inligting vir 2013 paardekraal tydlyn kompetisie...
TRANSCRIPT
INLIGTING VIR 2013 PAARDEKRAAL TYDLYN KOMPETISIE
1 JUNIE 2013 OM 9 UUR TE PAARDEKRAAL MONUMENT – KRUGERSDORP
UITGEGEE DEUR RVB-PAARDEKRAAL APRIL 2013
SLAG VAN BLOEDRIVIER - 16 DESEMBER 1838
1. DIE MOORD OP PIET RETIEF 2. DIE AANVAL OP DIE HELE LINIE VAN BLOUKRANSRIVIER TOT AAN DIE
RENSBURGSPRUIT
3. DIE SLAG BY ITALENI 4. ANDRIES PRETORIUS WORD GEROEP OM TE HELP
5. DIE SLAG VAN BLOEDRIVIER DIE MOORD OP PIET RETIEF
Retief was ywerig besig om die weg vir ‘ nedersetting in Natal te berei: om ooreen te kom met die Engelse by Port Natal en om van Dingaan vreedsame toesegging van woongebied te verkry. Met die doel voor oë het hy op 6 Oktober 1937 uit sy laer Natal toe vertrek. In Port Natal het hy ‘n sonderlinge toestand aangetref. Sedert 1824 het daar ‘n stuk of dertig Engelse handelaars elke met ‘n Bantoe-gevolg, gewoon. Aan hulle is by verskeie geleenthede, eers deur Tsjaka en toe deur Dingaan, die land om Port Natal afgestaan.
Kapt. Allen Gardiner, wat in 1835 daar aangekom het, het hom hard maar tevergeefs
beywer om die Britse regering te beweeg om die gebied in te lyf. Al wat hy kon
verkry, was ‘n aanstelling as magistraat oor sy mede-Engelse onder die magtelose
“Cape of Good Hope Punishment Act” – iets waaraan hulle sterk aanstoot geneem
het.
Die meeste mense in hierdie groepie het die koms van die Boere hartlik verwelkom.
Hulle het daar voortdurend gewoon in die skaduwee van Dingaan se “onophoudelike
en ydele dreigemente”. Een en ander maal moes hulle selfs voor sy gramskap vlug.
Onder leiding van Alex Biggar, het veertien van hulle ‘n adres aangebied, waarin
hulle Retief verseker het van hulle begeerte om die Trekkers as vriende en
uiteindelik as goeie bure te ontvang.
Wat het hulle hieronder verstaan? Dit blyk uit wat later bekend geword het. Biggar
en sy aanhangers het die oog gehad op samewerking met die Boere in die stigting
van ‘n eie regering; John Cane het Dingaan aangeraai om die gebied om die hawe
vir die Engelse uit te hou en die res aan die Boere af te staan; Gardiner het al sy
invloed gebruik om Dingaan te beweeg om geen enkele duim grond aan die
trekkers af te staan nie.
2
Toe Retief vertrek het op sy reis na die Zoeloe-koning, was die toestand swaar
belaai met toekomsmoontlikhede en toekoms moeilikhede waarvan hy, gelukkig vir
sy gemoedsrus, die draagwydte nog nie besef het nie. In die begin van November
het hy by die hoofstat van Dingaan aangekom en die sendeling Francis Owen, wat
hom kort tevore deur bemiddeling van Gardiner daar gevestig het, ontmoet.
Die onderhandelinge het goed afgeloop. Dingaan het hom bereid verklaar om
grondgebied af te staan, mits Retief eers sy goeie trou sou toon. Hy moes die
beeste wat geroof is deur volgelinge van Sekonyela, terugbesorg. Die trouhartige
Boere-goewerneur het heeltemal onder die indruk gekom van die goeie trou van die
Zoeloe en aan die voorwaarde voldoen. Op 11 Januarie 1838 was hy al weer met
die beeste, wat hy sonder slag of stoot van Sekonyela geneem het, terug in die laers
aan die Natalse voet van die berg.
Tot sover het hierdie soekers na ‘n nuwe land waarlik buite alle hoop en verwagting
groot sukses gehad. Weliswaar moes hulle die dood van ‘n paar lotgenote op die
voorposte betreur, maar die groot en gevaarlike Silkaats, wat hulle sonder rede
aangeval het, moes daarvoor onmiddellik en swaar boet. Die gebied wat hy verwoes
en waaroor hy met geweld geheers het, het hulle erfdeel geword. Dingaan, die
geweldenaar van Natal, het hul eerste kommissie goed ontvang en die stille
verwagting het bestaan dat weldra die laaste skof afgelê sou wees.
