’n ondersoek na die feitelike korrektheid van die ... · die afrikanernasionalisme wat in die...
TRANSCRIPT
0
’n Ondersoek na die feitelike korrektheid van die
geskiedenis-kurrikulum met ’n spesifieke verwysing
na die vertolking van Afrikanergeskiedenis
Graad 4 – Graad 12
Verslag saamgestel deur die N.P. van Wyk Louw-sentrum
Julie 2015
1
Inhoud
Bladsy
Lys van afkortings 2
Voorwoord 3
Inleiding 4
Die geskiedenis-kurrikulum (graad 4-12) 8
Vat ons geskiedenis terug 44
Bronnelys 50
2
Lys van afkortings
Elke jaargroep het ’n keuse uit ’n verskeidenheid handboeke, meeste waarvan in
reekse vir verskeie grade verskyn. In hierdie verslag sal daar telkens in die teks van
afkortings gebruik gemaak word wanneer na bepaalde handboeke verwys word. Die
afkorting Vd9:142 sal dan verwys na Sosiale Wetenskappe Vandag, Graad 9, bladsy
142; en AV11:27-30 na Almal Verstaan Geskiedenis, Graad 11, bladsy 27 tot 30. Die
onderstaande afkortings verteenwoordig elk ’n bepaalde multigraad-reeks.
AV – almal verstaan [sic]
HS – Headstart
KO – Kollig op
KV – Ken & Verstaan
Pl – Platinum
Ox – Oxford
VA – Via Afrika
Viv – Viva
Vd – Vandag
Vk – Verken
*
’n Spesiale woord van dank aan Protea Boekwinkel wat die
handboeke gratis aan die FAK beskikbaar gestel het
3
Voorwoord
Ek beskou hierdie as ’n baie deeglike verslag. Wat deurgaans in gedagte gehou moet
word, is dat Geskiedenis nie die werklike verlede is nie, en ook nie ’n spieëlbeeld
daarvan nie. Geskiedenis is ’n weergawe van die verlede, ’n interpretasie. Elke
interpretasie is subjektief, want dit weerspieël die menings van ’n mens/mense en alle
menings is in wese subjektief. Dit is vanselfsprekend dat die Suid-Afrikaanse
onderwysowerhede daaraan toegewyd is dat die Geskiedenis wat aan die
skoolgaande jeug onderrig word, die ontstaansmite van die nuwe Suid-Afrika moet
ondersteun. Hierdie ontstaansmite behels dat die totstandkoming van Suid-Afrika die
gevolg was van die oorwinning wat die voorstaanders van reg en geregtigheid (die
ANC) oor die magte van onreg en onderdrukking, uitbuiting en brutaliteit (die ou
Nasionale Party-regering van die apartheidsera) behaal het. Die skrywers van die
boeke was gevolglik daarop ingestel om die ANC en sy leiers as die helde in die
geskiedenis van Suid-Afrika op te hemel en die ou NP en sy leiers (die
apartheidsleiers) as die skurke voor te stel. Hulle doel was om so polities korrek as
moontlik te wees – al was dit telkens blatant ten koste van objektiwiteit. Gevolglik kom
die selektiewe aard van veral opdragte en gespreksonderwerpe wat in die boeke
aanbeveel word, soms so eensydig voor dat lesers nie ’n ander indruk kan kry nie as
dat hulle met ’n verminking van die verlede werklikheid te kampe het.
Dr. Jackie Grobler
Junie 2015
4
Inleiding
Die verslag handel oor die geskiedenis wat leerlinge van graad 4 tot 12 in Suid-
Afrikaanse skole geleer word. In die tydperk van graad 4 tot 9 voltooi leerlinge die vak
Sosiale Wetenskappe, wat uit twee komponente bestaan, te wete Geografie
(Aardrykskunde) en Geskiedenis. Hierdie twee komponente verdien eweveel aandag
en ruimte in die handboeke. Vir leerlinge in graad 10 tot 12 is Geskiedenis ’n keusevak.
Twee opmerkings kan hier gemaak word. Die eerste is dat vir ’n senior leerling wat
hom in die geskiedenis begewe, hy slegs te make sal hê met dit wat in die kurrikulum
verskyn. Wanneer na die aard van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in hierdie tydperk
gekyk word, wek dit rede tot kommer. Die tweede is dat elke leerling van graad 4 tot 9
nie (soos ’n senior leerling) slegs aan ’n sekere soort geskiedenis blootgestel word nie,
maar dat sodanige blootstelling vir die junior kinders verpligtend is. In graad 9 het die
leerling dan geen ander keuse as om ’n beknopte weergawe van die graad 11- en 12-
leerplan te moet voltooi nie.
Van die grofste leuens, foute, wanvoorstellings of wyse van aanbieding waarmee die
leerling te kampe het, is onder meer die volgende:
Voor die koms van Europeërs na die kontinent was daar in Afrika talle
“beskawings” waar ingewikkelde samelewings oor onder andere “gevorderde
tegnologie” beskik het.
Die Nederlanders onder leiding van Jan van Riebeeck het die vrede en
harmonie wat in suidelike Afrika geheers het onomwonde kom vernietig. Hierdie
koloniste het die San en Khoi (wat telkens as nomade beskryf word) se grond
en vee met geweld afgeneem, en ook hierdie mense gedwing om hul (die
Nederlanders se) werkers te word. Klaarblyklik het die Nederlandse
grondbesetting ook daartoe gelei dat die ganse Khoi-bevolking amper uitgewis
is.
Die enigste betroubare bronne oor die geskiedenis van enige eeue gelede is
geskrifte en waarheidsgetroue visuele afbeeldings soos skilderye en tekeninge.
Op talle plekke in die handboeke word daar vertel dat sodanige bronne
5
subjektief is, dat dit slegs die Europese “beskouing” van gebeure uitbeeld, of
dat dit doelbewus geskakeerd is.
Soos die VOC-amptenare het die latere nomadiese Trekboere en hul opvolgers,
die Voortrekkers van die Groot Trek, volgens die handboeke geroof en
geplunder. Alhoewel die Voortrekkers die Britse juk wou afgooi, het hulle slegs
reeds besette grond met geweld afgeneem, en boonop slawerny in die
binneland voortgesit. Ook ná die vestiging van die Boererepublieke is die
Afrikaners se wellus vir grond nie versadig nie, soos te sien in die relaas oor hul
aanval op Sekhukhune ten einde die Pedi’s se goudvelde te neem.
Die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902) is in die volksmond ook bekend as die
Engelse Oorlog of die Driejarige Oorlog. ’n Meer objektiewe beskrywing
daarvan is die alombekende benaming Anglo-Boereoorlog (met die Eerste
Vryheidsoorlog dan as die Anglo-Transvaalse Oorlog) deurdat die strydende
partye sodoende op neutrale wyse in die benaming betrek word. In die
geskiedenishandboeke word hierdie oorlog voortdurend beskryf as die Suid-
Afrikaanse Oorlog. Die ironie is dat “Suid-Afrika” ten tyde van die oorlog nog nie
eens as entiteit bestaan het nie. Hierdie benaming water die Afrikaner se
grootste vryheidstryd af tot ’n blote deel in ’n groter geheel – ’n rol in ’n stuk wat
deur almal en als in “Suid-Afrika” vertolk is.
Aansluitend hierby is dat die opdrag wat die leerling aan die einde van die
afdeling oor die oorlog moet voltooi, uitsluitlik fokus op die rol van swartmense
in die oorlog.
In die nege jaar van graad 4 tot 12 vind die leerling geen woord oor die Rebellie
van 1914 nie. Die gebeurtenis word nie ’n enkele keer genoem nie. Die enigste
(terloopse) verwysing daarna, word gevind in ’n bespreking van eerste minister
Louis Botha se beleid ter steuning van die Britse oorlogspoging, waar hy net
“weerstand deur die Boere by die huis” gekry het. Dit verteenwoordig die ganse
dekking van die Rebellie in ’n kind se hele skoolloopbaan.
Die Afrikanernasionalisme wat in die twintigste eeu begin bloei het, word
gekoppel aan “die begrip van ’n denkbeeldige gemeenskap”, en die insinuasie
is dat die Afrikanervolk se identiteit geskep en gemanipuleer is.
Die Afrikaner se herrysing uit die asse na afloop van rampe soos die Tweede
Vryheidsoorlog, die Rebellie en die Groot Depressie word toegeskryf aan
6
“regstellende aksie” wat deur Afrikaner-bewindhebbers toegepas is. Selfdoen-
aksies en -dade deur Afrikaners (soos die Helpmekaar, die Reddingsdaadbond,
en instansies soos Sanlam, Santam en Volkskas) word summier verswyg.
Die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat in graad 11 en 12 gedek word is uitsluitlik
die geskiedenis van die sogenaamde Struggle. Vanaf graad 11 dus word
leerlinge in die gedeeltes oor plaaslike geskiedenis slegs gekonfronteer met die
protes-, burgerregte- en swartmagbewegings wat sou lei tot die totstandkoming
van die hedendaagse Suid-Afrikaanse staat. In hierdie afdelings leer die skolier
oor etlike belangrike figure, “martelare” en “helde” gekoppel aan hierdie stryd.
Reeds in graad 4 handboeke word Nelson Mandela uitgebeeld as ’n
vreedsame, vredeliewende en beginselvaste persoon wat bloot vanweë sy
droom vir ’n idilliese Suid-Afrika tronk toe gestuur is. Daar word benadruk dat
Mandela en kie nie kriminele was nie, maar in die gevangenis was “vanweë dit
wat hulle geglo het reg was”. Sou ’n onpartydige en objektiewe handboek nie
ook melding maak van sy geweldpleging en terreurdade (ook op burgerlikes)
nie?
Veral in graad 6 word aan die leerlinge voorgehou dat baie onskuldige mense
lukraak in hegtenis geneem, en dan maklik “gemartel” of “selfs doodgemaak” is.
Daar word ook reguit vertel dat diegene met ’n gewetensbeswaar teen die beleid
nie die geleentheid gegun is om hulself in ’n hof te verdedig nie. As
aangeklaagdes nie hulself in die hof kon verdedig nie, soos die handboek
betoog, hoe het Nelson Mandela dan daarin geslaag om ’n toespraak van drie
ure in die beskuldigdebank te lewer? Voorts, hoe het dit dan enkele jare vroeër
gebeur het dat die aangeklaagdes in die hoogverraadverhoor van 1961
onskuldig bevind en vrygelaat is?
Alhoewel die skool of onderwyser ’n keuse het oor welke handboeke deur ’n bepaalde
jaargroep gebruik gaan word, is die verskeidenheid tot hul beskikking ’n karige een –
ten spyte van die relatiewe lang lys waarvan vroeër melding gemaak is. Elke handboek
is altyd deur meer as twee outeurs geskryf, in sommige gevalle soveel as sewe. Soms
het een outeur meegewerk aan meer as een handboek in dieselfde graad. Die mate
waarin die onderskeie handboeke vir dieselfde graad verskil, is egter weglaatbaar
klein. Te verstane is die kurrikulum vooraf vasgestel, en die temas daarin gedek
7
ooreenstemmend, al verskil die volgorde van die inhoud soms. In al die onderskeie
handboeke word selfs inligtingsblokkies oor bepaalde persone en gevallestudies van
handboek tot handboek herhaal. Dit is onmoontlik om ’n spesifieke handboek (of
handboekreeks) te identifiseer as uitstaande bo die res, en terselfdertyd ook
onmoontlik om een summier af te skryf. Die mate waarin die onderskeie boeke
ooreenstem sal die waarnemer opreg laat wonder waarom daar inderdaad dan soveel
verskillende handboeke beskikbaar is. Is dit om die skyn van objektiwiteit en die
veelheid van standpunte te verwek?
Dawie du Plessis
Navorser
8
Die geskiedenis-kurrikulum
Graad 4 – Sosiale wetenskappe
Temas (geskiedenis):
Plaaslike geskiedenis
Leer by leiers
Vervoer deur die tye
Kommunikasie deur die tye
Die onderwerpe hier van toepassing is Plaaslike geskiedenis en Leer by leiers.
