monsters vir kinders en volwassenes: ’n vergelyking tussen antjie krog se bundels mankepank en...

27
87 Louise Viljoen Monsters vir kinders en volwassenes: ’n vergelyking tussen Antjie Krog se bundels Mankepank en ander monsters (1985) en Jerusalemgangers (1985) ABSTRACT This article gives a comparative reading of the way in which Antjie Krog makes use of monsters in her volume of children’s verse Mankepank en ander monsters [Mankepank and other monsters] and her volume for adults Jerusalemgangers [Travellers to Jerusalem], both published in 1985. The article gives a short overview of the meanings of the term “monster” as well as of different approaches to understanding monsters, referring to the work of Barbara Creed, Frank Cawson, Jeffrey Jerome Cohen, David Gilmore, Margrit Shildrick and Allen Weiss. The article shows that the volume of children’s verse can be seen as a didactically responsible, rather than radically subversive, text in which monsters are used to warn young Afrikaans readers about certain dangers while at the same time entertaining them and exposing them to material from cultures other than their own. Although the volume for adults makes use of the same kinds of monsters that are used in the volume for children, the article argues that the volume for adults was much more strongly influenced by the political context in which it was published. It concludes that some of the poems demonstrate and criticise the portrayal of the racial and gender other than monstrous, whereas other poems participate in the process of monstering the political other. 1. Twee bundels met verse oor monsters Antjie Krog publiseer in 1985 twee bundels poësie: ’n bundel verse vir kinders getiteld Mankepank en ander monsters en ’n bundel vir volwassenes met die titel Jerusalemgangers. Te oordeel aan koerantberigte en die datums van resensies het die bundel kinderverse kort voor die bundel vir volwassenes verskyn. Dit verskyn in die reeks Minotaurus uitgegee deur die alternatiewe uitgewery Taurus en is Krog se eerste skuif weg van haar Kaapse uitgewer, Human & Rousseau, wat tot in daardie stadium al haar bundels en ook Jerusalemgangers gepubliseer het. Hierná sou sy haar digbundels vir kinders en volwassenes telkens by verskillende uitgewers publiseer 1 . Alhoewel die bundel kinderverse ’n goeie verkoper was en daar positiewe terugvoer was van lesers, het dit min aandag in die pers gekry

Upload: sun

Post on 22-Jan-2023

0 views

Category:

Documents


0 download

TRANSCRIPT

87

Louise Viljoen Monsters vir kinders en

volwassenes: ’n vergelyking

tussen Antjie Krog se

bundels Mankepank en

ander monsters (1985) en

Jerusalemgangers (1985)

ABSTRACT

This article gives a comparative reading of the way in which Antjie Krog makes use of monsters in her volume of children’s verse Mankepank en ander monsters [Mankepank and other monsters] and her volume for adults Jerusalemgangers [Travellers to Jerusalem], both published in 1985. The article gives a short overview of the meanings of the term “monster” as well as of different approaches to understanding monsters, referring to the work of Barbara Creed, Frank Cawson, Jeffrey Jerome Cohen, David Gilmore, Margrit Shildrick and Allen Weiss. The article shows that the volume of children’s verse can be seen as a didactically responsible, rather than radically subversive, text in which monsters are used to warn young Afrikaans readers about certain dangers while at the same time entertaining them and exposing them to material from cultures other than their own. Although the volume for adults makes use of the same kinds of monsters that are used in the volume for children, the article argues that the volume for adults was much more strongly influenced by the political context in which it was published. It concludes that some of the poems demonstrate and criticise the portrayal of the racial and gender other than monstrous, whereas other poems participate in the process of monstering the political other.

1. Twee bundels met verse oor monstersAntjie Krog publiseer in 1985 twee bundels poësie: ’n bundel verse vir kinders getiteld Mankepank en ander monsters en ’n bundel vir volwassenes met die titel Jerusalemgangers. Te oordeel aan koerantberigte en die datums van resensies het die bundel kinderverse kort voor die bundel vir volwassenes verskyn. Dit verskyn in die reeks Minotaurus uitgegee deur die alternatiewe uitgewery Taurus en is Krog se eerste skuif weg van haar Kaapse uitgewer, Human & Rousseau, wat tot in daardie stadium al haar bundels en ook Jerusalemgangers gepubliseer het. Hierná sou sy haar digbundels vir kinders en volwassenes telkens by verskillende uitgewers publiseer1. Alhoewel die bundel kinderverse ’n goeie verkoper was en daar positiewe terugvoer was van lesers, het dit min aandag in die pers gekry

STILET — Jg. XXIII:1 — SEPTEMBER 2011

88

en verskyn daar maar twee resensies daarvan.2 Ook literatuurgeskiedenisse soos Perspektief en profiel (gouws, 1998:551; Van Vuuren, 1999:269-274) en Die Afrikaanse literatuur 1652 tot 2004 (Kannemeyer, 2005:484) gee in hulle terugskouende perspektiewe oor Krog se oeuvre min of geen aandag aan hierdie bundel kinderverse nie. Dit word wel vlugtig bespreek in Karen de Wet (2005:53) se oorsig oor die Afrikaanse kinder- en jeugpoësie sedert 1970 in Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom, ’n gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek geredigeer deur gretel Wybenga en Maritha Snyman. Hierteenoor het die bundel Jerusalemgangers heelwat aandag getrek toe dit verskyn het, te meer nog nadat die Rapport-prys in 1986 daaraan toegeken is. Die meeste resensente het die bundel beskou as ’n betekenisvolle vernuwing in Krog se werk3 en verwys na die duidelike toespelings op die politieke situasie van die tyd. Die bundel is veral geloof vir die wyse waarop dit die invloed van die inheemse kulture en geskiedenisse verwerk, die verwerking van historiese gegewens in die siklus “Die Jerusalemgangers”, die wyse waarop dit inspeel op die politieke realiteite van Suid-Afrika in die middel tagtigerjare van die vorige eeu en die gesofistikeerde poëtisering van hierdie gegewens.

Stel ’n mens die bundel Jerusalemgangers naas die bundel kinderverse is dit duidelik dat daar sekere raakpunte tussen die twee bundels is, te wete die verwerking van gegewens uit die ander inheemse kulture en literature van Suid-Afrika en die teenwoordigheid van monsters of gedrogte. Sommige van die monsters figureer selfs in albei bundels. In die bundel kinderverse is daar onder andere sprake van ’n mbulu, die tokkelos, ’n heks, spoke, ’n reus, ’n mensvreter en Antjie Somers. In Jerusalemgangers kom die volgende monsters voor: die reus Adamastor in “canto” (Jg 7-8)4, hekse in “Ntombazi” (Jg 9-10) en die siklus “ons dorp” (Jg 18-34), ’n mensvreter in die gelyknamige gedig (Jg 16) en die tokkelos in “gesegdes” (Jg 17). Ander elemente word ook in die bundel tot monsters of gedrogte verklaar, soos byvoorbeeld die droogte-geteisterde landskap in “haplografie van (ge)dro(o)gte” (Jg 47) en die haat wat in die gedigsiklus “Die Jerusalemgangers” (Jg 63) uitgebeeld word as ’n geskubde wese.

Meer as een kommentator het gereageer op die teenwoordigheid van monsters in Jerusalemgangers. Brink (1986:16) het implisiet die aanwesigheid van monsters in Jerusalemgangers aan die orde gestel deur in sy resensie te sinspeel op die ooreenkoms tussen Jerusalemgangers en Wilma Stockenström se werk (laasgenoemde het in 1984 die bundel Monsterverse gepubliseer). Tom gouws (1990:72-73) het na aanleiding van Jerusalemgangers die bewering gemaak dat die gedrog of monster ’n belangrike gegewe in Krog se werk is en vlugtig die raakpunt met die bundel kinderverse Mankepank en ander monsters genoem. Hy skryf in ’n latere oorsig van haar oeuvre dat die monsters of gedrogte wat vanaf die bundel Otters in bronslaai in haar werk verskyn projeksies is van haar vrese vir

Monsters vir kinders en volwassenes

89

die politieke toekoms van Suid-Afrika wat sy soos volg in ’n koerantonderhoud van 1982 geartikuleer het : “Ek is beangs oor die land. Ek betreur my magteloosheid, my onvermoë en verwardheid. Nog nooit tevore was ek so bewus van my nood en vrees en onsekerheid; van valsheid, skyn, geld en dwaasheid; van onkunde en wreedheid; van waardeloosheid en oppervlakkigheid” (vergelyk gouws, 1998:559; Claassens, 1982:11).

My vergelykende ondersoek na Krog se twee bundels sal gerig wees op die hantering van die monster in elk van hierdie bundels, wat verskyn teen die agtergrond van opbouende politieke spanning van die middel tagtigerjare.

2. Monsters: enkele omskrywings en benaderings Aan definisies van monsters en (hipo)teses in verband met monstrositeit ontbreek dit nie in die akademiese literatuur oor hierdie onderwerp nie. Woordeboek-omskrywings5 van die begrip “monster” wys daarop dat die woord oorspronklik verwys het na ’n mitiese wese wat die eienskappe van mens en dier of van verskillende diere kombineer, wat meestal reusagtig groot is en ’n afskuwelike voorkoms het. Die woord is ook van toepassing op enige imaginêre of fabelagtige wese wat weersinwekkend en vreesaanjaend is. Dit word ook in die figuurlike sin gebruik vir enige lewende wese wat afwyk van die normale voorkoms of gedragspatroon van sy soort, ’n plant, dier of mens wat misvorm is; iemand wat boos of wreed is, abnormaal groot is, vrees inboesem of gevaarlik is, aanstoot gee of weersin wek, bedreigend voorkom of “groot, gevaarlik, kragtig, afskuwelik, of wanstaltig is”.

