie vereiste te voldoen. Onthou, hoe meer jy
weet oor kamp, hoe meer pret is dit!
6. Neem deel aan ’n kampaanbiddingsdiens wat een van die volgende insluit:
a. Sabbatskool-lesstudie
Berei voor die tyd voor. As jy wil kan jy die Onderwysersgids vir die Juniors se Sabbatskoolles
aflaai by http://powerpoints.adventist.org.
b. Verhaal
Maak seker dat die verhaal ‘n doel het. ‘n Verhaal met ‘n morele les is ‘n noodsaaklike deel van
‘n erediens. ‘n Verhaal sonder ‘n doel is vermaak. As jy die verhaal met die les kan koördineer is
dit soveel beter.
c. Aanbiddingsgedagte
‘n “Aanbiddingsgedagte” kan ‘n kort preek wees. Een manier om dit te doen, is om ‘n
Bybelverhaal te neem, uit te werk wat die onderliggende boodskap van daardie verhaal is, en
daarop uit te brei. Lees wat Ellen White daaroor mag gesê het (Die Koning van die Eeue volg die
Evangelies), of raadpleeg ‘n Bybelkommentaar. As jy nie een het nie, kan jou kerk, skool, of
leraar dalk een hê.
d. Uitlei van sangdiens
Bring ‘n liedereboek, of sing uit die geheue. As jou groep enige musikante het, kan jy hulle
aanmoedig om enige draagbare instrumente (kitaar, blokfluit, mondfluitjie, ens.) saam te bring.
7. Weet hoe om ’n kampstoof en lantern veilig aan te steek en te gebruik.
Dit sal tot ‘n groot mate afhang van die tipe stoof of lantern wat jy het. Die meeste kampstowe en
lanterns gebruik deesdae klein propaangashouers. Maak seker dat die houer behoorlik gekoppel is.
Steek dan ‘n stoofaansteker (hierdie is langsteel butaan-aanstekers) naby die brander of mantel
aan. Eers nadat die vlam brand moet jy die gas oopdraai. As jy die gas oopdraai voor jy die vlam
aansteek, kan die gas opbou en sal jy met ‘n klein (of groot!) vuurbal te doen hê. Dit kan baie
gevaarlik wees. As jy probleme het, draai die gas toe en laat dit verdwyn voor jy weer probeer.
Wanneer die stoof of lantern aangesteek is, kan jy die vlam of helderheid verstel soos verlang.
8. Ken veiligheidsreëls en demonstreer jou vermoë om vuurmaakhout behoorlik te kap.
Terwyl vuurmaakhout met ‘n byl gekap kan word, neem dit baie minder moeite en word minder
hout vermors as dit gesaag word. Om dit te doen, stut die een punt van die stomp wat gesaag
moet word van die grond af op. Dit kan gedoen word deur dit op ‘n rots, op ‘n ander stomp, of op
enigiets wat sterk genoeg is om die gewig te dra, te sit. Die punt van die stomp moet verby die
ondersteuning uitsteek en die stomp moet net verby hierdie punt afgesaag word. As jy probeer om
‘n stomp tussen die ondersteuning en die grond te saag, sal die gewig van die stomp veroorsaak
dat dit insak en die lem vasknyp. As jy die snit verby die ondersteuning maak, sal die gewig van die
stomp die saaglyn ooptrek wat dit makliker maak om deur te saag.
Kampeervaardigheid II – Bladsy 4
9. Demonstreer hoe om dooie hout behoorlik te breek.
Dooie hout kan ook gebreek word in plaas van gesaag. Dit is dikwels makliker en vinniger as om dit
te saag, maar sorg moet geneem word om dit reg te doen, en dit kan slegs met dunner hout – tot
so sewe cm in deursnee – gedoen word. Om dit te doen, word die hout weer aan die een kant op ‘n
ondersteuning gestut, terwyl die ander kant op die grond lê. Trap dan hard met jou voet op die
hout, tussen die ondersteuning en die grond. Wees versigtig om jou balans te hou terwyl jy dit
doen, en kyk dat die punte van die hout nie opvlieg nie.
10. Met die gebruik van donshoutjies of kerfhoutjies, bou en ken die gebruik van ’n raad- of
kruis-en-dwarsvuur en een tipe kookvuur. Hersien vuurmaakveiligheidsreëls.