Eersgenoemde is egter slegs ’n elementêre les in die metodologie van
geskiedenisnavorsing (onder meer hoe om bronne op te spoor). Laasgenoemde het te
make met die lewenslesse wat by “goeie” en “belangrike” leiers geleer kan word. Daar
word dan op Nelson Mandela en Mahatma Gandhi gefokus. Die “feite” rakende
Mandela kan soos volg weergegee word:
Nelson Mandela
In een van die handboeke (AV 6:59 en 67) word dit gestel dat Nelson Mandela
gevangenis toe gestuur is omdat hy “baie betogings [outeurs se klem] teen die
apartheidsregering georganiseer [het]”. In KV 4:119 word dieselfde standpunt
gehuldig, terwyl HS 4:67 sê dat hy tronk toe is “vir sy deel in die stryd teen apartheid”
en PL4:100 dat “hy tronk toe [is] omdat hy opgestaan het vir dit wat hy geglo het reg
was”. Dit word uitdruklik verswyg dat Mandela geweld gepleeg het:
- In 1961 stig hy saam met Joe Slovo Umkhonto we Sizwe ten einde ’n
gewelddadige revolusie uit te voer.
- Hy was verantwoordelik vir sabotasiedade – tydens die Rivonia-verhoor is na
153 dade van geweld verwys.
9
- Hy het saamgesweer om amper 50 000 landmyne, meer as 200 000
handgranate en talle bottel-, petrol- en pypbomme te vervaardig.
- Mandela het self erken dat hy opdrag gegee het vir die Kerkstraatbom in 1983.
- Mandela het nooit geweld afgesweer nie – selfs ná sy vrylating.
- Ná sy vrylating het hy nog die lied “Kill the Boer” in die openbaar gesing.
Daar word byvoorbeeld (KV4:119) gesê dat die regering die mag gehad het om ANC-
lede soos Mandela, Govan Mbeki en Walter Sisulu te arresteer vanweë die verbanning
van die ANC. Die indruk word gewek dat mense tronkstraf opgelê was slegs vanweë
lidmaatskap aan ’n onwettige organisasie. In Pl4:102 lees ’n leerling die volgende: “Hy
was bereid om op te staan vir wat hy geglo het reg was. Hulle [die apartheidsregering]
het nie daarvan gehou nie. Hulle het hom en sewe van sy vriende gearresteer. Die
regter het gesê hulle moet die res van hulle lewens in die tronk bly. Ons noem mense
wat toe tronk toe gestuur word vir dit waarin hulle glo politieke gevangenes [outeurs
se klem].” In Viv4:69 staan daar: “Hulle [Mandela en ander leiers] is politieke
gevangenes genoem omdat hulle tronk toe gestuur is vir dit waarin hulle glo. Hulle was
nie misdadigers nie”. Daarby word ook geen melding gemaak van diegene wat nié
tronk toe gestuur is nie, maar wat dieselfde as Mandela en kie geglo het. Indien
bogenoemde stellings juis is, moes persone soos Helen Suzman, Beyers Naudé en
sekerlik etlike miljoene van die swart bevolking self, óók gearresteer gewees het. Hulle
het egter nie sabotasie en moord gepleeg nie. Die feit dat Mandela tydens die Rivonia-
verhoor die geleentheid gegee is om ’n toespraak van drie ure lank te lewer,
weerspreek die stelling in Viv4:67 dat “die regering nie toegelaat [het] dat enigiemand
van hulle verskil nie”. Ook in die geval van Frances Baard (VS5:194) word dit gestel
dat die regering bloot “nie toegelaat [het] dat enigiemand hulle teen apartheid uitspreek
nie”.
Mahatma Gandhi
Klem word geplaas op Gandhi se ideologie van lydelike verset wat in Indië en
gedeeltelik in Suid-Afrika toegepas is. Op Pl4:108 staan die volgende: “Wit mense het
spesiale voorregte gehad [outeurs se klem] en alles wat hulle gehad het was van die
beste”. Gandhi was in die tydperk 1893–1914 in Suid-Afrika. Dit is algemene kennis
10
dat blankes ná die verskroeideaardebeleid van die Tweede Vryheidsoorlog materieel
op hul knieë was – net mooi presies in die termyn van Gandhi se verblyf in die land.
Hierdie oorlog word ook beskryf as die “Suid-Afrikaanse Oorlog” (AV4:63; KV5:181).
Op hierdie wyse word die vryheidstryd van die Afrikaner teen buitelandse
imperialistiese oorheersing hom as ’t ware ontneem. Hierdie aspek sal ook later in
veral graad 10 aangespreek word.
11
Graad 5 – Sosiale Wetenskappe
Temas (geskiedenis):
Jagterversamelaars en herders in Suider-Afrika
Die eerste boere in Suider-Afrika
’n Antieke Afrika-samelewing: Egipte
’n Erfenisroete deur die provinsies van Suid-Afrika
Die eerste twee temas werp ’n blik op die leefwyses en gebruike van vroeë inwoners
van suidelike Afrika, te wete die San en die Khoi enersyds, en die Bantoevolkere wat
uit sentraal-Afrika na die suide getrek het. Van belang hier is egter die afdeling te make
met die erfenisroete wat deur elk van die nege provinsies gaan. Die onderskeie
erfenisse van elke provinsie (met die bepaalde soort erfenis, deur die outeurs só
genoem) is die volgende:
- Gauteng: Die Wieg van die Mensdom (erfenisterreine van groot betekenisse);
- Limpopo: Goue voorwerpe by Mapungubwe (erfenis in voorwerpe);
- KwaZulu-Natal: San-rotskuns in die Drakensberge (erfenis in kuns);
- Mpumalanga: Die Makhonjwaberge (natuurlike erfenis en inheemse
kennisstelsels);
- Noord-Kaap: Frances Baard (erfenis in mense se prestasies);
- Noordwes: Die klipmuurdorp Kaditswhene (erfenis in argitektuur);
- Oos-Kaap: Die genesende eienskappe van die aalwyn (erfenis en inheemse
medisyne);
- Vrystaat: Gariepdam (erfenis in name);
- Wes-Kaap: Die Kasteel (erfenis en veranderende identiteite).
Die propagandistiese aard van hierdie lys of roete is duidelik. Drie van die bogenoemde
het met die natuur te make – Die aalwyn (oënskynlik as ’n genus), Die Wieg van die
Mensdom en die Makhonjwaberge. Daarby word laasgenoemde egter gekoppel aan
“inheemse kennisstelsels” (Pl5:160). Hierdie konsep word nie verduidelik nie, maar
12
verwys klaarblyklik dat “Afrikane” (diegene met voorouers wat “van Afrika gekom het”)
’n bygeloof koester dat voorouers in riviere, bome of rotse woon. Die enigste twee wat
enigsins met “blanke erfenis” te make het (Die Kasteel en die Gariepdam), word
pertinent gediskrediteer. Daar word in die geval van die Gariepdam uitgewys dat die
dam eers die H.F. Verwoerddam geheet het. Op Viv5:197 is ’n aanhaling van dr.
Verwoerd waar hy sê dat die witman die land wat leeg was, opgebou het; dat hy
beskawing uit Europa gebring het; en dat hy alle goeie dinge in hierdie land moontlik
gemaak het. Later word gesê dat die dam daarom herdoop is, want “Suid-Afrikaners
wou nie ’n man soos Verwoerd vereer nie”. In Ox5:118 is daar geskryf: “Hierdie naam
[Verwoerd] herinner aan ons apartheidsverlede. Dit is in 1996 na die Gariepdam
verander. Die nuwe naam herinner ons aan die eerste mense wat in die gebied gewoon
het”. Dit is interessant dat die stelling deur dr. Verwoerd gemaak, nie weerlê word nie.
Die Kasteel word voorgehou as ’n voorbeeld van “getransformeerde erfenis”. Pl5:157
sê dat die Hollandse setlaars “die land en die water-voorrade van die Khoisan vir hulle
gevat [het]”. In VS 5:200 staan daar: “Die Nederlanders het die Kaap in 1652
gekoloniseer. Dit beteken dat mense van Holland, in Europa, die Kaap met geweld
oorgeneem het.” Daarby was die Kasteel de Goede Hoop “’n simbool van wit
verdrukking tydens die Apartheidsjare”. Ox5:119 noem dit ’n “simbool van wit mag in
Suid-Afrika”. Nou word daar egter “erkenning gegee aan die versweë geskiedenis van
die Khoisan en die slawe” (Pl5:157); die “ryk, verborge stories van die San, Khoi en
swart mense” (Viv5:201).
13
Graad 6 – Sosiale Wetenskappe
Temas (geskiedenis):
’n Afrika-koninkryk lank gelede in Suider-Afrika: Mapungubwe
Ontdekkingsreisigers uit Europa vind Suid-Afrika
Demokrasie en burgerskap
Medisyne deur die jare
Die volgende foute en wanvoorstellings kom voor:
Geen geregtigheid nie?
In Pl6:144 word vertel dat mense wat teen die “onregverdige apartheidsregering
geveg” het, “gemartel” is. In Pl6:151 word daar van dieselfde mense gesê dat hulle
“dikwels in die tronk gegooi, geslaan of gemartel [is]. Sommige is gedwing om die land
te verlaat. In sommige gevalle is mense doodgemaak.” Ook: “Die regstelsel was nie
regverdig teenoor almal nie. Mense wat van die regering verskil het, is nie ’n regverdige
kans gebied om hulleself in die hof te verdedig nie.” Mens sou die skrywers dan kon
afvra wat presies die Rivonia-verhoor was, wat daar plaasgevind het, wie die partye
was, en wat hulle gedoen het. As aangeklaagdes nie hulself in die hof kon verdedig
nie, soos die handboek betoog, hoe het Nelson Mandela dan daarin geslaag om ’n
toespraak van drie ure in die beskuldigdebank te lewer? Óf hoe dit gebeur het dat die
aangeklaagdes in die hoogverraadverhoor van 1961 onskuldig bevind en vrygelaat is?
Pius Langa
In HS6:125 word daar van leerlinge verwag om die volgende te doen: “In groepe,
bespreek waarom Pius Langa ’n goeie rolmodel vir jongmense is.” Ox6:91 vra byna
verbatim dieselfde. In die monografietjies oor Langa in die onderskeie handboeke word
bloot vertel dat hy saam met die jeug van sy tyd teen apartheid gewerk het, homself
deur tuisstudie as juris bekwaam het, en later as hoofregter van die Grondwetlike Hof
14
aangestel is. Wat presies sy deugde en prestasies is, word nie in besonderhede
meegedeel nie. Tog word die leerling egter duidelik vertel dat Pius Langa “’n rolmodel
vir jongmense is”. Die leerling moet bloot sê waarom.
Holistiese “medisyne”
HS6:170-171 propageer dat die drogwetenskap van “holistiese” en “tradisionele” of
“inheemse” medisyne as ’t ware op gelyke voet met Westerse wetenskaplike
geneeskunde is, en dat dit laasgenoemde inderwaarheid kan aanvul, iets wat in
Pl6:190 ondersteun word. Ox6:114 stel dit duidelik: “Siektes het meer as net
liggaamlike oorsake”. “Inheemse genesers” praat dan met voorvadergeeste, soms
deur drome. Daar word nie gesê dat hierdie bloot is wat toordokters of waarsêers glo
hulle doen nie, maar wat hulle wel verrig (ook in Pl6:174–178). Ingevolge KV6:174 is
die beskouing dat tradisionele genesers en inheemse medisynes ondoeltreffend en
onbelangrik is, toe te skryf aan “kolonisering, apartheid en die mag van Westerse
farmaseutiese maatskappye”. Volgens die handboeke geniet inheemse ’n holistiese
“medisyne” ’n lae vlak van erkenning vanweë die praktyk van rassesegregasie. Die feit
dat bygelowe nie aan die streng vereistes van eksperimentele toetsing en deduktiewe
argumentasie van die moderne wetenskap voldoen nie, is klaarblyklik nie ter sprake
nie.