Akademiese studies wys meestal ook op die etimologie van die woord “monster”6. Aristoteles en ander na hom gebruik die woord teras (waarskuwing, voorbode) om na monsters te verwys. Hieruit ontwikkel die begrip teratologie wat mettertyd begin verwys na die studie van abnormaliteite in mense, plante en diere. Die woord monster is egter afgelei van die Latynse monstrum wat beide die woorde monstrare (om te wys) en monere (om te waarsku) oproep. Daar is dus die suggestie dat die woord monster verwys na ’n teken wat iets aandui, uitwys of simboliseer. Op grond hiervan skryf gilmore (2003:9) dat dit vanaf die vroegste tye duidelik is dat monsters deel uitmaak van ’n “semiotic culture of divination, metaphors, messages, indications of deeper meaning or inspiration”. Die monster moet dus nie op sigwaarde aanvaar word nie, omdat daar dikwels sprake is van die heenwys na ’n verdere betekenis. Onder diegene wat oor monsters skryf, is daar ook duidelike verskille oor wat die reikwydte van die term moet wees. gilmore (2003:6) verkies om die woord “monster” slegs te gebruik vir die bonatuurlike, mitologiese of magiese produkte van die verbeelding. Hy sluit dus dié met fisieke abnormaliteite, dit wat in die metaforiese sin van die woord monsteragtig is,

STILET — Jg. XXIII:1 — SEPTEMBER 2011

90

hekse, waarsêers, spoke en zombies uit van sy studie van monsters. Hierteenoor gebruik Cohen (1996), Braidotti (1997) en Shildrick (2002) die begrip monster vir die volle spektrum van verskynsels wat in die omgang as monsters omskryf word: produkte van die verbeelding sowel as werklike persone wat om die een of ander rede as monsteragtig beskou word. My eie omskrywing van die begrip monster sluit aan by laasgenoemde omdat die breër omskrywing dit moontlik maak om ook te verwys na die prosesse waardeur werklike persone (byvoorbeeld diegene wat afwyk van ’n bepaalde norm wat betref liggaamlike voorkoms, geslag, ras of klas) tot monster verklaar word binne bepaalde kontekste.

Die verskillende definisies van die monster word vergesel van ’n hele verskeidenheid benaderings tot die bestudering van die wyse waarop die monster manifesteer. Een van die algemeenste hiervan is die psigoanalitiese benadering wat onder andere gebruik maak van die werk van Freud, Jung en Klein (vergelyk gilmore, 2003). Dit is veral Freud se siening dat die unheimliche onderdrukte infantiele inhoude oproep wat lei tot die siening dat die monsters in kulturele artefakte metaforiese vergestaltings is van onderdrukte psigiese inhoude (meer spesifiek infantiele opvattings wat lank reeds agtergelaat is) (vergelyk Schneider, 1999:2). Hierteenoor fokus die antropologiese benadering op die kulturele werking en betekenis van monsterfigure en maak dikwels gebruik van die werk van Mary Douglas en Victor Turner. Postmodernistiese benaderings tot die monsteragtige lê veral klem op die wyse waarop die Ander (of dit nou is ten opsigte van geslag, ras, etnisiteit, seksualiteit of liggaamlike eienskappe) voorgehou word as monsteragtig (die werk van Creed, 1993; Cohen, 1996; Shildrick 2002, is voorbeelde hiervan). Dit is soortgelyk, maar nie identities nie, aan Marxistiese ondersoeke na die politieke simboliek van monsterfigure.

’n Vlugtige oorsig van die monsterfigure uitgebeeld in Krog se twee bundels toon dat hulle deel in die eienskappe wat aan monsters toegeskryf word. Monsterlike eienskappe soos vormloosheid, misvormdheid, onklassifiseerbaarheid, hibriditeit en buitengewone grootte of kleinheid word goed saamgevat in die vyfde van Weiss (2004:124-125) se tien stellings oor monsters en monstrositeit:

Monsters are variously characterized by accident, indetermination, formlessness; by material incompleteness, categorical ambiguity, ontological instability. One may create monsters through hybridization, hypertrophy, or hypotrophy; through lack, excess, or multiplication; through the substitution of elements, the confusion of species, or the conflation of genders and genres.

Die meeste van die monsters in Krog se twee 1985-bundels kan tuisgebring word binne die een of ander van hierdie omskrywings. Die mbulu is vormloos in die sin dat hy voortdurend van gestalte verander en met sy stert praat; die tokkelos is misvorm vanweë beide gebrek en oordaad deur sy klein gestalte en

Monsters vir kinders en volwassenes

91

groot geslagsorgaan. Sommige van die ander monsterfigure wat Krog gebruik, is hibridiese wesens waarin verskillende spesies of geslagte saamgevoeg word: die heks is beide menslik en bo-menslik, Antjie Somers is beide man en vrou. Hiernaas identifiseer gilmore (2003:174-185) drie algemene eienskappe in die monsters wat hy ondersoek het: uitsonderlike grootte (“gigantism”), ’n reusagtige bek en kannibalisme. Hierdie eienskappe kom voor by die reus wat in beide bundels voorkom, by die krokodil wat ek binne die konteks van die bundel kinderverse ook as ’n monsterfiguur gaan lees en by die mensvreter wat in beide bundels voorkom. Die assosiasie van die monster met bepaalde negatiewe waardes kom ook op verskillende maniere in beide die bundels voor. Cawson (1995:2) stel dit heel ondubbelsinnig: “It [the monster] implies an escape into irresponsibility, aggression, sadistic sexuality or greed, an abandonment to the negative, the destructive, the murderous”. As sodanig verteenwoordig die monster dus ’n bedreiging vir die sosiale orde (gilmore, 2003:12-13). Ook die ruimtelike plasing van die monster aan die buitekant of in grensgebiede en randgebiede van die samelewing (gilmore, 2003:12, Weiss, 2004:125) klop met Krog se bundels waar die monsters hulle ook dikwels op afgeleë plekke, wegdwaalruimtes en die uithoeke van die bekende wêreld bevind. Vir Cohen (1996:18) hou hierdie plasing van die monster verband met die feit dat die afsku wat die monster wek dikwels ook die keersy van begeerte en fassinering is, ’n element waarmee die uitbeelding van die monster in Krog se kinderverse wel werk.

3. Mankepank en ander monsters: monsters vir kinders

3.1 Enkele opmerkings oor kinderliteratuur en die kinderboekskrywer

Die bestudering van kinderliteratuur is ’n besonder komplekse veld waarin daar talle debatte oor verskillende uitgangspunte gevoer word. In die tagtigerjare van die vorige eeu is die debat oor die ideologiese inhoud van kinderboeke ietwat simplisties gereduseer tot ’n onderskeid tussen twee groepe. Aan die een kant was daar die sogenaamde “book people” wat klem gelê het op volwassenes se oordeel oor kinderboeke en vir wie die literêre meriete van kinderboeke besonder belangrik was; aan die ander kant was daar die “child people” wat gefokus het op kinders se oordeel oor kinderboeke en aandag gegee het aan die invloed wat kinderboeke op die sosiale en politieke waardes van die kinderleser kan uitoefen . Met die verloop van die debat het dit ook gebeur dat “book people” met hulle aandrang op die kinderboek as literêre artefak mettertyd geassosieer is met ’n konserwatiewe en reaksionêre ideologie terwyl die “child people” gesien is as voorstanders van die propagering van ’n progressiewe ideologie deur middel van kinderboeke (vergelyk Hollindale, 1992:20-22).

STILET — Jg. XXIII:1 — SEPTEMBER 2011

92

Inbegrepe in hierdie debatte was diskussies oor die rol en verantwoordelikheid van die kinderboekskrywer. Omdat daar in die kinderliteratuur so ’n opsigtelike magsverskil is tussen die volwasse skrywer en die kinderleser, is daar gevoel dat kinderboekskrywers ’n bepaalde verantwoordelikheid het wat nie noodwendig geld in die geval van skrywers vir volwasse lesers nie. Leeson (1985:169-170) laat hom soos volg uit hieroor:

This is a special literature. Its writers have a special status in the home and school, free to influence without direct responsibility for upbringing and care. This should not engender irresponsibility - on the contrary. It is very much a matter of respect, on the one hand for the fears and concerns of those who bring up and educate children, and on the other for the creative freedom of those whose lives are spent writing for them.

Ook Hunt (1991:163) wys op die spanning wat daar by die kinderboekskrywer bestaan tussen die ideaal van artistieke vryheid en die ideaal van verantwoordelikheid teenoor kinders en hulle ouers. As gevolg van die groter bewustheid van die ideologiese impak wat kinderboeke kan hê en van die skrywer se verantwoordelikheid, is daar dus gevoel dat dit onwenslik is dat negatiewe waardes en “skadelike” ideologieë (soos byvoorbeeld seksisme, rassisme en klassisme) deur kinderboeke oorgedra word. gevolglik is daar heelwat gefokus op die nut wat kinderboeke kan hê om kinders te help om goed gesosialiseerde volwassenes met bepaalde waardes te word. Omdat monsters dikwels verteenwoordigend is van die bose, die bedreigende, die vreesaanjaende en die sosiaal-onaanvaarbare, word hulle in kinderboeke gebruik om kinders te leer hoe om met hierdie kwessies om te gaan. Wanneer gerard Jones (2002:221-222) ’n lys maak van die basiese lewenslesse wat kinderboeke vir hulle lesers kan leer, is die les dat monsters oorwin kan word een daarvan (vergelyk “Monsters can be destroyed”).