Donshoutjies
‘n Kerfhoutjie is ‘n klein stukkie hout waarin snytjies in die kante gemaak is om klein skaafsels te
maak. Ideaal gesproke moet die skaafsels aan die stokkie vas bly, maar as hulle per ongeluk
verwyder word, kan hulle nog steeds gebruik word. Omdat die skaafsels dun is, steek hulle maklik
aan die brand. Omdat hulle aangeheg is, steek hulle op hulle beurt die dikker stok aan die brand.
Om ‘n kerfhoutjie veilig te maak, kies ‘n stuk droë hout, verkieslik ‘n droë, dooie stok van ‘n
immergroen boom. Die stok moet ongeveer die grootte van ‘n potlood wees, of dalk ‘n bietjie
groter. Hou die een punt van die stok teen ‘n stewige oppervlak – soos ‘n stomp of ‘n rots – hou die
bopunt met jou linkerhand vas en die mes in jou regterhand. Sny versigtig in die stok in met ‘n
afwaartse, skuins beweging terwyl jy egalige druk handhaaf. Stop voor die mes die middel van die
stok bereik. Maak nog ‘n sny ‘n bietjie hoër op en herhaal totdat die stok met “dons” bedek is. Draai
die stok om en maak nog skaafsels aan die ander kant. Dit is veel makliker om dit met ‘n skerp mes
en sagte hout soos denne of populier te maak. Maak seker dat jy altyd weg van jou vingers af sny.
Dink ten alle tye oor waar die meslem sal gaan as die skaafsel afbreek, of die mes gly. Maak seker
dat jou hand, voet, been, makkers, ens nie in die pad is nie!
Maak ‘n paar kerfhoutjies en gebruik dit as die eerste laag fynhoutjies deur dit bo-op die tontel te
plaas. In sommige gevalle kan die kerfhoutjies self as tontel gebruik word.
Raadsvuur
Die raadsvuur is deur Indiane gebruik tydens hul
vergaderings (of rade). Dit is baie soos die
houthuisvuur behalwe dat meer as twee stompe op
elke laag gepak word. Wees versigtig om nie die hout
te naby aan mekaar te pak nie. Laat gapings van ten
minste twee sentimeter tussen elke stomp om die lug
te sirkuleer. Net soos die houthuisvuur, is die
raadsvuur baie stabiel en dit val in homself in as dit
brand, so dit bly binne die vuurkring. In teenstelling
met die houthuisvuur, steek die raadsvuur maklik
aan die brand aangesien die dik brandhout reg bo die
fynhoutjies en tontel geleë is, waar konveksie die
vlamme sal dra. Hierdie vuur is warm, en sal ‘n goeie kolebed maak vir kook. Dit gebruik ook baie
hout. Hierdie vuur word ook soms ‘n piramidevuur genoem.
Maak ‘n kerfhoutjie met ‘n knipmes
Die voltooide produk
Kampeervaardigheid II – Bladsy 5
Jagtersvuur
Die jagtersvuur is ‘n kookvuur. Die boonste stompe is
naby genoeg aan mekaar gespasieer sodat ‘n pot,
pan, of driepootpot daarop geplaas kan word.
Probeer om dit so gelyk as moontlik te pak.
Vuurmaakveiligheidsreëls
Plaas die vuur op ‘n veilige plek. Dit moet ten minste drie meter skoon wees reg rondom.
Moenie ‘n vuur onder oorhoofse takke aansteek nie.
Moenie brandstof, paraffien, ens. gebruik nie. Leer om ‘n vuur daarsonder aan te steek.
Blus die vuur heeltemal voor jy dit verlaat. As dit te warm is om jou hande in die as te druk, is
dit nie voldoende geblus nie. Gooi dit nat met water, keer die kole om met ‘n graaf en maak
seker dat al die kole geblus is.
Moenie ‘n vuur op vlambare materiaal soos gras of blare maak nie.
Grawe die gras uit (hou dit nat sodat jy dit kan terugsit wanneer jy vertrek), en verwyder die
dooie blare en take.
Hou brandblusservoorraad naby die vuur. ‘n Emmer met water of sand, of ‘n brandblusser word
aanbeveel.