15
Graad 7 – Sosiale Wetenskappe
Temas (geskiedenis):
Die koninkryk van Mali en die stad Timboektoe gedurende die veertiende eeu
Die trans-Atlantiese slawehandel
Kolonisering van die Kaap in die sewentiende en agtiende eeu
Samewerking en konflik op die grense van die Kaapkolonie in die vroeë
negentiende eeu
Die volgende foute en wanvoorstellings kom voor:
Wes-Afrikaanse “beskawing”
Vd7:124 verkondig dat “die mense van Wes-Afrika” “lank [voor] die meeste Europeërs
kon lees en skryf”. Dokumente in Timboektoe “toon dat die Europeërs verkeerd was in
hul oortuiging dat Afrika ’n “donker vasteland” was. Daar word gesuggereer dat die
werklikheid net mooi andersom was – Europa as ongeletterd, met Afrika wat die lig
van geleerdheid en beskawing dra! Die geleerdheid wat in Timboektoe te vinde was,
was egter Moslem-kundigheid wat hoofsaaklik deur die Touaregs vanaf Noord-Afrika
gebring is. Die vooruitgang aldaar was derhalwe nie ’n Afrika een nie, maar ’n Arabiese
een.
Slawerny in Afrika deur Afrikane
Daar word melding gemaak dat daar reeds slawe in Afrika was voor die koms van
Europeërs. Anders as in die geval van slawerny deur Europeërs, is Afrikane deur hul
Afrikaan-meesters “goed behandel” en “streng reëls omtrent die versorging van slawe
[is] gevolg” (Vd7:131 en VA7:101). Op dié wyse word die vorm van slawerny deur
Afrikane as ’t ware verskoon. Slawe is volgens KO7:105 “eers” “sleg behandel” ná
1600, toe hulle na Amerika geneem is. Swart-op-swart slawerny blyk dus amper ’n
deug te gewees het.
16
Nat Turner se slaweopstand
Vd7:144 verklaar dat Nat Turner se opstand van 1831 ’n revolusie ontketen het wat
gelei het tot die grootste lewensverlies sedert die Amerikaanse Burgeroorlog. Hierdie
oorlog het egter van 1861–1865 geduur, meer as 30 jaar na Turner se opstand.
Slawerny voorgehou as die oorsaak van gebrek aan ontwikkeling
KO7:118 stel dit dat Afrikane (die slawehandelaars spesifiek) begin het om ekonomies
op slawehandel staat te maak, en derhalwe “het nie enige ander industrieë ontwikkel
nie” – daarom dat Afrika nie dieselfde mate (of enige mate) van wetenskaplike
vooruitgang as die Weste getoon het nie. Afrika was in hierdie tyd steeds in die
Ystertydperk (wat Europa ongeveer 2 500 jaar vroeër beleef het), so dit is uiters
vergesog om te sê dat Afrika in die eerste instansie in staat was om ’n
nywerheidsrewolusie deur te maak. Buitendien was slawerny nie ’n praktyk wat oor die
ganse gebied van Afrika te vinde was nie. Die feit dat samelewings regoor Afrika nie
’n Renaissance, Verligting of Industriële Revolusie gehad het nie, kan eenvoudig nie
toegeskryf word aan slawehandel in sekere gedeeltes van Wes-Afrika nie. Trouens,
hierdie samelewings het indertyd nog nie eens die wiel uitgevind nie.
Khoi se wapens
KO7:137 noem dat baie Khoi tydens botsings met die Nederlanders dood is, “omdat
hulle nie toegang tot wapens gehad het nie”. Dit is egter nie dat die Khoi nie “toegang”
gehad het nie – die Khoi het nog nooit enige tegnologie (insluitend vuurwapens)
ontwikkel nie. Wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en vervaardiging is konsepte
wat geensins in die Khoi se bewussyn aanwesig was nie. Hulle is nie wapens ontneem
of toegang daartoe geweier nie – hulle het dit nooit gekonsepsualiseer en ontwikkel
nie.
17
Prestasies en bydrae van die Hugenote gekwalifiseer
In KO7:137-138 is daar ’n paar paragrawe oor die Hugenote, waar melding gemaak
word van hul vaardigheid as vakmanne en hul vermoë om druiwe te verbou. Aktiwiteit
3.11, vraag 8, kwalifiseer die Hugenote se kulturele en tegnologiese bydrae soos volg:
“Daar is ten minste twee kante aan elke saak. Die Hugenote het talle suksesvolle
prestasies behaal. Wat is die ander kant van hierdie verhaal as jy die situasie vanuit
die Khoi-Khoi standpunt beskou?”
Trekboere as veediewe
KO7:139 vermeld dat die Trekboere in die sewentiende en agtiende eeu strooptogte
op die Khoi se vee uitgeoefen het. Só word die Trekboere as niks anders nie as
rondswerwende rowerbendes wat eenvoudig op ander se grond en goed beslag lê,
voorgestel.
Vernietiging deur die Hollanders
Vd7:175 begin met die volgende paragraaf:
“Een van die belangrikste gevolge van die Hollandse nedersetting aan die Kaap, soos
gelei deur Jan van Riebeeck in 1652, was die vernietiging van die lewens van die
mense wat aan die punt van Afrika gebore is”.
VA7:173 sê dat “[d]ie Khoi ’n goeie lewe in die Kaap gelei [het] totdat de Nederlanders
in 1652 daar aangekom het”. Vd7:160 lui: “[d]ie aankoms van die Hollanders het in
baie opsigte skadelike gevolge vir die lewens van die plaaslike mense gehad”. Hoe die
goeie lewe voor Van Riebeeck se aankoms en die slegte lewe daarna uitgesien het,
word nie verduidelik nie. Die “skadelike gevolge” wat “in baie opsigte” deur die
Nederlandse aankoms veroorsaak is, word ook nie gekwalifiseer of gekwantifiseer nie.
Grondonteiening
VA7:175 sê dat “die hele gebied wat nou Suid-Afrika is” teen 1600 bewoon was deur
San, Khoi, Sotho-Tswanas, en Nguni’s. Hierdie mense het “vooruitstrewend geleef” –
18
“En toe het die Nederlanders gekom.” Dit word aan die verbeelding oorgelaat wat
hierdie vooruitstrewing behels het, en hoe die Nederlanders dit beëindig het.
Buitendien het die Nederlanders nie kontak met die Nguni’s en Sotho-Tswanas gehad
nie – dit sou eers ’n eeu of twee later deur Afrikaners geskied. Sodoende kan die
ingeligte leser dan aflei dat “die Blankes” dan die lewe van vooruitgang hier ter plaatse
kom omverwerp het.
Vd7:160 vertel hoedat die “Hollanders eers die Khoikhoi regverdig behandel [het]”,
maar “[l]ater het die Hollanders die Khoikhoi se diere en goed met geweld afgeneem”.
VA7:173 sê ook dat die Nederlanders skuldig was aan “diefstal” en grond aan die Kaap
“onteien” het. Dít is wat aanleiding gegee het tot die “Khoi-oorlog van Onafhanklikheid”
(1799–1803). Ook VA7:188 sê dat Vryburgers die Khoi se grond beset en hulle beeste
“gevat” het.
Vd7:160 se Aktiwiteit 3, vraag 2.c., met verwysing na twee sketse, lui soos volg: “Jy
weet dat die Hollanders soms goed met geweld afgeneem het. Waarom dink jy word
dit nie hier so uitgebeeld nie (Onthou dat hierdie prente deur Hollandse kunstenaars
geteken is).” Met ander woorde, die enigste werklike afbeeldings van gebeure, in die
vorm van tekeninge en skilderye, word as partydig afgemaak. Die Khoi kon nie lees of
skryf nie, nog minder lewensgetroue afbeeldings maak. Dit word nie sodanig gestel
nie. Tog word hul legendes oor die gebeure as die werklike waarheid voorgehou.
KO7:141 sê dat “[g]rondonteiening sedert die vroegste tye in Suid-Afrika plaasgevind
[het]”, en verduidelik verder dat trekboere die Khoi se grond met geweld geneem het.
Die ironie is dat die trekboere enkele paragrawe vroeër as “nomadiese veeboere”
beskryf word. Dus sou ook hulle nie permanent op ’n plek gevestig het nie. Later word
in ’n hersieningsafdeling (KO7:144) gesê dat “die inheemse groepe van hulle grond
ontneem [is] deur die trekboere. Dieselfde geld VA7:189–190. Aldus hierdie bron is die
grond van die San, Khoi en Xhosa deur Boere “onteien”, en die veediefstal en plundery
deur hierdie groepe op die Boere [wat aanleiding gegee het tot die Grensoorloë in die
Oos-Kaap], was bloot “uit weerstand”. Vd7:173 sê dat die Xhosas teen die trekboere
baklei het “teen die verlies van hul grond”.
19
Etniese uitwissing deur Boere
Voorts (KO7:142) word hierdie “grondonteiening” voorgehou as die rede waarom die
Khoi “op die punt van uitwissing gestaan het” teen die tyd wat die sendeling Georg
Schmidt in 1738 in die Kaap aangekom het. Schmidt sou nou die Khoi se “trots herstel”
na die gewaande “onteiening”. Ook die San-taal was “op die punt om uitgewis te word”,
vanweë “die onteiening van hul grond”. Hierdie idee word in VA7:191–193 herhaal. Die
Khoi-bevolking is inderdaad amper uitgewis, maar in werklikheid vanweë die pokke-
epidemie van 1713. Die Khoi het in die verlede nooit enige blootstelling aan bepaalde
Europese siektes gehad nie, en het dus nie die weerstand daarteen gehad soos die
blanke bevolking nie. Uitwissing deur sodanige siektes was ook ’n algemene
verskynsel in Suid-Amerika tydens die koloniale tydperk.
“Nederlanders”
KO7:147 en 157 praat van “[d]ie Nederlanders” wat die Kaap verlaat het vir die
binneland (Voortrekkers). Die Afrikaners/Boere word sodoende as buitelanders of
Europeërs voorgestel, en kan dan maklik oor dieselfde kam as “koloniste” geëtiketteer
word. Alhoewel Afrikaners van die negentiende eeu nog wel Nederlands as skryftaal
gehad het, het hulle moderne Afrikaans reeds sedert die laat agtiende eeu gepraat.
Boonop het hulle ook nie hulself as Hollanders, Nederlanders of Europeërs beskou
nie.
Aard van die Groot Trek
Die aantal bladsye bestee aan die Groot Trek wissel van een, tot ongeveer twee-en-
’n-half. Alhoewel daar vlugtig genoem word dat die Voortrekkers die Kaap verlaat het
omdat hulle ongelukkig was oor verengelsing en Britse heerskappy, word klem
hoofsaaklik geplaas op klaarblyklike grondonteiening, vernietiging van lewenswyse en
die inboek-stelsel wat deur die Voortrekkers bedryf is. Eers in graad 10, wanneer
Geskiedenis ’n keusevak is, sal die leerder meer oor die Groot Trek leer.
20
Voortrekkers steel grond
Vd7:191 sê oor die Voortrekkers: “Hulle het gevolglik grond oorgeneem wat reeds
beset was en die inheemse mense se tradisionele lewenswyse omgekrap.” VA7:247
sê dat die Voortrekkers “geen ‘onbenutte’ grond gekry [het] nie”. Die Voortrekkers se
“oorloë teen die Zoeloe- en Ndebele-koninkryke” het “dikwels daartoe gelei dat die
Afrika-mense van hul grond ontneem is”.
Afrikaans
Die herkoms van Afrikaans word soos volg uitgebeeld: “Afrikaans het aan die begin as
’n slawetaal ontwikkel. Dit het ontstaan uit ’n mengsel van Nederlands, Engels en
ander Europese en Maleise tale” (Vd7:163). Ook Vd7:174 sê dat Afrikaans buiten
Hollands ook op Frans, Duits, Maleis en Fries “gebaseer” is. VA7:186–187 noem Khoi-
en slawetale as twee “hoofinvloede” op die vorming van Afrikaans. Afrikaans is geen
Kreoolse taal of patois nie. Dit is ’n Wes-Germaanse taal wat volgens natuurlike wette
ontstaan het. Nagenoeg 95% van die leksikon is van Nederlandse oorsprong, terwyl
woorde met Maleis-Portugese, Duitse, Franse, Khoi en Engelse oorsprong ook
voorkom. Ander tale het egter nie ’n invloed op die vorming van Afrikaans gehad nie,
die sprekers daarvan het wel. Die gebrekkige aanleerders-Hollands van hierdie
vreemdelinge (seelui sowel as slawe) het bygedra tot die vereenvoudigingsproses in
Afrikaans.
