alumni nuus

17
e-PUKaner Alumni Nuus e-PUKaner Alumni Nuus MAART 2014 ‘n Universiteit-ikoon word 80 NWU vier Dit begin alles hier

Upload: phamkiet

Post on 08-Feb-2017

270 views

Category:

Documents


18 download

TRANSCRIPT

Page 1: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

e-PUKanerAlumni Nuus

MAART 2014

‘n Universiteit-ikoon word 80

NWU vier

Dit begin alles hier™

Page 2: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

Die jaar 2014 is ‘n baken vir die NWU, omdat ons die eerste dekade van ‘n suksesvolle samesmelting vier, en ook ‘n nuwe visekanselier verwelkom.

Prof. Dan Kgwadi, aangewese visekanselier, sê die viering van die NWU se tiende bestaansjaar bied ‘n gulde geleentheid om met die universiteit se prestasies van die afgelope dekade te spog.

Sedert sy totstandkoming in 2004 het die universiteit uitgeblink in onderrigleer, navorsing en die implementering van kundigheid.

ONDERRIG EN LEER HET VRUGTE AFGEWERP

Die aantal gegradueerdes wat die NWU aan die Suid-Afrika arbeidsmag het, het byvoorbeeld van 9 599 toegeneem tot 15 406 – dit is ‘n toename van 60,4 %.

Die grootste toename was op die Vaaldriehoekkampus, waar die Fakulteit Ekonomiese en Inligtingstegnologie met 227% gegroei het: terwyl hulle 188 gegradueerdes gelewer het in 2004, was dié syfer 615 in 2013.

Die NWU het bygedra tot die bou van strategiese vaardighede vir die land deur byvoorbeeld 2 050 verpleegkundiges, 15 689 onderwysers en 6 482 rekenmeesters te lewer sedert 2004.

Die getal afstandstudente het meer as verdubbel, vanaf 2 012 in 2004 tot 5 611 in 2013.

Op hierdie stadium is die NWU die tweede grootste eenheid vir afstandsonderrig in Suid-Afrika en bied tans afstandsonderrigprogramme aan 28 000 studente. Hierdie groep bestaan hoofsaaklik uit onderwysstudente, maar sluit ook verpleegkunde- en teologiestudente in.

NAVORSINGSUITSETTE HET VERHOOG

Op die navorsingsfront het die totale navorsingsuitsette aan die NWU met 132% toegeneem, vanaf 789 in 2004 tot 1 830 in 2012. Die aantal navorsers met National Research Foundation-keuring het byna verdubbel: in 2004 was daar 73 sulke navorsers, in vergelyking met 140 in 2012.

Nog ‘n voorbeeld van die navorsingsuitnemendheid en innoverende gees aan die NWU is die getal RSA-gepatenteerde uitvindings, wat van 30 in 2004 toegeneem het tot 50 in 2013.

Die universiteit het egter nie sy kundigheid in onderrigleer en navorsing vir homself gehou nie. Deur die jare het ons saamgewerk met die nasionale en plaaslike regering, met die nywerheid en met universiteite in Suid-Afrika en in die buiteland.

Die NWU vier 10 jaar en verwelkom ‘n nuwe visekanselier

Inhoudsopgawe NWU vier 10 jaar en verwelkom ‘n nuwe visekanselier

Ontvangs van vanjaar se eerstejaars

Oud-NWU-Puk as nuwe hoof-uitvoerende beampte

Universiteit-ikoon word 80

“Ons gee om-fonds”

NWU-Pukke voor eindstreep

NWU-Puk Alumni-golfdag

NWU-Potch Alumni Wyngilde

Loopbaansentrum

Eerstejaars van 1964 hou reünie

NWU-Puk-Alumnikantoor 2014 datums

Elektriese ghoeroe ontvang hoogste eer

Nuwe sentrum bewerkstellig beter regering

Nuwe uitdagings vir 2014

Opiniestuk oor beriggewing in die media

Kontak ons

Page 3: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

Die NWU het ook sy kundigheid met gemeenskappe gedeel. Vandag spog die NWU met meer as 100 projekte van gemeenskapsbetrokkenheid wat gemik is op die opheffing, ontwikkeling en ondersteuning van gemeenskappe op hul pad na volhoubaarheid. Na ‘n dekade van groei kan die NWU egter nie op sy louere rus nie. “Alles het begin op 1 Januarie 2004, maar vandag, 10 jaar later, is die NWU steeds besig om te ontwikkel. Vordering verg aanhoudende groei, want die nastrewing van uitnemendheid is ‘n voortdurende proses,” sê dr Theuns Eloff, uittredende visekanselier.

DIE REGTE MENS OP DIE REGTE PLEK

Kort voordat hy die NWU verlaat, is dr. Eloff geloof deur mnr. Peet van Walt, voorsitter van die NWU-Raad, vir die buitengewone rol wat hy daarin gespeel het om die NWU een van die voorste universiteite in die land te maak.

“Die reuse-rol wat die uittredende visekanselier gespeel het om van hierdie samesmelting ‘n sukses te maak, sal sekerlik in die geskiedenisboeke aangeteken word as een van die mees prysenswaardige intervensies deur ‘n enkele individu,” het mnr. Van der Walt gesê.

Hy het bygevoeg dat ‘n groep dapper mense 10 jaar gelede ‘n reuse-geloofsprong gegee het toe hulle die NWU gestig het. Die mens wat hierdie groep gelei het, was dr. Theuns Eloff – die regte mens op die regte tyd en plek.