Hulle blye verwagting is egter versomber deur ‘n vae voorgevoel van naderende
onheil, veroorsaak deur allerlei skrikberigte en gerugte dat Dingaan intussen van
gevoelens verander het en van plan was om vyandig op te tree. Dit het nie aan die
stemme ontbreek wat Retief afgeraai het om te gaan nie, of aangeraai het om altans
iemand anders, wat minder onmisbaar was, te stuur. Maar hy was onbeweeglik.
Wel het hy self gevrees dat Dingaan sedert sy eerste besoek teen hom beïnvloed
kon wees, maar tog het hy geen oomblik getwyfel aan die goeie gesindheid van die
Zoeloe-opperhoof nie. Watter indruk sou dit buitendien maak as hy nou ‘n
ondergeskikte “indoena” na Dingaan stuur? Hy sou self gaan, maar alleen
vrywilligers saamneem.
Op 25 Januarie het hy met 67 man, vier jong
seuns en ‘n stuk of dertig gekleurde
agterryers, vertrek om op Saterdag 3
Februarie voor Ungungundlovu af te saal.
Retief het ‘n traktaat van grondafstand,
gedateer 4 Februarie, maar waarskynlik die
3de opgestel, klaar in sy sak gehad.
3
Volgens Bantoe-gebruik, het die onderhandelinge met waardige traagheid,
onderbreek deur speelvertoninge en krygsdanse, gevorder.
Op Dinsdag 6 Februarie, was alles gereed. Die Traktaat sou onderteken word en
Retief is genooi om met al sy mense, ongewapen, soos dit hoort, die plegtigheid by
te woon en sommer afskeid te neem. Die traktaat is onderteken, en Retief en sy
makkers word met bier getrakteer terwyl die swart regimente wilde danse vir die
manne uitvoer. Toe kom die bevel: “Boelalanie abatagatie!” (slaan dood die
towenaars). Tevergeefs het die manne hulle probeer verweer, maar hulle word met
knop kieries doodgeslaan; in sommige van hulle word pale met skerp punte gedruk
en na buite gedra. En daar op die koppie Hlomo Amabutho, word hulle almal om die
lewe gebring. Retief, met hande en voete vasgebind, word tot die einde toe gespaar
om alles te aanskou. Dan sterf ook die stoere Voortrekkerleier onder die
knopkieries van Dingaan se impies.
In die bitterheid van hul gemoed was die geloof onder die Trekkers algemeen dat
die moord plaasgevind het op aanstigting van ‘n paar Engelse. Wel staan dit vas dat
Gardiner en Owen invloed op Dingaan probeer uitoefen het om geen grond aan die
Trekkers af te staan nie en selfs dat hulle die Zoeloe-hoof laat verstaan het dat die
Boere nie Britsgesind was nie, maar daar bestaan geen bewyse dat hulle hom tot
moord aangehits het nie. Die moord plan het by Dingaan self ontstaan en sy
vernaamste motief was vrees vir die Boere, wat reeds getoon het dat hulle sterker
as Silkaats was en klaarblyklik gekom het om hulle mettertyd in Natal te vestig.
Hulle was ‘n georganiseerde krygsmag, ‘n potensiële bedreiging wat met lis en
geweld afgeweer moes word. Dit was metodes wat nie vreemd aan Dingaan was
nie en hy het geglo dat van die Engelse kant daar geen steun vir die Trekkers sou
wees nie.
DIE AANVAL OP DIE HELE LINIE VAN BLOUKRANSRIVIER TOT AAN DIE
RENSBURGSPRUIT
Die dood van Retief en sy manne was ‘n verpletterende slag, maar dit was slegs die
eerste stap in Dingaan se plan om die Trek in Natal in sy kiem te smoor. In die nag
van 16 Februarie het die Zoeloes die voorposte van die alte geruste laers langs die
hele linie van Bloukransrivier tot aan die Rensburgspruit bekruip en verras. ‘n
Ontsettende toneel van dood en vernietiging het gevolg. Teen die oggend was die
verdediging egter in volle gang: die Zoeloes is gestuit en tot oor die Tugela
teruggedryf. Tog het hulle daarin geslaag om 25 000 beeste en ‘n klomp skape mee
te voer. Die fyn deurdagte plan het misluk.