Stallcup (2002:125-262) fokus ook op die wyse waarop kinders deur kinderboeke geleer word om met monsters en die vrese wat hulle verteenwoordig om te gaan. Sy wys daarop dat daar ’n lang tradisie bestaan van kinderboeke wat daarop gemik is om kinders gehoorsaam te hou deur hulle bang te maak (sy verwys daarna as “fear-inducing” tekste). Talle agtiende- en negentiende-eeuse prenteboeke vir kinders het nie gehuiwer om verhale te vertel waarin kinders gewelddadig gestraf word of selfs sterf wanneer hulle ouerlike gesag uitdaag of sosiale grense oorskry nie. Hierteenoor is die moderne neiging eerder om as ʼn vorm van biblioterapie boeke vir kinders te produseer waarin hulle gewys word hoedat hulle ontslae kan raak van die vrees vir onder andere monsters (sy verwys hierna as “fear-alleviating” tekste). Stallcup (2002:152) toon deur die analise van verskillende tekste waarin monsters figureer hoedat ook hierdie moderne prenteboeke konflikterende ideologieë oor die verhouding tussen volwassenes en kinders vertoon omdat verskillende kwessies daarin verstrengel

Monsters vir kinders en volwassenes

93

raak: volwassenes se behoefte om kinders te vertroos en te beskerm (vermeng met hulle behoefte om te glo dat hulle die vermoë het om dit wel te kan doen), hulle vrees vir kinders se potensiaal om weerstandig en destruktief te wees en hulle behoefte om te verseker dat kinders uiteindelik goed gesosialiseerde volwassenes sal word. Volgens haar veronderstel die meeste prenteboeke ’n duidelike soortverskil tussen kinders en volwassenes en moedig hulle kinders aan om hulle vrees te besweer deur hulp te soek by volwassenes en hulle outoriteit te aanvaar. Ander kinderboeke bevraagteken weer die waardes van volwassenes en lê soms op subversiewe wyse verbande tussen kind en monster7, alhoewel Stallcup meen dat sommige van hierdie tekste steeds die skeidslyn tussen volwassenes en kinders in stand hou. Sy redeneer dat dit ook moontlik is om tekste te skryf waarin kinders gerespekteer word as die soortgenote van volwassenes en hulle bemagtig word om hulle eie maniere uit te werk om te handel met die vrese wat deur monsterfigure verteenwoordig word (Stallcup, 2002:152-153) .

Myns insiens kan die hantering van monsters in Krog se bundel kinderverse van 1985 met vrug gelees word teen die agtergrond van bogenoemde debatte oor die verantwoordelikheid van die kinderboekskrywer en Stallcup se analise van die wyse waarop die vrees wat deur monsters in kinderboeke gewek is, hanteer word. Alhoewel die titel van die bundel suggereer dat dit hier slegs om monsters sal gaan (vergelyk en ander monsters), is daar heelwat gedigte wat nié oor monsters handel nie. De Wet (2005:53) praat trouens van “die ewewig tussen die idilliese en monsteragtigheid” wat hierdie boek kenmerk. Die bundel haal sy titel en motto uit die gedig “Mankepank die mensvreter” waarmee die bundel afsluit, maar begin met ’n sestal gedigte oor feetjies en vermenslikte diere waarin ’n speelse fantasie-element oorheers. ʼn Vertroude wêreld (naamlik dié van die huis en familie) word in die eerste aantal gedigte van die bundel vir die kind aangebied. Menslike praktyke (soos pos uithaal, koeldrank skink in die kombuis, ʼn teepartytjie, ʼn dans) word voortgesit in hierdie feëwêreld, maar dan op ’n kleiner skaal of aangepas by die niemenslike vorme van die diere om kinders te vermaak. Eers hierna verskyn die eerste gedigte oor die monsters of unheimliche figure, wat ’n anonieme resensent genoop het om te sê dat Krog in dié bundel heeltemal afwyk van “die gewone Afrikaanse kinderpoësie wat normaalweg speels en soetsappig, in ieder geval vertroostend is” (Antjie Krog word hier Antjie Somers, 1985:15). Daar kom dus beide vreesaanjaende en minder vreesaanjaende figure in die bundel voor. My vraag is na die wyse waarop Krog die monsterfigure hanteer binne die groter konteks van die bundel en ek plaas my lesing van die bundel teen die agtergrond van elemente uit dit wat “monster theory” (Cohen 1996) genoem word en genoemde debatte in die kinderliteratuur. ’n Diskussie van Hannetjie de Clerq se tekeninge by die teks val dus buite die bestek van hierdie ondersoek, so ook die resepsie van die bundel deur kinderlesers.

STILET — Jg. XXIII:1 — SEPTEMBER 2011

94

3.2 Monsters wat bangmaak

By nadere beskouing blyk dit dat die bundel ’n aantal gedigte bevat waarin die monsters skynbaar die funksie het om kinders bang te maak om verkeerde of gevaarlike dinge te doen. Die gedig “Tokkelos” (MM 24) verwys na ’n bekende monsterfiguur uit die swart kulture van Suid-Afrika. Die tokkelos word beskryf as ’n harige mannetjie, so klein dat hy net tot by die gemiddelde persoon se knie kom en met ’n geslagsorgaan so lank dat hy dit oor sy skouer dra. Volgens oorlewering kan hy net deur kinders gesien word en is hy ondeund eerder as boos. Wanneer hy egter die vertroueling of gedienstige (‘familiar’) van ’n heks word, gebruik sy hom om haar bose dade uit te voer (Miller, 1979:239). In Krog se gedig word die tokkelos se monsteragtigheid beklemtoon deur die verwysing na sy liggaamlike gestremdheid (die gedig verwys na sy “boggelkop” en sy abnormale kleinheid), sekere dierlike eienskappe (“sy oortjies draai soos ʼn luiperd s’n”) en sy groot geslagsorgaan (die “dik meneer wat oor sy skouer tros”). Dit blyk ook uit die gedig dat die tokkelos rondsluip op die rand van die samelewing: hy beweeg “padlangs”, “hurk in die vaal taaibos”, draf skuil-skuil deur die mielieland en bevind hom in die veld. Alhoewel ’n kinderleser waarskynlik nie die seksuele innuendo in die gedig sou snap nie, is dit duidelik dat die volwasse spreker in die gedig kinders probeer waarsku teen die onbekende en dit wat in die randgebiede lê deur hulle bang te maak vir die tokkelos:

hy kom skaars by jou middellyf gebukkend soek sy neus jou spoor

kry hy dit in die veld of pad nooit sal hy dit weer verloor

Die gedig oor “Die heks met die aërosolkan” (MM 26) bevat die gebruiklike beskrywing van die gruwelike bestanddele van die hekse-toorgoed wat hierdie heks in haar “hol swart pot” brou en in aërosolkannetjies bêre sodat sy dit in jou oë kan spuit:

dis slang se vel en bobbejaan se naels spinnekopsnot en kakkerlak likkewaansplitstong en miskruierspoeg kankerroos en oorkruiperbloed vlermuismis en duwweltjies brommersuiers en wurmslym hondepisbos en muishondklier met seekatbek en paddaploeppap drie dae lank met ’n mes gekap drie dae lank oor ’n vuur gekook

as jy daar verbydwaal is daar perde!

Monsters vir kinders en volwassenes

95

sy sak op jou toe sy kras soos ’n kraai sy klap haar tande kliks-klaks soos ’n haai spuit toorgoed in jou oë terwyl sy die toorwoorde kraai

Die impak van die gedig vir die kind wat daarna luister, lê waarskynlik in die kombinasie van verskillende faktore: die vrees gewek deur die feit dat die heks jou kan “toor”, die (genoeglike) walging vir die afstootlikheid van die toorgoed-bestanddele en die komiese effek van die oordrewe beskrywings. Hierdie effekte word ondersteun deur die fokus op die abjekte (snot, spoeg, bloed, slym, klier, paddaploeppap) en deur die ligte suggestie van grens-oorskrydende taalgebruik in sekere woorddele (kakkerlak, hondepisbos). Verder word die heks in die taal van die gedig ’n monsteragtige hibried gemaak: sy is tegelyk soos ’n kraai en ’n haai. Alhoewel dit gedoen word op ’n ligte, speelse toon is daar tog ’n poging om vrees te wek sodat kinders hulleself nie blootstel deur weg te dwaal na onveilige plekke nie.

Ook die “Antjie Somers”-gedig (MM 28) het die funksie om kinders bang te maak sodat hulle nie oortree nie. Antjie Somers word self in die gedig aan die woord gestel om kinders te waarsku:

want ek is Antjie Somers wat stoute kinders vang die’s wat nie wil slaap nie en die’s wat stoutigheid beplan

Dit word aangevul met die dreigement dat stout kinders in ʼn sak gestop en toegesluit sal word op ʼn plek “waar niemand ooit ʼn voetspoor trap”. Die skrikwaarde van hierdie monsterfiguur lê onder andere daarin dat dit manlike sowel as vroulike trekke het (vergelyk grobbelaar, 1974:197-199; Miller, 1979:60) en dat selfs volwassenes flou word van skrik by die aanskoue van Antjie Somers.

gesamentlik demonstreer die tokkelos, die heks en Antjie Somers ’n hele aantal van die eienskappe wat normaalweg aan monsters toegeskryf word: hulle is liggaamlik afwykend, hibridies en moeilik kategoriseerbaar, word geassosieer met abjekte dinge en beweeg in verbode randgebiede of plekke waar niemand ooit kom nie. Veral uit laasgenoemde blyk dit dat hulle ’n domein bewoon wat ’n bedreiging is vir die sosiale orde waarby die kind tydens die proses van volwasse-wording ingelyf moet word. Indien die monster-gegewe psigoanalities geïnterpreteer word, soos wat gilmore (2003:12) dit doen, is die kind hiermee in die gevaarlike domein van die Freudiaanse id waarteen die ouer as verteenwoordiger van die superego die kind probeer beskerm. Die tokkelos met sy groot geslagsorgaan sou binne so ’n interpretasie kon sinspeel op die gevaar van ongetemde libidinale energie, die heks op ’n onaanvaarbare oorskryding

STILET — Jg. XXIII:1 — SEPTEMBER 2011

96

van die grens tussen die natuurlike en die bonatuurlike en Antjie Somers dalk op probleme met die artikulering van geslagsidentiteit. Alhoewel ’n mens nie die balans tussen speelsheid en vreesaanjaendheid in hierdie betrokke verse moet mislees nie, sou ’n mens tog kon beweer dat die monsterfiguur in hierdie gevalle die funksie het om die kind te waarsku teen die gevaar van wegdwaal van die voorskrifte gestel deur volwassenes wat die sosiale orde in stand moet hou.