“Ten gunste van” Maqoma
In KO7:153 word in Aktiwiteit 4.4, nr. 2.a. die volgende van die leerder verwag:
“Skryf ’n koerantberig oor hoofman Maqoma se lewe vir Die Burger, gedateer 9
September 1873 (die dag waarop Maqoma dood is). Jou berig moet bevooroordeeld
ten gunste van Maqoma wees [my beklemtoning].” Maqoma was ’n Xhosa-hoof wat in
die Grensoorloë teen die Britte en Burgers baklei het. Hy word voorgehou as
verontregte en martelaar. Die leerder word nie toegelaat om sy eie opinie oor Maqoma
te vorm nie. Dit word bloot aan hom opgedwing.
21
Graad 8 – Sosiale Wetenskappe
Temas (geskiedenis):
Die Industriële Revolusie in Brittanje en Suid-Afrika
o Veranderinge in Brittanje tydens die Industriële Revolusie
o Suidelike-Afrika teen ongeveer 1860
o Die ontginning van diamante in Kimberley vanaf 1867
Die minerale revolusie in Suid-Afrika
o Brittanje, diamantontginning, toenemende arbeidsbeheer,
grondekspansionisme
o Goudmynontginning op die Witwatersrand vanaf 1886
Die stormloop om Afrika in die laat negentiende eeu
o Europese kolonisasie van Afrika in die laat negentiende eeu
o Gevallestudie van die Ashanti-koninkryk
Die Eerste Wêreldoorlog
o Redes vir die uitbreek van die oorlog
o Verskillende aspekte en ervarings van die oorlog
o Vroue in Brittanje tydens die oorlog
o Duitsland se oorgawe en die Verdrag van Versailles
Die volgende foute en wanvoorstellings kom voor:
Afrika “beskawing”
Aktiwiteit 11 in Vd8:175 lui soos volg:
“Ons het vroeër gesien hoe die Europeërs Afrika as ’n ‘donker’ vasteland beskou het,
en Afrikane as ‘onbeskaafde’ [sic] en ‘wilde’ [sic] voorgestel het.
22
“1. Skryf ’n paragraaf om die volgende vraag te beantwoord: ‘Wat dui daarop dat die
mense wat aan die weskus van Afrika gewoon het, glad nie onbeskaafd en wild was
nie?’ Noem ten minste vier punte.”
Klaarblyklik is die tekens van beskawing (soos afgelei kan word uit die paragrawe wat
die vraag voorafgaan) ystergietery, ruilhandel in goud, ornamente en leer, en die tem
van diere. Via8:172–173 propageer ook dat koninkryke oor Afrika voor kolonisasie
“tegnologies gevorderd” was. Die voorbeelde hiervan is die “mynboutegnologie” soos
gesien kan word in die geval van die Mapungubwe-renoster, en die “argitektoniese en
bouvaardighede” van byvoorbeeld Groot Zimbabwe.
Via8:174 bevat ’n afdeling Kom ons gesels daaroor, wat die volgende vraag aan die
leerling stel:
“Voorkoloniale Afrika was ’n goed ontwikkelde beskawing met eie verskillende
politieke, ekonomiese, sosiale, opvoedkundige, landbou- en godsdiensstelsels.
Waarom dink jy dan het Europeërs die Afrikane as minderwaardig beskou?”
Afrika selfversorgend
Ox8:123 noem dat een van die gevolge van kolonisasie is dat Afrika “nie meer
selfvoorsienend” was nie. Die ironie is dat Afrika wel selfvoorsienend was tydens die
koloniale tydperk, en vandag nié is nie. In Mei 2012 het die Amerikaanse president,
Barack Obama, kort voor die G8-beraad in ’n toespraak die volgende gesê: “Most of
the world’s unused arable land is in Africa. Fifty years ago, Africa was an exporter of
food. There is no reason why Africa should not be feeding itself and exporting food
again. There is no reason for that.” Duidelik was daar onder koloniale beheer baie meer
voedselsekerheid ...
Wetenskaplike kennis
Ox8:124 noem dat Europeërs “inheemse kennis” geïgnoreer het en dat hulle geglo het
“hul eie wetenskaplike kennis beter [is]”. Westerse wetenskaplike kennis behels die
verduideliking en voorspelling van verskynsels, onderhewig aan streng toetsing, en die
23
opbou van kennis geskied by wyse van logiese deduksie. Dolosse, voorvadergeeste
en die gewaande medisinale eienskappe van bepaalde plant- of diermateriaal kan
eenvoudig nie aan hierdie vereistes voldoen nie. Dit word (en is destyds) ten regte
deur die wetenskaplike gemeenskap summier verwerp.
Boekgeleerdheid
Via8:181 lys onder “Slegte gevolge van kolonisering” die volgende: “’n Nuwe kalender,
tale en skrif is ingestel.” Buiten diegene met ’n Islam-agtergrond in Noord-Afrika het
Afrika suid van die Sahara géén skriftelike tradisie gehad wat hul eie skriftelike erfenis
in gedrang kon bring nie. Trouens, met die koms van koloniste is Afrikane vir die eerste
maal in hul geskiedenis blootgestel aan die skryfkuns en die vermoë om inligting meer
permanent en betroubaar te bewaar. Daar was ook geen kalenders wat vervang kon
word nie. Eers met die koms van Europeërs het hierdie Afrikane bewus geword van
konsepte soos “Woensdag” of “Februarie”.
Beperkte Boere-grondgebied
Ingevolge die kaart van suidelike Afrika in Ox8:37 word die Suid-Afrikaanse Republiek
se grense “nouer” uitgebeeld, weg van die Limpoporivier af. Tussen die Republiek en
sy ware grens is daar Kgacla-, Venda- en Pedi- “onafhanklike state” aangedui. Ook
Vd8:154 toon twee kaarte van Suid-Afrika, om grondeienaarskap in 1860 teenoor 1913
te kontrasteer. Die kaart van 1860 toon géén Boererepublieke aan nie, ook nie ’n Britse
Natal (wat ook eers ’n Boererepubliek was) nie.
Republikeinse onafhanklikheid
Daar word in Ox8:37 gesê dat die Suid-Afrikaanse Republiek (Transvaal) en Oranje-
Vrystaat se onafhanklikheid in onderskeidelik 1825 en 1852 deur Brittanje erken is. Dit
was egter in 1852 en 1854.
24
Die Pedi’s
Vd8:138 beskryf die Pedi as ’n Shonasprekende groep. Sepedi is inderwaarheid ’n
dialek van Noord-Sotho.
Onderwerping van die Pedi
Ox8:76 stel dit dat Boeremagte Sekhukhune se Pedi’s aangeval het omdat hulle die
ryk goudneerslae aldaar wou hê. Inderdaad was dit hoofsaaklik Britse gouddelwers
wat na Pelgrimsrus gegaan het, en ook gedink het aan Britse anneksasie van die Pedi-
gebied. Tydens die goudstormloop het Sekhukhune maklik wapens by blanke
immigrante in die hande gekry, en hiermee het hy Boere se vee geroof en geplunder
– soveel so dat van die Boere laer moes trek ten einde hulself te beskerm.
Boerekommando’s het opgetrek teen die Bapedi om orde te probeer handhaaf.
Hedendaagse korrupsie
Vd8:172 beskou korrupsie en swak leierskap in hedendaagse Afrikastate “as deel van
die nalatenskap van kolonialisme, wat ’n onregverdige regeringstelsel was”. Ook in
Via8:183 word die “opkoms van magtige leiers wat korrup en gulsig was”, soos Idi Amin
en Mobutu Sese Seko, toegeskryf aan “[d]ie ineenstorting van tradisionele vorme van
regering” weens kolonialisme. Dat korrupsie ’n noodwendige gevolg is van “onreg” is
sekerlik nie deduktief afleibaar nie? Buitendien het talle Afrika-stamhoofde en konings
soos despote geheers in die voorkoloniale tydperk.
Hedendaagse sukses
Suid-Afrika word, saam met Namibië en Botswana, as “stabiele en voorspoedige”
demokrasieë beskryf en as een van die “suksesverhale” van postkoloniale Afrika. Rob
Davies word ook aangehaal om te wys op Afrika en Suid-Afrika se toenemende sukses
en belang in die wêreldekonomie (Vd8:172). Gebrek aan basiese munisipale dienste,
politieke geweld, diensleweringsproteste, toenemende werkloosheid, die MIV/Vigs-
pandemie, xenofobiese aanvalle, energietekort, dreigende voedselonsekerheid en
korrupsie wat hoogty vier in Suid-Afrika, is voldoende om hierdie stellings te repudieer.
25
Segregasie ontstaan in myne
Ox8:88 meld dat die segregasie wat in die myne van die laat 1800’s in Suid-Afrika
“ontstaan het”, later “versprei [het] na alle vlakke van die Suid-Afrikaanse samelewing
en het eers in 1994 tot ’n einde gekom”. Alhoewel rassesegregasie in die (Britse) goud-
en diamantmyne gehandhaaf is, is dit reeds geïnstitusionaliseer toe Jan van Riebeeck
’n amandellaning tussen die Nederlanders en die Khoi aangeplant het. Skeiding tussen
rasse het nie in die myne ontstaan nie, nóg minder in 1948. Dit was as ’t ware ’n
onmiddellike gegewe sedert blankes die eerste maal voet aan wal gesit het.
Rooibaadjies
Vd8:151 se figuur 6.13 toon Britse soldate tydens die Tweede Vryheidsoorlog in rooi
uniforms. Die Britte het egter kakie gedra – vandaar die volksnaam “Kakies” vir Britse
soldate. Die uniforms lyk ook nie soos dié van die Eerste Vryheidsoorlog nie (toe die
Britte inderdaad rooi gedra het nie).
Verskroeide aarde
Vd8:151 maak melding van die Britte se verskroeideaardebeleid, en dat “eiendom van
die Boere vernietig” is en “boere [sic] se hulpbronne ernstig beperk [is]”. Daar word
geen woord gerep oor die oprigting van konsentrasiekampe, of die vernietiging van
dorpswonings, insluitend kerke, nie. Voorkoms van sterftes word wel in Via8:125–126
genoem.
Rhodes en De Beers
Via8:69 sê dat Cecil Rhodes die maatskappy De Beers in 1888 gestig het, en in 1892
’n ooreenkoms met die Diamant Sindikaat bereik ingevolge waarvan diamantaanbod
en -pryse gereguleer kon word. “Dit het tot die stigting van die Diamantkorporasie in
1930 gelei.” Welke korporasie daarna verwys word, is nie seker nie. Rhodes is in 1902
oorlede, en De Beers bestaan vandag nog onder dié naam.
26
Suid-Afrika en die Eerste Wêreldoorlog
Klem word uitsluitlik op twee gebeure gelê – Die Slag van Delvillebos (1916) en die
sink van die passasierskip SS Mendi (Vd8:195–196). Klem word ook gelê op die feit
dat slagoffers van die SS Mendi hoofsaaklik swart Suid-Afrikaners was. Geen melding
word gemaak van die Duitswes-offensief, of die ekspedisie na Oos-Afrika nie. Buiten
een terloopse verwysing – “weerstand deur die Boere by die huis” (Via8:252) – word
die Rebellie ook totaal en al verswyg.
Oostenrykse imperialisme
Vd8:185 is van mening dat Aartshertog Franz Ferdinand Serwië “verder in die
Oostenryk-Hongaarse ryk [wou] absorbeer”, en dat hy om hierdie rede deur die pan-
Slawiese idealis Gavrilo Princip vermoor is. Ferdinand was egter van plan om juis
groter outonomie aan die Serwiërs (in wat toe Bosnië was) in ’n veel meer federale
Oostenryk-Hongaarse staat (wat moontlik ’n derde, Suid-Slawiese been sou hê) te
bied. Sodanige federasie sou die Bosniese Serwiërs verhoed om deel te word van ’n
pan-Suid-Slawiese Joegoslawië.