Nadat hy twee termyne as visekanselier gedien het, word dr. Eloff opgevolg deur prof. Dan Kgwadi, voormalige rektor van die Mafikengkampus.

Tydens hulle vergadering van 22 November 2013 het die NWU-Raad vir Prof Kgwadi aangestel vir ‘n termyn van ses jaar.

‘N MAN MET ‘N VISIE

Prof. Kgwadi tree in diens op 1 April 2014 en sê hy wil die NWU se prestasie in lyn hou met die instelling se huidige suksesse.

“Ons sal saamwerk om die Universiteit tot nog groter hoogtes te neem,” sê hy. Sy visie vir die NWU is om ‘n universiteit te skep met diverse en sosiaal geïntegreerde kampusse as ‘n prototipe van eenheid en ‘n model van sukses vir instellings regoor die wêreld.

Hy wil ook graag groter vlakke van vertroue vestig tussen almal by die NWU. “Dit is belangrik om seker te maak daar is ‘n bevorderlike werksomgewing.

Die NWU moet ‘n tweede tuiste vir alle personeel en studente wees.”

VAN ’N NEDERIGE BEGIN

Prof. Dan het sy pad tot sy huidige posisie oopgewerk vanuit ‘n baie nederige begin.

Hy is gebore en getoë in Kraaipan en Taung in die Noordwesprovinsie, en was sy skool se hoofseun toe hy beurse vir verdere studie ontvang het. Hy sy liefde vir fisika gevolg aan die voormalige Universiteit van Bophuthatswana en het kort voor lank die eerste van sy vier grade behaal.

Na sy voorgraadse studies het hy sy meestersgraad in fisika behaal aan die Ball State University in Amerika.

Hy het sy tweede meestersgraad, hierdie keer in omgewingsreg en -bestuur, behaal aan die Vaaldriehoekkampus, toe dit nog ‘n satellietkampus was van die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO).

Dit bly prof. Dan se passie om jongmense te bemagtig, veral diegene uit minderbevoorregte omstandighede.

Prof. Dan Kgwadi Ntate ken immers die opdraande stryd vanaf Kraaifontein, verby Taung, tot universiteitstudies, ‘n eredoktorsgraad en nou visekanselier van die NWU.

Nou, aan die begin van sy termyn as visekanselier, kan hy die NWU se slagspreuk bedoel as hy dit sê: “Dit begin alles hier.”

Page 4: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

Tydens die ontvangs van vanjaar se eerstejaarstudente, het die NWU-Puk se Alumnikantoor inisiatief geneem en ‘n fotohokkie op die kampus beskikbaar gestel. Sowat 80 oudstudente het daarlangs gekom om foto’s te kom neem saam met hul kinders, en sommer ook hulle besonderhede kom opdateer om weer ingelig te word oor wat by hul Alma Mater aan die gang is.

Kontak gerus vir Yolandi Haasbroek by [email protected] indien u ‘n kopie van u foto elektronies wil bekom.

Foto 1: Hier is Richard en Marisa (von Dresselt) van Wyk saam met hul dogter, Lieze van Wyk. Richard is ‘n ou Makouvleier en Marisa was in Oosterhof Dameskoshuis.

Foto 2: Hier is eerstejaar, Johandre Swanepoel, saam met pa Boela en ma Annemarie.

Foto 3: Leandri Badenhorst was saam met haar pa en ma, Johan en Lenie, by die ontvangs van vanjaar se eerstejaarstudente.

Foto 4: Oudstudent Hans Labuschagne het presies veertig jaar nadat hy self ‘n eerstejaar was, nou sy dogter, Lisemari, by die NWU-Potchefstroomkampus ingeskryf.

Ontvangs van vanjaar se eerstejaarstudente

Foto1 Foto3 Foto4Foto2

Page 5: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

Die JSE-genoteerde konstruksiemaatskappy, Aveng, het pas bekend gemaak dat hy Kobus Verster (47) met onmiddellike effek aangestel het as nuwe uitvoerende hoof van een van die grootste boumaatskappye in die land.

Die aanstelling van uitvoerende hoofde wat jonger is as 50 lyk na ‘n tendens wat besig is om pos te vat in Suid-Afrika, nadat die papier- en pulp-reus Sappi ook pas aangekondig het dat hy die 46-jarige Steve Binnie as sy uitvoerende hoof aangestel het.

Verster vul die posisie wat vakant gelaat is deur die voormalige hoof-uitvoerende beampte van Aveng, Roger Jardine, wat in Augustus verlede jaar bedank het ná ‘n “belastingondersoek” deur die Mededingingskommissie.

Jardine was vyf jaar lank aan die stuur van die maatskappy voordat hy bedank het na afloop van die Mededingingskommissie se ondersoek na die konstruksiebedryf se anti-mededingende praktyke.

In Julie verlede jaar is Suid-Afrika se konstruksiemaatskappye ‘n gesamentlike boete van R1,46 miljard ($ 127.2m) opgelê vir ongerymdhede met tenders sameswering.

Verster het in September 2010 as finansiële direkteur (FD) by Aveng aangesluit. Hy is later aangestel as waarnemende uitvoerende hoof, kort nadat Jardine in Augustus verlede jaar bedank het.

Verster het ‘n BCom-graad aan die Universiteit van Potchefstroom behaal, en ‘n BCom Honneurs-graad in Ekonomie aan die Universiteit van Pretoria. Voordat hy by Aveng aangesluit het, was Verster die hoof-finansiële beampte (HFB) by die staalvervaardiger ArcelorMittal (Suid-Afrika).