3.3 Beswering van die vrees vir monsters

Die bundel bevat egter ook gedigte waarin die kind se vrees vir monsters besweer of geneutraliseer word. Dat ouers wel die vermoë het om kinders te beskerm teen die vreesaanjaende word gesuggereer in die kort gedig “Ek is bang” (MM 30) waarin die kind haar vrees vir ’n man onder die bed en ’n skerpioen in haar skoen verdryf deur in die nag by haar ma en pa in die bed te gaan klim. Twee ander gedigte wat demonstreer hoedat die kind se vrees vir monsters onder beheer gebring word, is dié wat handel oor die reus en die mensvreter. In “Die reus” (MM 40) gril die kinderspreker in die gedig vir die afstootlike enormiteit van die slapende reus (“ons kyk bang-bang op van sy grasbesemsnor/in harige grotte waarin/voorwerpe klont”). In hierdie geval word die vreesaanjaendheid van die reus egter geneutraliseer wanneer die kind se onderwyseres hom in die laaste strofe van die gedig wek uit sy dagdroom en dit blyk dat die gebeure in sy verbeeldingswêreld afgespeel het.

Ongeveer dieselfde strategie word gevolg in “Mankepank die mensvreter” (MM 46) wat ook in die titel en motto van die bundel voorkom. Die mensvreter se naam suggereer reeds sy afwykendheid en misvormdheid: hy is “mank” omdat sy arm uit sy nek groei en sy been uit sy maag sodat hy “een been een been” moet hop. Hy het ook ander vreesaanjaende trekke: hy is ʼn eenoog, hy het ʼn tong waarmee hy bakstene uit sement kan vreet en naels waarmee hy teen deure krap. Die gedigrefrein beklemtoon ondubbelsinnig dat hy juis kinders seermaak: “ek vreet kinders/kort en lank/opgetjop op ’n groot broodplank”. Dit is duidelik uit die gedig dat hierdie monster veronderstel is om kinders bang te maak om daardie dinge te doen wat gevaarlik is of wat vir grootmense werk skep: volgens die gedig vreet hy kinders wat in die wilgerbome langs die spruit klim of in die nat kleigrond by die spruit speel. Die dreiging van die monster word egter gedeeltelik skadeloos gestel deur die raam waarbinne die gedig geplaas word. Die kind wat in die gedig aan die woord is, begin naamlik deur te sê dat dit Janna is wat vertel van die mensvreter wat in die “dik slap modderpapperye” by die spruit bly, terwyl dit in die slot duidelik is dat hy snap waarom die storie vertel word:

ag ou Janna jok ek weet dit al hy sê dit net

Monsters vir kinders en volwassenes

97

dat ons nie in die spruit moet speel en dalk in die water val.

Dit is opvallend dat die bundel begin en eindig met tekste waarin die mag van die monster in ’n sekere sin geneutraliseer is sodat die uiteindelike indruk wat by die kind oorbly nie dié van vrees is nie.

3.4 Die monster as/in die kind

Hiernaas staan daar egter ook gedigte in die bundel waarin die monster by wyse van spreke nié getem of gesubordineer is nie. Een van die gedigte waarin daar ’n subversiewe verband tussen monster en kind gelê word, is “Die krokodilkind” (MM 20) wat vertel hoe gemaklik die kind Masimodi met die krokodil omgaan:

wie is die kind met haar arm om die krokodil wat van sy wrede tande stukkies vleis en doppies skil

kyk hoe swem sy saam met hom draai sy spoel sy om sy bek skrop hy op die oewer uit slaap sy saam by die stil skepplek

roerloos sit sy op die klip - hy dryf nader aan ’n bokkie … sy kake knak dit in ’n tandewip stert-knal hy die water: my liefste liefste Masimodi

Dit blyk uit die gedig dat die gevaarlike krokodil heeltemal onder die beheer en in die ban van die kind is. Alhoewel die gedig op die oog af gebou is op die bekende patroon van die onskuldige, maagdelike meisie wat ’n wilde dier kan beheer8, sou ’n mens albei die krokodil en die kind as voorbeelde van monsterfigure kon lees: die krokodil as mensvreter en die kind as ’n soort heks omdat die krokodil binne verskillende Afrika-kulture as ’n bondgenoot of gedienstige van die heks gesien word (vergelyk Miller, 1979:260, 264). Binne die skema wat Stallcup suggereer, sou ’n mens hierdie gedig as ondermynend van die konvensionele patroon waarin die volwassene die beskermer van die kind is, kon lees: die kind is hier in beheer van die monster óf is self ’n monster omdat sy die krokodil in haar mag het. Die volwassene is slegs ter sprake in dié opsig dat sy as spreker in die gedig die vraag stel waarmee die gedig begin en dan beskryf wat sy sien. In die tekening wat die gedig vergesel, word die meisie Masimodi as melankolies uitgebeeld en oorskadu sy byna heeltemal die krokodil wat sy in haar arms hou. Verder is die wreedheid en gevaarlikheid van die krokodil weggestileer in die tekening deurdat sy liggaam voorgestel word as heel en glad, sonder die knobbels, uitsteeksels en onaardige oneweredighede wat sy afstootlikheid sou kon beklemtoon. Dit herinner aan

STILET — Jg. XXIII:1 — SEPTEMBER 2011

98

Alison Lurie (1990:20-21) se opmerkings oor die wyse waarop Perrault en die broers grimm se sprokies veral in die negentiende eeu herskryf is om aan te pas by Victoriaanse opvattings en dat die impak van die gruwelike stories versag is deur illustrasies, “either artificially cute in comic book style or sentimentally vague, muting the strong impact of events and characters”. Dit is my indruk dat die De Clerq-tekening by hierdie gedig die subversiewe element en seksuele suggesties in die gedig neutraliseer eerder as beklemtoon9.

Ook die gedig “Mbulu” (MM 22), wat inspeel op ’n karakter uit die Xhosa-folklore, vertoon hierdie subversiewe element. Die mbulu kan enige vorm aanneem, maar het twee onderskeidende kenmerke: ʼn lang stert wat graag melk drink en ’n onvermoë om die waarheid te vertel (vergelyk Miller, 1979:103; Jordan, 2004:153-175). Krog se gedig lui soos volg:

Mbulu Mbulu waar is jy? hier by jou ek loer ek lek ek vlei ek is altyd dáár waar jy die lekkerste kry

Mbulu Mbulu wat maak jy? ek wil jou toor tot ʼn Mbulugees ek wil jou saamvat na die Mbulufees

Mbulu Mbulu wat gebeur daar met my? die Mbulu’s sal jou dans jou toor jou baklei as hulle sterte jou lyf soos ʼn beesvel brei

Mbulu Mbulu hoe lyk jy? nou soos ʼn padda dan soos ʼn slang nou soos skrik dan soos bang

net aan my stert wat bulk soos ʼn bees net daaraan sal jy weet dat dit ek moet wees

Die gedig neem die vorm aan van ’n vraag-en-antwoord-gesprek tussen ’n kind en die mbulu, sonder dat daar sprake is van ’n volwasse teenwoordigheid. Die monsteragtige van die Mbulu, soos voorgestel in hierdie gedig, lê in verskillende eienskappe: die wyse waarop hy homself insinueer tot in die intiemste ruimtes van die kind wat die vrae stel (vergelyk die suggestiewe moontlikhede van die reël “dáár waar jy die lekkerste kry”), die feit dat hy die kind wil “toor” en verander in ʼn Mbulu, die suggestie van kastyding (die kind se lyf sal gebrei word deur die Mbulu’s se sterte), die feit dat die Mbulu van vorm kan verander (“nou soos ’n padda dan soos ’n slang / nou soos skrik dan soos bang”) en dat dit ʼn stert het wat ʼn geluid kan voortbring. Die belangrikste eienskappe van die Mbulu, soos voorgestel in hierdie gedig, is dus sy vormloosheid, veranderlikheid en die vermoë om sy slagoffer te “toor”. Hierdie gedig neutraliseer op geen punt die vrees wat die monster opwek nie en kom dus naby aan die werklike angs wat ʼn monster kan opwek, omdat daar geen volwassene intree om die kind te beskerm nie of aan te

Monsters vir kinders en volwassenes

99

dui dat die mbulu nie werklik bestaan nie. Die suggestie is dat die kind in hierdie gedig op hom- of haarself aangewese is en self die probleem sal moet oplos sonder die hulp van volwassenes. Daar is selfs ’n suggestie dat hierdie monster binne die kind self skuil (hy is daar waar die kind “die lekkerste kry”). Ook hierdie gedig kan gelees word as een wat ’n subversiewe siening gee van die monster as deel van die kind, iets wat selfs die volwassene kan beangs.

Ten slotte word die bundel as geheel egter “geraam” deur die minder vreesaanjaende gedigte: dit begin met die gedigte oor feetjies en eindig met die “Mankepank”-gedig waarin die kind besef dat die mensvreter eintlik net ’n bangmaakstorie is. Indien die uitgangspunt is dat die kinderboekskrywer verantwoordelik moet optree, sou ’n mens kon sê dat Mankepank en ander monsters ’n didakties verantwoordelike bundel is wat kinders die grillerige plesier verskaf van ’n kennismaking met monsters, maar dit doen binne ’n konteks waarin hulle kan reken op die beskerming van volwassenes. Verder word Afrikaanssprekende kinders ook blootgestel aan gegewens uit ander Suid-Afrikaanse kulture as hulle eie en is daar nie sprake van seksismes, rassismes of klassismes nie. Die voorstelling van die monsters in die bundel as geheel beweeg egter nie – soos wat Stallcup (2002) voorstaan – buite die bekende norme waarin die volwassene gesien word as die meerdere en beskermer van die kind wat laasgenoemde tot volwassenheid moet lei nie. Slegs in enkele gedigte skemer daar iets deur van ’n meer radikale opvatting in verband met die kind se vermoë om self ’n monster te wees of monsters te hanteer.