4
Van ‘n volslae vernietiging van die Trekkers deur verrassing sou geen sprake wees
nie. Maar die prys wat betaal is, was ontsettend. By die gevoelige stoflike verliese
was die verlies aan menselewens vir die klein gemeenskap byna verpletterend: by
Dingaanstat die vertroude Goewerneur met meer as sestig weerbare manne en
dertigtal bediendes; by Bloukrans en Bosmansrivier veertig mans, ses-en-vyftig
vroue, honderd-vyf-en-tagtig kinders en twee-honderd-en-vyftig bediendes.
Die toestand teen die end was Februarie was dus ver van rooskleurig. Die
Zoeloemag van tussen agt en tienduisend ervare krygsvolk was in die nabyheid.
Elke dag kon ‘n aanval verwag word wat, selfs al sou dit afgeweer word, hulle nader
aan die bedelstaf kon bring deur die wegvoering van hul oorgeblewe vee. Hulle
moes of die gevaar verwyder of vlug. Die meerderheid, en daaronder veral die
vroue, wou die met dure offers gekoopte land nie sonder slag of stoot verlaat nie.
Alle hoop was gevestig op Uys en Potgieter, die bedwingers van Silkaats. In aller yl
en in oorleg met die Engelse by Port Natal, wie se veiligheid oor ernstig in die
gedrang gekom het, is ‘n veldtog gereël. Soos vroeër teen die Matebele, sou ‘n ligte
perdekommando die Zoeloemag opsoek en aanval, terwyl die Engelse met hul
Bantoegevolg van die kus af selfstandig sou optree.
DIE SLAG BY ITALENI
Op 6 April het die Boerekommando in twee afdelings onder Potgieter en Uys die
Tugela in die van Ungungungdlovu oorgesteek. Oorkant die Buffelsrivier by Italeni is
hulle in ‘n lokval gelei en weens die moeilike terrein en deur gebrek aan
samewerking, gedwing om die wyk te neem met agterlating van tien dooies, onder
wie Piet Uys en sy Twaalfjarige seun, Dirk. Ses dae daarna het die Engelse met die
Zoeloes slaags geraak aan die Tugela, en na n verwoede geveg, wat amper die hele
dag geduur het, is hulle op die vlug gedryf met die verlies van ongeveer duisend van
hulle Zoeloe-volgelinge en dertien blankes, onder wie Robert Biggar, die aanvoerder,
‘n seun van Alexander Biggar en John Cane.
Die eerste veldtog teen Dingaan was ‘n rampspoedige mislukking. Skrik en
ontsteltenis het die mense beklem en treurig genoeg, die ou partygevoelens met
nuwe heftigheid laat ontvlam. Potgieter is die sondebok gemaak van die roemlose
nederlaag by Italeni. Hy is in die laers van Retief en Maritz openlik beskuldig van
lafhartigheid en selfs verraad. Altyd maar halfhartig in sy belangstelling vir Natal en
nou in sy eer gekrenk, het hy besluit om terug te trek na die wye land wat hy geruil
en help verower het. Die twiste van die vorige winter het nou in die teelaarde van
teenslae en vernedering welig opgeskiet en wrange vrugte gedra. ‘n Paar dae na
Italeni is Potgieter met oor die honderd-en-sestig man, hulle families en vee terug
oor die Drakensberge.
5
“Onze staat is hachelijk en allerbetreurenswaardigst,” het Erasmus Smit ‘n maand
tevore in sy dagboek opgeteken, en nou was alles nog soveel erger. Die najaar en
winter van 1838 was inderdaad die droewigste en donkerste tyd van die hele
Trekgeskiedenis. Die Trekgemeenskap het weliswaar oorgegaan tot die
reorganisasie van die bestuur en op 28 Maart 1838 is Maritz deur ‘n
volksvergadering in sy amp van President-regter herbevestig en ook aangestel as
Weesheer. ‘n Volksraad is gekies en op 25 Mei is die bestuursinstellinge op vaste
grondslag geplaas deur instruksies wat met die medewerking van J.N,
Boshofopgestel is vir die “Raad van Representanten” (Volksraad) en vir die
burgeramptenare.