Moenie brandende stokke uit die vuur verwyder nie.
Let op vir warm as wat uit die vuur onstnap en blus dit onmiddellik.
Dra behoorlike skoene om ‘n vuur.
Wees bewus dat papier, karton en blare swewende warm as produseer wat uit die vuurput styg
en meters ver kan land.
Moenie ‘n vuur in ongunstige weersomstandighede aansteek nie (sterk wind of droogte).
11. Beskryf twee metodes om kampkos koel te hou.
Die mees doeltreffende manier om kos op ‘n kamp koel te hou is om dit in ‘n koelhouer met ys te
bêre. Gebruik groot blokke ys eerder as ysblokkies of gebreekte ys, aangesien dit veel langer
bevrore bly. Soliede ysblokke kan maklik vir drie dae hou. Jy kan dit by ‘n winkel koop of voor die
tyd maak deur water in plastiese eenliter- of tweeliterbottels te vries. Jy hoef nie die ys uit die
bottels te verwyder nie. Om die ys langer te laat hou moet jy seker maak dat die koelhouer se
deksel behoorlik toe is en dit nie langer oophou as wat nodig is nie.
Een manier om voedsel sonder ys koel te hou terwyl jy op ‘n kamp is, is om die kos in ‘n waterdigte
houer te plaas, die houer in ‘n gaassak te plaas en dit in ‘n stroom of spruit vas te maak. Nog ‘n
manier is om die kos in ‘n sak te sit, dit met verskeie lae goiingsak (hessian) te bedek, die lap nat
te maak en dit aan ‘n boomtak op te hang. Wanneer die water uit die lap verdamp, sal dit die kos
afkoel. Jy moet die sak van tyd tot tyd weer nat maak.
12. Bou twee tipes kampkrane.
Pothanger
‘n Pothanger of pothaak kan gebruik word om ‘n pot aan ‘n kraan te hang. Dit maak dit
makliker om die pot te verwyder sonder om die handvatsel al die pad na die punt van die
kraan te skuif. Dit is veral handig as jy ‘n kraan gebou het wat aan beide kante van die
vuur geanker is. Kerf ‘n kepie in ‘n gevurkte tak om jou pot aan ‘n kraan te hang.
Kampeervaardigheid II – Bladsy 6
Pothaak
‘n Pothaak kan ook gebruik word om jou pot op die kraan te plaas, of te verwyder,
terwyl jy jou hand verder van die hitte af hou. ‘n Gekeepte tak kan ook gebruik word.
Eenvoudige Kraan
Hierdie is die mees eenvoudige kraan.
‘n Lang stok met ‘n gewig op die
agterkant wat oor ‘n stomp of klip
gestut is sal goed werk. Voel vry om
enige enige voorwerp wat byderhand
is te gebruik om die kraan te stut. ‘n
Groot klip of twee werk net so goed
soos ‘n stomp vir hierdie kraan.
Verstelbare Kraan
Met hierdie kraan kan jy die hitte
aanpas deur die kookpot oor die vuur
te verhoog of te verlaag. Draai die
lang stok in een rigting om die tou op
te wen en die pot te lig, of in die ander
rigting om die tou af te wen en die pot
te laat sak. Die driepoot kan ook ‘n
mikstok wees wat in die grond gedruk
is.
Eenvoudige Kraan
‘n Eenvoudige kraan met ‘n mikstok
wat in die grond gedruk is as ‘n stut
sal werk waar die grond sag is.
Gebruik ‘n gewig (klip) om die kraan
af te hou as die grond te hard is om
die stok in te druk.
Kampeervaardigheid II – Bladsy 7
Dubbelstut Kraan
Hierdie kraan wat aan beide kante van
die vuur gestut word is ‘n gewilde
keuse en lewer ‘n stabiele kraan. Soos
gesien aan die regterkantste mikstok,
kan ‘n klein hoop klippe gebruik word
om die vertikale stutte te hou waar die
grond te hard is om ‘n tak in te druk.