Rusland se draadspringery
Volgens Vd8:200 het Rusland vrede gemaak met Duitsland ná afloop van die Russiese
Revolusie, en het Duitsland nou 400 000 troepe van die oosfront af kon gebruik vir die
Westerse offensief. “Rusland het dus van kant verander!” Rusland het nie “van kant
verander” nie, Rusland het onder sy nuwe regime bloot uit die oorlog onttrek.
Apartheid en loopgraafoorlog
Vd8:192 verduidelik dat die Eerste Wêreldoorlog die bestudering en behandeling van
“sielkundige siektes wat deur geweld veroorsaak word”, soos bomskok en
posttraumatiese stressindroom, ingrypend verander het. Heel lukraak, en verwyderd
van die onderwerp, word dan gesê: “Hierdie versteurings beïnvloed steeds baie Suid-
27
Afrikaners as ’n gevolg van die gruwels en geweld van die apartheidsjare.” Wat
apartheid met die loopgrawe van die Eerste Wêreldoorlog te make het, weet nugter.
Lord Kitchener
Vd8:188 praat van “Alfred Kitchener, die Britse Minister van Buitelandse Sake”.
Kitchener se name was Horatio Herbert, en hy was Minister van Oorlog (voorloper van
die pos van Minister van Verdediging). Die Minister van Buitelandse Sake ten tyde van
die Eerste Wêreldoorlog was Edward Grey, gevolg deur Arthur Balfour.
28
Graad 9 – Sosiale Wetenskappe
Temas (geskiedenis):
Die Tweede Wêreldoorlog (1919–1945)
o Die totstandkoming van Nazi-Duitsland
o Die Oorlog in Europa
o Die Oorlog in die Stille Oseaan
Die Kerntydperk en die Koue Oorlog (1945–1990)
o Spanning tussen die geallieerdes na die oorlog
o Einde van die oorlog in die Stille Oseaan; kernwapens
o Definisie van supermoondhede en betekenis van die Koue Oorlog
o Areas van konflik en kompetisie
o Die einde van die Koue Oorlog, 1989
Keerpunte in die Suid-Afrikaanse geskiedenis sedert 1948
o Die Universele Verklaring van Menseregte
o Definisie van rassisme
o 1948: Nasionale Party en apartheid
o 1950’s: Onderdrukking en nie-gewelddadige weerstand
Keerpunte in die Suid-Afrikaanse geskiedenis: 1948, 1960, 1976 en 1990
o 1960: Die Sharpeville-slagting en die Langa-optog
o 1976: Die Soweto-opstand
o 1990: Vrylating van Mandela en ontbanning van organisasies
Die volgende punte verdien aandag:
Die internasionale geskiedenis word oorsigtelik behandel, en kan maklik tuisgebring
word onder enige heersende Westerse beskouing of beskrywing van die Tweede
Wêreldoorlog. Ook die Koue Oorlog word (moontlik vanweë beperkte omvang)
hoofsaaklik objektief bespreek.
29
Die afdeling wat met plaaslike geskiedenis te make het, wat “keerpunte in die Suid-
Afrikaanse geskiedenis” behels, het uitsluitlik met die Struggle te make. Aanleiding tot
die algemene versetbeweging word geskets deur te wys op die Universele Verklaring
van Menseregte deur die VN, en die wyse waarop die Afrikanerregering sedert 1948
radikaal afgewyk het van hierdie “universele beginsels”. Daarby was die ideologie van
segregasie en/of apartheid gebaseer op “pseudowetenskap” en die “mite” van
menslike rasse (Ox9:125). Aandag word in die afdeling verleen aan ’n bespreking van
individuele apartheidswette, die impak van die Groepsgebiedewet (slegs met fokus op
swartes), die Versetveldtog, die Freedom Charter en die Vroueoptog. Profiele van
Helen Joseph en Lilian Ngoyi word verskaf.
Die tweede gedeelte lê uitsluitlik klem op die gebeure by Sharpeville, die Soweto-
opstande, toenemende interne konflik, druk vanaf die buiteland, die invloed van die
einde van die Koue Oorlog en die uiteindelike verkiesing in 1994. Daar word onder
meer aan die SAKP, die PAC, Steve Biko, en Tsietsi Mashinini aandag geskenk. In
totaal behels die graad 9-kurrikulum niks wat nié in vele meer besonderhede in graad
11 en 12 gedoen word nie. Sodoende word die graad 9-leerder, tydens die laaste jaar
van sy bemoeienis met die verpligte vak Sosiale Wetenskappe, gedwing om die kern
van die graad 11- en 12-geskiedenis-kurrikulum in te neem.
30
Graad 10 – Geskiedenis
Temas:
Die wêreld teen omstreeks 1600
o China
o Songhai
o Mongools Indië
o Europese gemeenskappe
Europese uitbreiding en verowerings van die vyftiende tot agtiende eeue
o Impak van Spanjaarde op Sentraal-Amerika en Karibiese eilande
o Impak van Portugese op Afrika en handelsroetes in die Indiese Oseaan
o Impak van die Hollanders op Suid-Afrika
o Slawerny aan die Kaap
o Gevolge van Europese uitbreiding op inheemse bevolkings wêreldwyd
Die Franse Revolusie
o Suid-Afrika in 1750
o Politieke veranderinge 1750–1820
o Politieke revolusie 1820–1835
o Nalatenskap
Transformasies in Suider-Afrika na 1750
o Redes vir die uitbreek van die oorlog
o Verskillende aspekte en ervarings van die oorlog
o Vroue in Brittanje tydens die oorlog
o Duitsland se oorgawe en die Verdrag van Versailles
Koloniale uitbreiding na 1750
o Britse beheer oor die Kaap en verandering in arbeidspatrone
o Uitbreiding van grense en handel
o Boere se reaksie op Britse beheer
o Die Zoeloe-koninkryk en Natalse kolonie
o Samewerking en konflik op die Hoëveld
Die Suid-Afrikaanse Oorlog en Uniewording
o Mynkapitalisme
31
o Die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899–1902)
o Die Unie van Suid-Afrika 1910
o Die Naturelle Grondwet 1913
Die volgende foute en wanvoorstellings kom voor:
’n Onontwikkelde Europa
Daar word in die eerste hoofstuk pertinent gepoog om die Europese beskawing van
die vyftiende en sestiende eeu in ’n swak lig te stel teenoor die ryke in Asië en Afrika.
In Ox10:17 word daar vertel dat in die vroeë 1400’s gedrukte romans in Beijing te koop
was, terwyl Koning Henry van Engeland slegs 6 boeke gehad het. Daar word ook gesê
dat Europeërs geglo het die wêreld is plat, en dat hulle swak paaie gehad het
(Ox10:38). In hierdie tyd het die Renaissance egter al lankal in aanvang begin neem,
en letterkundige werke deur Dante, Boccaccio en Petrarca was al dekades bekend,
terwyl meesters soos Donatello reeds prominente werke gelewer het. Daarby word
prontuit gesê dat Arabiese en Chinese denke en tegnologie “baie verder gevorderd”
was as in Europa (Ox10:39).
Skeptisisme oor Europese bronne
In Ox10:70 word uitgebrei oor die werk van die historikus Matthew Restall, wat die
algemene opvattings rondom die Spaanse verowerings in die Amerikas bevraagteken.
Volgens hom is die conquistadors se oorwinnings toe te skryf aan interne oorloë tussen
inboorling-Amerikaners. Derhalwe het ’n klein mag Spaanse soldate nie alleen ’n
oorwinning oor die inboorlinge behaal nie. Die Spanjaarde se verhaal oor wat gebeur
het, was bloot “om hulself op te hemel”. Dan word daar gesê: “Leerders, wees versigtig!
Dink altyd na oor waarom mense dinge skryf en sê en wat hulle doen.” Dit is
insiggewend dat slegs die Europese weergawe in twyfel getrek word.
32
Ontwikkelde Suid-Amerika
Ox10:77 haal ’n gedeelte uit ’n koerantartikel in The Boston Globe van 2005 aan waar
die volgende geskryf is: “Inka-metaalwerk was dikwels net so goed soos Europese
metaalwerk, maar dit het sulke verskillende doeleindes gehad, dat wetenskaplikes dit
tot onlangs toe nie as tegnologie herken het nie. Europeërs het metaal vir gereedskap
gebruik terwyl die Inkas dit primêr gebruik het om rykdom en mag te toon.” Die skrywer,
Charles Mann, erken dat die metaalwerk hoofsaaklik as versiering gebruik is – en nie
as gereedskap nie. Maar dan ís dit immers nie tegnologie nie. Blote vermoë om te
smee, impliseer nie die skep van vindingryke implemente nie.
Die Europese kalender
Ox10:83 sê dat die Asteke ’n “sonkalender van 365 dae gebruik [het] en dit was 100
jaar voordat die Europeërs hulle eie 365-dag kalender uitgedink het”. Dit is eenvoudig
vals. Julius Caesar het die Juliaanse kalender reeds in 46 v.C. voorgestel.
Hollanders steel vee, grond en arbeid
Ox10:94 meld dat die Khoi “gedwing was om bediendes van die Hollanders te word”
weens “verlies van hulle grond”. ’n Bron word dan aangehaal waarin vertel word dat
die Hollanders die Khoi se vee gesteel het ten einde hul landerye te bewerk, en dat die
Hollanders ’n amandelheining geplant het om die Khoi “van hul voorsate se grond” te
skei. Die “bron” is afkomstig uit www.sahistory.org, ’n bekende revisionistiese webblad
wat veral fokus op Struggle-geskiedenis. Daar word ook geen outeur aangedui by
stukke op dié blad nie.
Geloofwaardigheid bevraagteken
Aktiwiteit 2.11, vraag 5 (Ox10:97) lui soos volg: “Hoe sou die feit dat Bron D deur Van
Riebeeck, ’n Hollandse kolonis, geskryf is die betroubaarheid van die bron beïnvloed?
Identifiseer die dele van die bron wat jy voel dalk bevooroordeeld is.”
33
Slegs Van Riebeeck se dagboek word sodanig bevraagteken. Ander bronne in die
aktiwiteit, afkomstig uit www.sahistory.org en www.historyworld.com [wat in
werklikheid die uitgang .net blyk te hê], word sonder meer aanvaar. Nie een van hierdie
webblaaie het identifiseerbare outeurs vir hul betrokke artikels nie.
“Ontwikkelde tegnologie”
Ox10:176 verwys na implemente en wapens van yster, potskerwe en plekke waar
seremonies gehou is in plekke waar swart kapteinskappe gevestig was. Die ontginning
van yster “dui op ontwikkelde tegnologie”. Dieselfde handboek wat propageer dat
Europa agter die res van die wêreld was, verswyg nou dat Europa reeds twee en ’n
half millennia gelede die ystertydperk binnegegaan het. Europa het reeds sy
Middeleeue, Renaissance, en Hervorming beleef, en was (in 1750, waarby die
handboek stilstaan) te midde die Verligting. Die Westerse beskawing het indertyd op
die vooraand van die Nywerheidsrevolusie gestaan.
Shaka en Nandi se dood
Ox10:189 sê dat Shaka mense ten tyde van sy ma se dood opdrag gegee het om in
die openbaar te treur, en is soms met die dood gestraf indien hulle hierdie bevel
verontagsaam het. Inderwaarheid het Shaka mense én beeste lukraak laat doodmaak,
soms as offer. Meer as 7 000 van sy onderdane is so gedood, juis sodat die volk sou
treur.
Bloedrivier
Die feit dat die terrein van die veldslag as Bloedrivier bekendstaan, vanweë die rooi
kleur van die water, word beskryf as “’n Boere-legende” (Ox10:201).
34
Retief-Dingane-traktaat
Ox10:202–203 noem dat die Voortrekkers “ook verklaar dat hulle ’n dokument ... in
Retief se sak gevind het. Die egtheid van hierdie dokument is egter te betwyfel”.
Hierdie stelling van die outeurs word dan ook nie gestaaf nie. Waarom is die egtheid
te betwyfel?