ANDRIES PRETORIUS WORD GEROEP OM TE HELP
Tog is dit ‘n feit dat op hierdie kritieke oomblik die nodige deurtastende leierskap
ontbreek het. Manne soos Maritz, Landman, Cilliers en De Lange het reeds
gepresteer as militêre of politieke leiers, maar niemand was sterk en invloedryk
genoeg om as leier uit te troon nie. Weliswaar is Landman kort na die slag van
Italeni tot hoofkommandant verkies, maar niemand was bereid om sonder verdere
hulp ‘n nuwe slag te waag nie. Die mense het uitgesien, nie alleen na versterking
nie, maar veral na ‘n nuwe leier.
Om die rede is op 18 April ‘n boodskapper na Andries Pretorius, wat toe al weer
terug was in Graaff-Reinet, gestuur om sy hulp in te roep. Hy was ‘n welgestelde
man van aansien in sy omgewing, wat in 1835 as militêre aanvoerder op die
voorgrond gekom en in 1836 kommandant geword het van sy afdeling. Sy naam
was by die meeste grensboere seker nie onbekend nie en tydens sy besoek aan die
laers in 1837 sou sy indrukwekkende voorkoms, sy kragtige en tog innemende
persoonlikheid ‘n gunstige indruk nagelaat het. Buitendien was dit bekend dat hy
van plan was om hom uiteindelik by die Natalse gemeenskap aan te sluit.
Maande het verloop voordat hy kon kom en intussen moes die ongeriewe van die
lewe in versterkte militêre laers verduur word. Die aanhoudende vrees vir ‘n nuwe
aanval en oortollige reëns, gepaard met epidemiese siektes, het die uithouvermoë
tot die uiterste beproef. Die lewe het net weer sy normale gang begin gaan, sover
dit moontlik was in die laer lewe, toe die Zoeloes op 15 Augustus weer toegesak het
op die voorste laer aan die Boesmansrivier, later beken as Veglaer. Onder
aanvoering van die wakker kommandant Hans de Lange, kon die vyand na ‘n
driedaagse geveg, afgeslaan word. ‘n Maand later is Maritz nog in die bloei van sy
jare, oorlede.
6
Die belangrikste politieke gebeurtenis in hierdie tyd van afwagting was ‘n
proklamasie, uitgevaardig deur hoofkommandant Landman namens die emigrante,
waardeur die hawe Port Natal en die omliggende land, tot groot ontsteltenis van die
Kaapse goewerneur, sir George Napier, formeel in besit geneem is. Dit toon dat die
Natalse Trekkers, selfs in die donkerste dae, hul ideaal bestendig voor oë gehou het.
Die proklamasie is uitgevaardig in oorleg met die oorgeblewe Engelse in die baai en
Alexander Biggar en William Cowie is aangestel onderskeidelik as landdros en
veldkornet. Voordat hierdie stappe egter van werklike betekenis kon word, moes
Dingaan se mag vernietig word.
Daarom is die koms van Pretorius, wanneer opnuut die inisiatief geneem sou kan
word, met ongeduld en spanning afgewag. Op 22 November 1838 het Andries
Pretorius eindelik by Klein Tugela aangekom “als een weltoegerust, gesabelde en
gepistoolde dragorder”. Op die 25ste is hul formeel as Kommandant-generaal
aangestel en twee dae later vertrek hy saam met 464 gedissiplineerde mans en 57
waens op pad na die Zoeloes. Bekendes soos Sarel Cilliers, Karel Landman, Pieter
Jacobs, Koos Potgieter, Stephanus Erasmus en Hans (Dons) de Lange het
saamgetrek. Op hierdie veldtog het Pretorius hom laat ken, nie alleen as taktikus en
vegsman nie, maar ook as ‘n skitterend organiseerder en mensekenner. Die
ervaring het geleer dat dit gevaarlik was om die Zoeloes op hul eie terrein met ‘n
perdekommando aan te pak, daarom is besluit om dit met ‘n wa-laer, vergesel van
ruiters, te waag.
Pretorius het beveel dat die waens in twee rye langs mekaar moes trek sodat ‘n laer
binne bestek van minute gevorm kon word. Spioene is gereeld uitgestuur om
Pretorius op die hoogte te hou met die bewegings van die Zoeloes. Gedurende die
opmars is telkens kontak gemaak met Zoeloe-spioene, wat deur die Trekkers of
gevange geneem of doodgeskied is terwyl hulle probeer ontvlug het. Op 6
Desember is besluit om ‘n ondergeskikte kaptein van Dingaan aan te val, maar by sy
kraal aangekom, moer die Voortrekkers ontdek dat hy hom reeds uit die voete
gemaak het.