4. Jerusalemgangers: monsters vir volwassenesSoos reeds gesê, word sekere van die monsterfigure uit Krog se bundel kinderverse “oorgedra” na die bundel vir volwassenes wat in dieselfde jaar verskyn het, naamlik die reus, die heks, die tokkelos en die mensvreter. Dit blyk gou dat daar naas hierdie kontinuïteit tussen die twee bundels ook beduidende verskuiwings is in die wyse waarop die monster in Jerusalemgangers hanteer word. In teenstelling met die bundel kinderverse waarin die monster veral verteenwoordigend is van die gevaarlike, vreesaanjaende en afwykende wat buite die grense van sosiaal aanvaarbare optrede lê, funksioneer die monsters in Jerusalemgangers byna deurgaans as voorbeelde van die wyse waarop die verskillende groepe binne die Suid-Afrikaanse geskiedenis die andersheid van diegene wat van hulle verskil ten opsigte van ras of geslag beklemtoon het deur van hulle monsters te maak. Hier geld dus wat Cohen (1996:7) soos volg beskryf het: “Any kind of alterity can be inscribed across (constructed through) the monstrous body, but for the most part monstrous difference tends to be cultural, political, racial, economical, sexual. The exaggeration of cultural difference into monstrous aberration is familiar

STILET — Jg. XXIII:1 — SEPTEMBER 2011

100

enough.” Die bundel verskyn in die middel van die tagtigerjare toe rassekonflik en die polarisering tussen wit en swart besonder skerp was. Dit is dus nie vreemd dat Krog se gedigte kommentaar lewer op die neiging van die verskillende groepe in Suid-Afrika om die rasse-, gender- en kulturele verskille tussen hulle uit te druk deur van die ander ’n monster te maak nie. Die gedigte in Jerusalemgangers verteenwoordig trouens ’n komplekse deelname aan en reaksie op hierdie proses van “monstering the other” (vergelyk Shildrick 2002:28-47).

4.1 Verskillende monsters as beeld van die politieke ander

Die bundel begin met die gedig “canto” (Jg 7-8) wat gebaseer is op strofe 37 tot 61 uit die vyfde kanto van die Portugese digter Camões se gedig Os Lusíadas (1572) waarin hy die legende van Adamastor betrek by sy epiese gedig oor die Portugese seevaarders. Adamastor is in die griekse mitologie een van die reuseseuns uit die huwelik van Titaan en die Aarde wat in opstand gekom het teen die gode. Die verhaal lui dat hy verlief geraak het op die seenimf Thetis wat hom verwerp het vanweë sy monsteragtige en afskuwelike voorkoms. Vanweë sy rebellie teen die gode en sy ongeoorloofde liefde vir Thetis word hy verander in ’n ruwe bergrots aan die suidpunt van Afrika omring deur die see. Camões stel Adamastor voor as ’n misvormde en bebaarde figuur met ’n bose en dreigende gesigsuitdrukking, hare vol modder en ’n mond vol vergeelde tande wat vir Vasco da gama aanspreek wanneer hy om die Kaap vaar (Ferreira, 2008:19).

In Krog se gedig word hierdie reus voorgestel as byna jammerlik in sy begeerte na Thetis, vir wie hy eintlik wil liefhê eerder as wat hy haar wil oormeester. Die gedig lê in die verskillende beskrywings van Adamastor klem op monsteragtige eienskappe soos sy reusagtige grootte (“wolkvormige reus”, “my hoë loodregte kop”), sy gevaarlikheid (“swart/pistool”), sy groteskheid (“drywende groteske hart”10), sy oneweredigheid (“bulterige handkolos”), sy onverstaanbare spraak (“’n bar babbelende berg”, “die tong ’n verwaande kliptang”) en sy misvormdheid (“my bors misvorm”). Hierteenoor word Thetis in die gedig voorgehou as ’n voorbeeld van konvensionele skoonheid in frases soos die volgende: “sneeuwit Thetis nimf”, “haar fyn enkel in sy palm”, “goue karteltrae hare” en “spoggerige bruid” met “skatte-oë”. Die teenstelling tussen monsteragtigheid en skoonheid word aangevul met die teenstelling tussen die swart Adamastor (“swart/pistool”, “klei my vel kroes/en grys onder die son my koolswart pupille”) en die sneeuwit Thetis met haar blonde hare. Die gedig vertel verder hoedat Adamastor se toenadering tot Thetis bespot en verwerp word.

Die historiese konteks waarbinne die bundel verskyn het, maak dit vir die leser moontlik om hierdie verwerking van die Adamastor-legende en die beskrywing van sy verwerping deur Thetis te lees as ’n politieke gedig wat sinspeel op swart Afrika

Monsters vir kinders en volwassenes

101

se verhouding met wit Europese setlaars. Alhoewel ’n mens sou kon redeneer dat komplekse historiese omstandighede hier in ’n nogal eenlynige binêre opposisie (swart reus teenoor wit nimf, swart Afrika teenoor wit Europa) gegiet word, is dit waarskynlik toe te skryf aan die erg gepolariseerde politiek van die middel tagtigerjare. Dit is opvallend dat die gedig Adamastor se ruwe monsteragtigheid beklemtoon, maar ook sy gulheid, sy verwondering oor Thetis en sy behoefte aan die belofte van “’n wolk ’n droom ’n gety/van wit en git in my skoot om te leef/waar niemand haan oor dít wat ek veld of beskut”. Laasgenoemde lyk na ’n droom oor die vreedsame naasbestaan van wit en swart op die kontinent Afrika waar die een nie die ander sal domineer nie. Volgens die beskrywing van die laaste twee strofes is die seenimf Thetis se reaksie hierop om gewoon voort te gaan om die landmassa Adamastor af te takel en te bespot:

klip op klip my kakebeen verpulp jy voor jou deurskynende oë klei my vel kroes en grys onder son my koolswart pupille steun my bene word kalkrif op kalkrif verwoes heupe en dye eens reusagtig gespier krummel druisend weg in halige wier

my bors misvorm my hoë loodregte kop bespot jy laggend o spoggerige bruid vlakwaterjolighede jou skatte-oë word in die kontinent as waarheid geklos op ’n dag sal jy soek geliefde koesterende huid vind jy : Adamastor-rots

Die gedig eindig dus met ’n waarskuwing dat Thetis ’n verharde Adamastor sal vind wanneer sy uiteindelik toenadering soek. Die suggestie is, dat wanneer die afstammelinge van wit Europeërs in Suid-Afrika uiteindelik toenadering gaan soek tot swart Suid-Afrikaners na die jare van verwerping en bespotting, hulle ’n onversetlikheid sal vind. Die waarskuwende noot aan die einde van die gedig sluit aan by die res van die bundel waarin daar herhaaldelik waarskuwings gerig word in verband met ’n komende revolusie waarin swartmense in opstand sal kom teen hulle onderdrukking. Die spreker in hierdie gedig (wat ook vir Adamastor laat praat) toon dus hoedat die eienskappe van die monster geprojekteer word op die swartmense van Suid-Afrika as die gevreesde en geminagte ander van die wit afstammelinge van Europeërs. Hierteenoor teken die gedig ’n simpatieke beeld van die reus wat eintlik toenadering soek tot dié een wat hom verwerp.

Naas die reus neem die bundel Jerusalemgangers ook die figuur van die mensvreter oor uit Mankepank en ander monsters. Dit lyk asof die kort versie “mensvreter” (Jg 16) as ‘t ware gedistilleer is uit die beskrywing van die mensvreter in “Mankepank die mensvreter” (MM 46):

STILET — Jg. XXIII:1 — SEPTEMBER 2011

102

uit sy nek groei ’n arm uit sy maag ’n enkel been op sy rug prul sy regverdige gesig

Die effek van hierdie gedig berus op die kontradiksie tussen die monsteragtige liggaam en die gesig wat oënskynlik normaal is, omdat dit beskryf word as “regverdig”. Binne die sosio-politieke konteks waarin die bundel Jerusalemgangers funksioneer, sou hierdie “mensvreter” iemand kon wees wat ander mense “vreet” (benadeel, onderdruk, uitbuit), maar desnieteenstaande die skyn van regverdigheid voorhou, ’n beeld wat ’n wye verskeidenheid van toepassingsmoontlikhede binne die politiek van die tagtigerjare sou kon hê. Die spreker se gevoel van verontwaardiging oor hierdie vroom en selfregverdigende mensvreter blyk uit die gebruik van die woord “prul” (vergelyk die assosiasies van die “prul”, nuttelose of waardelose ding, en die suggestie van iets wat “pruil” oftewel dikmond is). Die spreker in die gedig se negatiewe gevoel oor hierdie soort persoon manifesteer dus in die strategie van “vermonstering”: die selfregverdigende uitbuiter van ander word binne die metaforiek van die gedig misvorm tot ’n liederlike monster by wie daar ’n arm uit die nek en ’n been uit die maag groei.