Potgieter as slawehandelaar
Ox10:261 sê dat generaal Hendrik Potgieter in die 1840’s in die Wes-Transvaal jong
swart kinders gevang het en by die hawe op Delagoabaai as slawe verkoop het.
Wat se ironie?
“Na die nederlaag van Dingane in 1838 het ongeveer 6 000 Boere hulle in Natal
gevestig (ironies genoeg op die grond wat hulle gesê het Dingane aan Retief gegee
het voordat hy vermoor is).” Dit is juis níé ironies nie. Die Voortrekkers het onderneem
(in Retief se manifes) om niemand se grond te onteien nie. Deur hulle in die gebied
deur Dingane afgestaan te vestig, het hulle hierdie onderneming gestand gedoen.
Voortrekkers vat grond én bewoners
Ox10:264 sê dat in die Republiek Natalia elke burger “2 500 hektaar grond [kon] eis
en die swart werkers wat daarop was”. Hier word blatant geskryf dat die Voortrekkers
grond goedsmoeds gevat het by swart boere, en dan boonop hierdie vorige eienaars
as werkers “kon eis”.
Konsentrasiekampe ’n “noodsaak”
Volgens Ox10:327 is dit “onwaarskynlik dat die Britte ooit bedoel het dat dit [die sterftes
in die konsentrasiekampe] die resultaat moes wees.” Daarby was hulle verplig om die
vroue en kinders “in ’n veilige plek te hou”. Daar word nie gesê dat die vrouens en
kinders hul reeds bestaande veilige plekke kwyt is omdat die Britte hulle afgebrand of
gebombardeer het nie! Melding word ook oor siektes gemaak wat sterftes in die kampe
35
veroorsaak het, maar nie ’n woord word gerep oor uithongering, glas en metaalhakies
in die voedselrantsoene, of gebrek aan water en brandstof nie.
Uiteenlopende standpunte
Aktiwiteit 6.9 in Ox10:330 maak melding van die feit dat Emily Hobhouse (Bron A) en
Violet Markham (Bron B) se opinies van en rapportering oor die kampe teenstrydig is.
Die leser moet dan besluit welke een die mees betroubare is. Markham het geskryf dat
die Boervroue self verantwoordelik was vir die sterftes vanweë hul gebrek aan kennis
en sanitasie, en dat dokters en verpleegsters teen sulke “gruwels” die stryd moes voer.
Bron D is geskryf deur Sophie Leviseur, ’n Duitse Jodin wat klaarblyklik in die kamp te
Bloemfontein was. Volgens haar is die verhale oor die kampe oordrewe, dat daar nie
vuur op onverdedigde stede was nie, en dat burgerlikes nie gedood is nie. Dit was
vervolgens “soveel ’n ‘gentleman’ se oorlog aan beide kante as wat oorlog kan wees”.
Leviseur se leuens word dan nie deur die handboekskrywers weerlê nie – talle dorpe
(insluitend die kerke) is volkome verwoes, daar is geskiet op vlugtende vrouelaers (in
die Klerksdorp Museum is vandag nog ’n beskadigde grafsteen te sien, raakgeskiet
toe die Engelse tydens ’n begrafnis op vroue losgetrek het), en honderde vroue en
jong dogters is verkrag deur Britse soldate – gruweldade wat nêrens in die handboeke
vermeld word nie.
Boere maak van gewapende swartes gebruik
Ox10:334 het ’n foto wat klaarblyklik “swart skutters in ’n Boere-kommando by Winfield”
aandui. Daar word geskryf dat swartes deur Britte bewapen en as verkenners gebruik
is, maar daar word ook prontuit gesê dat swartes deur die Boere bewapen is. Nie-
blankes is nooit deur die Boeremagte van wapens voorsien nie, aangesien dit teen
hulle beginsels was om eersgenoemdes van vuurwapens te voorsien. Trouens, die
Boere het nie-blankes wat vir die Britte gespioeneer het of deur hulle bewapen is,
gefusilleer.
36
Versoening
Daar word in Ox10:339 geskryf dat die vredesverdrag “aansienlike hulp vir die
heropbou van [die Boere] se plase ingesluit het”. Brittanje het wel ’n sommetjie
aangebied, maar dit was alles behalwe “aansienlik”. Ná die Tweede Vryheidsoorlog
was Republikeinse Afrikaners volkome verarm. Meeste wonings is vernietig, landerye
en weiding verbrand, en die ganse veestapel van kant gemaak, sodat meeste
(oorlewende) gesinne letterlik niks gehad het nie. Die heropbou wat oor die volgende
dekades plaasgevind het, was die produk van selfdoen-aksies en -projekte deur
Afrikaners self – nie deur Britse liefdadigheid of versoeningsaalmoese nie.
Opdrag: geen Boere in die Boereoorlog nie
Die opdrag aan die einde van die hoofstuk oor die “Suid-Afrikaanse Oorlog” tel 50
punte, verskaf 9 bronne, en strek oor 5 bladsye. Elkeen van die 14 vrae het slegs te
make met “die rol van swartes in die oorlog”. Die leerling word nie getoets oor sy kennis
van die oorlog wat betref persone, insidente en gebeure soos die Jameson-inval; die
Ultimatum; Kruger en Milner en Steyn; Magersfontein, Stormberg en Spioenkop;
Paardeberg; Roberts en Kitchener; die Blokhuisstelsel; die Verskroeideaardebeleid;
guerrilla-oorlogvoering; De Wet en De La Rey; Gideon Scheepers en Danie Theron;
Emily Hobhouse; of die bepalings van die Vrede van Vereeniging nie.
37
Graad 11 – Geskiedenis
Temas:
Kommunisme in Rusland, 1900–1940
o Die Russiese revolusie
o Lenin se politieke en ekonomiese beleid
o Stalin se politieke en ekonomiese beleid
Kapitalisme in die VSA, 1900–1940
o Kapitalisme in die 1920’s; die Groot Depressie
o Roosevelt en die nuwe bedeling
o Die impak van die depressie (en Tweede Wêreldoorlog) in ander
wêrelddele
Opvattings omtrent ras in die laat negentiende en vroeë twintigste eeu
o Idees omtrent ras: teorie en praktyk
o Gevallestudie: Inheemse Australiërs (Aborigenes)
o Gevallestudie: Die Jode in Nazi-Duitsland
Nasionalismes
o Wat is nasionalisme?
o Nasionalisme in Suid-Afrika
o Gevallestudie: die Midde-Ooste
o Van Goudkus tot Ghana
o Die positiewe en negatiewe aspekte van nasionalisme
Apartheid Suid-Afrika: 1940’s tot 1960’s
o Van segregasie tot apartheid
o Die totstandkoming van die apartheidstaat
o Verset en onderdrukking in die 1950’s
o Sharpeville; Rivonia
38
Uitsluitlike aandag aan die Struggle
Wat uitstaan in die graad 11-kurrikulum is die skakering van die plaaslike geskiedenis.
Die afdelings oor die Sowjet-Unie en die VSA in die eerste helfte van die twintigste eeu
is ’n bondige, dog deeglike uiteensetting van die gebeure en verskynsels van
toepassing. Saam met die afdelings oor beskouings oor ras en die aard van
nasionalisme verskaf dit goeie agtergrond tot die verstaan van eietydse stelsels,
plaaslik sowel as in die buiteland. In aansluiting hierby is die hoofstuk oor die konflik
tussen Israel en Palestina van voldoende historiese agtergrond voorsien en word dit
objektief aangebied, met beskouings van beide partye se standpunte en oortuigings.
Die plaaslike geskiedenis handel egter uitsluitlik oor die Struggle. Die aanvang van
hierdie narratief is die oorskakeling van “segregasie” wat sedert Uniewording in 1910
geheers het, en “apartheid” wat in 1948 ingestel is. Generaal Hertzog word
geïdentifiseer as die een verantwoordelik vir wetgewing wat skeiding tussen rasse in
die woonplek, werkplek, politiek, administrasie, weermag en reg op grondbesit
bewerkstellig het. Dit word opgevolg deur ’n bespreking van die verdeling (en soms
onderverdeling) van die bevolking in etniese groepe; die groepsgebiedewet; die
passtelsel; afsonderlike onderwys; afsonderlike geriewe; en die aanslag teen
kommunisme en arbeidersverenigings.
Daarna word klem gelê op die versetbeweging, wat insluit die Meidagstaking van 1950,
die Versetveldtog van 1952, die Congress of the People, die opstel en aanvaarding
van die Freedom Charter in 1955, en die vroueoptog van 1956. Hierdie verset sou tot
verdere “verdrukking” lei, wat dan kulmineer in die “Sharpeville-menseslagting” van
1960. Ox11:208 haal dan ’n Britse koerant aan wat volhou dat alle beëdigde
verklarings die Afrikanerregering se bewerings oor die gebeure weerspreek. Daar was
klaarblyklik nie 20 000 mense nie, slegs 4 000, en die skare “[was] vriendelik en
ongewapen”. Nie slegs word die Afrikanerregering tot leuenaars gemaak nie, maar
daar word ook nie gesê dat slegs twee maande vroeër wit én swart polisiemanne deur
’n aggressiewe skare by Cato Manor gestenig en hul lyke vermink is nie. Dít was die
39
werklike konteks waarin die optog by Sharpeville plaasgevind het. Laastens word
verduidelik dat die gebeure by Sharpeville verantwoordelik was vir die besluit om tot
gewapende verset oor te gaan (daarom is MK en Poqo gestig), gevolg deur ’n
bespreking van die vonnisse uitgereik by die Rivonia-verhoor.
In die afdeling word aandag bestee aan bepaalde persone uit die Struggle-beweging
soos Trevor Huddleston, Albert Luthuli, Steve Biko, Robert Sobukwe, Yusuf Dadoo,
James Mpanza, GM Naicker, Ruth First, Oliver Tambo, Bram Fischer, Walter Sisulu,
Helen Joseph, Ida Mtwana en Lilian Ngoyi; en organisasies of bewegings soos die
ANC, die PAC, SACTU, Umkhonto We Sizwe, Poqo, Industrial an Commercial
Workers’ Union, AMWU, Non-European Unity Movement, FEDSAW, en die Black
Sash.
Afrikanernasionalisme, -identiteit, en -geskiedenis
Waar daar wel by Afrikanergeskiedenis en -erfenis stilgestaan word, word twyfel oor
die juistheid daarvan gesuggereer.
Afrikanernasionalisme en -identiteit word in historiese perspektief geplaas deur te
verwys na die Tweede Vryheidsoorlog (wat weereens, “meer gepas”, die Suid-
Afrikaanse Oorlog heet), die taalstryd, die oorkoming van die Armblankevraagstuk, en
die herdenking van die Groot Trek (1938). Die egtheid en eerlikheid van ’n
Afrikaneridentiteit word egter bevraagteken. Viv11:204 skryf dat Gustav Preller, in sy
biografieë oor Piet Retief en Andries Pretorius, “aan hulle helde-eienskappe toedig”.
Viv11:192-193 sê dat die Afrikaanse taalbeweging “gekombineer [is] met die herskryf
van die geskiedenis” wat die Afrikaner te midde ’n vyandige wêreld van swartes en
Britte geplaas het. Wat die Simboliese Ossewatrek van 1938 betref, sê Viv11:196 dat
die media indertyd “’n nuwe weergawe van die historiese Groot Trek geskryf het” ten
einde dit soos ’n “Goddelik geseënde” beweging te laat lyk. Kortom –
40
Afrikanerskrywers en -geskiedkundiges van die eerste deel van die twintigste eeu word
voorgehou as revisioniste wat met opset valshede verkondig het ten einde hul eie
idilliese narratief op te tower.