Aveng se Raad het gesê dat hy baie kandidate uit Suid-Afrika en die buiteland oorweeg het, maar dat Verster die regte kandidaat vir die pos was.

Berig deur Ventures Africa

Aveng SA het nou oud-NWU-Puk as nuwe hoof-uitvoerende beampte

Kobus Verster

Page 6: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

Een van die kenmerkendste steunpilare en oud-rektor van die destydse PU vir CHO, prof Tjaart van der Walt, het pas sy 80ste verjaarsdag saam met geliefdes gevier. Nie net nog ‘n akademikus en leier nie, maar ‘n merkwaardige man wat die vermoë gehad het om ‘n werklike verskil te maak.

Tjaart van der Walt, ‘n begaafde seun, is in 1934 op Pietersburg gebore. In 1950, terwyl sy pa skoolhoof van die Helpmekaar Hoër Seunskool was, slaag hy die matriekeksamen met onderskeidings in al sewe vakke.

In sy studieloopbaan het dit ’n refrein geword: met onderskeiding! Van die Baccalaureus Artium tot met die voltooiing van die doktorsgraad in Teologie. Wanneer dit nie cum laude was nie, was dit summa cum laude. Die eerste grade behaal hy aan die destydse PU vir CHO, naamlik B.A., B.A.-honneurs en die destydse vierjarige nagraadse Th.B. Hy behaal ook die B.A.-honneurs in Klassieke Tale aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Reeds gedurende sy studentejare het hy sy leierskapsvermoëns op verskillende vlakke beproef en suksesvol beoefen. As voorsitter van die Studenteraad vir twee termyne, in 1956 en 1957, het hy die roerings van verandering en aanpassing aan nuwe eise gemeet en die SR en georganiseerde studentelewe deur ’n omvattende verslag oor vernuwing in die gehalte van studentebestuur gestuur.

Aan die einde van 1958 is hy getroud met sy studentemaat Babie Snyman, steeds komplementerend en ondersteunend aan sy sy. Tjaart verwys gereeld na sy vrou Babie as sy “jeugliefde”. Babie het hom in al sy verskillende betrekkings ondersteun en bygestaan en in baie opsigte sterk gemaak. Só vervul sy met grasie en styl haar rol en taak as pastoriemoeder in Krugersdorp, as gasvrou by die Universiteit, en as ma van hulle kinders. Saam het hulle getreur oor die dood van twee van hulle kinders, en

‘n Universiteit-ikoon word 80saam beleef hulle uiteindelik die gemis nadat hulle enigste dogter en haar gesin na Australië emigreer.

Na die voltooiing van sy studie in Potchefstroom is hy na Nederland om sy studie af te rond met die studie vir die doktorsgraad onder die wêreldbekende prof Herman Ridderbos, aan die Johannes Calvyn Akademie in Kampen. Dit was ook ’n tyd van besondere persoonlike beproewing vir hom en Babie met die dood van hulle baba in die vreemde. Hierdie gebeure het ’n verdere verdieping en groei in die emosionele staal van hulle verhouding en karakter bewerk.

Sy doktorsgraad behaal hy in 1962 waarna die egpaar na Suid-Afrika terugkeer.

Alreeds in 1962 aanvaar hy ’n beroep na die Gereformeerde Kerk Krugersdorp. Deur gereelde prediking en die besoek aan lidmate, was dit ’n tyd van verdere verdieping waartydens hy rigtinggewend op die lewens van mense kon inwerk.

Die slyping van gedagtes en die duidelike formulering van stand-punte het tot sy beroeping gelei as professor in Nuwe-Testamentiese vakke aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en aan die Fakulteit Teologie van die PU vir CHO. Kort ná sy bevestiging as professor in 1969 is hy vir die termyn van 1971-1973 as Rektor van die Teologiese Skool aangewys.

In 1970 begin sy samewerking aan die nuwe vertaling van die Bybel, ’n projek van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika om die Bybel in die destydse Afrikaans te vertaal met gebruikmaking van die jongste resultate van bybelkundige en vertaalkundige navorsing. Dit was ’n poging om die Bybel vir die gewone leser in meer verstaanbare taal te vertaal. Hierdie projek is dertien jaar later in die 1983-Afrikaanse Bybelvertaling voltooi. Hy tipeer self sy betrokkenheid by die Bybelvertaling as ’n hoogtepunt in sy loopbaan.

Page 7: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

Tjaart van der Walt is in 1977 deur die Raad van die PU vir CHO op aanbeveling van die Senaat as Rektor en Visekanselier van die Universiteit benoem. Hy beklee die amp vanaf 1 Mei 1977 vir ’n termyn van 10 jaar tot einde April 1987. Hy word daarna vir ’n verdere termyn benoem, maar tree egter op 31 Desember 1988 uit die diens van die Universiteit.

Die laat sewentiger- en tagtigerjare het besondere eise aan die bestuur van die Universiteit gestel. Reeds gedurende die rektors-termyn van sy voorganger, prof. Hennie Bingle, was die druk op alle universiteite groot om nie net gehalte diens te lewer nie, maar ook om kwalifikasieprogramme vir die ontwikkeling van die land relevant te maak. Tegelykertyd het hy núút oor die studentelewe wat hom na aan die hart gelê het, gedink. Hy het ’n ondersoek na die studentedienste, die studentelewe en universiteitsport geloods, en het die relevante strukture om alles meer funksioneel te maak, versterk. Omdat hy self jonk van gees was, het hy hom sterk tot die behoeftes van die studente en hulle belewing van hulle studentwees aangetrokke gevoel. Hy het begin om studenteleiers ’n behoorlike opleidingsprogram te laat deurloop voordat hulle in leiersposisies moes funksioneer. Daardeur is die studentelewe tot groter verantwoordelikheid aangespoor.