Die tokkelos is nog ’n monsterfiguur wat in beide Mankepank en ander monsters en Jerusalemgangers voorkom. In teenstelling met die voorstelling van die swartmens as monster in “canto”, is dit witmense wat in die gedig “gesegdes” (Jg 17) as monsters uitgebeeld word:

die bier is gebrou die nag is koud sluit die deur teen spoke teen geeste van die nag die luiperd hoes in die klipskeur hy is alleen en hongerig ons hierbinne is warm en geselserig

in die broeikaskamer lê wit vrouens sag babas in kantige eiers van glas

beplan nooit strategie by ’n telefoonpaal in die wit kloste hurk tokkeloste wat alles aan Petoli vertel

hier is ons gebore maar word gebruik as blote metafore

Die spreker in hierdie gedig is klaarblyklik ’n landelike swart persoon wat beskryf hoedat hulle veilig en geborge teen allerhande bedreigings in hulle

Monsters vir kinders en volwassenes

103

woning sit en “gesegdes” uitruil oor die witmense. Die tweede strofe vertel byvoorbeeld ’n storie van wit vrouens wat hulle “babas [lê] in kantige eiers van glas” (’n verwysing na babas in broeikaste, vergelyk hieroor Mutwa 1965:xvii). Die derde strofe maak die tokkelos deel van die wit wêreld wat spioeneer op die swartmense waarvan die spreker een is. In hierdie strofe word daar verwys na die storie of “gesegde” dat daar tokkeloste skuil in die porselein-isolators wat vroeër gebruik is om telefoondrade te gelei (“wit kloste”) en dat hulle enigiets wat in die omgewing van die telefoonpaal gesê word, oorvertel aan Petoli (’n verwysing na Pretoria en dus die setel van die regering). Die apartheidstaat word dus in die rol van heks of towenaar geplaas wat die normaalweg skadelose tokkelos gebruik vir sy of haar bose doeleindes (vergelyk Miller, 1979:239), in hierdie geval om die planne van die spreker en sy mense af te luister. Hierdie gedig toon dat daar ook by die swart gemeenskap die neiging bestaan om die wit ander tot monster te verklaar.

Die gedig se slotstrofe fokus op die neiging om die onbekende ander te probeer vasvang in “gesegdes” (’n spreekwoordelike uitdrukking wat ’n algemene opvatting oor iets of iemand verteenwoordig) of metafore. Die “ons” in die slotstrofe van die gedig mag verwys na swartmense (hier verteenwoordig deur die ek wat in die gedig praat) wat voel dat hulle nie as mense gesien word nie; dit kan egter ook verwys na die witmense oor wie daar in die gedig gepraat word en wat gereduseer word tot (metaforiese) monsters vanweë die onbegrip wat daar oor hulle bestaan. In die geheel gesien lewer die gedig dus kommentaar op die feit dat wedersydse onbegrip tussen mense daartoe kan lei dat hulle mekaar teken as monsters, of dit nou vroue is wat glaseiers lê of tokkeloste.

4.2 Die heks as beeld van die ander

’n Ander soort monster wat in beide die kinderverse en die bundel vir volwassenes verskyn, is die heks. Barbara Creed (1993:75) skryf in haar werk oor The monstrous feminine dat hekse histories en mitologies afsku sowel as bewondering gewek het vanweë hulle vermeende bonatuurlike vermoëns. Enersyds kon hulle ’n positiewe rol vervul as helers en sjamaans, maar andersyds is hulle gevrees omdat daar gedink is dat hulle die dood kan veroorsaak met hulle bose towerspreuke en vervloekings. In moderne gruwelfilms word die heks meestal uitgebeeld as ’n monsteragtige figuur met bonatuurlike magte en ’n sug na die bose. Die heks speel ook ’n prominente rol binne die inheemse kulture van Suid-Afrika waar daar onder andere geglo word dat sy verantwoordelik is vir allerhande soorte rampe en katastrofes. Krokodille, hiënas, bobbejane en miervreters is haar bondgenote en sy sal wraak neem op enigeen wat hulle benadeel. Een van haar mees afskuwelike en bose eienskappe is dat sy mensvleis eet wat sy vind deur grafte op te grawe (Miller, 1979:260-261). In hierdie opsig maak sy dus ondubbelsinnig deel uit van

STILET — Jg. XXIII:1 — SEPTEMBER 2011

104

die monster-gemeenskap wat volgens gilmore (2003:180-185) deur kannibalisme gekenmerk word .

Die hantering van die heks as monsteragtige ander neem interessante en komplekse vorme aan in Jerusalemgangers. Die heks figureer in die gedig “Ntombazi” (Jg 9-10) en word op verskillende plekke in die veertiendelige siklus “ons dorp” (Jg 18-34) genoem. Eersgenoemde gedig verwys na ’n vrouefiguur uit die Zoeloe-geskiedenis en lewer kommentaar op die wyse waarop vroue binne ’n patriargale kultuur tot monster verklaar word. Ntombazi was die moeder van Zwide, hoof van die Ndwandwe-stam, wat verantwoordelik was vir die dood van Tsjaka se bondgenoot Dingiswayo. Alhoewel Zwide daarin geslaag het om Tsjaka op sy vergeldingstog te ontvlug, is sy moeder, Ntombazi, deur Tsjaka verhoor en daarna saam met ’n hiëna in ’n hut opgesluit . Eers nadat die hiëna begin het om haar te verskeur, het Tsjaka gehoor gegee aan haar oproepe dat die hut aan die brand gesteek moet word. Krog se gedig is kennelik ’n verwerking van oorvertellings van Ntombazi se verhoor deur Tsjaka in bronne soos A.E. Ritter se History of Shaka. The Rise of the Zulu Empire (vergelyk Ritter, 1957:184-194) en O.K. Osei se Shaka the Great (vergelyk Osei, 2001:42-45). Die gedig noem onder andere die volgende elemente wat in Ritter se boek voorkom: die verwysing na “Ntombazi-lewer” wat ’n toespeling is op Tsjaka se uitspraak dat Ntombazi “’n lewer” (moed) het (Ritter, 1957:191), die “trosse manskedels” wat Ntombazi in haar hut gehad het (Ritter, 1957:184-185), die verloop van Ntombazi se stryd teen die hiëna wat eers ’n deel van haar voet en dan haar dybeen afbyt (Ritter 1957:189-193) en haar laaste versoek aan Tsjaka dat hy die hut moet afbrand sodat sy saam met die hiëna in die vuur kan sterf (Ritter, 1957:193-194).

Ntombazi se vermeende heksagtigheid tree eers werklik na vore wanneer ’n mens Krog se gedig saam met haar historiese bronne lees. Die gedig verwys na die “trosse manskedels” in Ntombazi se hut waaronder dié van Tontu, Mashoebak en Dingiswayo (strofe 3). Ritter (1957:184-185) skryf dat Tsjaka tydens haar verhoor die name van meer as dertig hoofmanne11 genoem het wie se skedels in haar hut opgehang was en gesê het dat dit slegs ’n heks is wat so iets sou doen; Ntombazi se verduideliking was dat sy dit gedoen het om die mag van dié betrokke hoofmanne te bekom net soos wat Tsjaka ook mag wil hê12. Ritter (1957:186) skryf dat Tsjaka aan haar gevra het of dit waar is dat hekse van hiënas as mediums gebruik maak, waarop sy bevestigend geantwoord het13 en dat hy haar daarna saam met die hiëna laat toesluit het. Die situasie wat in Krog se gedig beskryf word, is dus gebaseer op Tsjaka se berekende voorstelling van Ntombazi as ’n heks wat hy geregverdig is om uit te wis. Hierteenoor lê Ritter se beskrywing klem op die feit dat Ntombazi ’n mens – weliswaar wreed en meedoënloos – en nie ’n heks was nie. In aansluiting by Ritter se beskrywing van haar dapperheid,

Monsters vir kinders en volwassenes

105

lê die laaste twee strofes van Krog se gedig ook klem op Ntombazi se moed en doodsveragtende optrede:

[…] sy swets hom tot omdraai swamp die hut met vuur kgotso! – ek

en my vyand ten laaste sáám in die vrekvuur – o kyk hy is fokkerend van vrees

Die hiëna is ten slotte “fokkerend van vrees” terwyl sy slegs daarop ingestel is om hom saam met haar te laat sterf. Die gedig lê klem daarop dat Ntombazi ’n sterk en onverskrokke mens is ten spyte van die feit dat haar manlike teenstanders haar as ’n heks beskou, omdat sy dieselfde magslus as hulle het. Hierdie lesing van die gedig, wat slegs moontlik is deur die byhaal van die historiese bronne waarop dit gebaseer is, bring ’n verdere faset na vore van Krog se gevarieerde voorstelling van die vrou as monster14. In hierdie geval lyk dit asof Krog die geskiedenis van Ntombazi vertel om aan te dui hoedat die vrou wat soos ’n man optree binne bepaalde kontekste (in hierdie geval die Zoeloe-kultuur van twee eeue gelede) tot heks verklaar word om van haar ontslae te raak. Cohen (1996:9) verwys ook daarna dat die vrou wat buite die grens van die voorgeskrewe geslagsrolle tree die gevaar loop om as monster gesien te word: “The woman who oversteps the boundaries of her gender role risks becoming a Scylla, Weird Sister, Lilith (‘die erste Eva,’ ‘la mère obscure’), Bertha Mason, or gorgon.” getrou aan haar strategie om inheemse geskiedenisse en kulture in haar werk te integreer, gee Krog ’n lokale kleur aan hierdie proses van “vermonstering” deur die verwysing na die historiese figuur Ntombazi. Sy gebruik dus die monster om in haar bundel kommentaar te lewer op die politiek van ras én van geslag.

Die heks kom ook voor in die veertiendelige siklus “ons dorp” waarin die wit bevolking van ’n plattelandse dorp geteken word in ’n tyd waarin politieke onrus besig is om toe te neem, iets wat korreleer met die historiese konteks waarin die bundel verskyn het. Die heks is ’n implisiete teenwoordigheid in die slotgedig van die siklus waarin daar beskryf word hoedat die gemaklike lewens van die wit dorpenaars en boere berus op die arbeid van swartmense. Die gedig word afgesluit met ’n onheilspellende verwysing na die heks in die sprokie van Hansie en grietjie:

wielie wielie ons dorp se walies die vingers deur die tralies is wit en vet en bloot buite die lekkergoedhuis word waaragtig vuur gestook.