Die sketse hier is meer werd as duisende woorde. ‘n Eenvoudige kraan wat op ‘n mikstok gestut is
sal ‘n kookhouer oor ‘n vuur hou. Gebruik groen hout vir enige stokke wat naby aan die vuur sal
wees, aangesien die groen hout nie so maklik aan die brand sal steek soos droë hout nie. Maak
seker dat jy enige vertikale dele stewig maak sodat die kraan nie omval wanneer jy die pot daaraan
hang nie. Slaan hulle diep in die grond in, of anker dit in plek met groot klippe. Toets die kraan
voor jy jou sop daaraan oorlaat. As die pot kantel, sal jy jou vuur blus en jou sop verloor in een
treurige voorval. Maar ten minste sal jy ‘n verhaal hê om te vertel.
13. Berei kampetes voor deur te kook, braai en bak.
Kook
Kampkos wat voorberei word deur dit te kook sluit in:
Pasta (spaghetti, macaroni, ens)
Hawermout
Gekookte eiers
Gekookte groente (wortels, groenbone, mielies, ens)
Braai
Voedsel wat gebraai kan word sluit in:
Pannekoeke
Roereier of gebakte eiers
Franse roosterbrood
Vegetariese wors
“Veggie burgers”
Geroosterde kaasbroodjies
Bak
Voedsel wat op ‘n kamp gebak kan word sluit in:
Stokbrood
Beskuitjies
Pastei (sien die Potjiekos Honneur vir nog idees)
Gebakte aartappels
Mielies
“Veggie burgers”
Kampeervaardigheid II – Bladsy 8
14. Demonstreer die keuse van ’n tentarea. Slaan ’n tent behoorlik op en af. Watter
voorsorgmaatreëls moet geneem word wanneer jy ’n nat tent afslaan? Maak ’n tent
behoorlik skoon en droog en bêre dit.
Die keuse van ‘n tentarea
Vind ‘n gelyk area wat groot genoeg is om jou tent op te slaan. Dit is moeilik om teen ‘n helling te
slaap. Vermy die rante van heuwels aangesien hulle winderig sal wees en die risiko van weerlig baie
hoog is. Net so moet droë spruite, veral in woestyngebiede, vermy word. Blitsvloede kan
veroorsaak word deur reën baie, baie kilometers ver. As jy naby ‘n rivier kamp, moet jy bo die
hoogwaterlyn kamp aangesien die rivier se vlak in die nag kan styg. Jy kan die hoogwaterlyn bepaal
deur die bome op die rivierbank waar te neem – daar sal puin in die onderste takke wees wat deur
vloedwaters daar gelaat is. Kyk van watter kant die wind waai en kamp dan op die teenoorgestelde
kant van die heuwel.
Ondersoek die ruimte bo jou tentarea noukeurig en maak seker dat daar geen dooie takke, ys,
kokosneute, of enigiets anders is wat op die tent kan val en skade aanrig nie.
Slaan ‘n tent op en af
Daar is baie verskillende tipes tente en elkeen se metode is anders. Die eerste en belangrikste ding
om te doen is om die instruksies wat saam met die tent gekom het, deeglik te lees. Hou hierdie
instruksies op ‘n veilige plek.
Kies ‘n gepaste, gelyk area sonder enige skerp voorwerpe wat jou tent kan skeur. Indien jy die tent
onder ‘n boom wil opslaan moet jy eers kyk of daar nie dooie takke aan die boom is wat op die tent
kan val nie. Volgende moet die tent uitgepak en op die grond uitgesprei word. Indien jy ‘n grondseil
onder die tent wil plaas moet jy dit eers op die grond uitsprei. Lê dan op die seil waar die
slaapplekke gaan wees en verwyder enige bulte onder die seil.
Sprei nou die binnetent op die grondseil uit en oriënteer die ingang in jou gekose rigting. Slaan die
penne in die grond in om te voorkom dat die wind die tent wegwaai terwyl jy dit opslaan. Skuif eers
al die hoof tentpale in hul buise in voordat jy die tent oplig. Daar is gewoonlik aluminium “hake”
aan die ankerbande wat amper soos ‘n vraagteken lyk. Hierdie hake kan aan die punte van die pale
ingeskuif word. Wanneer al die pale in posisie is kan die buitetent oor die binnetent gegooi word.
Maak seker dat dit reg om is.
Buitetente het dikwels elastiese toue wat aan plastiekknippe aan die paalankers vasmaak. Hulle het
ook gewoonlik toue aan die vier hoeke wat die buitetent van die binnetent weghou sodat dit
waterdig is. Hierdie toue moet nie te styf gemaak word nie, anders sal die wind dit uittrek.