Behalwe vir politieke verskille was dit ook ’n tyd van landswye droogte, resessie en buitelandse isolasie. Tjaart se versiendheid en deursettingsvermoë het bepaal dat die Universiteit juis in hierdie omstandighede vasstaan en beginselvaste leiding gee. Hy kon ook daarin slaag om die beperkte middels van die Universiteit tot voordeel van volgehoue groei en ontwikkeling te kanaliseer. Op grond van sy merkwaardige beplanningsperspektiewe het die Raad van die Universiteit besluit om die Fakulteit Ingenieurswese in 1981 en die Fakulteit Farmasie in 1983 in te stel. Hierdie twee fakulteite het aan professionele rigtings waaraan daar in hierdie tyd ’n groot behoefte was, ’n akademiese tuiste gebied. Die PU vir CHO het hiermee vir hom ’n nis in die Suid Afrikaanse samelewing uitgekerf waardeur sy aandeel in die uitbouing van die samelewing grootliks uitgebrei het.

In 1973 reeds het die PU vir CHO besluit om swart studente op nagraadse vlak toe te laat. In 1983 het Tjaart effektiewe leierskap aan

die dag gelê toe hy die Senaat van die Universiteit begelei het in die besluit om swart studente ook op voorgraadse vlak toe te laat. Hierdeur is die Universiteit uiteindelik vir alle rasse op alle vlakke oopgestel. ’n Rekord marathonvergadering van die Senaat het gevolg toe hy die Senaat ’n paar jaar later behendig begelei het om ook koshuisinwoning vir swart studente moontlik te maak.

Tjaart van der Walt se termyn as Rektor was ’n periode van ongekende groei in studentegetalle. Saam met die groei in getalle het die verantwoordelikhede wat daarmee verband hou, egter ook toegeneem. Die groei self was in ’n groot mate gestimuleer deur die spontane kontak wat die Rektor met die aankomende studente en hulle ouers gehad het. Die program tydens die ontvangs van die eerstejaarstudente met hulle ouers in die amfiteater, het altyd groot belangstelling uitgelok. Saam met die groei in studentegetalle het die voorsiening van woonplek in koshuise en daarmee saam die stimulering van ’n gesonde studentelewe altyd hierdie Rektor se aandag geniet.

Dit was goed bekend dat baie studente van oor die hele land by twee of drie universiteite verbygegaan het om aan die PUK te kom studeer.

Binnelands het Tjaart veral in die Afrikaanse gemeenskap en in universitêre kringe hoë aansien geniet. Hy was lid van die Raad van verskeie Universiteite, waaronder Vista Universiteit. Hy was ook Kanselier van die Universiteit van Bophuthatswana, lid van die Raad van Sankorp, alternatiewe lid van Perskor, lid van die Suid-Afrika Stigting en Voorsitter van die FAK.

Reeds in 1981 was Tjaart van der Walt as lid van die Raad van Sanlam aangestel. As gevolg van sy besondere kontak met Sanlam is hy mettertyd as Uitvoerende Adjunkvoorsitter van Sanlam en sy filiale benoem. Hy is in 1989 as Voorsitter aangewys. Hy het die pos egter nie lank beklee nie.

In 1992 is Tjaart as ambassadeur in Bophuthatswana aangestel. Hier kon hy sy roeping op ’n unieke manier uitleef deur in onstuimige tye die verhouding van hierdie “tuisland” met Suid-Afrika te fasiliteer.

Page 8: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

Hy was die laaste ambassadeur in hierdie tuisland, juis in ’n tyd toe aardskuddende veranderings in die Suid-Afrikaanse politiek plaasgevind het. In praktyk was hy ook nog mede-administrateur van hierdie gebied. Ná die bewindsverandering in 1994 het hy op versoek van die premier van die nuwe Noordwes-provinsie tot in 1995 as voltydse adviseur vir die premier aangebly.

In 1996 het hy op sy sluimerende predikantsroeping gereageer. Dit was ten minste waarvoor hy hom van die begin af voorberei het, en dit sou na al die jare van allerlei insette in ander kringe, ’n gepaste afsluiting was van ’n beroepslewe van roeping en diens.

Nadat hy en Babie vroeër by hul dogter in Australië gaan bly het vir vier jaar, het hy pas na Potchefstroom teruggekeer en is woonagtig in Huis Eikelaan.

Die Noordwes-Universiteit salueer prof Tjaart van der Walt vir die astronomiese bydrae wat hy gelewer het tot die suksesverhaal van ‘n trotse Universiteit.

Deur prof Fika Janse van Rensburg, dekaan Fakulteit Teologie en Rassie Smit, predikant aan die Wapadrant-gemeente, Pretoria.

“Ons gee om-fonds”Verskeie projekte geloods om “Ons gee om-fonds” te versterk.

Omgee-projekte soos: “Meal-a-day” – ondersteun behoeftige en honger studente.

Oudstudente kan ook ondersteun deur affiniteitskaart van ABSA.