STILET — Jg. XXIII:1 — SEPTEMBER 2011

106

Hieruit blyk dit duidelik dat die aanbieder van die siklus meen dat die bevoorregte witmense in lekkergoedhuise bly en dat daar buite hulle veilig omheinde leefwyse ’n monster, in hierdie geval die heks van die Hansie-en-grietjie-sprokie, wag om hulle te vernietig15. Die verwysing na “vuur” wat deur die bundel sirkuleer, word duidelik hier van toepassing gemaak op die moontlikheid van politieke opstand en revolusie. Bogenoemde slotgedig voltooi op sikliese wyse die voorgevoel wat in die eerste gedig in die siklus uitgebeeld is. Daarin word die uitleg van “ons dorp” (Jg 18) beskryf, veral met verwysing na die afsonderlike begraafplase vir witmense en swartmense. Hierdie gedig sluit net soos die slotgedig in die siklus op byna didaktiese wyse af met die waarskuwing dat die tyd besig is om uit te loop vir die apartheidsdorp:

ondergronds broei die uitgeweke burgers burgeresse van ons dorp. elk se metergesig smok agter glas die rewolusionêre wete: tyd verstreke

Die hantering van die heks in gedig III van die siklus (Jg 20-21) waarin die verhaal van “die mooi vrou van die goeie man” vertel word, is veel meer kompleks en ambivalent as hierbo. Hierdie vrou word in ’n refreinstrofe geteken as afgetrokke, anoreksies en seksueel koud, iemand wat haar onttrek het van die gebruiklike lewensgenietinge en menslike verkeer:

die mooi vrou van die goeie man sit afwesig teenoor hom in haar bord lê twee ryskorrels met haar vingernael skuif sy dit rond

Die laaste deel van die gedig beskryf hoedat haar man moet toesien dat sy na middernag verander in ’n monster. Die gedrag wat hier beskryf word, strook met sommige inheemse kulture se opvatting dat hekse in die nag rondbeweeg en dat hulle lyke uit grafte eet:

hy volg haar sleepsels langs donker strate en hondgeblaf by die begraafplaas gly sy in: grawe grond van die naaste graf

om die bo-lyf uit te haal raap met naels verrotte vleis verslind dit stuk vir stuk soos pap die skedel lek sy kaal

Die hantering van die heksfiguur in hierdie siklus word sterk beïnvloed deur die ambivalente posisie wat die aanbieder van hierdie siklus (wat ek voorts die digter16 sal noem) in die siklus as ’n geheel inneem. Die digter neem die dorp waar vanuit die perspektief van iemand wat deel is van die wit gemeenskap en aandadig aan wat daar gebeur (vergelyk die herhaalde gebruik van die voornaamwoorde “ons”, ook

Monsters vir kinders en volwassenes

107

in die titel “ons dorp”). Sy stel in sommige van die gedigte sprekers aan die woord wat almal deel uitmaak van die wit gemeenskap (in gedig VII praat ’n vrou oor haar ontroue man en in gedig VIII praat sy minnares). Dit is egter duidelik dat die digter krities staan teenoor die gemeenskap waarvan sy deel is deurdat sy herhaaldelik wys op die politieke verset wat besig is om op te laai teen die wit bevolking.

In die geval van die slotgedig projekteer sy dus die beeld van die heks uit die Hansie-en-grietjie-sprokie op die opstandige swartmense nie soseer uit onbegrip vir die swartmens as onverstaanbare en gevaarlike ander nie, maar om haar eie gemeenskap te waarsku teen die naderende opstand wat sy kennelik dink geregverdig is. In hierdie opsig is daar indirek sprake van die soort strategie wat in die kindergedigte gevolg word: die monster (in hierdie geval die heks) word aangewend om die leser te waarsku teen onaanvaarbare optrede. Die beeld van die monster word egter ook op die bevoorregte wit persoon geprojekteer in die gedig wat handel oor die burgerlike witvrou wat snags ’n nekrofagiese heks word. Die res van die siklus en bundel suggereer dat die digter in hierdie siklus minder simpatiek staan teenoor die anoreksiese witvrou as heks as wat sy is teenoor die revolusionêre gemeenskap.

Ander gedigte in die siklus en bundel openbaar ’n uitgesproke kritiese houding teenoor die bevoorregte witvrou wie se voortdurende diëte eintlik ’n bespotting maak van armes se honger. In die laaste gedig van die “ons dorp”-siklus word daar verwys na die “dorpsmevroue” wat Woensdae tee drink “tot op die sleutelbeen gedieet” (Jg 33). Dieselfde soort vrou word ook in die siklus “haplografie van (ge)dro(o)gte” uitgewys as een van die monsters of gedrogte waaroor dié betrokke siklus handel. Die siklus teken veral die wyse waarop die Afrika-landskap deur die droogte tot gedrog gemaak word, maar fokus in gedig III (Jg 49) op witvroue wat tee-partytjies hou in lommerryke tuine en bedien word deur honger en “benerige” swart kelners terwyl die landskap rondom hulle verdor. Dat hierdie vroue gesien word as “gedrogte” blyk duidelik uit die volgende reëls wat die “fraaivroutjies” van die distrik beskryf: “couture swaai geanorekseerde gat/fumeer halse in pokpêrels getos”. Alhoewel die digter van hierdie verse self deel uitmaak van die wit bevolking, verklaar sy dit wat sy op verskillende vlakke onaanvaarbaar vind (die kilheid, die gebrek aan empatie, die onversadigbaarheid, die misbruik van voorreg) tot gedrog deur sommige van die figure in daardie gemeenskap as monsters of hekse uit te beeld.

5. Die kontinuïteit en verskille tussen die verse vir kinders en volwassenes

Die saamlees van Krog se twee bundels uit 1985 bring dus ’n bepaalde kontinuïteit, maar ook belangrike verskille ten opsigte van hulle hantering van monsters aan

STILET — Jg. XXIII:1 — SEPTEMBER 2011

108

die lig. Dit is duidelik dat die bundel kinderverse ’n spektrum van monsters aan bod stel waaruit die digter dan enkele voorbeelde oorneem in haar bundel vir volwassenes (dit is nou indien ’n mens aanneem dat eersgenoemde geskryf is voor laasgenoemde). Dit blyk uit die lees van Mankepank en ander monsters dat die bundel daarop ingestel is om kinders te vermaak en te leer deur die voorstelling van die verskillende monsters. Kinders word bang gemaak met monsters, maar ook gerusgestel dat daar op volwassenes, veral die ouers, staatgemaak kan word om hulle vrese te bestry (daar word wel in die gedig “Waarskuwing” verwys na ’n volwassene wat gevaarlik kan wees, naamlik die pedofiel). Daar is slegs enkele voorbeelde van gedigte waarin die kind by wyse van spreke alleen gelaat word om die monster (ook in hom- of haarself) te konfronteer, maar dié gevalle word uiteindelik geraam deur die meer gerusstellende voorbeelde van monsterlikheid. Alhoewel daar duidelik pogings is om in die bundel die multikulturele Suid-Afrikaanse konteks op te roep, vind die politiek van die tyd weinig neerslag daarin. John Miles se kinderboek Stanley Bekker en die boikot wat vyf jaar voor Mankepank en ander monsters by dieselfde uitgewer verskyn het, is een van die skaars voorbeelde van ’n Afrikaanse kinderboek waarin die politieke spanning van die tagtigerjare neerslag vind. Krog se volgende bundel kinderverse, Voëls van anderste vere (1991), beweeg wel in hierdie rigting deurdat dit ’n township-kind se ervaring van bepaalde maatskaplike realiteite soos armoede, werkloosheid en politieke bevryding ter sprake bring.

Die hantering van die monster is byna vanselfsprekend veel meer gesofisti-keerd, verwikkeld en polities gemotiveerd in die bundel Jerusalemgangers. In hierdie geval is dit duidelik dat die politieke konteks ’n sterk invloed uitgeoefen het op die konseptualisering en realisering van die bundel as geheel. Die sosio-politieke konteks en die spreker se politieke opvattings word onder andere gemanifesteer in die gedigte waarin monsters figureer. In sekere gedigte word daar getoon hoedat die rasse- of geslags-ander as ’n monster gesien word en word daar implisiet kritiek uitgespreek teen die eenvoudige redusering van ander tot monster of metafoor (“canto”, “gesegdes”, “Ntombazi”). In ander gedigte is daar weer sprake van ’n deelname aan die proses van vermonstering waardeur die aanbieder van die gedig se politieke ander tot monster verklaar. Daar is selfs ligweg sprake van ’n didaktiese element in hierdie politieke gedigte wat spruit uit passievolle oortuiging (“ons dorp”, “haplografie van (ge)dro(o)gte”). Dit wil dus voorkom asof Cohen (1996:4-6) gelyk het wanneer hy skryf dat die monster die beliggaming is van ’n bepaalde kulturele moment, tyd en plek en dat dit veral na vore tree in tye van krisis.

Universiteit van Stellenbosch

Monsters vir kinders en volwassenes

109

AantekeningeWat die bundels vir volwassenes betref, verskyn 1. Lady Anne in 1989 by Taurus, Gedigte 1989-1995 in 1995 by Hond, Kleur kom nooit alleen nie in 2000 by Kwela en Verweerskrif/Body Bereft in 2006 by Umuzi. Sy publiseer ook twee verdere bundels kinderverse: Voëls van anderste vere in 1991 by Buchu Books en Fynbosfeetjies in 2007 by Umuzi.