Aktiwiteit 4.12, vraag 2 (Vi11:210) vra aan die leser of hy dink dat
Afrikanernasionalisme ’n sosiaal-maatskaplike maaksel is (in die sin dat dit berus op
’n sg. “verbeelde gemeenskap”). Ox11:139 se Aktiwiteit 3, vraag 5 lui: “Verduidelik hoe
die skepping van Afrikanernasionalisme die begrip van ’n ‘denkbeeldige gemeenskap’
illustreer.” Hierdie vraag word nie gevra wat betref swart nasionalisme nie, ten spyte
van die feit dat laasgenoemde juis berus het op die amalgamering van verskillende
etniese identiteite. Ook in Viv11:196 word die volgende geskryf onder ’n opskrif
“Bespreek en debatteer”: “Werk in pare om die volgende te bespreek: Dink jy dat
Afrikanernasionalisme die ‘ontwaking’ van ’n ou Afrikaner-identiteit was, of is dit
geskep en gemanipuleer deur spesifieke belangegroepe wat ’n nuwe sin vir kulturele
eenheid wou skep deur simbole en instellings?” Viv11:200 maak dit dan later duidelik
dat “[d]ie meeste Afrikaners” [sedert magsverlies] dan ook hul Afrikaneridentiteit laat
vaar het, ten einde “’n inklusiewe Suid-Afrikaanse identiteit” aan te neem.
Daarby het Afrikaners volgens Ox11:137 ten tyde van hul bewindstermyn “regstellende
aksie” toegepas. Die voorbeelde wat die handboek gee, is egter dan glad nie soos
“Affirmative action” in Suid-Afrika vandag daar uitsien nie. Daar word bloot uitgelig dat
Afrikaners volkseie inisiatiewe geloods het in die onderwys (CNO-skole), godsdiens
(wegbly van nie-Calvinistiese kerke) en die ekonomie (Sanlam en Santam, Volkskas,
en die Reddingsdaadbond). Die Afrikaner se vele selfdoen-aksies en -projekte,
waar die volk letterlik homself gehelp het, is allermins “regstellende aksie” ten koste
van enigiemand anders.
41
Graad 12 – Geskiedenis
Temas:
Die Koue Oorlog
o Die oorsprong van die Koue Oorlog
o Uitbreiding van die Koue Oorlog en opkoms van China
o Hoe Viëtnam die VSA kon oorwin
o Fases in die oorlog
Onafhanklike Afrika
o Hoe onafhanklikheid in die 1960’s en 1970’s bereik is
o Gevallestudies: Kongo (Zaïre) en Tanzanië
o Sukses en uitdagings van onafhanklike Afrika
o Interne en eksterne faktore op Afrika
o Afrika in die Koue Oorlog
Burgerlike samelewingsprotes, 1950’s tot 1970’s
o Oorsig oor vorme van burgerlike protes (feminisme, anti-oorlog,
burgerregte)
o Gevallestudie: VSA-Burgerregtebeweging
o Gevallestudie: Swartmagbeweging in die VSA
Burgerlike samelewingsprotes in Suid-Afrika in die 1970’s en 1980’s
o Die aard van die weerstand na 1960
o Die Swartbewussynsbeweging
o Regeringspogings om apartheid te hervorm
o Interne weerstand teen hervormings
o Internasionale reaksie en internasionale anti-apartheidstryd
o Begin van die einde van apartheid
Die koms van demokrasie na Suid-Afrika en aanvaarding van die verlede
o Onderhandelingsproses en Regering van Nasionale Eenheid
o Die Waarheids-en-versoeningskommissie
o Einde van die Koue Oorlog, nuwe wêreldorde
o Einde van Koue Oorlog, gebeure van 1989
o ’n Nuwe wêreldorde
42
In die internasionale afdelings oor die Koue Oorlog en die algemene
onafhanklikwording van Afrika word inligting objektief verstrek. Daarby verskaf hierdie
onderwerpe werklik ’n juiste agtergrond om hedendaagse wêreldgebeure te verstaan.
Verduideliking word gegee oor hoe die einde van die Tweede Wêreldoorlog aanleiding
gegee het tot spanning tussen Oos en Wes, hoe China sedert 1940 tot ’n wêreldmag
verrys het, en die oorsake en verloop van die oorlog in Viëtnam. Aspekte hiervan word
dan ook betrek by die afdeling oor onafhanklike Afrika. Aanleiding tot
onafhanklikheidwording en die uiteenlopende wyses waarop dit plaasgevind het, word
aan die hand van gepaste gevallestudies uitgebeeld. Dit geskied objektief met lof en
kritiek op verskeie standpunte, benaderings en beleid. Ook die rol van Afrika as
speelveld vir die Wêreldmagte tydens die Koue Oorlog word verduidelik. Die val van
die ystergordyn se impak op die oorloë in Afrika bied dan ook ’n meer internasionale
perspektief, en groter begrip oor hoe wêreldgebeure bygedra het tot die vorming van
Suid-Afrika se meer onlangse geskiedenis.
In die afdelings oor plaaslike geskiedenis word uitermatige aandag geskenk aan die
Burgerregtebeweging (Civil Rights Movement) en Swartmagbeweging (Black Power)
in die VSA. Ongeveer 35 bladsye word per handboek aan hierdie onderwerpe gewy.
Klaarblyklik moet dit as aanvullend tot die Struggle-gebeure in Suid-Afrika beskou word
(wat die waardes in hierdie Suid-Afrikaanse beweging ’n meer universele strekking of
geldigheid toedig?). Hier word leerlinge gekonfronteer met figure soos Rosa Parks,
Martin Luther King Jnr., Malcolm X, Elizabeth Eckford, Angela Davis, Stokely
Carmichael, Thurgood Marshall, Fannie Lou Hamer, Bobby Searle en Huey Newton.
Meer buitelandse individue verdien hier persoonlike aandag, of word na verwys, as
individue in byvoorbeeld die Groot Trek of die Tweede Vryheidsoorlog – by uitstek die
twee grootste en belangrikste gebeure in die ganse geskiedenis van Suid-Afrika. In
gebeure van internasionale belang, soos die Amerikaanse en Franse Revolusies, of
die Wêreldoorloë, kon hierdie balans meer aanvaarbaar gewees het. Dit is uiters
selektief en subjektief om sodanige klem op die Amerikaanse Burgerregtebeweging te
gee. Waarom soveel aandag hieraan bestee?
43
Soos in graad 11 is die plaaslike geskiedenis gedek suiwer dié te make met die
Struggle. Klem word hier gelê op die protesbewegings van vroue, die
Swartbewussynbeweging en die Soweto-onluste van 1976. Aandag word veral
geskenk aan bewegings en organisasies soos Cosatu, UDF, UWUSA, Nactu, Actu, die
End Conscription Campaign, en veral die Black Sash. Daarbenewens word onder
meer na die volgende persone verwys (veral in die vorm van toegewyde profiele): Ray
Alexander, Steve Biko, Helen Joseph, Blanche la Guma, Mary Burton, Mamphela
Ramphele, Fatima Meer, Albertina Sisulu, Steve Biko, Barney Pityana en Winnie
Kgware.
Na gedeeltes oor die algemene politieke toestand in Suid-Afrika in die 1970’s en 1980’s
word aandag gewy aan die konflik en spanning van die vroeë 1990’s. Dit word gevolg
deur ’n bespreking van die onderhandelingsprosesse wat aanleiding gegee het tot die
demokratiese verkiesings van 1994, en die daaropvolgende Regering van Nasionale
Eenheid. Daarna val die klem op die werking van die Waarheids-en-
versoeningskommissie. Daar word onder meer vertel dat die Kommissie glad nie die
weg van ’n “Neurenberg-verhoor” wou volg nie, en dat klem op versoening geplaas is.
Ter afsluiting word Robbeneiland en Freedom Park voorgehou as geskiedkundige
gedenktekens wat die leerling kan besoek ten einde sy erfenis te onthou en gedenk.
44
Vat ons geskiedenis terug
Afrikaners staan vandag in die beskuldigdebank van die geskiedenis – die volgende
dinge gebeur:
Historiese name van stede en strate word uitgewis.
Kultuurgoedere wat nie gebreek, gesteel, verlê, vernietig of oorgeneem word
nie, word verwaarloos.
Afrikanergeskiedenis in skoolhandboeke word herskryf.
Afrikanerkinders moet glo hulle voorouers was kriminele wat ’n misdaad teen
die mensdom gepleeg het.
Dié soort hantering van geskiedenis is ’n klassieke gevallestudie van kulturele
imperialisme. Die doel van die ANC se kulturele imperialisme is duidelik: Afrikaners se
historiese selfbeeld, kulturele selfvertroue en trots moet vernietig word. Die ANC se
imperialistiese hantering van Afrikanergeskiedenis kom in wese neer op kulturele
moord. Dit is juis om dié rede belangrik dat leerders, ouers en die breë gemeenskap
kennis dra van die feitelike onjuisthede en die wanvertolking van Afrikanergeskiedenis
om die doel te bereik.
Die FAK wil geensins Afrikanerkinders ontmoedig om geskiedenis as skoolvak te neem
nie. Inteendeel, die FAK wil soveel as moontlik Afrikanerkinders aanmoedig om
geskiedenis te neem. Die ideologiese verdraaiing en wanvertolking van die
geskiedenis skep juis ’n geleentheid vir Afrikanerkinders om kennis te neem van die
politieke propaganda en die noodsaaklikheid daarvan om eietydse antwoorde daarop
te ontwikkel. NP van Wyk Louw het juis in Liberale nasionalisme beklemtoon: “... om
te lewe uit ’n tradisie is om te leef met ’n bestendige debat met die verlede.” Sonder ’n
breë historiese agtergrond sal dit nie moontlik wees nie.
45
Historiese geheueverlies
’n Groter probleem as die ideologiese beperkings van die skoolkurrikulum, is egter die
omvang van die historiese geheueverlies onder Afrikaners. Die gebrek aan historiese
kennis ontmagtig Afrikaners om deel te neem aan die ideële debatte van ons tyd. Die
verdraaiing van geskiedenis is egter niks nuuts nie. JD Kestell skryf reeds in 1926 dat
die onderwysstelsel so ontwerp is dat die Afrikanerkind nie iets van sy eie geskiedenis
moes leer nie. Afrikanerkinders moes destyds veral onder die indruk gebring word van
die mag en luisterryke geskiedenis van Groot-Brittanje. Dit het tot gevolg gehad dat
Afrikanerkinders die Britse geskiedenis goed geken het. Hulle het die name van die
Britse konings op die punte van hulle vingers geken. Tog het hulle geen idee gehad
wie Piet Retief, Gerrit Maritz of Andries Hendrik Potgieter was nie. Van Jan van
Riebeeck en Simon van der Stel het hulle nog nooit gehoor nie.
In die verlede was dit skrywers en digters soos JD Kestell, CR Swart, Totius, NP van
Wyk Louw, C Louis Leipoldt, MER en vele ander wat die geskiedenis vir
Afrikanerkinders laat leef het. Daardeur het hulle ook Afrikanerkinders gehelp om hulle
historiese selfrespek te herwin. Vandag rus die verantwoordelikheid op die skouers
van oupas en oumas, pa’s en ma’s om geskiedenis vir hulle kinders te laat leef. Die
verantwoordelikheid om die geskiedenis oor te dra, rus vandag op die
Afrikanergemeenskap self.
Nuwe tye vra ’n nuwe benadering tot geskiedenis
Die kritiese vraag is: Is die pogings om die Afrikanergeskiedenis binne die leerplanne
van die staat reg te stel, nie ’n reaktiewe benadering tot die probleem nie? Die
regstellings vereis gedetailleerde verduidelikings van konteks en motief, wat ook ’n
breë historiese kennis veronderstel. Die owerheid se ideologiese benadering in die
huidige kurrikulum word inderwaarheid die vertrekpunt ingevolge waarvan die
Afrikanergeskiedenis aangebied word. Bitter min Afrikanerkinders het nog geskiedenis
as skoolvak. Die oormatige klem op regstellings gaan nie noodwendig die meerderheid
46
jongmense se belangstelling prikkel en tot ’n herstel van ons historiese bewussyn lei
nie.
Dit bring ons by die verskil tussen ’n staatsbenadering en ’n gemeenskapsbenadering
in die hantering van geskiedenisopvoeding. In die vorige bedeling is
Afrikanergeskiedenis vanuit die perspektief van die staat aangebied.