Indien moontlik moet die tent nie afgeslaan word voor dit heeltemal droog is nie. Wag tot die
oggenddou verdamp het. Dit is natuurlik nie altyd moontlik nie – dit kan dalk reën wanneer dit tyd
is om huistoe te gaan, so jy sal ‘n nat tent moet afslaan. In so geval sal jy die tent weer moet
opslaan sodra jy by die huis kom. As jy ‘n nat tent bêre sal dit gou deur muf geruïneer word.
Voor jy jou tent afslaan moet jy eers seker maak dat alles uit die tent gehaal is. Vee dan die tent
uit, trek die buitetent af en sit dit binne in die binnetent. Sprei dit so plat uit as wat jy kan. Maak
seker dat die buitetent nie aan die grond raak en sodoende grond of blare optel nie.
Laat sak nou die pale, trek dit uit die tent en vou dit op. Indien die pale in dele is met ‘n lang
elastiese band wat deur hulle loop is dit beter om die pale uit te stoot as om dit uit te trek. Trek
nou die tentpenne uit en vou die tent versigtig op. Sit alles terug in die sak.
Maak ‘n tent skoon
Vee die tent uit voor jy dit afslaan. Trek modderige skoene uit voordat jy die tent binnegegaan, of
sodra jy dit binnegaan. Jy kan die vloer voor die deur met papierhanddoek skoonmaak. ‘n Harde
besem sal ook die meeste vuilheid op die mure skoonmaak, maar jy mag dalk water en ‘n ligte
skoonmaakmiddel (soos skottelgoedseep) nodig hê om gemors wat deur voëls veroorsaak is, skoon
te maak.
Kampeervaardigheid II – Bladsy 9
15. Beddegoed:
a. Demonstreer behoorlike metodes om jou slaapsak of bedrol op te vou vir ’n reis.
As jou slaapsak ‘n sak het, kan jy dit net so in die sak inprop. Dit is regtig so eenvoudig. As dit
nie een het nie, kan jy een afsonderlik koop. Andersins sal jy dit moet oprol. Dit is ‘n bietjie
moeiliker, maar steeds eenvoudig. Kry eerstens die bind-toue. Hulle is gewoonlik aan die
onderkant van die slaapsak. Rits die slaapsak toe en vou dit in die helfte van die lengte met die
bind-toue na onder – een bind-tou sal naby die middel van die onderpunt wees, en die ander
naby die kant. Begin dan om die slaapsak van die teenoorgestelde kant af te rol, terwyl jy dit
styf hou. Wanneer jy by die einde kom, trek die bind-toue om die slaapsak en bind dit met 'n
skoenveterknoop vas.
b. Verduidelik hoe om ’n slaapsak of bedrol droog te hou op ’n kamp.
Die belangrikste ding wat jy kan doen om jou slaapsak droog te hou, is om dit in die tent te hou
en die tentdeur toe te hou. Trek jou skoene uit wanneer jy in die tent ingaan sodat jy nie water
intrap nie. Hou jou slaapsak op jou slaapmat of bed, aangesien dit dan effens van die vloer af
gelig sal wees, sodat enige water wat van nat klere af drup dit nie kan bereik nie.
c. Beskryf hoe om jou slaapsak of bedrol behoorlik skoon te maak.
Dop die slaapsak om, gooi dit oor ‘n wasgoedlyn, en slaan dit met ‘n stok. Rits dit dan oop en
laat dit behoorlik lug kry. Moenie ‘n slaapsak in ‘n wasmasjien sit tensy die was-instruksies
daarop spesifiek sê dat jy dit kan doen nie. ‘n Wasmasjien sal die vesel binne beskadig en
sodoende die isolasie en opstopsel verminder. ‘n Bedrol kan heftig geskud word soos ‘n mat en
dit kan ook met ‘n stok geslaan word terwyl dit op ‘n wasgoedlyn hang.
Verwysings:
http://www.investitureachievement.org/wiki/index.php/Adventist_Youth_Honors_Answer_Book/Recreation/Camping_Skills_II
Kampeervaardigheid II – Bladsy 10