Die manskappe was wel deeglik bewus van die groot verantwoordelikheid wat op
hulle gerus het. ‘n Nederlaag sou die uitwissing van die hele Voortrekkerbevolking in
Natal beteken en die voormanne het voortdurend die erns van die saak aan die
manskappe voorgehou. Elke aand, nadat laer getrek was, is ‘n godsdienoefening
gehou waartydens die hulp van die Here afgebid is. Dit was uit hierdie
geestesgesteldheid dat die idee van die Gelofte gebore is. Op Sondag 9 Desember
1838, by Wasbankspruit (so genoem omdat die Voortrekkers daar hul wasgoed
gewas het) het die lede van die Kommando, onder leiding van Sarel Cilliers, ‘n
plegtige Gelofte afgelê.
Hierdie Gelofte is daarna elke aandgodsdiens herhaal.
7
DIE 1838 GELOFTE
Mijne Broeders en Mede-landgenoten, hier staan wij tans op een ogenblik voor een
heilige God van Hemel en aarde om een belofte aan Hem te beloven, als Hij met Zijn
bescherming met ons zal wezen, en onze handen zal geven dat wij hem overwinnen,
dat wij die dag en datum elk jaar als een verjaardag en een dankdag zoals een
Sabbat in Zijn eer zullen doorbrengen; en dat wij een tempel tot Zijn eer stichten
zullen, waar het Hem zou behagen; en dat wij het ook aan onzen kinderen zullen
zeggen, dat zij met ons erin moeten delen, tot gedachtenis ook voor onze
opkomende geslachten. Want de ere van Zijn Naam daardoor zal
verheelikt worden, dat de roem en eer van overwinning aan Hem zal worden
gegeven.
Ondertussen het die laer stadig gevorder in die rigting van Dingaan se vesting,
Umgungundlovu. Die terrein waaroor hulle getrek het, was nie alleen moeilik nie,
maar reënbuie het hul vordering aansienlik vertraag. By Danskraal (waar ‘n
goedgesinde kaptein se onderdane vir hulle gedans het) is weer laer opgeslaan en
die Gelofte herhaal.
Op 12 Desember is ‘n groot aantal Zoeloe-vroue en kinders gevange geneem, maar
Pretorius het hulle vrygelaat. Hy het aan hulle ‘n groot wit vlag gegee waarop sy
naam geverf was om as simbool van vrede te dien, en hulle aangesê om na Dingaan
te gaan en hom te waarsku dat hulle kom om hom te straf vir al die wandade wat hy
ten die Voortrekkers gepleeg het. Indien hy wou onderhandel, moes hy van die wit
vlag gebruik maak.
Op die 13de het die Trekkerspioene ‘n groot Zoeloemag in die omgewing van Italeni
gewaar. Pretorius het besef dat die Zoeloes weer van plan was om hulle in ‘n
hinderlaag te lok. Hierdie keer wou hy die gevegsterrein bepaal om so enige
voordeel wat die Zoeloes kon geniet, uit te skakel. Die laer het dus ongestoord
voortgetrek.
Saterdag, 15 Desember het die laer die Buffelsrivier bereik en in die namiddag ‘n
sytak van die Buffels, die Ngome. Pretorius het besluit om die rivier oor te steek,
maar hulle was kwalik oorkant toe sy spioene berig dat ‘n groot Zoeloemag in aantog
was. Pretorius het onmiddellik besef dat die terrein waarop hulle hul bevind het,
ongeskik vir hul doel was en bevel gegee dat die waens inderhaas oor die Ngome
moes terugtrek.
8
Aan die duskant het hy ‘n ideale gevegsterrein opgemerk: die rivier maak daar ‘n
diep kolk of seekoeigat, terwyl ‘n diep sloot by die rivier aansluit. Binne hierdie
natuurlike beskerming kon die laer op so ‘n manier getrek word dat dit net van een
kant af aangeval kon word. Pretorius het aan laerkommandant Piet Moolman bevel
gegee om die laer daar te trek, terwyl hy met ongeveer 300 man die Zoeloes
tegemoet gery het.
Piet Moolman het met sowat 150 man en ‘n klompie bediendes aan die werk
gespring om die laer in gereedheid te kry. Teenaan die sloot, met die rivier verder
weg na die regterkant, het hy die waens in die vorm van ‘n halfsirkel voor en met ‘n
plat kant agter (in die rigting van die sloot) getrek. Met behulp van kettings en rieme
is die waens stewig aan mekaar vasgewoel en die openinge tussenin met veghekke
toegemaak. Op twee plekke is openinge in die laer gelaat waardeur die vee en die
kommando ingelaat kon word. By hierdie openinge is twee kanonnetjies opgestel.