Tienie du Plessis (2010), wat betrokke was by die produksie van die boek. onthou dat 2. dit ’n goeie verkoper was en dat die reaksie van kinders en hulle ouers baie positief was. Krog (2010) onthou dat sy “enorm” baie terugvoering oor die boek gekry het, dat verskillende van die gedigte opgeneem is in bloemlesings vir skole, dat die gedig “Modjadji” in Engels vertaal is vir ’n skoolboek en dat “Mbulu” getoonset is vir ’n koor. Vir die resensies, vergelyk Hambidge (1985) en “Antjie Krog word hier Antjie Somers” (1985).

Vergelyk Brink (1986:16), Hambidge (1986:34), Nienaber-Luitingh (1986:9) en Olivier 3. (1986:15). Cloete (1986:10) is die enigste resensent wat negatief is oor die bundel en daarin ’n verstegniese agteruitgang sien. Vergelyk ook gouws (1998:557-558) oor die reaksie op die bundel.

Bladsyverwysings na die twee tekste van Krog sal met die volgende letters gevolg 4. deur die bladsynommer aangedui word: Mankepank en ander monsters MM; Jerusalemgangers Jg.

Vergelyk 5. Oxford English dictionary online (2008: s.v. “monster”) en WAT (1996: s.v “monster”).

Ek maak hier gebruik van die werk van Frank Cawson (1995:1), Margrit Shildrick 6. (2002:12-27) en David D. gilmore (2003:6-10).

Vergelyk hieroor Alison Lurie se studie 7. Don’t tell the grown-ups. Subversive children’s literature (1990).

’n Mens dink hier byna onwillekeurig aan die verhaal van die maagd en die eenhoring 8. met sy rykdom van assosiasies.

Volgens Krog (2010) was dit vir haar teleurstellend dat “die kleur van die sprekers en 9. die verskillende agtergronde uitgewis is deur die Oos-Russiese soort gesigte”. Tienie du Plessis (2010) onthou enkele besware dat die tekeninge te “eurosentries” sou wees, maar voel dat dié soort beswaar nie geregverdig was nie.

Die beelde van die “swart pistool” en die “groteske drywende hart” is waarskynlik 10. toespelings op die vorm van die Afrika-kontinent.

Ritter (1957:184-185) sê dat Tsjaka aanvanklik die name van Donda, Mashobane en 11. Dingiswayo verswyg het. Krog noem in haar gedig dieselfde name (alhoewel twee van hulle anders gespel word): Tontu, Mashoebak en Dingiswayo. Dit versterk die indruk dat sy Ritter se boek oor Tsjaka as bron gebruik het.

Vergelyk die volgende passasie uit Ritter (1957:185) se weergawe van die gesprek 12. tussen Tsjaka en Ntombazi (dit word byna woordeliks herhaal deur Osei 2001:42): ‘Why did you cut off those heads and mount them in your hut? It is an abomination according to all true Nguni customs. Only those who practice witchcraft resort to that.’ ‘I did it to gain the power of all those chiefs. If a chief is above the ordinary laws

STILET — Jg. XXIII:1 — SEPTEMBER 2011

110

applying to witchcraft how much more so am I, a Queen, above them? How, then, can I be accused of witchcraft.’

Osei (2001:43) suggereer op hierdie punt dat Ntombazi wel heksagtig was deurdat sy 13. vir Tsjaka gesê het dat sy mag het oor hiënas; Ritter (1957:186) impliseer dat sy nie werklik ’n heks was nie, maar Tsjaka probeer bangmaak het deur dit te sê.

Vergelyk hieroor Viljoen 2009:189-221.14.

Dit is natuurlik ironies – en ietwat ongemaklik vir bg. interpretasie – dat die heks in die 15. kinderverhaal die kinders in die lekkergoedhuis gevange hou, maar uiteindelik deur hulle oorrompel en doodgemaak word.

Hierdeur lê ek ’n verband met die werklike digter Antjie Krog, maar ontken ek nie die 16. fiksionaliseringsproses inherent in die literêre teks nie.

VerwysingsAntjie Krog word hier Antjie Somers. 1985. Rapport 15 September: 15.

Braidotti, R.

1997. Mothers, monsters, and machines. In: Conboy, K., Medina, N. & Stanbury, S. (eds.). Writing on the body: female embodiment and feminist theory. New York: Columbia University Press: 59-79.

Brink, A.

1986. Antjie Krog bring merkwaardigste poësie van 1985. Rapport 19 Jan-uarie: 16.

Cawson, F.

1995. The monsters in the mind. The face of evil in myth, literature and contemporary life. Sussex, England: The Book guild.

Claassens,P.

1982. Kritiek ontstel my geweldig, sê Antjie. Oggendblad 23 September: 11.

Cloete, T.T.

1986. Bundel van gemengde waarde. Die Volksblad 22 Februarie: 22.

Cohen, J.J.

1996. Monster culture (seven theses). In: Cohen, Jeffrey Jerome (ed.). Monster theory. Reading culture. Minneapolis, London: University of Minnesota Press: 3-25.

Creed, B.

1993. The monstrous feminine. Film, feminism, psychoanalysis. London & New York: Routledge.

Monsters vir kinders en volwassenes

111

De Wet, K.

2005. Afrikaanse kinder- en jeugpoësie sedert 1970. In: Wybenga, gretel en Snyman, Maritha (reds.). Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom. Pretoria: LAPA: 41-55.

Du Plessis, T.

[email protected], 5 Februarie 2010. Navraag. E-pos aan L. Viljoen ([email protected]).

Ferreira, O.J.O.

2008. Adamastor. Spirit of the Cape of Storms/Espírito do Cabo das Tormentas/Gees van die Stormkaap. gordonsbaai & Jeffreysbaai: Adamastor.

gilmore, D.D.

2003. Monsters. Evil beings, mythical beasts, and all manner of imaginary terrors. Philadelphia: University of Pennsylvania Press.

gouws, T.

1990. Oor die optekening van ’n politieke toestand en die bodemgesteldheid van Afrikaans – ’n haplografiese lees van Antjie Krog se Jerusalemgangers. Stilet, 2(2): 71-93.

Antjie Krog. In: Van Coller, H.P. (red.). Perspektief en profiel. Deel 1. Pretoria: Van Schaik: 550-563.

grobbelaar, P.W.

1974. Die mooiste Afrikaanse sprokies. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

Hambidge, J.

1986. Antjie Krog slaan hier nuwe rigting in. Die Transvaler 22 Februarie: 34.

HOLLINDALE, P.

1992. Ideology and the children’s book. In: Hunt, Peter (ed.). Literature for children. Contemporary criticism. London & New York: Routledge.

Hunt, P.

1991. Criticism, theory, & children’s literature. Oxford: Basil Blackwell.

Jones, g.

2002. Killing monsters. Why children need fantasy, super heroes, and make-believe violence. New York: Basic Books.

STILET — Jg. XXIII:1 — SEPTEMBER 2011

112

Jordan, A.C.

2004. Tales of Southern Africa. Johannesburg & Cape Town: Ad Donker.

Krog, A.

1985a. Jerusalemgangers. Kaapstad: Human & Rousseau.

1985b. Mankepank en ander monsters. Emmarentia: Taurus.

1991. Voëls van anderste vere. (English translation by Michael Cope. Inguqulelo yesXhosa nguSandile Dikeni.) Kaapstad: Buchu Books.

2007. Fynbosfeetjies. Roggebaai: Umuzi. [email protected], 29 Januarie 2010. Navraag. E-pos aan L. Viljoen ([email protected]:[email protected]).

Leeson, R.

1985. Reading and righting. London: William Collins.

Lurie, A.

1990. Don’t tell the grown-up. Subversive children’s literature. Boston: Little, Brown and Company.

Miles, J.

1980. Stanley Bekker en die boikot. Emmarentia: Taurus.

Miller, P.

1979. Myths and legends of Southern Africa. Cape Town: T.V. Bulpin Publications.

Mutwa, C.

1965. Indaba, my children. Johannesburg: Blue Crane.

Nienaber-Luitingh, M.

1986. Antjie Krog bekyk Suid-Afrika. Die Burger 13 Maart: 9.

Olivier, g.

1986. Skeppende drif. Die Vaderland 7 April: 15.

Osei, O.K.

2001 (1971). Shaka the Great. Baltimore: Black Classic Press. [Die hoofstuk oor Ntombazi byna dieselfde as dié in Ritter.]

Oxford English Dictionary Online.

2008. [Internet.] Oxford: Oxford University Press. [Beskikbaar by:] http://dictionary.oed.com.ez.sun.ac.za/entrance.dtl. [Toegang: 29 Januarie 2010,].

Monsters vir kinders en volwassenes

113

Ritter, E.A.

1957 (1955) Shaka Zulu. The Rise of the Zulu Empire. (Fifth impression.)

London: Longmans green and Co.

Schneider, S.

1999. Monsters as (uncanny) metaphors: Freud, Lakoff and the representation

of monstrosity in cinematic horror. Other voices. (e)Journal of Cultural

Criticism, 1(3): January.

Shildrick, M.

2002. Embodying the monster. Encounters with the vulnerable self. London,

Thousand Oaks, New Delhi: Sage Publications.

Stallcup, J.E.

2002. Power, fear and children’s picture books. Children’s literature, 30:125-262.

Van Vuuren, H. 1999.

Perspektief op die Afrikaanse poësie (1960-1997). In: Van Coller, H.P. (red.).

Perspektief en profiel. Deel 1. Pretoria: Van Schaik: 244-304.

Viljoen, L.

2009. Ons ongehoorde soort. Beskouings oor die werk van Antjie Krog .

Stellenbosch: Sun Press.

Weiss, A.S. 2004.

Ten theses on monsters and monstrosity. The Drama Review, 48(1): 124-125.

Woordeboek Van Die Afrikaanse Taal (Wat): Tiende Deel.

1996. Stellenbosch: Buro van die WAT.