Kos jou niks ekstra nie – ABSA betaal % van normale bankkoste op transaksies oor aan die Universiteit – sms Naam, ID, Pukke na 35435 vir ‘n konsultant om u te skakel.

Die Nuuskamer is ‘n versamelpunt van alle nuuswaardighede wat op die kampus afspeel. Alles van nuwe navorsing en prestasies tot uitnemendheid. Besoek dit gerus by:

http://potchnuus.nwu.ac.za/index.php? (Afrikaanse weergawe)

http://potchnews.nwu.ac.za/index.php? (Engelse weergawe).

Nuuskamer

Page 9: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

Asem...uit...

Maandagaand op die Fanie du Toit-sportterrein het die NWU-Puk gesorg vir ’n 19-18 naelbytsege oor NMMU in hul Varsitybeker-halfeindstryd wat kollega Marlize van Rooyen as “onregverdig spanningsvol” beskryf.

Inteendeel, die laaste paar minute van die wedstryd het so lank soos ’n Paasnaweek gevoel en aangrypend genoeg om deur Deon Meyer geboekstaaf te word.

Dié riller, getiteld ‘Hartmedisyne’ sal ’n blitsverkoper wees. Wonder wie sal die rolle van Jarryd Buys en Rhyno Smith vertolk?

NMMU se Buys het ’n skepdoel met net 12 minute oor deur die pale geklits om vir Madibaz die eerste keer te laat voorloop en die NWU-Puk kon eers tien minute later die telbord in hul guns swaai toe Smith met ’n strafdoel geslaag het.

Die wedstryd het op die tuisspan se doellyn geëindig. Daar sal ook nog lank gepraat word oor die omgekeerde strafskop wat eers aan NMMU toegeken was voor die lynregter ander besluit het.

Deon, ek hoop jy neem notas.

Die uiteinde: oor twee weke speel die NWU-Puk gasheer vir UCT in die eindstryd van die Varsitybeker. Eindstryd. Hier. In Potch.

Dít, volgens afrigter Robert du Preez, is te danke aan karakter. “Jong, om in die laaste minute die wedstryd te kon wen spreek van die spelers se karakter. Hierdie span het baie karakter,” sê hy met die klemtoon op ‘baie’.

“Hulle het geglo hulle gaan in die eindstryd speel. Ons nie net rugbywaardes nie, maar lewenswaardes deel van ons montering gemaak. Dit is die groot ding.” Du Preez noem egter dat sy span aandag moet gee aan die hoeveelheid strafskoppe wat hulle afstaan.

Maandagaand het die NWU-Puk hulself deur swak dissipline in die voet geskiet en die skeidsregter moes tien keer in die eerste helfte sy fluitjie laat skree. Dit het die Madibaz in staat gestel om hulself in die wedstryd terug te klou ná Rhyk Welgemoed en Luther Obi gaan druk het vir ’n aanvanklike 13-0 voorsprong.

“Daardie strafskoppe het ons momentum gekos en ons kan nie toelaat dat dit weer gebeur nie.” Verder gaan die wiel tot op 7 April nie herontwerp word nie.

“Om in die eindstryd te kan speel is motivering genoeg vir die ouens.” Hulle is in die peilvlak, die wenstreep is in sig en ’n wen vir een is ’n wen vir almal.

“Die ondersteuning wat ons met elke wedstryd ontvang het, was wonderlik. Dit is ongelooflik. Ons het ’n verantwoordelikheid

om dit vir ons ondersteuners te wen. Ons speel vir hulle. Ons wil daardie beker wen, ons wil al die pad gaan. Daar is nie pryse vir tweede plek nie.”

NWU-Pukke voor eindstreep

Philip de Wet word deur Timothy Agaba platgetrek terwyl Luther Obi toekyk. Foto: Catherine Kotze/SASPA

Page 10: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

Nagenoeg 80 voormalige NWU-Pukke het 25 Januarie op ’n snikhete Saterdagoggend bymekaargekom vir die jaarlikse NWU-Puk Alumni-klubkampioenskappe by Potchefstroom-buiteklub.

Hierdie gholfdag is al ’n instelling op oud-NWU-Pukke se kalender en het oudergewoonte vir groot pret en strawwe kompetisie gesorg. Vanjaar se kampioenskappe is gekenmerk deur die hoeveelheid jonger gesigte wat gesorg het dat ieder en elke speler ’n ekstra huppel in hul stap gehad het.

“Die klub is gesond en gaan van krag tot krag,” het klubkaptein, Hennie Kruger, gesê. “Ons groei met elke wedstryd en die toekoms lyk inderwaarheid blink.”

Jan Greyling is as klubkampioen gekroon, met Rigardt Pretorius wat met die louere in die B-afdeling weggestap het.

In die C-afdeling het Jaco Kruger koning gekraai, terwyl Martinique Sparks die septer in die vroue-afdeling geswaai het.

NWU-Puk hou Alumni-gholfdag

NWU-Potch Alumni WyngildeDie Alumni-wyngilde het op 12 Februarie 2014 ‘n bierproe na die tafel gebring wat heelwat anders as die gewone wynproe-geleenthede was. Dit het soos oudergewoonte by Christa Galli plaasgevind.

Daar was ses verskillende biere om van te proe en is deur prof Bennie Linde aangebied. ‘n Duitse-ete het hierdie geleentheid perfek afgerond.

Bergwater se wyne was weer op 12 Maart 2014 aan die beurt.

Sowat 60 gaste het die onderskeie geleenthede bygewoon.