Pretorius het intussen agtergekom dat die Zoeloes van plan was om die
Voortrekkers tot ‘n aanval uit te lok. Hy het besef dat dit al laat was en die donkerte
spoedig sou toesak. In sulke toestande het hy nie kans gesien vir ‘n geveg nie. Die
Zoeloes sou boonop die voordeel van die terrein geniet, en aangesien dit die
volgende dag Sondag sou wees, wou hy, as dit moontlik was, op die dag geen
geveg hê nie. Voordat hy en sy manne na die laer teruggekeer het, wou hy egter
eers ‘n demonstrasie van die Voortrekkers se mag aan die Zoeloes lewer. Daarom
het hy sy manskappe in groepe van vyftig teen ‘n hoogte laat uittrek, waar hulle
duidelik deur die Zoeloes waargeneem kon word. Daarna het hulle na die laer
teruggekeer.
In die laer was alles reeds gereed. Op aanbeveling van ‘n bediende is kers-laterns
aan sweepstokke gebind en op ‘n afstand van ongeveer vyftig meter rondom die laer
ingeplant. Die vee is ingebring en saam met die perde sorgvuldig in die agterkant
van die laer vasgemaak. Die gewere en ammunisie is sorgvuldig nagegaan en sorg
is gedra dat elke man geweet het wat van hom verwag word. Hierna het Sarel
Cilliers weer voorgegaan in ‘n godsdiensoefening, waarna die Gelofte vir die laaste
keer afgelê is. Nadat wagte uitgeplaas was, is die manne aangesê om soveel
moontlik te rus, want almal moes twee uur voor dagbreek op hul pos wees.
Van hul kampplek buite in die veld het die Zoeloes met veragting op die laer
neergesien. Hulle was oortuig dat die Voortrekkers nooit teen die oormag van hul
getalle bestand sou wees nie. Blykbaar het hulle ‘n nagtelike aanval op die laer in
gedagte gehad, maar die lanternlig het in die mistigheid van die nag die laer in so ‘n
geheimsinnige waas gehul dat hulle geglo het dit word deur bonatuurlike magte
beskerm.
9
DIE SLAG VAN BLOEDRIVIER
Sondag 16 Desember, twee uur voor dagbreek was elke man reeds op sy pos. ‘n
Digte mis het die sig beperk en met ‘n beklemmende gevoel het die Voortrekkers
besef dat die klam mistigheid ‘n nadelige uitwerking op die ammunisie kon hê. Toe
die dag breek, het die mis egter opgeklaar. Dit was ‘n helder, skoon oggend, maar
toe die mis lig, het ‘n skrikwekkende gesig op die klompie manne in die laer gewag.
Die Zoeloes het hulle reg teenoor die laer teen die helling van ‘n rantjie versamel en
was besig om in hul duisendtalle steeds nader te beweeg. Die laer was spoedig
heeltemal omsingel deur Zoeloe-krygers was hurkende op die een knie, met die
skildvelle voor hulle, gewag het op die teken om die laer te bestorm. Die naaste
Zoeloes was reeds sowat veertig meter van die laer en die agterstes het ongeveer ‘n
kilometer daarvandaan stelling ingeneem. Nuwe afdelings het hulle steeds by die
reeds geweldige oormag aangesluit. Die gebrom wat van die versamelde menigte
opgestyg het, het geklink soos die gesnork van ‘n reuse insek.
Dingaan het sy pronkregimente gestuur om die Voortrekkers finaal uit te wis.
Duskant die rivier, in die rug van die laer, het die uitsoek regiment, die Witskilde (so
genoem na die kleur van hul skildvelle) stelling ingeneem om as toeskouers die
verloop van die geveg dop te hou. Dit sou die taak van die Swart- en die Rooiskilde
wees om die aanval te doen en die laer uit te wis.
10
Die gesig van so ‘n oorweldigende oormag moes die Voortrekkers met ‘n mate van
vrees vervul het, maar die gedagte aan wat met hul vroue en kinders sou gebeur
indien die laer oorrompel word, en die vaste vertroue wat hulle op God gestel het,
het hulle met nuwe vasbeslotenheid vervul.