Afrikanergeskiedenis het toe gefokus op groot volksgebeure, veldslae, militêre en
nasionale volksleiers – alles dinge wat fokus op die staat as uitgangspunt. In dié proses
het die fokus van die geskiedskrywing nie op die gemeenskap self, soos die verhale
van gemeenskapsleiers, kerkleiers, ekonomiese leiers, onderwysleiers, kultuurleiers,
skrywers, digters, ensovoorts, geval nie. Ook die Afrikanervrou, met die uitsondering
van enkeles, het bitter min plek gekry as rolmodelle vir die Afrikanerjeug. Vandag kan
die volgende vraag gevra word: Is die historiese geheueverlies onder Afrikaners nie ’n
simptoom van hierdie klem op die staatsperspektief (eerder as die
gemeenskapsperspektief) nie? In hierdie proses het die geskiedenis vir
Afrikanerkinders ’n dooie vak vol vervelige feite geword.
Die Afrikaanse digter, predikant en koerantredakteur, Izak de Villiers, pleit: “Ons moet
ons eie geskiedenis as groep weer in ere herstel, want dit lê op die oomblik aan skerwe.
Die skole gaan dit nie vir die Afrikaner doen nie.” De Villiers beskryf die proses as
“konfronteer jou duiwels, maar soek ook jou engele. Jy vertrap nie jou eie helde nie, jy
bou hulle”. De Villiers se pleidooi sluit aan by die FAK se benadering tot
Afrikanergeskiedenis. Die benadering kan saamgevat word in die volgende hoofpunte:
Die geskiedenis kan nooit op ’n neutrale wyse aangebied word nie. Die wyse
waarop die skoolkurrikulum ideologies gelaai is, bevestig dit. Maar die
geskiedenis kan wel vanuit ’n gemeenskapsperspektief op ’n gebalanseerde
wyse aangebied word. Professor Hermann Giliomee het tereg opgemerk dat
Afrikaners, soos enige ander gemeenskap, ook net ’n normale geskiedenis wil
hê. Dit wil sê ’n geskiedenis met heldeverhale waarop Afrikanerkinders trots kan
wees, maar ook met foute waaruit kinders toekomslesse kan leer.
Die FAK is voorstanders van ’n hermeneutiese skuif weg van
staatsgesentreerde geskiedskrywing na gemeenskapsgeskiedskrywing.
47
Kultuurgemeenskappe moet eienaarskap vir hulle eie geskiedenis neem. Vanuit
hierdie invalshoek word geskiedenis persoonlik vertolk aan die hand van die
gesin, familie, die taal-, kultuur- en gemeenskapsleier, en die organisasie se
verhouding tot groot historiese gebeure. Deur ’n persoonlike benadering word
die menslike kant van Afrikanergeskiedenis bevestig, teenoor die ontmensliking
daarvan deur die staatsideologie. Dit skep ’n geleentheid vir historiese
regstellings en die neem van eienaarskap.
Simptome van die historiese geheueverlies is die gebrek aan kulturele
selfvertroue en selfrespek. Afrikaners het deur eeue op feitlik elke lewensterrein
met voorposdenke hoëfunksieprestasies gelewer. Die prestasies moet afgestof
en weer beklemtoon word.
Die FAK se doenplan vir geskiedenisbevordering
Die FAK is reeds besig met die volgende aksies vir die bevordering van
Afrikanergeskiedenis:
Die FAK het die heel eerste Internetmuseum vir Afrikanergeskiedenis ontwikkel
om gesinne en families by te staan met hulle verantwoordelikheid van
geskiedenisoordrag. Deur die internetmuseum is Afrikanergeskiedenis
toeganklik in elke huishouding, tablet, slimfoon en klaskamer.
Op die internetmuseum is die volgende reeds beskikbaar:
- Afrikaners se stigtingsdokumente
- Kultuurgeskiedenis
- Monumente en erfenisterreine
- Biografiese profiele
- Verskillende tydvakke, bv. die Pioniers (1652–1820)
- Foto’s van Afrikanergeskiedenis
- Foto’s van Taalgeskiedenis
- Foto’s van die FAK se geskiedenis
- Suider-Afrika geskiedenis
- Geskiedenisartikels
48
Afrikanerorganisasies kan ook hulle trotse geskiedenis op die internetmuseum
vertel.
Kultuurhistoriese bydraes vir Kultuurkroniek word ontwikkel deur die
erfenisjoernalis, Marthinus van Bart.
Die FAK ontwikkel met behulp van ’n vakadviseur lesplanne vir
Afrikanergeskiedenis wat aanvullend tot skoolkurrikulums gebruik kan word. Dit
word gratis op die internetmuseum gepubliseer.
Die FAK is besig om ’n omvattende databasis met biografiese profiele te
ontwikkel van Afrikaners wat op vele lewensterreine presteer het en steeds
presteer.
Die FAK gee ook erkenning aan jongmense se bydrae tot
geskiedenisontwikkeling deur top geskiedenistake op die webbladsy te
publiseer.
Die Afrikaanse Skole-Ekspo bied jaarliks ’n geskiedeniskompetisie aan om
geskiedenis te bevorder.
Die FAK bied in samewerking met ’n reisagentskap ’n Westerse geskiedenistoer
aan na Nederland, Duitsland, Frankryk en Switserland vir skoolgroepe en ’n
Oorsprong na Afrikaans-toer na Nederland, België en Frankryk.
Die FAK bied vanaf 2016 binnelandse toere vir skoolgroepe aan na Groot Trek
en Anglo-Boereoorlog historiese terreine.
Vakspesifieke seminare deur verskeie historici word vanaf 2016 landswyd vir
geskiedenisonderwysers aangebied.
Die FAK ontwikkel ’n historiese plakkaatreeks oor Afrikanergeskiedenis wat
onderwysers in hulle klaskamer kan opsit.
Die FAK ontsluit sy reuse fotoversameling van Afrikanergeskiedenis om dit
toeganklik te maak op sosiale media en op die internetmuseum.
Die FAK is besig met ’n omvattende projek om die FAK-argief toeganklik te
maak vir navorsers. Die FAK-argiewe bevat ’n omvattende versameling van
meer as tagtig jaar se Afrikanergeskiedenis.
Die FAK werk reeds saam met verskeie Afrikanergemeenskappe wat self
verantwoordelikheid vir die bewaring van kultuurbakens in hulle omgewing
neem. Daar sou boekdele geskryf kon word oor wat gemeenskapsorganisasies
49
alles positief doen vir die bewaring van Afrikaners se kultuurerfenis en die
instandhouding van kultuurbakens.
Die FAK ontwikkel met behulp van kundiges ’n Praktiese handleiding vir
erfenisbewaring in gemeenskappe.
Die FAK bied later vanjaar ’n beraad vir Geloftekomitees en
gemeenskapsorganisasies aan om samewerking beter te koördineer ten einde
Afrikanergeskiedenis op elke dorp te bevorder.
Die FAK neem die historiese Afrikaanse lied in beskerming deur binnekort in
samewerking met die gewilde groep, Beeskraal ’n Volk-en-vaderland CD te laat
verskyn.
Die FAK is in samewerking met verskeie kunstenaars besig om Anglo-
Boereoorlog-gedigte en -liedere te verwerk in ’n kunstefeesproduksie en later
’n CD.
Deur middel van die NP van Wyk Louw-sentrum hou die FAK Afrikaners se
historiese dagboek en kultuuralmanak op datum.
Die NP van Wyk Louw-sentrum publiseer jaarliks verskeie publikasies wat
verband hou met historiese en kulturele herdenkingsgeleenthede.
Die NP van Wyk Louw-sentrum publiseer ideële artikels op standpunte en dra
op dié wyse by tot die uitbou van ’n eietydse geskiedenis.
Elkeen kan help om Afrikanergeskiedenis te skryf. Die FAK nooi alle Afrikaners om
hulle persoonlike herinneringe, werksherinneringe, foto’s, historiese briewe en
interessante verhale te stuur vir publikasie op die internetmuseum. Skryf die storie van
jou pa of ma of ouma of oupa. Skryf jou gesin of familie se heldeverhale neer. Vertel
jou dorp of plaas se storie. Vertel van jou mense se hoëfunksieprestasies, of dit in
wetenskap, ekonomie of voormalige staatsdiens was. Deur doelgerig saam te werk,
neem ons weer eienaarskap van ons geskiedenis. Besoek die Internetmuseum by
www.afrikanergeskiedenis.co.za en stuur jou bydrae aan [email protected].
50
Bronnelys
Graad 4:
Almal verstaan Sosiale Wetenskappe: P. Ranby.
Headstart Sosiale Wetenskappe: M. Monteith; L. Shaw; R. Versfeld.
Ken & Verstaan Sosiale Wetenskappe: Susan Heese & Lee Smith
Platinum Sosiale Wetenskappe: P. Ranby; B. Johannesson; R. Versfeld; G.
Keats.
Viva Sosiale Wetenskappe: F. Ebrahim & V. Jardine.
Graad 5:
Ken & Verstaan Sosiale Wetenskappe: Susan Heese & Lee Smith
Oxford Suksesvolle Sosiale Wetenskappe: L. Dilley; M. Monteith; A. Proctor; G.
Weldon
Platinum Sosiale Wetenskappe: P. Ranby; B. Johannesson; R. Versfeld; M.
Slamang; B. Roberts
Viva Sosiale Wetenskappe: F. Ebrahim; V. Jardine; S. Haw
Graad 6:
Headstart Sosiale Wetenskappe: R. Doubell; M. Monteith; R. Versfeld.
Ken & Verstaan Sosiale Wetenskappe: Susan Heese & Lee Smith.
Oxford Suksesvolle Sosiale Wetenskappe: L. Dilley; M. Monteith; A. Proctor; G.
Weldon
Platinum Sosiale Wetenskappe: P. Ranby; B. Johannesson; R. Versfeld; G.
Keats.
51
Graad 7:
Sosiale Wetenskappe Vandag: J. Earle; G. Keats; A. Clacherty; V. Edwards; B.
Roberts; P. Thraves; S. Doubell.
Kollig op Sosiale Wetenskappe: Allwood, Jill; Hambly, Anthony.
Via Afrika Sosiale Wetenskappe: L. Innes.; L. Ntwape; N. Parsard; B. Tobin; A.
Tshibalo.
Graad 8:
Oxford Suksesvolle Sosiale Wetenskappe: J. Bottaro; S. Cohen; L. Dilley; R.
Versfeld; P. Visser.
Sosiale Wetenskappe Vandag: J. Earle; G. Keats; A. Chlacherty; B. Roberts; P.
Thraves; S. Doubell.
Via Afrika Sosiale Wetenskappe: L. Ntwape; N. Parsard; B. Tobin; A. Tshibalo.
Graad 9:
Kollig Op Sosiale Wetenskappe: Jill Alwood; Anthony Hambly
Oxford Suksesvolle Sosiale Wetenskappe: J. Bottaro; S.Cohen; L. Dilley; D.
Duffett; P. Visser
Via Afrika Sosiale Wetenskappe: L. Ntwape; N. Parsard; B. Tobin; A. Tshibalo.
Graad 10:
Viva Geskiedenis: K.L. Angier; J.T. Hobbes; E.A. Horner; R.L. Mowatt; G.
Nattrass; J.A. Wallace.
52
Graad 11:
Almal verstaan Geskiedenis: E. Brink; C. Fowler; A. Grundlingh; E. Varga; J.
Verner.
Oxford – Opsoek na Geskiedenis: J. Bottaro; P. Visser; N. Worden.
Verken Geskiedenis: M. Fernandez; M. Friedman; M. Jacobs; B. Johannesson;
J. Wesson.
Via Afrika Geskiedenis: S. Grové, J. Manenzhe; A. Proctor; B. Tobin; G.
Weldon.
Viva Geskiedenis: K.L. Angier; J. Hobbes; P. McMahon; R.L. Mowatt; G.
Nattrass.
Graad 12:
Verken Geskiedenis: M. Fernandez; L. Wills; P. McMahon; S. Pienaar; Y. Seleti;
M. Jacobs.
Viva Geskiedenis: K.L. Angier; J.T. Hobbes; E.A. Horner; J.L. Maraschin; N.
Mhlaba; R.L. Mowatt.