Daar is nog sewe geleenthede die jaar om wyne te proe. Vir meer inligting rakende die wyngilde, kontak gerus vir Yolandi Haasbroek by 018 299 2768 / [email protected]

Hiermee 2014 se datums:9 April Simonsvlei14 Mei Welmoed11 Junie Theuniskraal13 Augustus Sal nog bevestig word10 September Middelvlei15 Oktober Stonehill/Welgemeend12 November Credo (Welmoed vlagskipwyn)

Biere wat op 12 Februarie geproe is.

Van links is Jan Greyling, Rigardt Pretorius, Hennie Kruger, Jaco Kruger en Martinique Sparks.

Page 11: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

Loopbaansentrum – dit begin alles hier

Om mense aan te stel wat pas by ‘n maatskappy, is van die grootste belang vir enige maatskappy. As jy ‘n NWU-alumnus is wat op soek is na uitstekende gegradueerdes, is jy op die regte plek. Die NWU is nie net ‘n universiteit nie. Dit is ‘n plek waar enigiets moontlik is … waar drome gebore word, en waar die beste werknemers van die toekoms gekweek word. Dit begin alles hier.Die Loopbaansentrum by NWU bied jou die volgende bronne waar jy na talent kan soek:• CareerZone (aanlyn-loopbaanportaal) om vakatures te adverteer ;• Loopbaanuitstallings waar jy jou maatskappy kan uitstal, studente kan ontmoet en met hulle kan gesels, werkgeleenthede kan bevorder, belangstelling kan skep in komende werwingsaktiwiteite, en jou maatskappy se profiel op kampus kan verhoog;• Die Loopbaangids waar jy jou maatskappy ten toon kan stel en waar jou insigte uit die industrie kan bied; en• Werkgewersaanbiedings wat jy kan gebruik as ‘n platform om met studente te praat.

Kontak Anell van Pletzen by 018 299 4409 of anell.vanpletzen @ nwu.ac.za in verband met hierdie en ander geleenthede om met potensiële toekomstige werknemers in kontak gebring te word.

NWU-PUK-Alumnikantoor 2014 DatumsKoshuisreünies DatumHombré reünie 30/31 MeiWag-‘n Bietjie 40 jaar 23 – 25 MeiWanda 40 jaar 30 Mei – 1 JunieExcelsior 20 jaar 1 – 3 AugustusKarlien 45 jaar 1 – 3 AugustusBellatrix 10 jaar 15 AugustusSaamtrekke/reünies Datum

Meer inligting word nader aan die tyd uitgestuur – maak seker jy hoor van hierdie geleenthede deur jou besonderhede op te dateer by www.pukalumni.mobi en jou adres aan ons deur te gee.

Alumni Kaap/Stellenbosch 9 AprilAlabama ’77 – ‘79 12 AprilNamibië 9 JunieNamibië 11 JunieClarens 15/16 AugPort-Elizabeth 1 SeptemberUpington 8 SeptemberNuwe Alumni (Vertrekkende studente) 24 Oktober1964 Eerstejaars 24 NovemberGholf DatumGoldfields: Pukke vs Tukkies 12 AprilAlumni Gholfdag: Baan sal later bekend gemaak word

17 Mei

Huddle Park: Pukke vs Rhodes 28 JunieAlumni Gholfdag: Moontlik Lost City 27 SeptemberGoldfields: Pukke vs Maties/UJ 18 OktoberParys: Pukke vs Kovsies 8 NovemberDavis Beker Datum moet nog bevestig word

Eerstejaars van 1964 hou reünieDie NWU-Puk-alumnikantoor wil graag kontak maak met oudstudente wat in 1964 as eerstejaars by die voormalige PU vir CHO of Potchefstroomse Onderwyskollege (Pote) ingeskryf het.

Hierdie groep hou op 24 November 2014 ‘n reünie op die NWU-Potchefstroomkampus. Indien u, u eggenote of ‘n familielid of vriend, deel was van hierdie groep, kontak asseblief die NWUPuk- alumnikantoor by 018 299 2768 of stuur ‘n e-pos na [email protected]

Vir meer oor reünies in 2014, besoek asseblief die webtuiste.

Page 12: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

Elektriese ghoeroe ontvang hoogste eerProf Jan de Kock, verbonde aan die Fakulteit Ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, is onlangs bekroon met die hoogste eer wat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Elektriese Ingenieurs jaarliks aankondig. De Kock het tydens dié Instituut se jaarlikse banketgeleentheid die presidentstoekenning verwerf vir sy reuse lopende bydraes in die Suid-Afrikaanse sektore van elektriese-, elektroniese-, telekommunikasie- en rekenaaringenieurswese.

Volgens die instituut se president, Paul van Niekerk, het De Kock oor baie jare reuse bydraes tot die tersiêre komponent van die ingenieursektor gemaak. “Hy is ‘n besonderse akademikus en is steeds baie betrokke by strategiese projekte in die sektor. Hy is dus ‘n waardige ontvanger van die instituut se hoogste toekenning.”

Prof Jan de Kock ontvang die SAIEE se presidentstoekenning van Kemraj Ojageer van Rotek & Roschcom wat die prys geborg het. By hulle is Paul van Niekerk, die Instituut se president. Foto verskaf deur Wattnow Magazine.

Page 13: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

Dit is nie ‘n geheim dat daar ‘n daadwerklike behoefte bestaan vir beter opleiding en bystand aan munisipale- en regeringsamptenare nie. Ons het nie ’n ander keuse nie as om hierdie land te láát werk, want ons het geen ander land om heen te gaan nie.