Toe, meteens, weergalm die waldhorings (‘n horing waarop die Zoeloes geblaas het
as teken dat aangeval moes word). Duisende krygers spring op en storm met
bloedstollende krete op die laer af, ‘n moordende geweervuur tegemoet. ‘n Digte
kruitdamp het spoedig oor die laer gehang terwyl die gewere se lope warm geskiet
was, maar nog steeds het die Zoeloes doodsveragtend aangestorm gekom. Die
digte formasie waarin hulle aangeval het, het verseker dat feitlik elke skoot die kol
tref. Dit was egter veral die kanonnetjies wat ‘n groot slagting onder die geledere
van die Zoeloes aangerig het. Ook nie lank nie of die eerste aanval is afgelas en
die Zoeloes het teruggeval tot op ‘n afstand van sowat vyfhonderd meter, waar hulle
eers beraad gehou het. Hierdie stap het aan die laer ook die geleentheid gegee om
hom vir die volgende aanval gereed te kry.
Die blaaskansie was egter van korte duur, want weer eens het die waldhorings die
teken vir die aanval gegee. Hierdie keer het die uitgeslape Zoeloe-aanvoerders ‘n
ander tegniek probeer: hulle het die krygers in groepe laat storm sodat die nadeel
van ‘n digte formasie uitgeskakel kon word. Die Voortrekkers moes nou nog
sekuurder skiet, maar nogtans het hulle daarin geslaag om die aanvallers teen te
hou. Meteens het ‘n nuwe bedreiging egter opgeduik: ‘n groot aantal Zoeloes het
met die sloot langs opgekom en die laer aan die agterkant bedreig, skynbaar met die
doel om die beeste en perde op loop te jaag. Die diere is egter gou tot bedaring
gebring en Sarel Cilliers en ongeveer tagtig man is gestuur om die aanvallers te
verdryf. Die Zoeloes, wat so geweldig dig op mekaar in die sloot saamgedring het
dat hulle feitlik nie hul spiese kon werp nie, is deur die moordende vuur van Cilliers
en sy manne so in die war gejaag dat hulle van hul eie manne doodgemaak het in
hul haas om weer weg te kom. Weer eens moes die Zoeloes die aftog blaas.
Pretorius het nou besef dat die geveg, wat toe reeds ‘n uur geduur het, te lank
uitgerek kon word en sodoende ‘n tekort aan ammunisie kon veroorsaak. Hy het toe
sy broer Bart met ‘n tolk gestuur om die Zoeloes uit te tart om weer aan te val, maar
ondanks die aanmoediging en dreigemente van hulle aanvoerders, het die Zoeloes
geweier om weer in beweging te kom. Pretorius het nou die een kanon op die
Zoeloes wat nog steeds aan die oorkant wan die spruit gesit het, gerig. Dit het die
gewenste uitwerking gehad. Hulle het opgespring en hulle by hul makkers gevoeg in
‘n laaste wanhopige aanval, wat byna ‘n lank geduur het.
Dit was duidelik dat hierdie aanval beslissend sou wees. Die Zoeloe-krygers het keer
op keer tot binne ‘n paar meter van die laer gevorder, maar is elke keer letterlik
teruggeskiet.
11
Pretorius het intussen besef dat sy manne so ‘n verwoede aanval nie lank sou kon
afslaan nie. Toe daar dus ’n effense verslapping in die aanval kom, het hy Bart en ‘n
paar honderd man gestuur met die opdrag om deur die Zoeloes te bars en hulle van
agter af aan te val. Twee keer moes die kommando na die laer terugval voordat
hulle uiteindelik daarin geslaag het om deur te breek. Die Zoeloes het skielik besef
dat hul magte in twee gedeel en hulle in ‘n dodelike spervuur vasgevang was. Die
gevolg was onbeskryflike verwarring. Hulle het verwilderd en reddeloos op die vlug
geslaan, terwyl hul agtervolgers voortgegaan het om hulle by die dosyne af te maai.
Die oorwinning was behaal. Tussen tien- en twaalfduisend Zoeloes het die laer
aangeval, waarvan tussen drie- en vierduisend gesneuwel het. Aan die
Voortrekkerkant is slegs drie man gewond, onder andere Pretorius self.
Toe die stilte oor die laer neerdaal, het die Trekkers met groot dankbaarheid en
verootmoediging die Here geprys vir die oorwinning wat Hy hulle gegee het.
In die Zoeloes se herinnering leef die Slag van Bloedrivier as die een waarvan hulle
nooit herstel het nie. Dit was die begin van die einde.
Dieselfde aand nog is krygsraad gehou, en vroeg die volgende oggend was die
kommando reeds weer met versnelde pas in ‘n suid-oostelike rigting op pad na die
hoofstat, 100 kilometer ver. Op die 20ste het hulle ‘n paar kilometer van
Ungungundlovu af uitgespan en bevind dat Dingaan die stat aan die brand gesteek
het en weggegaan het.
Op Hloma Amabutho het hulle die beendere van Retief en sy manskappe aangetref
en herken aan die stukke klere wat daar nog aan vasgekleef het. In Retief se
leertas, tussen ander stukke, was die ongeskonde Akte van Afstand van
grondgebied aan die emigrante, onderteken deur Dingaan en sy indoenas.
Die Zoeloe-vors het hom intussen met sy volk en sy vee tot agter die Entonjaneni-
rand oor die Wit Umfolozi teruggetrek, ‘n woeste streek, selfs vir ‘n perdekommando
moeilik bereikbaar.
Pretorius en sy kommandante het voor ‘n uiters moeilike beslissing te staan gekom.
Die Zoeloes het weliswaar ‘n gedugte nederlaag gely en hul hoofstat was vernietig,
maar hul mag, hoewel kwaai geknak, was nie gebreek nie en geen enkele stuk van
die geroofde vee is teruggevind om die weduwees en wese in die laers mee te
vergoed nie. Menigeen het egter opgesien teen ‘n agtervolging van die vyand in ‘n
byna onbegaanbare streek, waar die lot van Uys en Potgieter hulle so maklik kon
tref. Tog het die gevoel dat die taak deurgevoer moes word die oorhand behou.
12
Pretorius self het baie las van sy beseerde hand, en so het op die 27ste ‘n
kommando van driehonderd man uitgetrek, onder bevel van kmdt. Karel Landman, in
‘n poging om ‘n eindbeslissing af te dwing.
Hierdie tog het byna op ‘n verpletterende treurspel uitgeloop. Landman met sy
manne het in ‘n hinderlaag beland en kon hulle slegs met moeite in ‘n verwoede
lopende geveg, wat die hele dag geduur het, red uit die omarming van vyfhonderd
Zoeloe krygers, met die verlies van ses man, onder wie hul getroue bondgenoot,
Alexander Biggar. In die geveg het veral kmdt. Hans de Lange hom deur sy
krygsvernuf en beslistheid onderskei. Die Zoeloes kon daarop roem dat hulle die
aanval afgeslaan het, maar hulle verliese was so groot dat die uitslag van die geveg
uiters ontmoedigend op die volk teruggewerk het.
Die gebeurtenisse van die volgende jaar het dit bewys. Dingaan het dit nooit weer
gewaag om na sy ou hoofstat terug te keer nie. Panda, ‘n jonger broer van Tsjaka
en Dingaan, het met ‘n groot gevolg van sy broer se oorheersing weggebreek en is
deur die Trekkers as regerende Zoeloe-opperhoof erken. Met sy medewerking is
Dingaan verdryf, om êrens ten noorde van die Pongola ‘n roemlose dood te sterf
deur ‘n Swazi-assegaai.
Daarmee het die Trekkers die eerste groot skof op die weg van ‘n eie, selfstandige
staatkundige bestaan afgelê. Die bodem was verwerf vir die nuwe staatgebou. Met
die bouwerk self kon begin word.
BRONNELYS
1. Geskiedenis van Suid-Afrika deur A.J.H. van der Walt, M.A., D.Phil. en J.A.
Wiid, M.A., D.Phil. en A.L. Geyer, M.A., D.Phil, verwerk en bygewerk deur
D.W. Kruger, M.A., D.Litt. Derde bygewerkte uitgawe en tweede druk – Mei
1979. ISBN 0 625 01461 8.
2. E A Venter se Ons geskiedenisalbum. ISBN 0 620 05883 8.
3. 400 leiers in Suid-Afrika oor vier eeue – E A Venter – uitgegee deur die
skrywer 1980. – ISBN no 0 620 03622 2.
4. Vyfhonderd Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis. Onder redaksie van
C.P.J.Muller,M.A., D.PHIL., Professor in Geskiedenis, UNISA – Pretoria.
ISBN 0 949964 59 x
5. Kennis boek 6 - Bl 1081 en 1127-1128.