Dit was die mening van Thabo Manyoni, voorsitter van die Munisipale Vereniging van Suid-Afrika (SALGA), tydens die opening van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit se Sentrum vir Regeerkunde.

Volgens Willem Mostert, bestuurder van dié Sentrum, was die bekendstelling daarvan ‘n behoefte waarin baie harde werk gegaan het om tot totstandkoming te kom. “Universiteite het ’n groot rol te speel in die suksesvolle ontwikkeling van die land. Met die sentrum sal ons help met die ontwikkeling van volhoubare munisipaliteite deur opleiding op plaaslike-, provinsiale- en nasionale regeringsvlakke.”

Manyoni het gesê SALGA is opgewonde oor die sentrum en het groot verwagtinge dat dit sal help om die land ‘n beter plek te maak. “Hierdie sentrum sal help om ‘n maatstaf

daar te stel sodat regeerkunde op alle vlakke kan verbeter Dit sal ook help om die regte oplossings te kry vir moeilike vrae wat deur gemeenskappe gevra word.” Hy het verder gesê dat hy graag sal wil sien dat die fokus sterk moet val op leierskap om bekwame munisipaliteite te bou wat goeie dienste lewer.

Verskeie basiese en gevorderde kursusse in regeerkunde is reeds deel van die sentrum se kurrikulum.

Volgens prof Herman van Schalkwyk, rektor van die NWU-Potchefstroomkampus, is ‘n strategiese projek om plaaslike-, provinsiale- en nasionalevlak regeringsamptenare by te staan met kundigheid, navorsing en ontwikkeling, reeds in 2010 geïdentifiseer. “Ek glo hierdie sentrum sal ‘n strategiese rol speel in die voortgesette soeke na gemeenskapsoplossings vir vraagstukke in ‘n Suid-Afrikaanse konteks.

Dit is duidelik dat die regering nie op hul eie al die wydstrekkende gemeenskapsvraagstukke op kan los nie. Dit skep ‘n reuse geleentheid vir tersiêre instellings om waardevolle bydraes te maak.”

Nuwe sentrum sal beter regering bewerkstellig

Thabo Manyoni, voorsitter van die Munisipale Vereniging van Suid-Afrika (SALGA), tydens die opening van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit se Sentrum vir Regeerkunde. Hy is saam met prof Herman van Schalkwyk, rektor van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.

Page 14: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

Op Woensdag 29 Januarie het die rektor van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, prof Herman van Schalkwyk, die kampus amptelik vir die nuwe akademiese jaar geopen.

In die Sanlam-Ouditorium het Van Schalkwyk enkele hoogtepunte van 2013 uitgelig en verder klem gelê op die uitdagings en doelwitte wat vir 2014 voorlê. Sedert sy aanstelling as rektor van dié Kampus in 2010, het hy groot fokus op die nuwe missie van die Potchefstroomkampus geplaas nl. om ‘n navorsingsgerigte kampus te word waarby uitnemendheid in onderrig-leer en navorsing wedersyds versterkend is.

Sy doelwitte is duidelik besig om vrugte af te werp nadat navorsingsuitsette sedertdien die hoogte in geskiet het. In 2010 was die kampus se navorsingsuitsette net minder as 400 artikels vir die jaar, wat aan die einde van 2012 tot byna 700 vermeerder het.

Hy het verder die volgende doelwitte vir 2014 gestel:

• om die Kampusplan verder van stapel te laat loop deur die implementering en monitering van fakulteitstrategie-planne;

• om voort te gaan om ‘n omgewing te skep wat die geleentheid sal bied vir die bevordering en uitbreiding van navorsing;

• om eksterne verhoudinge met nasionale, provinsiale en plaaslike regering, asook ander belanghebbendes, verder te verbeter en te handhaaf;

• om die innoverende gebruik van tegnologie in die doeltreffendheid van Onderrig en Leer te bevorder en te implementeer;

• om ‘n kultuur van omgee verder te vestig en te ontwikkel; en

• om die kampusmissie in terme van sy implementering verder uit te rol na skole en navorsingsentiteite.

Die ongeveer 800 personeel en studente wat die amptelike opening bygewoon het, het na afloop van die verrigtinge versnaperinge in die portaal geniet.

Nuwe uitdagings vir 2014

Die akademiese prosessie het oudergewoonte die amptelike opening van die NWU-Potchefstroomkampus bygewoon. Foto - Bertus le Roux.

Page 15: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

Deur prof Herman van Schalkwyk, rektor van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.

Ek is vandag hartseer. Hartseer dat die NWU-Potchefstroomkampus, sy studente en personeel die afgelope tyd baie seergekry het. Dit, deurdat ek besluit het om op te tree teen dit wat teen die Universiteit se etos en waardes indruis. Dit is jammer dat sommige media die afgelope tyd roekelose joernalistiek uitgeoefen het as gevolg van hul ongeduldigheid (so word dit aan my verduidelik?) oor wat die bevindinge behels van die tydelike skorsing van sekere huiskomiteelede, wat na bewering oortree het.

Feit is, ons kon nie bevindinge bekend maak voordat die ondersoekproses nie afgehandel is nie. Deur dit te doen, sou ons individue inkrimineer voordat hul skuld of onskuld bewys is, en word die legitimiteit van die ondersoek in die weegskaal geplaas. Dít is mos roekeloos!

Ontgroening is ‘n universele tendens waarmee duisende opvoedkundige instellings wêreldwyd worstel. By dié Universiteit word dit ten sterkste verbied en ek het in die verlede ook gewys dat die kampusbestuur ernstig daaroor is en sterk optree teen diegene wat hulself daaraan skuldig maak om ander te intimideer, viktimiseer en selfs hul menswaardigheid te skend.

Dit hoort nie by ‘n opvoedkundige instelling nie, ook nie in ons stad of land nie. Oortreders stel net hulle kampus en universiteit onnodig bloot. Sedert ek as kampusrektor in 2010 aangewys is, het ek ‘n kultuur probeer ontwikkel wat nie net die kampus nie, maar die mens se ingesteldheid verander – ‘n omgee-ingesteldheid soos ek dit noem. Om ‘n student te wees, behoort een van die beste tye van jou lewe te wees. Om nie net ‘n tersiêre kwalifikasie te verwerf nie, maar ook die groter behoefte van ‘n ware landsburger, vriend, eggenoot en kollega na te streef. Dít ondersteun ek. Ek wil hê elke student wat na tien of twintig jaar na hul studentejare terugkyk, moet sê: “Dit was goed. Baie goed. Dit het my gevorm, opgevoed, en die fynere detail van die lewe geleer.” Ek dink ons slaag baie goed hierin. Ons opnames onder die werkgewers van ons studente bevestig dit.

Ek wil dit weer baie duidelik stel dat die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus géén Nazi-kultuur handhaaf nie. Dié groetgebare, alhoewel onnadenkend, was nie bedoel om aanstoot te gee nie. Ek en Janco Jordaan, die studenteraadsvoorsitter, het ‘n onvoorwaardelike verskoning in die media hiervoor aangebied en het dit ook duidelik gestel dat die gebruik gestaak is. Ons het die studente reeds vroeër (ongeveer ‘n maand voor die artikels in Beeld verskyn het) bewus gemaak oor die moontlike interpretasie hiervan en hulle verbied om dit weer te gebruik, juis weens die historiese sensitiwiteit hiervan. Dit is jammer dat die media dit uitgebeeld het as hul eie onthulling.

Ek nooi alle Alumni uit om ons te steun in dit wat behoort. Aan dit wat eie is aan ‘n unieke kampus en sy gemeenskap. Oor Afrikaans. Oor kwaliteit opvoeding. En, om opvoedkundig, verantwoordbaar en regverdig op te

Opiniestuk oor afgelope tyd se beriggewing in die media

Page 16: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

tree wanneer dit nodig is. Wie van ons het kinders wat nooit oortree nie? Die onus om op te tree en om die regte pad vorentoe te wys, rus op ons almal se skouers. Ek kan met vertroue sê dat die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus op die regte pad is. Duisende studente ry verby tot drie ander universiteitskampusse om by ons te kom studeer. Die Potchefstroomkampus se eerstejaarsaansoeke skiet elke jaar deur die dak. Ons bly voorsiening maak vir beter kwaliteit-opvoeding, beter fasiliteite en geriewe, meer navorsing wat vir gemeenskappe relevant is, groter navorsingsuitsette en om die Universiteit op internasionale vlak te posisioneer.

Die Potchefstroomkampus neem tans net meer as 2 000 permanente personeellede in Potchefstroom in diens wat ‘n astronomiese bydrae tot die plaaslike ekonomie lewer. Die kampus het tans sowat 19 000 kontakstudente, 26 000 afstandstudente en huisves meer as 4 000 studente in koshuise. Ons navorsingsuitsette het sedert 2010 met 41% toegeneem. Ek skryf dit toe aan die nuwe missie wat ons vier jaar gelede ontwikkel het en wat

ons hard dryf – om meer navorsingsgerig te word. Ons studente wat so in die media gebrandmerk is, het tans 84 aktiewe gemeenskapsprojekte wat hulle vir die liefde van die saak doen. Dié studente het ‘n maand gelede ongeveer R1.4miljoen in Potchefstroom uitbetaal aan verskeie verdienstelike organisasies en individue.

Dit gaan goed met die Noordwes-Universiteit, sy studente en personeel. Ons vra die publiek se bystand om deur middel van solidariteit en begrip, met ons taak as opvoeders te vereenselwig. Ons kernbesigheid is om jongmense op te lei en te bemagtig, sodat hulle die suksesvolle en verantwoordelike leiers van môre kan wees – om die spreekwoordelike graad van die lewe te kan verwerf.

Ons is trots NWU en trotse NWU-Pukke. Nou, fokus ons daarop om die Varsity Cup beker huis toe te bring op 7 April wanneer die eindstryd plaasvind – want Potchefstroom is mos sy staanplek? Kom skuif gerus saam met ons agter die Potchefstroomkampus en sy aktiwiteite in, want daar is mos geen plaasvervanger vir uitnemendheid nie.

Page 17: Alumni Nuus

e-PUKaner Alumni Nuus

Kontak onsVir enige voorstelle en kommentaar oor die nuusbrief, skryf asseblief aan Yolandi Haasbroekdeur op die Kommentaar-skakel te kliek.

Vir adresveranderings besoek www.pukalumni.mobi/

Indien u verkies om nie die nuusbrief te ontvang nie, kliek op kanselleer-skakel, vul u voorletters, van en geboortedatum in en stuur die e-pos vir ons aan.

Kliek hier en gaan LIKE onsFacebook-blad

Het die alumnikantoor jou nuutste kontakinligting of weet jy van ander oud-NWU-Pukke wat graag die nuusbrief wil ontvang?